Ons beskou die wêreld
Wees opgeruimd—en bly gesonder!
“Humor dra daartoe by dat mense verdraagsamer is, hulle frustrasies goed hanteer en liggaamlik sowel as geestelik gesond bly”, sê professor Sueli Damergian van die Universiteit van Sao Paulo. Volgens ’n berig in die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo kan goeie humor aangeleer word—net soos lees en skryf. Dit sal ongetwyfeld vereis dat ’n nors persoon sy denke moet verander. Raquel Rodrigues Kerbauy, ’n professor in sielkunde, verduidelik: “As iemand dink dat hy net sal kan glimlag wanneer die wêreld regverdig is, sal hy vir ewig in ’n slegte bui wees. Daar is op stuk van sake oral onregverdigheid.” Gemoedelike mense geniet dit om gesellig te verkeer selfs as hulle program vol is, sê die verslag. Hulle heg waarde aan klein dingetjies, soos “’n geselsie, ’n lekkerny of vyf minute van goeie musiek”. Sueli Damergian waarsku egter: “’n Mens moenie goeie humor met ligsinnigheid en slegte smaak verwar nie.”
Voëls deur voëlliefhebbers bedreig?
Voëlliefhebbers doen dalk meer kwaad as goed deur kos in hulle tuin vir voëls te los, berig Londen se Sunday Times. Voedselvergiftiging wat deur salmonellabakterieë, parasiete en ’n bykomende onbekende mikro-organisme veroorsaak word, het onlangs tienduisende van Brittanje se geliefkoosde tuinvoëls laat sterf. James Kirkwood, hoofveearts van die Londen-dieretuin, is bekommerd dat sekere spesies moontlik in sommige gebiede uitgewis is. Die weerstandbiedende bakterieë en parasiete leef baie dae lank op voëlmis op voerbakke of op die grond. Vermufte neute is veral gevaarlik, waarsku professor Chris Perrins, van die Universiteit van Oxford. “Die regering het ’n verbod geplaas op die verkope van bederfde neute aan mense, maar hulle laat dit in voëlkos toe”, sê hy, en voeg by: “Dit maak baie voëls dood.”
Snoesige tuiste vir vlooie
Strawwe winterweer het altyd ’n afname in die vlooibevolking beteken. Maar dinge is aan die verander, berig die Britse tydskrif New Scientist. “Oor die laaste dekade het katvlooie al hoe meer voorgekom”, sê John Maunder, van Cambridge se Mediese Entomologie-sentrum. Moderne huise dien nou as ’n snoesige skuilplek vir hierdie vlooie, wat ook op honde leef. In die verlede het koue weer relatiewe lugvogtigheid laat daal—wat dodelik vir vlooilarwes is. “Nou”, sê Maunder, “is die lugtoevoer in baie huise so swak dat relatiewe lugvogtigheid hoog bly, en selfs langdurige koue weer kan nie van die vlooie ontslae raak nie.”
Hoe om afknouers by die skool te hanteer
Met die onlangse publisiteit oor afknouery in skole het Japan se ministerie van Onderwys 9420 kinders en hulle ouers en onderwysers ondervra. Die uitslae het aan die lig gebring dat tot 70 persent van die ouers wie se kinders in laerskole en hoërskole afgeknou word nie van die probleem bewus is nie of hulle kinders se klagtes nie ernstig opgeneem het nie. Omdat baie slagoffers bang is vir weerwraak, vertel hulle nie vir ’n onderwyser dat hulle afgeknou word nie. Die opname het egter getoon dat daar op slegs 2 persent van die slagoffers weerwraak geneem word wanneer ’n onderwyser die probleem in alle erns aanpak en dat ongeveer 40 persent van die slagoffers nie meer afgeknou word nie. Professor Jodji Morita, van die Universiteit van Osaka, het gesê: “Ek is nou meer oortuig as tevore dat afknouery stopgesit kan word as slagoffers by hulle onderwysers kla en die onderwysers behoorlik daaraan aandag gee.”
Waarvan kinders hou en nie hou nie
Waarvan hou kinders die minste? In ’n studie wat professor Gustavo Pietropolli Charmet, van die Universiteit van Milaan, Italië, onder 6- tot 11-jariges gedoen het, het die meeste kinders gesê: “Om tuis te bly en TV te kyk” of: “Om saam met my ma by die huis te bly om huiswerk te doen.” Die onaangenaamste ding vir hulle, sê die koerant La Repubblica, is “om afsprake te hê”, dit wil sê om hulle te haas na lesse in dans, Engels, klavier, ensovoorts. Oor die algemeen haat hulle dit ook om “alleen te wees”. Daarteenoor wil 49 persent van die seuns hê dat ouers “kinders buite moet laat speel”, terwyl meisies graag wil hê dat ouers “dit moet geniet om saam met hulle kinders te speel”. Hulle sê as ’t ware: ‘Wanneer my ma met my speel, moet sy werklik speel. ’n Mens kan sien as sy dit nie geniet nie, en dan geniet ek dit ook nie.’
