Ons beskou die wêreld
Die hoë misdaadkoste
Die Departement van Justisie raam dat ongeveer 94 000 misdade elke dag in die Verenigde State gepleeg word. Hoeveel kos hierdie misdade Amerikaanse burgers? Volgens Ed Rubenstein, ’n ekonomiese ontleder, beloop die direkte koste—met inbegrip van verlies van persoonlike eiendom, soos motors, kontant en juwele—jaarliks bykans 20 miljard dollar (R87 miljard). Voeg egter hierby die koste verbonde aan wetstoepassing, howe, gevangenisse en paroolstelsels. Dit laat die bedrag tot sowat 100 miljard dollar (R435 miljard) styg. En aangesien misdaadslagoffers dikwels aan vrees, trauma of terneergedruktheid ly, verwerk baie hierdie negatiewe emosies deur van die werk af weg te bly. Verlore produktiwiteit kan derhalwe maklik die “totale jaarlikse koste vir misdaadslagoffers” opstoot tot ’n bedrag van “$250 tot $500 miljard [R1,1 tot R2,2 biljoen]”, sê Rubenstein.
Verdorwe monnike
In Thailand het ’n nuwe Boeddhiste monnik wat aan amfetamiene verslaaf was, erken dat hy ’n 23-jarige Britse toeris verkrag en vermoor het, berig World Press Review. Hierdie misdaad is egter net een van ’n “reeks skandale” waarvoor Boeddhiste geestelikes onlangs te staan gekom het. “Benewens ’n toenemende aantal misdade word Boeddhisme deur materialistiese hebsug verderf.” Op watter manier? “Die verkoop van gelukbringers is ’n winsgewende bedryf vir sommige monnike, wat in limousines met chauffeurs rondry.” Gevolglik “word [die] mense se geloof in die eens vereerde Boeddhiste geestelikes op die proef gestel”. Die tydskrif sê ook dat “kloosters ontgiftingsentrums geopen het” in ’n poging om “dwelmmisbruik” onder monnike te stuit.
Lekkende handskoene
Een paar latekshandskoene is dalk nie genoeg om draers teen HIV of hepatitis te beskerm nie, berig die tydskrif New Scientist. Dit was die slotsom waartoe navorsers by die Mediese Fakulteit van Wisconsin gekom het toe hulle vasgestel het dat “een uit elke drie handskoene virusse die grootte van HIV of hepatitis deurlaat”. Jordan Fink, die hoof van die universiteit se allergieafdeling, het latekshandskoene begin toets nadat dokters en verpleegsters in 1992 oor allergiese reaksies gekla het. Dit was die jaar dat die Amerikaanse regering begin vereis het dat mediese personeel rubberhandskoene dra as kontak met ’n pasiënt se bloed of liggaamsvloeistowwe waarskynlik is. Volgens Fink moet gesondheidswerkers wat snye of ander stukkende plekke op hulle vel het dit oorweeg om meer as een paar handskoene te dra, sê die tydskrif. Mediese personeel wie se vel heel is, moet hulle egter nie te veel bekommer nie. “Die heel vel dien as ’n goeie beskerming”, sê Fink.
Hoe om swendelaars te kortwiek
Nadat Paula Lyons 17 jaar lank as ’n verbruikersverslaggewer vir ’n plaaslike TV-stasie in Boston, Massachusetts, gewerk het, het sy ’n lys opgestel met maniere om die “geslepenheid en meedoënloosheid van swendelaars” teë te werk. Volgens ’n artikel in die Ladies’ Home Journal sluit Paula se voorstelle in: Weier om sake oor die telefoon te doen met ’n vreemdeling wat jou skakel. Moet nooit in iets belê wat jy nie verstaan nie. Moet nooit vir ’n “gratis” prys betaal nie. Moenie te veel vertroue in geld-terug-waarborge stel nie. Moenie geld aan liefdadigheidsorganisasies skenk wat jy nie ken nie. Moet nooit ’n gebruikte motor koop sonder om dit eers deur ’n onafhanklike werktuigkundige te laat nagaan nie. “Hierdie voorskrifte lyk dalk ietwat konserwatief”, sê Paula, maar “hulle kan jou teen die ergste misbruike in die handelswêreld beskerm”.
Brasilië se gesondheidsprobleme
Die direkteur van Brasilië se Nasionale Sentrum vir Epidemiologie, dr. Eduardo Levcovitz, het gekla: “Ongelukkig ly ons mense aan die gesondheidsprobleme van die ontwikkelde Eerste Wêreld sowel as aan die voorkombare siektes van die Derde Wêreld.” Dr. Levcovitz word in The Medical Post aangehaal waar hy die hoofoorsake van gesondheidsprobleme onder Brasiliane meld. Boaan die lys is hart- en vaatsiektes, kanker en asemhalingsiektes. Daarna volg sterftes as gevolg van geweldsmisdade en ongelukke. Naas die “Eerste Wêreld”-siektes is aansteeklike siektes wat deur swak lewensomstandighede veroorsaak word. “Daar word geraam dat die helfte van die Brasiliaanse bevolking aan die een of ander parasitiese infeksie ly”, sê The Medical Post. Malaria alleen teister elke jaar ongeveer 500000 Brasiliane. Ander parasitiese siektes wat algemeen in Brasilië voorkom, is Chagas-siekte, bilharzia, haakwurmsiekte, leishmaniase en draadwurmsiekte.
