Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/8 bl. 22-23
  • Moet christene pasifiste wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet christene pasifiste wees?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teenkanting teen oorlog of geweld
  • Geheel en al gekant teen oorlog?
  • Oorlog
    Ontwaak!—2017
  • God se beskouing van oorlog in ons tyd
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Watter hoop is daar dat oorloë sal ophou?
    Ontwaak!—1993
  • Die oorlog om ’n einde aan orloë te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/8 bl. 22-23

Die Bybelse beskouing

Moet christene pasifiste wees?

“Die kerke moet weer pasifiste word soos hulle in die eerste eeue van die christelike godsdiens was.”—Hubert Butler, ’n Ierse skrywer.

NADAT Hubert Butler Joego-Slawië ná die Tweede Wêreldoorlog besoek het, het hy in 1947 moedig die woorde hierbo in ’n essay geskryf wat eers verlede jaar gepubliseer is! Hy was geskok oor hoe “die Christelike Kerk gedurende die oorlog die oë gesluit het vir afgryslike misdade en baie ver afgewyk het van die lering van Christus”.

Butler was nie bang om sy stem vir ongewilde sake of groepe te laat hoor nie. Wanneer hy dit gedoen het, was hy gewoonlik op sy eie. Hy het hom onbevrees uitgespreek toe hy gewys het op die verskil tussen die kerke se optrede en die moedige standpunt van Jehovah se Getuies, wat in The Irish Times beskryf is as “ongetwyfeld die onskuldigste en onberispelikste apolitiese godsdienssekte”. In sy essay, “Verslag oor Joego-Slawië”, het Butler geskryf dat die Getuies, wat “al die drogredenerings verwerp [het] waardeur politieke en godsdiensleiers oorlog regverdig”, deur die owerheid in Joego-Slawië verhoor is omdat hulle geweier het om aan die oorlog deel te neem.

Maar is dit skriftuurlik korrek om Jehovah se Getuies as pasifiste te beskryf? Om die saak op te klaar, is dit dalk nodig om te kyk na wat met die woord “pasifis” bedoel word. Butler het die woord gebruik om die Getuies te prys omdat hulle, ondanks die feit dat hulle baie gely het, moedig geweier het om die wapen in oorlogvoering op te neem. Ongelukkig beskou baie mense wat deur die oorlogsgees meegevoer word ’n pasifis slegs as “’n lafaard of ’n verraaier, wat gretig [is] om sy verantwoordelikheid teenoor sy land te ontduik”. Is daardie beskouing reg?

Teenkanting teen oorlog of geweld

Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary sê dat ’n pasifis iemand is wat “sterk en daadwerklik gekant is teen konflik en veral oorlog”. Dit definieer “pasifisme” as “teenkanting teen oorlog of geweld as ’n manier om geskille te besleg; veral: weiering om wapens te dra op grond van sedelike of godsdiensredes”. Hoe kan hierdie definisies op die gelowiges van die vroeë Christengemeente toegepas word?

Hulle het ‘geweier om wapens te dra op grond van sedelike en godsdiensredes’ en het alle ‘konflik en oorlog’ vermy. Waarom? Omdat hulle bewus was van Jesus se woorde dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld is nie” en dat “almal wat die swaard opneem . . . deur die swaard [sal] vergaan” (Johannes 15:19; Matteus 26:52). In The Early Church and the World sê een geskiedskrywer vir ons dat “geen Christen, ten minste tot met die bewind van Markus Aurelius [161-180 G.J.], ná sy doop ’n soldaat sou word nie”. In The New World’s Foundations in the Old sê ’n ander: “Die eerste Christene was van mening dat dit verkeerd is om te veg, en sou nie in die leër dien nie, selfs wanneer die Ryk soldate nodig gehad het.”

Die Christene se opdrag was om die goeie nuus te verkondig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hulle het verstaan dat hulle geen opdrag van God gehad het om teen sy vyande oorlog te voer nie, om as ’t ware as God se skerpregters op te tree nie (Matteus 5:9; Romeine 12:17-21). Dit is alleenlik wanneer sogenaamde Christene ‘ver afwyk van die lering van Christus’, soos Butler gesê het, dat hulle betrokke raak by die oorloë van die nasies. Dan seën die geestelikes leërs en bid hulle om oorwinning, dikwels aan beide kante van ’n konflik. (Vergelyk Johannes 17:16; 18:36.) In vorige eeue het Protestante en Katolieke byvoorbeeld talle bloedige oorloë gevoer, wat aanleiding gegee het tot “die afgryslikhede wat Wes-Europa [getref het], en beide kante het verklaar dat hulle die instrument van God se gramskap is”, skryf Kenneth Clark in sy boek Civilisation. Die redes wat aangevoer word om hierdie soort oorlogvoering te regverdig, sê McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, “het blykbaar voortgespruit uit ’n begeerte om die burgerlike gesag te paai, en is duidelik strydig met die eertydse Christelike leer en met die hele gees van die Evangelie”.—Jakobus 4:4.

Geheel en al gekant teen oorlog?

Maar was ‘die eertydse Christelike leer en die hele gees van die Evangelie’ werklik pasifisties? Kan vroeë Christene werklik beskryf word as pasifiste, soos vroeër gedefinieer is? Nee! Waarom nie? Om maar een ding te noem, hulle het God se reg om oorlog te voer, erken (Exodus 14:13, 14; 15:1-4; Josua 10:14; Jesaja 30:30-32). Daarbenewens het hulle nooit God se reg betwis om eertydse Israel te magtig om vir hom te veg toe daardie nasie as sy enigste instrument op aarde gedien het nie.—Psalm 144:1; Handelinge 7:45; Hebreërs 11:32-34.

God het nie net die reg nie, maar ook ’n verpligting op grond van geregtigheid om goddelose mense van die aarde te verwyder. Baie kwaaddoeners sal nooit reageer op God se geduldige versoeke aan hulle om hulle weë te verander nie (Jesaja 45:22; Matteus 7:13, 14). God sal die kwaad nie vir altyd verdra nie (Jesaja 61:2; Handelinge 17:30). Christene besef dus dat God goddelose mense uiteindelik met geweld van die aarde sal verwyder (2 Petrus 3:9, 10). Soos die Bybel voorspel, sal dit by “die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel [wees] met sy kragtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”.—2 Tessalonisense 1:6-9.

Die laaste boek van die Bybel beskryf hierdie konflik as “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, of Armageddon (Openbaring 16:14, 16). Dit sê dat Jesus Christus dit sal aanvoer, dat hy ‘oorlog voer in regverdigheid’ (Openbaring 19:11, 14, 15). Jesus Christus word tereg die “Vredevors” genoem (Jesaja 9:5). Maar hy is nie ’n pasifis nie. Hy het reeds ’n oorlog in die hemel gevoer om dit van al God se opstandige vyande te reinig (Openbaring 12:7-9). Binnekort sal hy nog ’n oorlog voer “om die verderwers van die aarde te verderf”. Maar sy volgelinge op aarde sal glad nie aan daardie Goddelike oordeel deelneem nie.—Openbaring 11:17, 18.

Ware Christene het vrede lief. Hulle bly geheel en al neutraal met betrekking tot die wêreld se militêre, politieke en etniese konflikte. Maar streng gesproke is hulle nie pasifiste nie. Waarom nie? Omdat hulle God se oorlog verwelkom wat uiteindelik sy wil op aarde sal laat geskied—’n oorlog wat eens en vir altyd die groot geskil van universele soewereiniteit sal besleg en die aarde van alle vyande van vrede sal bevry.—Jeremia 25:31-33; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Christus word bespot/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel