God se universele gesinsreëling
JEHOVAH GOD is die insteller van die gesinsreëling. Hy is die Vader van sy hemelse gesin en die een aan wie ‘al die gesinne op die aarde hulle naam te danke het’ (Efesiërs 3:14, 15). Dit is die geval omdat Jehovah die eerste mensegesin tot stand gebring het, en deur middel hiervan was hy van voorneme dat die aarde gevul moet word.
Daarbenewens het Hy Adam, hoewel hy ’n sondaar was, toegelaat om ’n gesin en om kinders “na sy gelykenis, na sy ewebeeld” te hê (Genesis 5:3). Sedertdien het Jehovah dit in die Bybel duidelik gestel dat Hy groot waarde heg aan die godgegewe vermoë om te kan voortplant, die manier waarop ’n man sy naam en familie op die aarde kan voortsit.
In die eertydse Hebreeuse gemeenskap was die gesin die basiese eenheid. Die gesin was ’n klein regering; die vader as hoof was teenoor God aanspreeklik, en die moeder was die ondergeskikte bestuurder oor die kinders in die huis (Hebreërs 7:4). Die gesin was, op klein skaal, ’n weerspieëling van die grootse gesin van God. God word in die Bybel as ’n eggenoot voorgestel, met die “Jerusalem daar bo” as die moeder van sy kinders.—Galasiërs 4:26.
Gesinne onder die Wetsverbond
Toe God die Tien Gebooie aan Israel gegee het, het hy aandag geskenk aan die integriteit van die gesinseenheid. “Eer jou vader en jou moeder” is die vyfde gebod, die eerste gebod met ’n belofte.—Deuteronomium 5:16; Efesiërs 6:2.
Die sewende gebod, “Jy mag nie egbreek nie”, het enige geslagsomgang van ’n getroude persoon met iemand buite die huwelik onwettig gemaak (Exodus 20:14). Alle kinders moes as deel van ’n gesin gebore word. ’n Buite-egtelike seun is nie erken nie, en sy nakomelinge is ook nie toegelaat om lede van die gemeente van Israel te word tot selfs die tiende geslag nie.—Deuteronomium 23:2, NAV.
Terwyl die sewende gebod, wat egbreuk verbied het, daar was om die gesinseenheid te beskerm, het die tiende gebod, deur verkeerde begeertes te verbied, die integriteit van ’n mens se eie gesin sowel as die ander man se huis en gesin verder beskerm. Die algemeenste dinge in die gesinslewe is deur hierdie gebod beskerm, naamlik huis, vrou, diensknegte, diere en ander eiendom.—Exodus 20:17.
Die Wet het uitdruklik huweliksverbintenisse verbied met die sewe Kanaänitiese nasies wat uit die land uitgedryf moes word (Deuteronomium 7:1-4). Omdat die nasie Israel aan hierdie gebod ongehoorsaam was, is hulle in die aanbidding van valse gode verstrik en uiteindelik deur hulle vyande in ballingskap weggevoer. Salomo is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat in hierdie verband gesondig het.—Nehemia 13:26.
Toe God sy enigverwekte Seun na die aarde gestuur het, het hy dit so bewerk dat hy as lid van ’n mensegesin gebore is. Hy het hom van ’n godvresende pleegvader en ’n liefdevolle moeder voorsien. Jesus was as kind onderdanig aan sy ouers en het hulle gerespekteer en gehoorsaam.—Lukas 2:40, 51.
Selfs terwyl hy aan die folterpaal gesterf het, het hy respek en liefdevolle sorg betoon teenoor sy moeder, wat blykbaar toe ’n weduwee was, toe hy vir haar gesê het: “Vrou, kyk! U seun!” en vir die dissipel wat hy liefgehad het: “Kyk! Jou moeder!” en daardeur hierdie dissipel klaarblyklik aangewys om in sy eie huis na haar om te sien.—Johannes 19:26, 27.
Die belangrikheid van die gesin in die Christengemeente
In die Christengemeente word die gesin as die basiese eenheid van die Christengemeenskap erken. ’n Groot deel van die Christelike Griekse Geskrifte word gewy aan instruksies aangaande gesinsverhoudings. Weer eens word die man met die hoofskap van die gesin vereer, terwyl die vrou aan haar man onderdanig is en die huis onder sy algemene toesig behartig.—1 Korintiërs 11:3.
Paulus vergelyk Jesus met die man en gesinshoof oor sy gemeentelike ‘vrou’ en vermaan mans om hoofskap met liefde uit te oefen, en hy maan vrouens om hulle man te respekteer en aan hom onderdanig te wees (Efesiërs 5:21-33). Kinders word aangesê om hulle ouers te gehoorsaam, en veral vaders word die verantwoordelikheid opgelê om die kinders in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.—Efesiërs 6:1-4.
