Van ons lesers
Aanneming Dankie vir die reeks “Aanneming—Die vreugdes, die uitdagings” (8 Mei 1996). Ek is ’n aangenome kind, en ek het nooit geweet hoe om met my aanneemouers daaroor te praat nie. Daarom was ek verheug om hierdie nommer van die Ontwaak! te ontvang. Geen artikel het my hart al ooit so diep geraak soos hierdie nie.
F. R. M., Brasilië
Ek is aangeneem, en ek het onlangs besluit om soveel moontlik oor my biologiese ouers uit te vind. Hoewel ek belangrike gegewens oor my ouers kon bekom, het ek ook uitgevind dat my ma my eers ná drie maande laat aanneem het. Dit het my baie swaar getref! Ek het my afgevra: ‘Hoe kon sy dit doen?’ Wel, die venster “Sal my seun na my soek?” het my sake uit ’n moeder se oogpunt laat beskou. Hoe het daardie artikeltjie my tog gehelp om my gevoelens te verwerk!
C. S., Verenigde State
Die artikels was vir my bittersoet. Ek het 23 jaar gelede my seun laat aanneem. Ek het dit gedoen omdat ek geweet het dat ek nie vir hom kon sorg nie. Ek wonder elke dag: ‘Hoe gaan dit met hom? Watter soort lewe lei hy? Sal ek hom ooit weer sien?’ Soms is die skuldgevoel oorweldigend. Maar ek dank Jehovah waarlik vir sy liefde en barmhartigheid.
S. F., Verenigde State
Hoewel ons ’n seun van ons eie het, oorweeg ek en my man dit om ’n dogtertjie aan te neem. Die artikel het my gehelp om die voor- en nadele te sien en sal ons help om ons besluit te neem.
J. G., Verenigde State
Ek het die indruk gekry dat julle moeilike aannemings afraai. Maar wat sal van sulke kinders word as hulle verwerp word? Ons het vandag wel probleme met ons aangenome seun. Maar watter soort probleme sal sulke kinders vir die gemeenskap veroorsaak as hulle nooit die liefde en geborgenheid van ’n gesin ontvang het nie?
D. M., Duitsland
Ons harte gaan uit na kinders wat nooit die sorg van liefdevolle ouers ontvang het nie. Die artikels is nie geskryf om die aanneming van “moeilike” kinders te ontmoedig nie, maar om paartjies aan te moedig om, op ’n realistiese manier, ‘die koste daarvan te bereken’. (Vergelyk Lukas 14:28.) Voornemende aanneemouers moet daaroor nadink of hulle op emosionele, geestelike of finansiële gebied werklik het wat nodig is om in die behoeftes van sulke kinders te voorsien. Hulle moet ook dink aan die moontlike uitwerking wat die aanneming kan hê op ander kinders wat nog in die huis is.—RED.
Ons het vyf aangenome kinders, benewens ons eie drie kinders. Ons het die uiterste vreugde ondervind wat julle beskryf het en die hartseer. Al ons kinders is lowers van Jehovah behalwe ons seun. Nadat hy op die ouderdom van 16 aangeneem is, het hy drie van ons dogters gemolesteer. Die aannemingsagentskap het ons nie oor sy agtergrond ingelig nie. Daarom moet ’n mens soveel inligting as moontlik oor die agtergrond inwin wanneer jy aanneming oorweeg—veral as jy dit oorweeg om ’n ouer kind aan te neem. Julle artikels was goed geskryf en het albei kante van die saak duidelik gestel.
P. B., Verenigde State
Dit het my baie hartseer gemaak om uit te vind dat sommige aanneemouers sulke negatiewe ondervindinge gehad het. Ek en my man het twee pragtige kinders aangeneem, en hulle het ons lewe met vreugde gevul. Ons was nog altyd eerlik met hulle oor hulle aanneming. Ons het elkeen van hulle help besef dat hulle biologiese ouers hulle nie ‘weggegee’ het nie, maar eerder gereël het dat hulle versorg word omdat hulle nie self op daardie tydstip van hulle lewe vir ’n kind kon sorg nie. Mense sê dikwels vir ons hoe gelukkig ons kinders is dat ons hulle aangeneem het. Maar dit is in werklikheid óns wat gelukkig is.
B. M., Verenigde State