Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/8 bl. 22-25
  • Boodskappers van vrede in Oos-europa

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Boodskappers van vrede in Oos-europa
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die dowes “hoor” in Boedapest
  • Die waarheid word aan ander vertel
  • Van Katoliek tot Kommunis tot Getuie
  • Gunstige persberigte in Pole
  • Klein Estland kry ’n groot getuienis
  • Dowes “hoor” ook in Estland
  • “’n Nuwe episode in die drama van die Nuwe Testament”
  • Verbaas oor wat hulle gesien het
    Ontwaak!—1991
  • “Verdeel deur taal maar verenig deur liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/8 bl. 22-25

Boodskappers van vrede in Oos-europa

DIE dowes het gehoor! Gevangenes het vryheid verkry! Die polisie het byna niks gehad om te doen nie! Waarvan praat ons? Ons verwys na wat gebeur het by die onlangse internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies wat gedurende Julie en Augustus verlede jaar in Oos-Europa gehou is.

Die tema van die program was “Boodskappers van Goddelike vrede”, en baie mense het gesien dat Jehovah se Getuies, ondanks probleme wat deur geestelikes in Roemeniëa veroorsaak is, wel die vrede het wat uit kennis van God en Christus Jesus voortspruit.—Jesaja 26:2, 3; Filippense 4:7.

Byeenkomste is gehou in Praag, Tsjeggiese Republiek; Boedapest, Hongarye; Warskou en Lodz, Pole; Tallinn, Estland, asook Brasov en Cluj-Napoca, Roemenië.

Afvaardigings uit talle ander lande het hierdie byeenkomste bygewoon en ’n waarlik internasionale atmosfeer aan die geleenthede verleen. In Praag was daar groot groepe uit Duitsland, Japan, Pole en die Verenigde State. ’n Verslag van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Tsjeggië het gesê: “Ons is grootliks bemoedig deur so baie handhawers van onkreukbaarheid uit ander lande wat Jehovah God aanbid. Die meeste van die Japannese afgevaardigdes was byvoorbeeld pioniers, en dit was opvallend hoe hulle netjiese kleredrag en ordelikheid hulle deel van die stadion versier het. Ons het ook die hartlikheid van die Poolse afvaardiging opgelet, die dankbaarheid van die Slowaakse broers, die vrygewigheid van die Duitsers en die ruimhartigheid van die Amerikaners. Ons kon iets by hulle almal leer.”

Hoe is nuwelinge deur die byeenkomste geraak? ’n Vyf-en-tagtig-jarige geleerde, skrywer en taalkundige was teenwoordig, ondanks die feit dat hy aan suikersiekte ly en ’n siekte sy been aangetas het. Hy het die Bybel al ongeveer ses maande lank met behulp van die Kennis-boek bestudeer. Gedurende die program het hy nie op die taalkundige en grammatikale aspekte van die toesprake gekonsentreer nie, maar op iets anders. “Dit was wonderlik!” het hy uitgeroep. “Die liefde en bedagsaamheid wat julle onder mekaar het, spreek boekdele.”—Johannes 13:34, 35; 1 Korintiërs 13:1-8.

Die buitelandse besoekers aan Praag het dit geniet om historiese plekke te besoek en by elke geleentheid informele getuieniswerk te doen. By ’n kasteel suid van Praag het een Amerikaanse Getuie, ’n regsgeleerde se vrou, bo in die kasteeltoring gewag om traktate in Tsjeggies uit te deel aan almal wat met die trap opgekom het. Ander het traktate uitgedeel toe hulle ’n groepie skoolmeisies teëgekom het wat die ou Joodse begraafplaas besoek het. En natuurlik het al die amptelike toergidse en busbestuurders lektuur ontvang.—1 Petrus 3:15.

Een gids wat waardering vir die Getuies en hulle gedrag uitgespreek het, het geskryf: “Ek het nog nooit in my lewe soveel vriendelike en hartlike mense ontmoet nie. Hoewel ek ’n Katoliek is, het ek my aan julle geestelike gesindheid verwonder. Julle almal het vir my ’n bietjie hoop gegee dat die wêreld tog nie heeltemal verlore is nie. Laat my asseblief toe om julle te bedank vir julle goedhartigheid. Mag God julle seën!”

Al het dit die Vrydag in Praag swaar gereën, het gesinne buite in die stadion gesit en die geestelike voedsel ingeneem wat deur plaaslike en buitelandse sprekers aangebied is. Daar was so baie babas dat daar buite die stadion ’n spesiale parkeerterrein vir stootwaentjies opsy gesit is om ongelukke in die gange te voorkom.

Die byeenkoms in Praag is deur meer as 22-000 bygewoon, en 432 pas toegewyde Getuies is gedoop, onder andere twee persone in rolstoele en nog vyf met fisiese gebreke.

Die dowes “hoor” in Boedapest

Weerskante van die Donau-rivier is die pragtige stad Boedapest geleë, wat in Julie die gasheerstad vir ’n internasionale byeenkoms geword het. Daar was ’n opkomshoogtepunt van 23 893, met onder andere 3341 afgevaardigdes uit 11 lande buiten Hongarye.

In ’n tent naby die verhoog, waar daar ongeveer 100 teenwoordig was, is die hele program vir dowe mense getolk. In die verwelkomingswoorde aan al die afgevaardigdes wat nie Hongaars praat nie, is die dowes spesiaal verwelkom met die woorde: “Daar is een taal wat ons nie wil vergeet om te noem nie; dit is vingertaal, waarin die hele program getolk sal word. Ons is dankbaar om die dowes by ons te hê.”

Die waarheid word aan ander vertel

By hierdie byeenkomste is nuwe Bybelpublikasies vrygestel, onder andere die boek Die geheim van gesinsgeluk. Nadat ’n Franse afvaardiging hierdie publikasie ontvang het, het hulle op ’n bus geklim om na hulle hotel terug te keer. Op pad het hulle ’n bruid en bruidegom saam met hulle bruilofsgaste gesien. Die broers het die busbestuurder gevra om stil te hou. Een van die Getuies het uitgeklim en vir die paartjie ’n Hongaarse eksemplaar van die nuwe boek gegee. Hulle het dit met dankbaarheid geneem en onmiddellik deur die boek begin blaai. Dit was waarskynlik een van die eerste eksemplare van die boek wat ná die vrystelling daarvan versprei is!

Van Katoliek tot Kommunis tot Getuie

Die 510 wat by hierdie byeenkoms gedoop is, het meer as 2 persent van die bywoningsyfer verteenwoordig. Drie van hierdie nuwe Getuies is nog in die gevangenis, waar hulle straf uitdien vir misdade wat hulle gepleeg het voordat hulle Bybelwaarhede geleer het. Plaaslike broers besoek hulle gereeld en hou Bybelstudies met ander. In een gevangenis in Boedapest word daar ongeveer 50 Bybelstudies met gevangenes gehou.

Een man wat in ’n Benediktynse Katolieke skool grootgeword het, het sy geloof in die Katolieke Kerk verloor en op 20-jarige ouderdom ’n lid van die Kommunisteparty geword. Later het hy by die weermag aangesluit en is hy tot luitenant bevorder. As ’n lid van die Werkersburgermag het hy Marxisme-Leninisme by die universiteit gedoseer. Hy was gefassineer deur die Kommunistiese slagspreuk: “Vryheid, broederskap, gelykheid.” Maar die manier waarop gesagdraers die slagspreuk “regering van die volk” misbruik het, het hom oor Kommunisme laat twyfel. Hy het gevoel dat daar iets ontbreek. Uiteindelik het hy afgetree. Toe Getuies aan sy deur klop, was hy gereed om te luister. Hy sê: “Gedurende my eerste besoek aan die Koninkryksaal was ek oortuig dat ek hier uiteindelik ware broederskap gevind het. Ek was omring deur die liefde van ware navolgers van Christus. My gedaanteverandering van ’n Kommunis tot ’n Getuie het vier jaar geneem. Maar ek het die waarheid gekies.” Hy is by die byeenkoms gedoop.

