’n Wonderlike verrassing
Dana Folz was agt jaar oud toe hy uitgevind het dat hy aangeneem is. Jare later het hy begin wonder: ‘Wie is my ma? Watter soort mens was sy? Waarom het sy my laat aanneem? Het ek broers of susters?’ Lees Dana se verhaal van hoe hy uiteindelik sy biologiese moeder gevind het en van die groot verrassing wat daarop gevolg het.
EK IS op 1 Augustus 1966, in Ketchikan, Alaska, VSA, gebore. My suster Pam was twee jaar ouer as ek. Ons pa was ’n maatskaplike werker vir die Buro vir Indiane-aangeleenthede, en hy is dikwels verplaas. Ons het van plek tot plek in Alaska getrek. Later het ons in Iowa, Oklahoma, Arizona en Oregon gewoon.
Terwyl ons in die somer van 1975 by familie in Wisconsin gekuier het, het party van my neefs onvriendelike opmerkings oor ’n ander neef gemaak. “Hy is aangeneem”, het hulle gesê, “en is dus nie regtig ’n Folz nie.” Nadat ons terug huis toe gegaan het, het ek my ma hieroor gevra en was ek verbaas oor die geskokte uitdrukking op haar gesig. Sy het verduidelik wat aanneming is. Daardie aand, terwyl trane oor haar wange gerol het, het sy my vertel dat ek sowel as my suster aangeneem is.
Aanneming het destyds nie vir my soveel beteken nie; en ek het ’n tyd lank min daaroor gedink. Ek het ’n ma en ’n pa gehad, en dit het gelyk asof die lewe sy normale gang gegaan het. My ouers het besluit om op te hou rondtrek sodat die gesin hulle iewers kon vestig. Toe ek nege was, het ons in Vancouver, Washington, gaan woon. Ek en my pa was baie geheg aan mekaar, terwyl dit nie heeltemal die geval was met ek en my ma nie. Ek was soms onafhanklik en opstandig, en die frustrasie wat my ma as gevolg hiervan ervaar het, verklaar dalk waarom dit gevoel het of ons uitmekaardryf.
Romanse en universiteit
Toe ek op hoërskool was, het ek vir Trina ontmoet, en ons het uit die staanspoor goed oor die weg gekom. Nadat ek my skoolopleiding voltooi het, het ek ’n akademiese studiebeurs aanvaar om aan die Oregon-staatsuniversiteit, in Corvallis, Oregon, te studeer. Ek het my vrye tyd gebruik om heen en weer na Vancouver te reis om by Trina te wees, wat nog een jaar op hoërskool moes voltooi. Ek het min gestudeer, maar ek het gedink dat ek in elk geval nie te sleg op universiteit sou vaar nie. My eerste rapport was skokkend—dit was die slegste wat ek nog gekry het! Ek was skaam daaroor. Maar ek het nie opgehou om Trina te besoek nie; ek het net my boeke saam met my geneem sodat ek tydens my besoeke kon studeer.
Toe, eendag, terwyl ek op my motorfiets van Vancouver af terug kampus toe gery het, was ek in ’n ernstige ongeluk betrokke. Ek is kort daarna selfs ernstiger beseer toe ek deur ’n motor getref is terwyl ek ’n straat by ’n voetoorgang oorgesteek het. Ek het begin werk en die begeerte verloor om weer universiteit toe te gaan.
Belangstelling in godsdiens
Mettertyd het ek en Trina begin saamwoon. Ons het in God geglo en wou hom leer ken. Maar ons het gemeen dat die kerke huigelagtig is. Ons het die Bybel dus op ons eie probeer lees, maar ons kon geen kop of stert daaruit wys word nie.
Eendag by my werk in Portland, Oregon, het my medewerkers ’n man begin terg wat ek as een van die gaafste mense beskou het wat ek nog ontmoet het. Randy het die tergery kalm verdra. Later daardie dag het ek hom gevra: “Is dit waar wat ek hoor, dat jy ’n prediker is?”
“Ja, ek is”, het hy gesê.
“Van watter kerk?” het ek gevra.
“Ek is een van Jehovah se Getuies.”
“Wie is Jehovah se Getuies?”
“Is jy ernstig?” het hy met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig gevra.
