Vertroosting vir familie en vriende
TOE TWA se Vlug 800 op 17 Julie in die Atlantiese Oseaan neergestort het, het al 230 passasiers aan boord omgekom. Onder hulle was 16 hoërskoolleerlinge wat Frans as vak gehad het en vyf volwasse chaperones van Montoursville, ’n dorpie in Pennsilvanië met ongeveer 5000 inwoners. Tydens ’n gedenkdiens op die dorp op 17 Augustus het een van die sprekers, Rudolph Giuliani, die burgemeester van New York-stad, gesê dat daar ’n verlies van 35 000 lewens sou gewees het as dieselfde persentasie van New York-stad se bevolking sou moes gesterf het!
Die hoof van die hoërskool, Dan Chandler, is gevra om by die begrafnisse van ’n paar van die leerlinge iets te sê. Hy het die Bybel se belofte in Openbaring 21:4 aangehaal, wat sê dat daar in God se nuwe stelsel van dinge ‘nie meer dood, en ook nie meer verdriet en geskreeu en pyn sal wees nie’. Vir die rede waarom sulke tragedies plaasvind, het hy na Prediker 9:11 verwys, wat praat van “tyd en lotgeval” wat ons almal tref. Baie was verbaas om hulle skoolhoof sulke bemoedigende opmerkings te hoor maak.
Om verdere hulp te voorsien, het Chandler ’n stalletjie by die skool opgerig om publikasies soos die brosjure met 32 bladsye Wanneer ’n geliefde sterf en die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? beskikbaar te stel. Honderde stukke Bybellektuur is geneem, en talle het hulle dank uitgespreek vir die vertroosting wat dit gebied het.
Jy sal dalk ook vertroosting put uit die bogenoemde brosjure en traktaat. As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar van elk kan ontvang of as jy ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika of na die gepaste adres op bladsy 5.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Met vergunning van Williamsport Sun-Gazette
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Corey Sipkin/Sipa Press