Dit is vir die polisie gewoonlik ’n verandering om by die byeenkoms te werk. Een polisieman wat aangewys is om voor die stadion te werk, het gesê dat dit baie moeilik is om by Getuie-byeenkomste diens te doen. Waarom? Omdat alles so rustig verloop dat die polisie dit moeilik vind om wakker te bly!

Gunstige persberigte in Pole

Daar is twee internasionale byeenkomste in Pole gehou, met ’n bywoningsyfer van meer as 20 000 in Warskou, die hoofstad, en byna 12-000 in Lodz, die tweede grootste stad in Pole.

Warskou se vernaamste koerant, Życie Warszawy, het die volgende artikel bevat: “‘Daar is goeie nuus wat verkondig moet word! Dit is nuus van vrede, ware vrede. Ons liefde vir Jehovah en vir ons naaste beweeg ons om sonder ophou te preek totdat God sê dat die werk gedoen is’, het Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, gesê.”

’n Joernalis vir die koerant Sztandar Młodych het gesê: “Ongeveer 12 000 van Jehovah se Getuies het twee dae lank by die Legia-stadion, in Warskou, vir ’n godsdiensbyeenkoms bymekaargekom. Daar het voorbeeldige orde geheers, en hoewel ek deeglik gekyk het, het ek geen polisiemotors of beheereenhede gesien nie.

“Ons word verseker dat Pole ’n bykans uitsluitlik Katolieke land is. Maar wanneer ons Katolieke jongmense by dieselfde stadion bymekaarkom, is ’n groot polisiemag altyd teenwoordig, gereed vir aksie.

“Dit is beslis verontrustend dat afvallige Katolieke, sektariërs, of wat jy hulle [Jehovah se Getuies] ook al noem, in enorme skares kan vergader en geen gevaar vir openbare orde en veiligheid inhou nie, terwyl ons Katolieke jongmense in ’n skare gevaarlik word en polisiebeskerming teen hulle jeugdige ongedissiplineerdheid nodig is. Daar is baie om oor na te dink.”

Nuwe gelowiges is ook hier gedoop, waarvan 462 in Warskou en 278 in Lodz gedoop is. Een van hulle was die 19-jarige Sylwia wat bevooroordeeld teenoor die Getuies was. Op ’n reënerige dag is sy deur ’n Getuie op straat genader. “Ek het dit reggekry om van haar ontslae te raak en ek het weggestap. Maar toe het ek my sambreel met ’n meisie gedeel wat natgereën het. Toe vind ek uit dat sy ook ’n Getuie is! Sy het aangebied om vir my die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk te bring. Uit beleefdheid het ek vir haar my adres gegee, en . . . ek is vandag gedoop!”

Klein Estland kry ’n groot getuienis

Estland, Letland en Litaue maak saam die Baltiese state uit. Estland se bevolking is maar ongeveer 1,5 miljoen, en die hoofstad het ongeveer 450 000 inwoners. In Augustus 1996 is twee byeenkomste hier gehou.

Hierdie groot vergaderinge het so ’n uitwerking gehad dat een koerant gesê het: “Tallinn is letterlik gevul met die aanbidding van Jehovah se Getuies. Hulle byeenkoms wat in Linnahall gehou is, het blykbaar die grootste gehoor getrek van enige godsdiensbyeenkoms wat nog in Estland gehou is.” Al die hotelle was vol bespreek deur die Getuies.