“Ja”, het ek gesê. “Wie is Jehovah se Getuies? Is ek veronderstel om te weet?”
“Ja”, het hy met ’n glimlag gesê, “jy is veronderstel om te weet. Wat doen jy etenstyd?”
Dit was die eerste van ’n aantal Bybelbesprekings tydens ons etenstyd. Een aand het ek vir Trina daarvan vertel. “Moenie met Jehovah se Getuies praat nie!” het sy uitgeroep. “Hulle is vreemde mense! Hulle is nie eers Christene nie. Hulle vier nie Kersfees nie.” En sy het voortgegaan en my ander dinge vertel wat sy omtrent Jehovah se Getuies gehoor het.
“Iemand het vir jou ’n klomp dinge vertel wat eenvoudig nie waar is nie”, het ek gesê. Ná ’n lang gesprek kon ek haar daarvan oortuig dat sy nie die volle waarheid gehoor het nie. Daarna het sy my vrae begin gee wat ek vir Randy moes vra, en ek het die een duidelike skriftuurlike antwoord na die ander teruggebring. Uiteindelik het Trina gesê: “Ek het nooit geweet dat al hierdie dinge in die Bybel is nie, maar ek dink nog hulle is vreemd. Ek gee nie om as jy wil voortgaan om met hom oor die Bybel te praat nie; maar moet net nie huis toe kom en dit aan my opdring nie.”
’n Angsvolle tydperk
Ek het geglo wat ek uit die Bybel geleer het, maar ek het eenvoudig nie gedink dat ek daarvolgens kon lewe nie. Dit het gelyk of ek en Trina al hoe meer gestry het. Ek en ’n vriend het dus besluit om ons meisies te verlaat en ’n nuwe lewe in Oklahoma te begin. Ek het vir verlof by die werk gereël. Kort voor lank het ek en my vriend in ’n woonstel in ’n klein dorpie naby die grens van Texas gewoon. Ek het weldra besef hoe vreeslik ek na Trina verlang, maar ek het besluit dat ek nogtans pret gaan hê.
Ek het uitgevind dat ’n mens op 19 drank in Texas kan koop; ek het dus een aand, toe my vriende op reis gegaan het, die grens oorgesteek om die aand by ’n bekende rockkroeg te geniet. Ek het smoordronk geword, ’n ernstige motorongeluk gehad en is tronk toe geneem. Later kon ek met my pa in aanraking kom, en hy het vir my borg gestaan en my uit die tronk gekry. Hoe dankbaar was ek ook tog dat Trina my teruggeneem het! Ek het na my vorige werk teruggegaan en my Bybelbesprekings met Randy hervat.
Ek kry my lewe onder beheer
Byna twee jaar het verbygegaan sedert ek die eerste keer van Jehovah se Getuies gehoor het, en ek het besluit om meer aandag aan my Bybelstudie te gee. Ek was nou 20 jaar oud, en die vrae oor my aanneming wat ek aan die begin van hierdie artikel gemeld het, het my begin kwel. Ek het dus ernstig na my biologiese moeder begin soek.
Ek het die hospitaal in Alaska gebel waar ek gebore is en gevra hoe ek te werk moes gaan. Nadat ek uitgevind het wat om te doen, het ek ’n afskrif van my oorspronklike geboortesertifikaat gekry en uitgevind dat my ma se naam Sandra Lee Hirsch was; maar daar was nie ’n inskrywing vir my pa nie. Sandra was net 19 toe ek gebore is, en ek het dus aangeneem dat sy ’n verskrikte, ongetroude meisie was wat swanger geraak en ’n baie moeilike besluit geneem het. Daar was nie genoeg inligting op my geboortesertifikaat sodat ek my ma kon opspoor nie.
Intussen het ek, as gevolg van my Bybelstudie met Randy, tot die oortuiging gekom dat ek die ware godsdiens gevind het. Maar ek het herhaaldelik misluk om die verontreinigende gebruik van tabak op te gee (2 Korintiërs 7:1). Ek het gevoel dat Jehovah moed opgegee het met my. Toe het ’n Getuie by die Koninkryksaal iets gesê wat my werklik gehelp het. Hy het gesê dat Satan die een is wat wil hê dat ons moet misluk en dat dit hartseer is om te sien hoe sommige die ewige lewe verbeur omdat hulle tou opgooi. “Ons moet ons sorge op Jehovah werp”, het hy gesê, “en volkome op hom vertrou om ons deur ons moeilike tye te help.”—Psalm 55:23.
Dit was presies wat ek nodig gehad het om te hoor! Ek het begin toepas wat hy gesê het en dikwels om Jehovah se hulp gebid. Kort voor lank het ek opgehou rook, is ek en Trina getroud en is my Bybelstudie gereeld gehou. Mettertyd het Trina ook begin studeer. Ek het op 9 Junie 1991 my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ons eerste dogter, Breanna Jean, is minder as twee weke later gebore.
My verhouding met my pa
Ek en my pa was baie geheg aan mekaar. Hy was ’n baie goedhartige mens wat my altyd bemoedig het wanneer ek gefrustreerd was. Tog was hy ferm wanneer ek dissipline nodig gehad het. Ek het dus ’n moeilike tyd deurgegaan toe ek vroeg in 1991 uitgevind het dat my pa terminale longkanker het. Teen daardie tyd het my ma en pa na Hamilton, Montana, verhuis. Ons het dikwels soontoe gereis om hom te besoek en my ma te ondersteun.
Ons kon vir my pa die boek Is hierdie lewe al wat daar is? gee. Hy het belowe om dit te lees en gesê dat hy bekommerd is oor die welsyn van sy gesin. Tydens my laaste besoek het hy vir my gesê hoe trots hy was om my as sy seun te hê en hoe lief hy vir my is. Toe, terwyl hy begin huil het, het hy sy gesig na die venster gedraai. Ons het ’n paar keer omhels voordat ek gegaan het. My pa het ongeveer ’n derde van die boek gelees voordat hy op 21 November 1991 gesterf het.
Nadat my pa gesterf het en ons later na Moses Lake, Washington, getrek het, het my begeerte selfs groter geword om oor my verlede uit te vind. Maar ondanks al die tyd wat ek aan die soektog bestee het, het ons nie geestelike belange verwaarloos nie. Trina is op 5 Junie 1993 gedoop, en ses maande later het sy geboorte gegee aan ons tweede dogter, Sierra Lynn.
Hoe ek my biologiese moeder gevind het
Ek het voortdurend by Alaska se regstelsel om inligting aangeklop en die een brief na die ander aan verskillende instansies gestuur, asook self deur middel van ’n rekenaar gesoek. Dit was alles tevergeefs. Toe, teen die einde van 1995, het ’n mediese ondersoek getoon dat ek ’n hartaandoening het. Ek was maar 29, en my dokter wou my mediese geskiedenis weet.
Die dokter het ’n volledige en presiese versoek geskryf en beklemtoon dat inligting in my aannemingsleêrs uiters noodsaaklik vir my gesondheid kon wees. Met verloop van tyd het ons ’n antwoord gekry. Dit het ’n regter se beslissing bevat wat verklaar het dat hy nie gedink het my mediese probleem ernstig genoeg was om die leêrs oop te maak nie. Ek was verpletter. Maar ’n paar weke later het ek ’n brief van ’n tweede regter ontvang. ’n Hofbevel het my toegang tot my aannemingsleêrs toegestaan!
Ek het my aannemingsleêrs vroeg in Januarie 1996 ontvang. Dit het my biologiese moeder se tuisdorp gegee en inligting oor haar gesinsagtergrond verskaf. Ek het onmiddellik met behulp van ’n rekenaar na Sandra se naam saam met die naam van haar tuisdorp gesoek en ses telefoonnommers gevind. Ek en Trina het besluit dat dit raadsaam sal wees as Trina die oproepe doen. Met die derde oproep het ’n vrou gesê dat Sandra haar niggie is en vir Trina haar telefoonnommer gegee.
Die oproep en die verrassing
Toe Trina die nommer skakel, het die vrou wat geantwoord het, geweier om haarself te identifiseer. Trina het uiteindelik reguit gesê: “My man is op 1 Augustus 1966 in Ketchikan, Alaska, gebore, en ek moet weet of jy die persoon is na wie ek soek.” Daar was ’n lang stilte, en toe het die vrou met ’n bewerige stem Trina se naam en telefoonnommer gevra en gesê sy sou terugskakel. Ek het nie gedink dat sy onmiddellik sou terugskakel nie, en daarom het ek besluit om ’n paar dinge wat ons nodig gehad het by die winkel te gaan koop.
Toe ek terugkom, was Trina by die telefoon en was haar oë vol trane. Sy het die telefoon vir my gegee. Terwyl ek en my ma mekaar gegroet het en oor ditjies en datjies gesels het, het Trina dringend gefluister: “Sy wou jou hou.” Ek het baie jammer vir my ma gevoel toe sy my oor haarself begin vertel. “Ek wil dankie sê vir die lewe wat jy my gegee het”, het ek gesê. “Ek lei ’n goeie lewe en het alles gehad wat ek nodig gehad het. Ek het goeie ouers gehad en baie liefde ontvang en het nou ’n wonderlike vrou en twee pragtige dogters. Ek is baie gelukkig.”
Sy het begin huil. In die loop van ons gesprek het sy my vertel dat sy verkrag was, swanger geword het en daar druk op haar uitgeoefen is om my te laat aanneem; toe het sy my vertel dat sy naderhand getrou het en dat haar babadogtertjie en haar ma ’n ruk later, terwyl sy in die hospitaal van ’n operasie herstel het, in ’n brand omgekom het. Sy het gesê dat sy destyds gedink het dat God hierdie geliefdes weggeneem het as straf vir die seun wat sy laat aanneem het. “Nee”, het ek onmiddellik gesê, “dit is nie hoe God dinge doen nie!” Sy het gesê dat sy dit nou weet, want ná daardie tragedie het sy “na Bybelwaarheid begin soek” en nou is sy “’n Bybelstudent”.
‘Dit kan nie waar wees nie’, het ek begin dink terwyl ek gevra het: “Met wie het jy gestudeer?” Daar was ’n lang stilte. Toe het sy gesê: “Jehovah se Getuies.” Ek was so ontroer dat ek nie kon praat nie. Ek was in trane en het dit uiteindelik reggekry om te sê: “Ek is ook ’n Getuie.” Toe ek dit duideliker herhaal, was sy oorstelp van vreugde. Dit was net te wonderlik!
My ma het in 1975, ’n ruk ná die dood van haar babadogtertjie, ’n Getuie geword. Toe haar man geestelike vordering begin maak, het sy vir hom van my vertel. Hy het haar vertroos en gesê dat hulle na my sou soek. Maar nie lank daarna nie het hy in ’n motorongeluk gesterf en haar met drie klein kindertjies agtergelaat om groot te maak. Ons het ure lank op verskillende aande daarna gepraat. Ons het uiteindelik besluit om in die tweede week van Februarie 1996 in Phoenix, Arizona, te ontmoet. My ma het reeds beplan om saam met ’n ander Christensuster daar besoek af te lê.
’n Onvergeetlike hereniging
Vir hierdie reis het ek en Trina die kinders by die huis gelos. Terwyl ek van die vliegtuig afgeklim het, het ek my ma gesien en kon ek haar uiteindelik omhels. Toe ek haar omhels, het sy gesê dat sy 29 jaar gewag het om my vas te hou, en sy het my lank styf teen haar vasgedruk. Ons het baie lekker gekuier en mekaar foto’s gewys en stories vertel. Maar die hoogtepunt was om langs my ma in ’n Koninkryksaal in Phoenix te sit! Ons het saam na die vergadering geluister en langs mekaar gestaan terwyl ons Koninkryksliedere gesing het. Dit was ’n wonderlike gevoel wat ek vir ewig sal onthou.
In April 1996 het my suster Laura van haar huis in Iowa gekom om ons te besoek. Hoe wonderlik was dit tog om hartlike Christelike omgang met haar te geniet! Ek het ook oor die telefoon met my twee nuutgevonde broers gepraat. Dit is wonderlik om met my gesin verenig te wees, maar om in liefde in Jehovah se organisasie verenig te wees, is ’n gawe wat slegs ons groot God, Jehovah, kon gee.—Soos vertel deur Dana Folz.
[Prent op bladsy 23]
Saam met my biologiese moeder