Orgaantekort
In 1994 het “die aantal mense wat orgaanoorplantings nodig gehad het” in die Verenigde State “die getal skenkers met bykans ’n derde oorskry”, sê The Journal of the American Medical Association. Van 1988 tot 1994 het die aantal mense wat oorplantings ontvang het met 49 persent toegeneem, terwyl orgaanskenkers met net 37 persent toegeneem het. Omdat die vraag na organe die voorraad oorskry, het sommige pasiënte wie se toestand kritiek was, gesterf terwyl hulle vir ’n orgaan gewag het. Die tydskrif New Scientist sê aangaande hierdie dilemma: “Namate oorplantingsoperasies algemener word, wil meer mense dit hê en laat hulle die lys langer word.” Die verslag sê gevolglik dat “orgaanoorplantings die prooi van sy eie sukses geword het”.
’n Duur buurman
Wanneer huiseienaars in Brittanje hulle huise verkoop, is hulle wetlik verplig om besonderhede bekend te maak van enige onenighede wat hulle in die verlede met hulle bure gehad het, berig The Sunday Times van Londen. ’n Tagtigjarige weduwee wat versuim het om kopers in kennis te stel dat sy twee keer by die plaaslike owerheid oor ’n lawaaierige buurman gekla het, is met welslae gedagvaar weens wanvoorstelling. Nou staar bankrotskap haar in die gesig ná ’n hofbeslissing dat sy R196000 moet betaal. Die nuwe eienaars het ses jaar in die huis gewoon, maar die lewe langs hulle buurman was vir hulle ondraaglik, en hulle het geen ander keuse gehad as om te verkoop nie, het hulle vir die hof gesê. Ten einde sulke probleme te vermy, het party kopers privaat speurders begin huur om ondersoek in te stel na die gedrag van hulle toekomstige bure. ’n Vlugtige ondersoek kan so min as R325 kos, maar sommige kopers is bereid om R6525 vir ’n deegliker ondersoek te betaal.
Die getroue seeperdjie
Dierkundige Amanda Vincent van die Universiteit van Oxford het uitgevind dat seeperdjies blykbaar lewenslank aan hulle maat getrou bly. Dr. Vincent het ’n studie gemaak van die tien sentimeter lange spesie Hippocampus whitei aan die suidoostelike kus van Australië en was verstom om sulke getrouheid onder visse te vind, sê The Times van Londen. Daar is opgemerk dat die mannetjie elke oggend vir sy maat by ’n voorafbepaalde plek wag. Wanneer die seeperdjies mekaar ontmoet, verander hulle van kleur en voer hulle dan ’n dans uit. Hulle deel die ondervinding om ’n nageslag voort te bring. Die wyfie lê haar eiers en plaas hulle in ’n spesiale buidelsak in die mannetjie se stert. Daarna bevrug hy hulle, en hulle bly in die buidelsak tot hulle uitbroei. As ’n maat sterf, sal die oorlewende seeperdjie net ’n ander ongepaarde seeperdjie as maat neem. Ongelukkig word die voortbestaan van hierdie pragtige diertjies bedreig, aangesien miljoene elke jaar gevang word vir akwariums en vir gebruik in tradisionele Asiatiese geneesmiddels.
Honger vir swaar metale
Wanneer swaar metale, soos nikkel, lood, sink en kadmium, die grond besoedel, word die grond gevaarlik en onbruikbaar. Huidige suiweringsmetodes vereis dat die bogrond weggeskraap en na stortingsterreine geneem word of dat die besoedelde grond verwyder word en aan sterk sure blootgestel word om die metale vry te stel wat daarin vasgevang is. Hierdie suiweringsmetodes is egter baie duur. Nou doen wetenskaplikes navorsing oor ’n baie goedkoper en skoner manier om die probleem te help oplos. Dit word fitoremediëring genoem. Die proses behels die gebruik van plante wat swaar metale uit die grond opneem en die metaal verplaas na die blare, stingels en ander dele van die plant wat bo die grond is. Wanneer die swaar metale uit die grond opgeneem is, kan die plante verwerk word en die waardevoller metale herbenut word, sê die tydskrif Science.
“Kook—en hyg—met gas”
Science News het onder daardie opskrif berig dat Britse navorsers gevind het dat “vroue wat gas gebruik om mee te kook se kanse ten minste twee keer groter is om te hyg, kortasem te wees en ander simptome van asma te ondervind as dié wat elektriese stowe en oonde gebruik om maaltye voor te berei”. Die studie, wat by die St. Thomas-hospitaal in Londen gedoen is, het aan die lig gebring dat die simptome voortgeduur het selfs toe suigwaaiers gebruik is. En hoewel beide mans en vroue aan die opname deelgeneem het, was die “uitwerking slegs duidelik te sien in vroue—waarskynlik omdat hulle meer tyd in die kombuis deurbring”.