Die Bybelse beskouing
Die liefde wat mense saambind
IN 1978 het ’n hewige storm in die Noord-Atlantiese Oseaan die luukse passasierskip Queen Elizabeth 2 geteister. Golwe so hoog soos ’n tienverdiepinggebou het oor die skip gebreek en dit soos ’n kurkprop laat dobber. Meubels en passasiers is rondgeslinger terwyl die vaartuig woes geduik het. Merkwaardig genoeg het die 1200 passasiers net geringe beserings opgedoen. Goeie ingenieurswerk, materiaal en bouwerk het daartoe bygedra dat die skip nie ineenstort nie.
Eeue gelede is ’n ander skip deur ’n hewige storm geteister. Die apostel Paulus en nog 275 was aan boord. Die matrose wat gevrees het dat die skip weens die hewigheid van die storm in stukke sou breek, het blykbaar “hulpmiddels”—kettings of toue—onder die skip van die een kant na die ander kant aangegee om die houtplanke wat die romp van hierdie handelskip gevorm het aan mekaar vas te hou. Al die passasiers wat aan boord was, is gered, maar nie die skip nie.—Handelinge, hoofstuk 27.
Soms kan beproewinge in die lewe ons laat voel asof ons op ’n skip in ’n onstuimige see is. Golwe van angs, teleurstelling en neerslagtigheid kan ons oorval en ons liefde tot die uiterste toe beproef. Om sulke storms te trotseer en te verhoed dat ons ineenstort, het ons ook sekere hulpmiddels nodig.
Wanneer storms ontstaan
Die geloof en volharding van die apostel Paulus is goed geboekstaaf in die Bybel. Hy het hom ingespan ten behoewe van die vroeë Christengemeentes (2 Korintiërs 11:24-28). Sy sukses in die werk van die Here lewer oortuigende bewys van sy intense liefde vir sy medemens en sy hegte verhouding met God. En tog was Paulus se lewe nie altyd sonder probleme nie. Die apostel het letterlik en figuurlik baie storms getrotseer.
Wanneer ’n skip in Paulus se dag in ’n hewige storm beland het, het die behoud van die passasiers en die skip afgehang van die bemanning se vaardigheid, asook van hoe goed die skip heel kon bly. Dit was ook die geval wanneer die apostel voor figuurlike storms te staan gekom het. Hoewel Paulus fisiese tekorte, gevangenskap en marteling verduur het, het die hewigste storms wat sy geestelike en emosionele stabiliteit en sy vermoë om aan te hou liefhê op die proef gestel het vanuit die Christengemeente gekom.
Paulus het byvoorbeeld een en ’n half jaar onvermoeid geswoeg om die gemeente in die stad Korinte te stig. Sy ondervindinge met die Korintiërs het hom tere gevoelens vir die kudde laat ontwikkel. Paulus het van homself gepraat as hulle vader (1 Korintiërs 4:15). Maar ondanks die feit dat Paulus bekend was vir sy liefde en harde werk ten behoewe van die gemeente, het sommige in Korinte smadend van hom gepraat (2 Korintiërs 10:10). Hoe ontmoedigend moes dit tog gewees het in die lig van al sy selfopofferende dade!
Hoe kon diegene wat Paulus se oorvloedige liefde ontvang het hom so wreed en minagtend behandel? Paulus moes seker verpletter gevoel het, soos ’n skip wat deur ’n storm geteister word. Hoe maklik sou dit tog vir hom gewees het om moed op te gee, om te dink dat sy pogings in die verlede alles tevergeefs was of om verbitterd te word! Wat het Paulus laat voortgaan? Wat het gekeer dat teleurstelling hom verpletter?
Die liefde wat ons saambind
Paulus het sy lesers in geen twyfel gelaat oor die bron van sy krag en motivering nie. Hy het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons” (2 Korintiërs 5:14). Paulus het die aandag op die vernaamste bron van krag en motivering gevestig. Die dwingende krag is “die liefde wat die Christus het”. ’n Bybelgeleerde het die volgende opmerking oor hierdie teks gemaak: “Paulus sê nie dat ons liefde vir Christus ons getrou aan ons bediening laat bly nie . . . Dit sou wees soos om halfpad te stop. Ons liefde vir Christus word voortdurend lewendig gehou en gevoed deur sy liefde vir ons.”—Ons kursiveer.
Die liefde wat Christus getoon het deur hom aan ’n pynlike dood aan ’n folterpaal te onderwerp—en sodoende sy volmaakte menselewe as ’n losprys te gee om alle gelowige mense te red—het Paulus beweeg, gedring en gedryf om in die belang van Christus en die broederskap te dien. Christus se liefde het derhalwe beheer oor Paulus uitgeoefen, hom van selfsugtigheid weerhou en sy strewes tot die diens van God en sy medemens beperk.
Ja, die bron van motivering vir ’n Christen se getroue lewenswandel is Christus se liefde. Wanneer ons te staan kom voor beproewinge wat ons liggaamlik, emosioneel en geestelik kan verswak, stel die dwingende krag van Christus se liefde ons in staat om verby die punt te gaan waar iemand met minder motivering sal moed opgee. Dit gee ons die krag om te volhard.
Ons kan nie op ons onvolmaakte emosies staatmaak om ons te onderskraag en te motiveer nie. Dit is veral die geval wanneer ons beproewinge die gevolg van teleurstelling of angs is. Daarenteen het Christus se liefde die krag om ons getrou aan ons bediening te laat bly, om ons te onderskraag en te motiveer, ondanks ons persoonlike beproewing. Christus se liefde stel ’n Christen in staat om so te volhard dat dit nie net ander se verwagtinge oortref nie, maar miskien ook sy eie.
Wat meer is, Christus se liefde is blywend, en daarom is die uitwerking daarvan nimmereindigend. Dit is ’n dwingende krag wat nie wankel of afneem nie. “Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). Dit stel ons in staat om hom getrou te bly volg, ongeag wat gebeur.
Emosionele beproewinge oefen ’n krag uit wat ons kan verpletter. Hoe noodsaaklik is dit dus dat ons oor die liefde peins wat Christus aan ons betoon het. Christus se liefde sal ons saambind. Sy liefde help ons om nie skipbreuk te ly wat ons geloof betref nie (1 Timoteus 1:14-19). Verder dring Christus se liefde ons om alles in ons vermoë te doen om die een te verheerlik wat die blyk van Christus se liefde moontlik gemaak het, Jehovah God.—Romeine 5:6-8.