Ons beskou die wêreld
Kardinaal brei uit op Pous se opmerkings
New York se kardinaal O’Connor het pous Johannes-Paulus se verklaring dat die evolusieteorie “meer as net ’n hipotese” is verder gevoer en voorgestel dat Adam en Eva dalk nie ’n man en vrou was nie, maar “’n ander vorm” gehad het. Volgens ’n berig in die Daily News van New York het O’Connor gesê: ‘Die Katolieke Kerk is steeds bereid om te luister na wetenskaplike ondersoeke, en dit geld vir biologiese evolusie.’ In ’n preek wat in die St. Patrick-katedraal gehou is, het die Kardinaal gesê: “Is dit moontlik dat die twee mense wat ons as Adam en Eva ken in ’n ander vorm was toe hulle geskape is, en dat God die lewe in hulle ingeblaas het, ’n siel in hulle ingeblaas het—dit is ’n wetenskaplike vraag.” ’n Opskrif in die konserwatiewe Italiaanse koerant Il Giornale het heel saaklik gesê: “Die Pous sê ons stam dalk van ape af.”
Raad aan die Pous
Volgens die Italiaanse Katolieke joernalis Vittorio Messori praat die lede van die priesterlike rangorde van die hedendaagse Katolieke Kerk te veel. Hy stel voor dat hulle hulle boodskappe ‘minder en korter maak’. Tydens ’n onderhoud waarvan die Katolieke nuusagentskap Adista verslag gelewer het, het hy gesê: “’n Vinnige berekening onthul dat die kerk op alle vlakke in die afgelope 20 jaar meer woorde opgelewer het as in die voorafgaande 20 eeue. Hoe meer ’n mens praat, hoe minder luister mense na jou. Ek het voorgestel dat die kerk sewe jaar lank moet stilbly, van die assistent-pastoor af tot by die Pous. . . . Ek lees al hierdie preke en pouslike omsendbriewe, maar hoeveel ander mense doen dit? Ons moet die opoffering maak om terug te keer na die gebruik van die pouse van ’n paar dekades gelede. Hulle het op die meeste drie pouslike omsendbriewe geskryf.”
Dodelike opwinding
Rekspring, vryklim, valduik, struktuurspring—waagsport—is die jongste gier in Frankryk. Die Paryse koerant Le Monde het etlike deskundiges gevra waarom waagsport so gewild geraak het in Frankryk. Alain Loret, direkteur van die studiesentrum vir nuwe sportsoorte, het gesê een rede is dat tradisionele sportsoorte, met hulle vereiste reëls, dissipline en opleiding, nie meer ooreenkom met die waardes van vandag se jeug nie, vir wie vryheid en pret belangriker is as die behoefte aan dissipline. Volgens die Franse sosioloog David Le Breton “weerspieël die toenemende gewildheid van hoërisikosport die krisis van sedelike waardes. Trouens, ons weet nie werklik meer waarvoor ons lewe nie. Ons samelewing sê nie vir ons dat die lewe die moeite werd is nie. Daarom kan hierdie soeke na opwinding . . . gesien word as ’n manier om sin aan die lewe te gee.” Maar al hoe meer jongmense waag hulle lewe en verloor dit.
Antieke Aleksandrië word weer besoek
Eers het argeoloë die ontdekking aangekondig van die Pharos, ’n vuurtoring wat 2200 jaar oud is, een van die sewe wonders van die antieke wêreld, langs die kus van Aleksandrië, Egipte. Nou sê hulle dat hulle “die ruïnes van die antieke hof van Aleksandrië onder ongeveer ses meter water aan die oostelike kant van Aleksandrië se ou hawe” gevind het, sê The Vancouver Sun. Volgens die Franse mariene argeoloog Franck Goddio bevat die terrein die ruïnes van Markus Antonius se huis en tempel en dié van Kleopatra se paleis, asook wynamfore, granietkolomme, geplaveide strate en ander oorblyfsels van die antieke stad. Die navorsers het “’n pragtige hawe [gevind] wat beskerm word deur ’n lang seehoof wat ná 2000 jaar steeds in ’n goeie toestand is, maar dis onder water”, het Goddio gesê. Aleksandrië is vernoem na Aleksander die Grote, wat besluit het dat ’n stad daar gebou sal word toe hy die manjefieke hawe in 332 v.G.J. gesien het. Dit het ’n kulturele en kommersiële sentrum geword wat met Atene en Rome vergelyk kon word. Die beroemde biblioteek van Aleksandrië was daar geleë. Maar teen die Middeleeue het die grootste deel van die antieke stad nie meer bestaan nie, aangesien dit deur aardbewings en brande beskadig is en deur die see oorspoel is.
Wanneer begin die millennium?
