Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/8 bl. 26-27
  • Die dowes loof Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dowes loof Jehovah
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was teenwoordig?
  • Toeskouers was beïndruk
  • ’n Nuwe veld word geopen
  • Waardeer jou dowe broers en susters!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • ‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wees daarop ingestel om dowe mense in julle gebied te vind
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Luister met jou oë
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/8 bl. 26-27

Die dowes loof Jehovah

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË

BAIE jare lank was dit vir Jehovah se Getuies in Nigerië moeilik om die Bybel vir die dowes te leer. Dit was omdat so min Getuies vingertaal geken het. Maar dit is besig om te verander. Al hoe meer Getuies het vingertaal geleer en getuig vir die dowe bevolking. ’n Groot stap in hierdie rigting was ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat meer as ’n jaar gelede in Nigerië gehou is.

“’n Mens kon die opwinding in die lug aanvoel”, het ’n byeenkomsganger by daardie byeenkoms, in Ota, Nigerië, gesê. “Almal was diep geraak, en daar was ’n gevoel van verwondering”, het iemand anders gesê. Wat het tot hierdie gevoel aanleiding gegee? Vir die eerste keer in Nigerië is die hele program in vingertaal getolk. Dit was die enigste byeenkoms waar dit gedoen is uit die 96 wat gedurende die jaar deur die land gehou is.

Onder die duisende wat teenwoordig was, was daar 43 dowe byeenkomsgangers, wat aan die linkerkant van die verhoog in die voorste deel gesit het. Bokant hulle het daar ’n groot wit bord gehang met rooi letters wat gesê het: “Vingertaal.” Die dowe byeenkomsgangers was verheug om daar te wees. Een van hulle het geskryf: “Dit is met groot vreugde en trane in my oë dat ek skryf. Net ‘gister’ nog het ons ’n bietjie afgeskeep gevoel oor die geestelike voorsienings wat vir ons dowe mede-Christene in ander lande gemaak word. Min het ons geweet dat ons hier dieselfde seën sou ontvang.”

Wie was teenwoordig?

Dowe mense het van regoor Nigerië gekom. Een dowe Getuie het drie van haar dowe Bybelstudente saamgebring. ’n Ander groep dowes, wat 700 kilometer in een rigting gereis het, het sewe maande lank vir hulle reisgeld gespaar. Maar toe die tyd vir hulle reis aanbreek, kon hulle nie ’n voertuig by die staat se vervoermaatskappy te huur kry nie omdat dit die vakansieseisoen was. Toe die staatsowerheid van hulle penarie te hore kom, is daar vir hulle 13 000 naira (R710) gegee om hulle met alternatiewe vervoer te help!

Gesinne met dowe kinders het gereis om hierdie unieke byeenkoms by te woon. Een vrou uit ’n plattelandse gebied het van die byeenkoms gehoor en saam met haar dowe seun gekom. Nie sy of haar seun het veel van vingertaal geweet nie. Hulle was tot trane geroer deur wat hulle gesien het en is nou vasbeslote om vingertaal te leer.

Van die duisende wat teenwoordig was, het sommige honderde kilometers ver gekom net om te sien hoe die dowes die program sal “hoor”. Sondag se bywoningsyfer was 13 936—die hoogste van die 96 byeenkomste in Nigerië. Die dowe byeenkomsgangers was verheug om ’n deel van daardie menigte te wees.

Toeskouers was beïndruk

Baie van die dowes het die goeie nuus vir die eerste keer in vingertaal “gehoor”. En diegene wat kon hoor, het vir die eerste keer vingertaal gesien. Een byeenkomsganger het gesê dat hy verbaas was om alles op die program getolk te sien—liedere, gebede, aankondigings en selfs die drama! “Dit het ons oorweldig”, het ’n ander een gesê.

Die vreugde van die dowe byeenkomsgangers is in hulle sang weerspieël. Hulle het met geesdrif hulle hande gebruik om Jehovah te loof. Om te sien hoe dowes “sing”, was vir dié wat kon hoor ’n baie roerende ondervinding. Dit het baie oë vol trane laat skiet. Daar is gehoor hoe ’n byeenkomsganger met waarderende ontsag sê: “O, Jehovah!” By een geleentheid het diegene wat naby die vingertaalseksie gesit het spontaan aan die einde van ’n lied begin hande klap.

Toe die doopkandidate ná die dooptoespraak opstaan, het ’n jong man in die vingertaalseksie ook opgestaan. ’n Waarderende geruis het deur die gehoor gegaan toe hy in vingertaal “ja” antwoord op die twee vrae wat deur die spreker gevra is.

Wat ’n vreugde was dit tog vir die dowe byeenkomsgangers om hulle geestelike broers en susters uit ander dele van die land te ontmoet! Arms en vingers het opgewonde beweeg terwyl die dowes mekaar beter leer ken het. Baie het hand geskud en adresse uitgeruil.

Nege tolke (vingertaalsprekers) het uit verskeie dele van die land gekom. Dit was pragtig om te kyk hoe hulle met hulle hande en arms al die toesprake en liedere vlot tolk. Vir hulle inspanning is hulle met omhelsings, handdrukke en lof beloon. Hulle is toegegooi met vrae soos: Hoe het jy dit geleer? Hoe kan ek dit leer? Is daar boeke wat vingertaal leer?

’n Nuwe veld word geopen

’n Byeenkomshoogtepunt vir die dowes was die vrystelling van ’n video met ’n vingertaaluitgawe van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Meer is aangemoedig om vingertaal te leer en dowes regoor Nigerië met behulp van hierdie onderrighulpmiddel te bereik. Die byeenkoms het baie mense vasbeslote gemaak om juis dit te doen.

“Wanneer ons in die verlede ’n dowe in die veldbediening ontmoet het, het ons net na die volgende huis gegaan”, het ’n suster gesê. “Nou weet ons wat om te doen.” Met ongeveer vyfmiljoen dowe Nigeriërs is daar ongetwyfeld ’n ontsaglike potensiaal. ’n Broer het gesê: “Dis ’n begin. Nou moet ons hierdie unieke nuwe veld bewerk.”

Dit is presies wat in die maande sedert die byeenkoms gebeur het. Daar is doelbewuste pogings aangewend om die waarheid van God se Woord aan die miljoene dowes in Nigerië te leer. Hulle moet ook die goeie nuus van die inkomende nuwe wêreld onder God se Koninkryk leer, want dit is daar waar hulle wonderdadig genees sal word en “die ore van die dowes ontsluit [sal] word”.—Jesaja 35:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel