Wat het met vermaak gebeur?
HOE kon die eertydse Romeine, wat oënskynlik die toppunt van hulle kultuur bereik het, die pyn van hulle medemens as vermaak beskou? “Die enigste verklaring is die drang na nuwe en kragtiger stimulante”, skryf Gerhard Uhlhorn in The Conflict of Christianity With Heathenism. “Omdat daar ’n oorvloed van elke denkbare soort vermaak was, het mense ’n opwinding gesoek . . . wat hulle nêrens anders meer gevind het nie.”
Vandag openbaar baie mense ’n soortgelyke “drang na nuwe en kragtiger stimulante”. Hulle kom dalk weliswaar nie byeen om werklike slagtings en onsedelikheid te sien nie. Maar hulle keuse van vermaak openbaar ’n soortgelyke beheptheid met geweld en seks. Beskou ’n paar voorbeelde.
Rolprente. In die laaste jare het rolprentvervaardigers “’n voorkeur vir verdorwenheid” getoon, beweer die rolprentresensent Michael Medved. “Die boodskap in die rolprentbedryf”, voeg hy by, “is blykbaar dat die uitbeelding van wreedheid en kranksinnigheid ernstiger oorweging en groter outomatiese respek verdien as enige pogings om edelheid of goedheid uit te beeld.”
Mededinging met die televisie het rolprentvervaardigers gedwing om feitlik enigiets te doen om mense na die bioskoop te lok. “Ons het rolprente nodig wat tande het, wat kras is, wat uitstaan bo alles wat mense op TV sien”, sê die voorsitter van ’n rolprentateljee. “Dis nie asof ons tot bloed en geweld en [vuil] taal verbind is nie, maar dit is wat jy vandag nodig het om ’n rolprent vry te stel.” Trouens, baie word nie eers meer deur die mees onverbloemde rolprentgeweld geskok nie. “Mense word immuun teen die effekte”, sê rolprentregisseur Alan J. Pakula. “Die dodetal het vervierdubbel, die ontploffingskrag neem toe met die megaton en hulle raak afgestomp. Hulle het ’n onversadigbaarheid vir growwe sensasie ontwikkel.”
Televisie. Openlike uitbeeldings van seks op TV is nou algemeen in baie wêrelddele, onder meer Brasilië, Europa en Japan. Die gemiddelde TV-kyker in Amerika word in een jaar aan ongeveer 14 000 sekstonele of verwysings na seks blootgestel. “Daar is geen aanduiding dat die toename in seksuele temas en eksplisietheid gaan afneem nie”, sê een navorsingspan. “Onderwerpe soos bloedskande, sadomasochisme en bestialiteit wat voorheen taboe was, het water op die spitstydmeul geword.”
Volgens die boek Watching America is daar ’n rede vir televisie se permissiewe malheid. Dit sê: “Seks verkoop. . . . Namate die netwerke en produksiemaatskappye uitgevind het dat hulle meer kykers vermaak as wat hulle ontstel, het hulle die verkoopspotensiaal van hulle produk geleidelik verhoog deur toe te laat dat meer en meer taboes op al hoe eksplisieter maniere geskend word.”
Videospeletjies. Die betreklik onskuldige era van Pac-Man en Donkey Kong het plek gemaak vir ’n nuwe era van afskuwelik sadistiese speletjies. Volgens professor Marsha Kinder is hierdie speletjies “erger as TV of ’n rolprent”. Hulle dra “die boodskap oor dat ’n mens slegs deur geweld beheer in ’n situasie kan kry”.
As gevolg van openbare besorgdheid plaas ’n vername vervaardiger in die Verenigde State nou ouderdomsbeperkings op hulle videospeletjies. ’n “MA-17”-ouderdomsbeperking—wat aandui dat die “volwasse” speletjie ongeskik is vir diegene onder 17—sluit dalk intense geweld, seksuele temas en vloektaal in. Maar sommige is bang dat ’n ouderdomsbeperking wat aandui dat ’n speletjie vir “volwassenes” is dit net aanlokliker sal maak. “As ek 15 was en ’n MA-17-etiket gesien het”, sê ’n jong videospeletjie-entoesias, “sou ek daardie speletjie kry, al kos dit ook wat.”
Musiek. ’n Tydskrif wat die inhoud van gewilde musiek noukeurig ondersoek, beweer dat daar teen die einde van 1995 slegs 10 van die 40 beste albums was wat nie vloektaal of verwysings na dwelms, geweld of seks gehad het nie. “Die musiek wat vir preadolessente beskikbaar is, is uiters skokkend, baie daarvan is niks anders as nihilisties nie”, berig die St. Louis Post-Dispatch. “Die [musiek] waarvan party adolessente hou, is vol woede en wanhoop en moedig gevoelens aan dat die wêreld en die luisteraar persoonlik verdoem is.”
Dit lyk of death metal, “grunge”-rock en “gangsta”-rap geweld verheerlik. En volgens ’n berig in die San Francisco Chronicle “voorspel baie van hierdie bedryf se ingeligtes dat die skokkendste groepe al hoe gewilder word”. Liedjies wat woede en die dood verheerlik, is nou gewild in Australië, Europa en Japan. Party groepe het weliswaar ’n positiewer boodskap probeer oordra. Maar, sê die Chronicle: “Die getuienis dui daarop dat daar nie juis ’n mark vir onskuld is nie.”
Rekenaars. Hulle is waardevolle instrumente met talle positiewe gebruike. Maar hulle is ook al deur sommige gebruik om onbetaamlike materiaal te versprei. Die tydskrif Maclean’s sê byvoorbeeld dat dit “prente en teks [insluit] oor net mooi alles, van vreemde fetisje tot prostitusie tot pedofilie—materiaal wat baie volwassenes sal skok, om nie eers te praat van hulle kinders nie”.