Om middernag, 31 Desember 1999, sal baie mense regoor die wêreld die begin van ’n nuwe millennium vier, en planne vir oordadige partytjies is reeds gemaak. Maar hoewel dit “natuurlik [is] vir ’n jaar met so ’n ronde getal” om gevier te word, sê ’n verklaring van die Koninklike Greenwich-sterrewag, in Cambridge, Engeland, “sal ons, streng gesproke, die 2000ste jaar, oftewel die laaste jaar van die millennium, vier, en nie die begin van die nuwe millennium nie”. Die verwarring word geskep deur die oorgang van v.G.J. na G.J. wat vasgestel is deur Bede, ’n sewende-eeuse geskiedkundige en teoloog, wat gebeure volgens Jesus se geboorte probeer dateer het. Geen jaar nul is ingereken nie, daarom was die tydperk tussen die eerste dag van 1 v.G.J. en die eerste dag van 1 G.J. slegs een jaar. Die eerste millennium het gevolglik op die eerste dag van 1 G.J. begin en op die laaste dag van 1000 G.J. geëindig. Die tweede millennium het toe op 1 Januarie 1001 begin. “Dit is dus duidelik dat die begin van die nuwe millennium op 1 Januarie 2001 sal wees”, het die navorsers gesê. Die vieringe sal in elk geval uitsluitlik op die Gregoriaanse kalender gebaseer wees en nie op die eintlike geboorte van Jesus nie, wat ons nou weet ’n bietjie vroeër plaasgevind het.
Onbenydenswaardige rekord
“Die Verenigde State het die hoogste syfer van seksueel oordraagbare siektes van enige ontwikkelde land in die wêreld en het geen effektiewe nasionale stelsel om die epidemie te bekamp nie, [sê] ’n paneel gesondheidsdeskundiges”, volgens ’n berig in The New York Times. Volgens ’n komitee van die Geneeskunde-instituut, ’n tak van die Nasionale Akademie vir Wetenskappe, is die tientalle seksueel oordraagbare siektes waaraan Amerikaners ly voorkombaar, maar dit veroorsaak steeds ernstige gesondheidsprobleme, soos kanker, asook duisende sterfgevalle elke jaar. Ná ’n studie van 18 maande het die komitee van 16 lede gevind dat daar vir elke $43 (R201) wat aan behandeling en ander koste bestee word slegs $1 (R4,67) bestee word om die siektes te voorkom. Hulle verslag sê dat ’n kwart van die geraamde 12 miljoen nuwe gevalle onder adolessente voorkom. Indien hierdie siektes—waaronder herpes, hepatitis B, chlamydia, gonorree en sifilis—nie behandel word nie, kan dit onvrugbaarheid, geboortedefekte, miskrame, kanker en die dood tot gevolg hê. As die koste vir seksueel oordraagbare HIV, die virus wat vigs veroorsaak, buite rekening gelaat word, kos hierdie siektes die land ten minste $10 miljard (R46,7 miljard) per jaar.
Op soek na die onbesoedelde Antarktika
Ten spyte van somertemperature van slegs minus 10 grade Celsius, het die aantal besoekers aan Antarktika in die afgelope tien jaar verdubbel. Tienduisend mense het vakansies bespreek wat tot R42 000 kos om hierdie suidelikste vasteland met sy pikkewyne, robbe en die wonders van 13 miljoen vierkante kilometer bevrore landskap te sien. Maar hierdie onverskrokke reisigers is vinnig om te kla oor die rommel wat agtergelaat is deur lande wat daar gewerk het—verlate hutte, brandstofhouers, vullis en selfs ou rekenaars, berig The Independent van Londen. Dr. Bernard Stonehouse, van die Scott-poolinstituut, in Cambridge, Engeland, wat die eerste reisgids vir die gebied uitgegee het, sê van hierdie verderwers: “In die verlede het hulle net eenvoudig nie die moeite gedoen om skoon te maak nie, maar nou word hulle gedwing om die moeite te doen. Toeriste en besoekers kla dat hulle nie betaal het om ’n vullishoop te sien nie.”
Loterye doen beter as kerke
Amerikaners bestee meer aan loterye as wat hulle vir hulle kerke bydra, sê die Associated Baptist Press. Volgens ’n berig in die Christian Century toon syfers in ’n verslag deur die Amerikaanse Sensusburo wat met dié in die Yearbook of American and Canadian Churches vergelyk is dat Amerikaners in 1994 $26,6 miljard (R124,2 miljard) aan staatsloterye bestee het, maar slegs $19,6 miljard (R91,5 miljard) vir hulle kerke bygedra het.
Nie vir muskiete nie
Elektriese insekdoders, daardie toestelle wat buite gehang word en in die aand goggas aantrek en hulle met ’n harde geluid doodskok, werk nie vir muskiete nie. “Hierdie toestelle is eintlik nutteloos”, sê George B. Craig jr., ’n professor in entomologie. Die meeste muskiete word nie deur die lig aangetrek nie, en wanneer die wyfies—wat die bytwerk doen—op ’n maaltyd afstuur, soek hulle ammoniak, koolstofdioksied, hitte en ander velafskeidings, wat nie deur die elektriese insekdoders afgegee word nie. Wanneer hulle dit nie vind nie, vlieg hulle weg. Om muskiete met elektriese insekdoders te probeer doodmaak, is buitendien soos om “die see met teelepels te probeer leegskep”, sê dr. Craig. ’n Wyfiemuskiet kan meer as 60 000 vroulike nasate in net ’n halwe somer voortbring. ’n Studie wat oor drie maande gedoen is, het getoon dat slegs 3 persent van die goggas wat op ’n gemiddelde aand deur die elektriese insekdoders gedood is wyfiemuskiete was. Elektriese insekdoders, sê Craig, “moet in die tuisvermaakafdeling verkoop word, nie die tuinafdeling nie”.