Die man wat in die Christengemeente as ’n opsiener gebruik word, moet, indien hy getroud is, hoë standaarde as ’n gesinshoof handhaaf, sy gesin behoorlik beheer en sy kinders in onderworpenheid hê; hulle moet nie weerbarstig wees of van losbandigheid aangekla word nie, want Paulus vra: “As iemand immers nie weet hoe om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe sal hy vir God se gemeente sorg?” aangesien die gemeente soortgelyk is aan ’n gesin (1 Timoteus 3:2-5). Vrouens word aangespoor om hulle mans en kinders lief te hê, om werkers by die huis te wees en om hulle aan hulle eie mans te onderwerp.—Titus 2:4, 5.
Jesus het voorspel dat teenstand teen God se waarheid gesinne sou verdeel (Matteus 10:32-37). Maar die apostel Paulus het gelowiges ernstig vermaan om ter wille van die welsyn van die ongelowige huweliksmaat sowel as die kinders nie die huweliksverhouding te verbreek nie. Hy het die groot waarde van die gesinsverwantskap beklemtoon toe hy daarop gewys het dat God die jong kinders as heilig beskou, selfs al is die ongelowige maat nie van sy sondes gereinig deur geloof in Christus nie.
Trouens, die ongelowige beoefen dalk party van dieselfde dinge wat Paulus sê sommige Christene beoefen het voordat hulle die goeie nuus aangaande die Christus aangeneem het (1 Korintiërs 6:9-11). Die apostel bewaar ook die eenheid van die Christengesin deur instruksies aan mans en vrouens te gee aangaande die nakoming van huweliksverpligtinge.—1 Korintiërs 7:3-5.
Assosiasie binne die gesinsverband het al vir baie tot seën gestrek wat die Christelike geloof betref, “want hoe weet jy, vrou, of jy nie dalk jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Korintiërs 7:16). Die inhoud van die apostel Paulus se groete aan verskeie huisgesinne getuig ook hiervan. Party gelowiges was bevoorreg om hulle gesin se huis as ’n vergaderplek vir die gemeente te gebruik.—Romeine 16:1-15.
Die Christengemeente self word “God se huisgesin” genoem. Die vernaamste lid en hoof is Jesus Christus, en hierdie “huisgesin” erken hom as die Saad waardeur al die gesinne van die aarde hulleself sal seën.—1 Timoteus 3:15; Genesis 22:18, NW.
Die geïnspireerde Skrif het ’n wrede aanval op die gesinsinstelling voorspel met ’n gevolglike ineenstorting van sedelikheid en van die mensegemeenskap buite die Christengemeente. Paulus klassifiseer die leerstelling “wat mense verbied om te trou” onder demoongeïnspireerde leerstellings in “latere tydperke”. Hy voorspel vir “die laaste dae” ’n toestand waarin ongehoorsaamheid aan ouers, dislojaliteit en die afwesigheid van “natuurlike geneentheid” iets algemeens sou wees, selfs onder diegene “wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het”. Hy waarsku Christene om hulle van sulke mense af te keer.—1 Timoteus 4:1-3; 2 Timoteus 3:1-5.
Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, is die vyand van God se “vrou” en van Christus se “bruid” (Genesis 3:15; Openbaring 21:9). Dit is ’n groot “hoer”-organisasie wat met die konings van die aarde hoerery pleeg. Die feit dat sy “die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde” is, toon dat haar “dogters” hoere is en ook dat sy groot minagting aanstig vir Jehovah God se instellings en gebooie, waaronder sy vereistes wat tot gesinsintegriteit bydra.—Openbaring 17:1-6.
Sy het pogings aangewend om ander oor te haal om hoerery te pleeg en het daarin geslaag om baie ‘hoerdogters’ voort te bring, en pogings is aangewend om te verhinder dat Christus ’n rein “bruid” het. Sy “bruid” seëvier nietemin en is rein, regverdig en waardig om in Jehovah se “gesin” te wees as die “vrou” van Jesus Christus, tot die seën en vreugde van die ganse heelal.—2 Korintiërs 11:2, 3; Openbaring 19:2, 6-8.
Net so sal Christengesinne wat Bybelbeginsels toepas ook seëvier en Jehovah se ‘hart verbly’.—Spreuke 27:11.
As jy graag meer inligting wil hê of as jy wil hê dat iemand jou moet besoek om ’n gratis tuisbybelstudie met jou te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika of na die gepaste adres op bladsy 5.