Broer Carey Barber het later ’n verslag gelewer waarin hy gesê het: “Dit is geen wonder nie dat die Finse broers en ander wat na Estland gestuur is dit so geniet om daar te wees. Hierdie klein maar pragtige land is deur groter nasies ingeneem en oorrompel en het al baie lyding verduur. Nou sien die Estlanders . . . so daarna uit om ’n toekoms te hê van permanente vrede en veiligheid van Jehovah af.” Daar is meer as 3100 bedrywige Getuies in Estland, waarvan die helfte Russies praat.

Die byeenkomste het Estlanders, Russiessprekende Estlanders en Lette, Litauers asook besoekende afgevaardigdes uit 15 lande, onder meer 155 uit Brittanje en 300 uit Finland, bedien.

Dowes “hoor” ook in Estland

Drie jaar gelede het ’n dowe ouer man van Finland na Tallinn, Estland, gegaan om te sien wat hy vir die dowes in daardie land kan doen. Hy het nie een enkele dowe daar geken nie, en daarom het hy, met hope eksemplare van Die Wagtoring en ander lektuur, na die huis gegaan waar die dowes in Tallinn bymekaargekom het. Die Estlandse dowes het hom verwelkom en was nuuskierig om te sien wat hy by hom het. Hy het al die lektuur gedurende sy eerste besoek versprei en die name en adresse van die belangstellendes neergeskryf, altesaam 70 name.

Byna almal wou ’n Bybelstudie hê, en die broer het besef dat hy nie al daardie studies kon behartig nie. Daarom moes hy die mense uitsoek wat die meeste belanggestel het. Kort ná sy eerste besoek aan Estland het hy 30 Bybelstudies gehad en ’n waglys met 40 name van moontlike studies! Daar is nou vier vingertaal-tolke vir die dowes in Tallinn.

“’n Nuwe episode in die drama van die Nuwe Testament”

’n Getuie het in die veerbootterminus gewerk en byeenkomsgangers verwelkom. Sy het ’n Estlandse toergids genader en haar gevra wat sy van hierdie groot byeenkoms dink. Die gids het vir haar gesê dat sy al verskeie Getuietoergroepe uit verskillende Europese lande gelei het en opgemerk het dat die Getuies altyd goedgemanierde, vriendelike mense is. Sy was genooi om die Wagtoringgenootskap se kantoor in Puhangustraat te gaan besigtig, en sy was verbaas oor die ordelikheid en die vriendelike en gelukkige jongmense. Sy kon nie verstaan waarom die Getuies hewige teenkanting en valse aantygings moet verduur terwyl die feite bewys dat die aantygings onwaar is nie. Sy het gesê: “Na my mening is julle werk, julle diens, soos ’n nuwe episode in die drama van die Nuwe Testament.”

As boodskappers van Goddelike vrede verwag Jehovah se Getuies natuurlik om wêreldwyd ’n goeie reputasie vir hulle eerbiedige gedrag en hulle vriendelikheid teenoor vreemdelinge op te bou (1 Petrus 3:16). Hierdie byeenkomste in Oos-Europa toon dat Jehovah se Getuies, ondanks laster en smaadskrifte deur godsdiensvyande en afvalliges, God se seën het terwyl hulle die vredesboodskap verkondig wat ons oorloggeteisterde, haatgevulde wêreld so nodig het.—Jesaja 2:2-4; Markus 13:10.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Streekbyeenkomste word ondanks teenstand in Roemenië gehou”, in die Ontwaak! van 22 Februarie 1997, vir breedvoerige inligting oor die streekbyeenkomste in Roemenië. Vir inligting oor die program wat aangebied is, sien die artikel “Boodskappers van Goddelike vrede kom byeen”, in Die Wagtoring van 15 Januarie 1997.

[Prent op bladsy 23]

Ondanks die reën het gesinne aandagtig na die program geluister

[Prent op bladsy 24]

Gelukkige Poolse Getuies met hulle nuwe vrystellings

[Prent op bladsy 25]

Vreugdevolle Estlandse Getuies in tipiese volksdrag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel