Florida se Everglades—’n wanhopige hulpgeroep uit die natuur
BYKANS ’n miljoen besoekers stroom elke jaar na hierdie verstommende tropiese paradys om die indrukwekkende wonders van die Grootse Skepper se handewerk te aanskou. Hier is daar geen kilometer diep canyons of hemelhoë kranse om te bewonder nie, geen magtige watervalle om foto’s van te neem nie, geen swerwende elande of ronddwalende grysbere om op ’n veilige afstand te bewonder nie. Die Everglades- Nasionale Park is die eerste nasionale park in die wêreld wat vanweë sy biologiese oorvloed gestig is en nie vanweë sy asemrowende natuurskoon nie.
Aangesien dit gedeeltelik uit grasveld en gedeeltelik uit tropiese moeras bestaan, is dit al ’n “rivier van gras” genoem. Vir die diere wat daar aangetref word, gaan die lewe al eeue lank op dieselfde trant voort. Drie meter lange alligators bak in die son en die vogtige hitte terwyl hulle op die loer lê vir hulle volgende groot vangs. Snags weerklink die moeras van hulle gebrul en die grond tril terwyl hulle hulle paringsrituele uitvoer. Waterskilpaaie wat so groot soos wasbalies is, beweeg moeisaam deur die gras op soek na kos. Ratse, spelerige otters deel dieselfde habitat. Die vars spore van Florida-poemas wat na prooi op soek is, kan in die sagte modder gesien word. Witsterttakbokke moet altyd op hulle hoede bly, want hierdie roofdiere sal elke geleentheid gebruik om hulle te bekruip en ’n maaltyd van hulle te maak. Wasbere, wat dikwels uitgebeeld word waar hulle hulle kos in die nabygeleë strome was, is heel tuis in die Everglades, met ’n oorvloed van kos direk van die Glades se spyskaart af.
Daar is ook ’n oorvloed van lewe wat amper onsigbaar vir besoekers aan die Everglades is. Baie soorte paddas is gekamoefleer waar hulle op blare bokant die grond, op waterlelieblare en op die pragtige waterhiasinte in mensgemaakte kanale sit. Die moerasslakke—weekdiere wat so groot soos gholfballe is en toegerus is met kieue en ’n eenvoudige long, wat hulle in staat stel om onder die water sowel as buite die water asem te haal—beweeg waarlik op ’n slakkepas tussen die waterplante. Die vlak water wemel van krewe, krappe en talle vissoorte. Daar is volop slange en baie insekte en kruipende dinge—almal is gereed om te eet of geëet te word.
Onder die geveerde geslag wat ’n mens daar kan sien, is die pragtige rooslepelaars, wit ibisse en spierwit reiers wat in die lug sirkel terwyl hulle maat die lug miskien verlaat het om die eiers met hulle toekomstige kleintjies uit te broei. Die skouspel van die eksotiese grootbloureiers in die lug, wat te vinnig vlieg om getel te word, is iets wat ’n mens lank sal onthou. Seemeeue, pelikane en koningriethane deel die lugruimte met die majestueuse witkoparend, Amerika se nasionale simbool.
Dan is daar die kormorant met sy lang nek en die slanghalsvoël, wat so genoem word omdat hy meer na ’n reptiel as na ’n voël lyk wanneer hy sy lang S-vormige nek bokant die water uitsteek. Albei voëls is van nature roofsugtig en ding mee om voedsel in die vlak water van die Everglades te kry. Wanneer hulle nat is, sprei albei hulle vlerke en stertvere uit, wat ’n swierige vertoning maak, asof hulle vir ’n foto poseer. Slegs wanneer hulle vere heeltemal droog is, kan die voëls vlieg.
Die kraanvoëlagtige koerlan maak besoekers met sy skel roepgeluide skrik sodat hulle hom nie miskyk nie. Hierdie groot voël met sy bruin en wit spikkels is al die huilende voël genoem omdat hy soos ’n bedroefde mens klink wat wanhopig huil. Die Everglades se seldsame en bedreigde valk, ’n roofvoël so groot soos ’n kraai—wie se voortbestaan afhang van die beskikbaarheid van die moerasslak—is vir voëlkykers ’n onvergeetlike gesig. Wanneer die besoekers opkyk, sal hulle verstom wees oor die groot versameling voëls in die masjestueuse immergroen eike wat vol glansende groen blare is en sierlik met Spaanse mos begroei is. Groen en rooi bloeisels van delikate rankplante wat die bome omring, smelt saam met die kleure van die voëls. Hier sal die besoekers moontlik vergeet in watter land en op watter kontinent hulle is. Ja, hier is ’n besonderse wêreld, feitlik ’n paradys, primitief en pragtig.
Ten slotte is daar die vlak water en die goue rietgras—die onderskeidende kenmerk van die Everglades. Hierdie stil rivier van gras strek so ver as ’n mens kan sien, glansend en blink, so plat soos ’n tafelblad, met ’n suidwaartse helling van minder as vier sentimeter per kilometer. Onmerkbaar, sonder ’n sigbare stroom, vloei die water deurentyd lui-lui na die see. Juis dit is die lewensaar van die Everglades; daarsonder sal die Glades sterf.
In die vroeë deel van hierdie eeu, voor die Everglades so erg deur mensehande beskadig en verrinneweer is, was die afmetings van hierdie see van gras tot 80 kilometer van oos na wes en het dit 500 kilometer ver gestrek van die Kissimmeerivier af tot by die Floridabaai. ’n Man van gemiddelde grootte kan die hele afstand deur die water stap sonder dat sy skouers nat sal word. Lugbote beweeg teen ontsettende snelhede oor die oppervlak van die vlak water deur die lang, goue rietgras, en vir windverwaaide toeriste is dit ’n onvergeetlike, opwindende ervaring. Hengelaars kom om baars en ander varswater- en soutwatervis te vang, soos hulle al geslagte lank doen.
’n Wanhopige hulpgeroep
Aan die begin van hierdie eeu het politici en ondernemers van Florida die Everglades beskou as ’n moeras van ongewenste lewende dinge wat verwyder moet word om plek te maak vir eiendomsontwikkeling, stedelike uitbreiding en landboubelange. Hulle leuse was dat dit “opgedam, ingedyk, gedreineer, weggekeer” moet word. In 1905 het N. B. Broward, voor hy as goewerneur van Florida verkies is, plegtig belowe dat hy die laaste druppel water uit daardie “verpestelike moeras” sal wring.
Dit was nie leë beloftes nie. Yslike grondverskuiwingsmasjiene en baggertoerusting is ingebring. Onder die leiding en toesig van die Amerikaanse Leër se Geniekorps is nege meter diep kanale met ’n totale lengte van 90 kilometer gegrawe, en sodoende het hulle meer as ’n miljoen vierkante meter vleiland vernietig. Groot oewerwalle, dyke en pompstasies is opgerig, en meer kanale en paaie het kruis en dwars oor die Everglades geloop. Kosbare, lewegewende water is weggekeer uit hierdie streek vol lewensvorme om groot, pas ontwikkelde landerye te onderhou. Kusstede het ook weswaarts uitgebrei en nog meer van die Everglades in beslag geneem vir ontsaglike woonbuurte, deurpaaie, winkelsentrums en gholfbane.
Hoewel ’n deel van die Everglades in 1947 tot ’n nasionale park verklaar is, het die dreinering en wegkering van die water teen ’n vernietigende pas voortgegaan. Omgewingsdeskundiges is dit eens dat die dreinering van die Everglades—en die besteding van miljoene dollars om dit te doen—’n groot flater was. Min het besef dat dit so ’n vernietigende uitwerking op die lewe in die Everglades sou hê as die vloei van water versteur word. Die skade het eers ná dekades duidelik geword.
Teen die middel-tagtigerjare het omgewingsdeskundiges en bioloë egter begin waarsku dat die Everglades besig is om te sterf. Dit het gelyk asof elke lewende ding daar gekla en hardop om hulp geroep het. Watergate waar alligators geleef het, het tydens die droogtes begin opdroog. Toe die reën kom en gebiede oorstroom is, is hulle neste en eiers weggespoel. Nou neem hulle getalle baie vinnig af. Volgens berigte eet hulle nou hulle kleintjies. Eksotiese waadvoëls wat eens meer as ’n miljoen in daardie gebied getel het, het tot duisende verminder—’n afname van 90 persent. Die getalle van die pragtige rooslepelaars wat vroeër die lug verdonker het wanneer hulle na hulle broeiplekke teruggekeer het, het vergelykenderwys tot baie min gekrimp. Sedert die sestigerjare het die getalle van woudooievare van 6000 nesvoëls tot net 500 gedaal, wat beteken dat die spesie bedreig word. Die ryk Floridabaai-kwekerye vir die staat se skulpvisbedryf word ook bedreig. Een bron berig dat die bevolking van al die ander gewerwelde diere, van herte tot waterskilpaaie, met 75 persent tot 95 persent afgeneem het.
Met die geleidelike indringing van landbou en ander mensebedrywighede het besoedelstowwe uit die afvloei van bemestingstowwe en plaagdoders die land en die water stadigaan besmet. Hoë kwikvlakke is in al die vlakke van die voedselketting gevind, van vis in die moerasse tot by wasbere en alligators en waterskilpaaie. Vissermanne word gemaan om nie die baars en katvis te eet wat gevang word in sekere waters wat deurtrek is van kwik wat deur die grond syfer nie. Poemas was ook die slagoffer van die mens se indringing en is nie net deur kwikvergiftiging doodgemaak nie, maar ook deur wilddiewe. Hierdie dier is so bedreig dat daar glo minder as 30 in die hele staat is en 10 in die park. ’n Aantal van die Everglades se inheemse plante is ook op die randjie van uitsterwing.
Sommige waarnemers en omgewingsdeskundiges meen dat die Everglades dalk reeds onherstelbaar beskadig is. Regerings- en parkamptenare en talle omgewingsdeskundiges is egter van mening dat die Everglades gered kan word as fondse beskikbaar gestel word en as staats- en federale agentskappe vinnig optree. “Niemand weet werklik wanneer iets wat so groot en ingewikkeld is onherstelbaar beskadig is nie”, het een amptenaar gesê. “Dit is dalk reeds die geval.” Bioloog John Ogden erken dat die kanse om die Everglades te herwin nie rooskleurig lyk nie, maar hy is optimisties. “Ek moet wees”, het hy gesê. “Die alternatief is ’n biologiese woestyn, waarin daar ’n stukkie park is met ’n paar alligators hier, ’n paar voëlneste daar en ’n mooi museum met ’n opgestopte poema in die middel van die vloer.”
Die ophef wat Florida se amptenare, bioloë en omgewingsdeskundiges landswyd gemaak het, is deur federale amptenare en politici in Washington gehoor, met inbegrip van die President en die Visepresident van die Verenigde State. Nou moet die Amerikaanse Leër se Geniekorps, wie se voorgangers die taak verbrou het wat hulle jare gelede onderneem het, weer van voor af begin. Hulle splinternuwe siening is om die Everglades en die lewe daarin eerder te red as om dit te dreineer, op te dam en weg te keer.
Dit is duidelik dat water die kwessie is. “Die grondslag van sukses is skoner water—en baie daarvan”, het die U.S.News & World Report geskryf, en “dit kan net ten koste van landbou of woongebiede verkry word. Suid-Florida se suikerplantasies en groenteplase is die waarskynlikste teikens.” “Dit sal moeilik wees om die water te verdeel, maar ons het genoeg gegee, en ons kan nie nog gee nie”, het die superintendent van die Everglades-park, Robert Chandler, gesê. “Ander moet besparing as ernstig beskou”, het hy gesê. Voorstanders van die voorstel dat die Everglades herwin moet word, is bevrees dat die grootste teenkanting teen die projek van Florida se suikerkwekers en boere sal kom wat groot grondeiendomme in die Everglades het. Groot hoeveelhede water word ten koste van die lewe in die Glades oorgehewel om in hulle behoeftes te voorsien.
Die herwinning en bewaring van die Everglades sal die moedigste en duurste herstelprogram in die geskiedenis wees. “Ons praat van baie geld, ons praat van baie grond en ons praat van die herstel van ’n ekosisteem op ’n skaal wat ons nog nooit tevore op enige plek ter wêreld gesien het nie”, het die amptenaar gesê wat by die Wêreld-natuurfonds met die Everglades-projek belas is. “Teen ’n koste van nagenoeg $2 miljard [R8,7 miljard]”, het die tydskrif Science verduidelik, “beplan die Korps en die staat en ander federale agentskappe om oor die volgende 15 tot 20 jaar die ewewig van die hele ekosisteem in die Florida-Everglades te herstel, en dit sluit 14 000 vierkante kilometer vleiland en geboude waterweë in.”
Daarbenewens vereis die program dat sowat 40 000 hektaar landbougrond naby die Okeechobee-meer gekoop en in moerasland omskep moet word om besoedelstowwe te filtreer wat van die oorblywende landbougrond afvloei. Suikerkwekers is in verset teen ’n voorgestelde besnoeiing van een sent per pond (nege sent per kilogram) in die bedryf se federale subsidie om bykomende geld in te vorder om die Everglades skoon te maak. “Die herstelkoste moet betaal word deur diegene wat die meeste voordeel uit die vernietiging daarvan getrek het: Florida se suikerkwekers en -raffinaderye”, het die koerant USA Today in ’n redaksionele artikel gesê. Daar word geraam dat die heffing van een sent per pond (nege sent per kilogram) op Florida se suiker $35 miljoen (R152 miljoen) per jaar sal oplewer.
Na verwagting sal die stryd—boere en suikerkwekers versus bioloë, omgewingsdeskundiges en natuurliefhebbers—voortgaan soos in ander dele van die Verenigde State waar dieselfde partye met mekaar kragte meet. Visepresident Gore het ’n beroep op hulle gedoen om hulle samewerking te gee. “As ons saamwerk”, het hy gesê, “kan ons hierdie onenigheid uit die weg ruim en ’n gesonde omgewing en ’n lewendige ekonomie verseker. Maar dit is nou die tyd om op te tree. Daar is geen ander Everglades in die wêreld nie.”
[Prent op bladsy 13]
Alligator
[Erkenning]
USDA Forest Service
[Prent op bladsy 14]
Witkoparend
[Prent op bladsy 15]
Wit ibis
[Prent op bladsy 15]
Twee slanghalsvoëls tydens die broeityd
[Prent op bladsy 16]
Drie wasbere wat in die water loop
[Prent op bladsy 16]
Reier
[Prent op bladsy 16, 17]
Koerlan, ook die huilende voël genoem
[Prent op bladsy 17]
Grootbloureier
[Prent op bladsy 17]
Kormorantkuikens