Leesstof. Talle gewilde boeke is vol seks en geweld. ’n Onlangse gier in die Verenigde State en Kanada word “skokfiksie” genoem—afskuwelike bangmaakstories wat gemik is op kinders, van wie sommige maar agt jaar oud is. Diana West het in die New York Teacher geskryf en beweer dat hierdie boeke “jong kindertjies ongevoelig maak en die ontwikkeling van die verstand belemmer selfs voordat dit begin ontwikkel het”.
Baie strokiesverhale wat in Hongkong, Japan en die Verenigde State gepubliseer word, bevat “kragtige en wrede oorlogstemas, kannibalisme, onthoofding, satanisme, verkragting en vloektaal”, berig ’n studie deur die Nasionale Vereniging teen Televisiegeweld (NCTV). “Die intensiteit van die geweld en vernederende seksuele materiaal in hierdie tydskrifte is skokkend”, sê dr. Thomas Radecki, navorsingsdirekteur van NCTV. “Dit toon hoe ongevoelig ons onsself toegelaat het om te word.”
Ons moet versigtig wees
Dit is duidelik dat vandag se wêreld gefassineer is met seks en geweld, en dit word in die vermaaklikheidsbedryf weerspieël. Die situasie kom ooreen met dié wat deur die Christenapostel Paulus beskryf is: “Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met gierigheid elke soort onreinheid te bedryf” (Efesiërs 4:19). Vandag soek baie mense tereg na iets beters. Wat van jou? Indien jy na iets beters soek, sal jy bly wees om te weet dat jy heilsame vermaak kan vind, soos die volgende artikel sal toon.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Televisie kan gevaarlik wees
TELEVISIE het in 1939, by die wêreldtentoonstelling in New York, sy openbare debuut in Amerika gemaak. Een joernalis wat teenwoordig was, het sy bedenkinge oor die toekoms van hierdie nuwe toestel uitgespreek. “Die probleem met televisie”, het hy geskryf, “is dat mense moet sit en die heeltyd stip na ’n skerm moet kyk; die gemiddelde Amerikaanse gesin het nie tyd daarvoor nie.”
Hoe verkeerd was hy tog nie! Trouens, daar is al gesê dat teen die tyd dat die gemiddelde Amerikaner skool verlaat hy 50 persent meer tyd voor die TV deurgebring het as voor ’n onderwyser. “Kinders wat baie televisie kyk, is aggressiewer, meer pessimisties, weeg meer, is minder verbeeldingryk, minder empatiek en is swakker leerlinge as kinders wat minder televisie kyk”, beweer dr. Madeline Levine in haar boek Viewing Violence.
Haar advies? “Kinders moet geleer word dat die televisie, net soos elke ander toestel in die huis, ’n spesifieke doel het. Ons laat nie die haardroër aan nadat ons ons hare drooggemaak het nie, of die broodrooster aan nadat die brood gerooster is nie. Ons weet presies waarvoor hierdie toestelle gebruik word, en ons weet wanneer om hulle af te sit. Ons kinders het soortgelyke opleiding nodig wat die televisie betref.”
[Venster/Prente op bladsy 7]
Vermaak regoor die wêreld
Ontwaak! het sy medewerkers in verskillende wêrelddele gevra om die tendense in vermaak in hulle omgewing te beskryf. Die volgende is ’n paar van hulle kommentare.
Brasilië: “TV-programme het meer en meer verdorwe geword. Maar omdat baie ouers sekulêre werk doen, word kinders dikwels alleen gelaat om hulleself met die TV te vermaak. CD-ROM’s met okkultetemas en videospeletjies waarin naakte geweld uitgebeeld word, is gewild.”
Tsjeggiese Republiek: “Sedert die val van Kommunisme word die land oorstroom met vermaak wat nooit voorheen hier gesien is nie, waaronder Westerse TV-programme en pornografiewinkels. Jongmense besoek dikwels disko’s, biljartklubs en kroeë. Buitensporige advertensies en portuurdwang oefen dikwels ’n sterk invloed op hulle uit.”
Duitsland: “Ongelukkig is baie ouers te moeg om vermaak vir hulle kinders te reël, en daarom maak die jongmense dikwels op mekaar staat om pret te hê. Party sonder hulle af en speel rekenaarspeletjies. Ander woon danspartytjies by wat die heelnag duur en raves genoem word, waar dwelms vryelik beskikbaar is.”
Japan: “Strokiesverhale is ’n gunstelingtydverdryf vir jongmense en volwassenes, maar hierdie verhale is dikwels vol geweld, onsedelikheid en vloektaal. Dobbelary is ook algemeen. ’n Ander verontrustende tendens is dat sommige jong meisies alom geadverteerde telefoonklubs opbel wat dienste lewer aan mans met onsedelike oogmerke. Sommige bel net vir die grap, terwyl ander sover gaan om afsprake te maak teen betaling, wat in sommige gevalle tot prostitusie lei.”
Nigerië: “Ongekontroleerde videoteaters versprei oor Wes-Afrika. Mense van enige ouderdom, insluitend kinders, het toegang tot hierdie tydelike pondokke. Pornografiese en bangmaakvideo’s is algemeen. Daarbenewens vertoon plaaslik vervaardigde films op TV dikwels spiritisme.”
Suid-Afrika: “Raves floreer hier, en dwelms is dikwels geredelik beskikbaar by hierdie geleenthede.”
Swede: “Kroeë en nagklubs is baie gewild in Swede, en dikwels stroom misdadigers en dwelmsmouse na sulke plekke. Die vermaak wat op die televisie en video’s aangebied word, is vol geweld, spiritisme en onsedelikheid.”