Kardinaal beveel Getuies se werksaamhede aan
Kardinaal Suenens, van België, ’n bevorderaar van Katolieke ekumeniese en charismatiese bewegings, het onlangs op 91-jarige ouderdom gesterf. Die Belgiese koerant Het Belang van Limburg het gesê dat Suenens, hoewel hy baie dinge uitgerig het, nie sy lewensdroom verwesenlik het nie. Sy opvolger, kardinaal Danneels, het gesê dat Suenens “nog altyd begeer het dat Christene aktiewer moet wees. Hy . . . het hom afgevra of ons van deur tot deur moet gaan, net soos Jehovah se Getuies doen. En op die ou end het hy gevind dat dit nie ’n slegte metode is nie. Hy het dikwels dié stelling gemaak: ‘Jy is slegs ’n ware Christen as jy iemand anders ook ’n Christen gemaak het.’”
Hou die see skoon
Selfs op ’n droë dag vloei daar miljoene der miljoene liters besoedelde afloopwater en afval van die stad se strate af na die see om Los Angeles, Kalifornië. Op ’n reënerige dag kan daar miljarde liters afloopwater wees! Die stadsowerheid het ’n program van stapel gestuur om inwoners mee te deel dat alles wat in die strate gegooi, gewas of gevee word reguit see toe gaan via die afvoerpype—onbehandeld! Dit sluit olie en ander vloeistowwe van motors in, asook tuinafval en diereuitwerpsel. Om te voorkom dat die ekologie van die nabygeleë Santa Monicabaai beskadig word, word inwoners aangespoor: Moet nooit afval in die straat gooi nie; vee sypaadjies eerder as om dit met ’n tuinslang af te spuit; tel diereuitwerpsel op; herstel lekplekke aan motors en hersirkuleer motorolie. The Wall Street Journal berig dat mense wat naby ’n afvoerpyp swem se kanse op koorse, vomering, asemhalingsinfeksies of oorpyn 50 persent groter is as diegene wat ten minste 400 meter daarvandaan swem.
Harige duikbote
Volgens die tydskrif New Scientist hou die Sweedse vloot ’n netwerk van ondersese mikrofone in stand om die borrelgeluide wat die draaiende skroewe van duikbote maak op te spoor. Toe ’n regeringskommissie ondersoek ingestel het na 6000 berigte van “vreemde ondersese bedrywighede”, wat op die mikrofoonstelsel en waarnemings deur die publiek gegrond was, het hulle slegs by ses geleenthede afdoende bewys van duikbootbedrywighede gevind. Baie van die ander alarms is moontlik deur “die woeste geplas van klein pootjies” veroorsaak, sê die berig. Dit lyk of swemmende hermelyne en otters ’n geluid maak wat amper soos duikbootskroewe klink, en gevolglik verwar dit die vloot se luisteraars.
Kinders wat kinders molesteer
Duisende kinders in Suid-Afrika word seksueel gemolesteer deur ander minderjariges, berig die Johannesburgse koerant Saturday Star. Evanthe Schurink, van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, skryf hierdie molestering gedeeltelik toe aan die feit dat die jong oortreders self wreed mishandel word. Marilyn Donaldson, ’n kinderraadgewer by die Traumakliniek van die Sentrum vir die Bestudering van Geweld en Versoening, stem saam en sê: “In so baie . . . huise word hierdie kinders aan verskriklike gesinsgeweld blootgestel en is hulle eie slagoffers dikwels deel van hulle uitgebreide gesin.” Sy gee ook verveeldheid en ouers se nalatigheid die skuld vir ’n groot deel van die molestering. “Daar is niemand tuis by die kinders wanneer die ouer werk nie”, sê sy, “en hulle word dus aan die genade van die molesteerders oorgelewer.” Marilyn Donaldson vestig die aandag op nog ’n gevaar en sê dat sy al hoe meer “6- tot 10-jarige kindertjies na die sentrum [sien] kom met vigs, wat seksueel oorgedra is”.
Alkohol tydens swangerskap
“Nuwe navorsing het bevestig dat daar ’n verband is tussen moeders se inname van alkohol tydens swangerskap en ’n verhoogde risiko van leukemie by babas”, berig The Medical Post, van Kanada. Die studie het 302 leukemielyers ingesluit wat 18 maande of jonger was toe die siekte gediagnoseer is, tesame met ’n kontrolegroep van 558 ander babas. Die risiko om akute miëloïedleukemie te kry, was bykans tien keer groter vir kinders wie se moeders alkohol gedurende die tweede of derde trimester van die swangerskap gedrink het as vir dié wie se moeders nie gedrink het nie. Die nuwe navorsing strook glo met ander studies oor verwagtende moeders wat alkohol drink en die groter risiko vir hulle babas om leukemie te kry.