Wat hou die toekoms vir hulle in?
TYDENS ’n onderhoud met Ontwaak! het die Cheyenne-vredeshoofman, Lawrence Hart, gesê dat een van die probleme “waarvoor ons [Indiane] te staan kom die krag van akkulturasie en assimilasie is. Ons is byvoorbeeld besig om ons taal te verloor. Voorheen was dit ’n doelbewuste regeringsbeleid. Groot pogings is aangewend om ons deur middel van opleiding te ‘beskaaf’. Ons is na kosskole gestuur en verbied om ons moedertaal te praat.” Sandra Kinlacheeny onthou: “As ek Navaho by ons kosskool gepraat het, het die onderwyser my mond met seep uitgewas!”
Hoofman Hart sê voorts: “’n Bemoedigende faktor in die laaste tyd is dat daar ’n bewuswording onder verskillende stamme is. Hulle besef dat hulle tale sal uitsterf tensy ’n poging aangewend word om dit te handhaaf.”
Daar is net tien mense oor wat Karuk, ’n taal van een van die Kaliforniese stamme, praat. In Januarie 1996 het Red Thunder Cloud (Carlos Westez), die laaste Indiaan wat die Catawba-taal gepraat het, op die ouderdom van 76 gesterf. Baie jare lank was daar niemand met wie hy in daardie taal kon praat nie.
By die Koninkryksale van Jehovah se Getuies in die Navaho- en Hopi-reservate in Arizona praat bykans almal Navaho of Hopi en Engels. Selfs Getuies wat nie Indiane is nie, leer die Navaho-taal. Die Getuies moet Navaho kan praat om hulle Bybelonderrigtingswerk te doen, aangesien baie Navaho’s net hulle eie taal kan praat. Hopi en Navaho is nog lewende tale, en die kinders word aangemoedig om dit in die skool te gebruik.
Indiaanse opvoeding
Daar is 29 Indiaanse kolleges in die Verenigde State, met 16 000 studente. Die eerste is in 1968 in Arizona geopen. “Dit is een van die wonderlikste omwentelinge in die Indiaanse gebiede, die reg om volgens ons eie vereistes op te voed”, het dr. David Gipp, van die Indiaanse Hoëronderwyskomitee, gesê. By die Sinte Gleska-universiteit is die Lakota-taal ’n verpligte vak.
Volgens Ron McNeil (Hunkpapa Lakota), die president van die Indiaanse Kollege-fonds, wissel die werkloosheidsyfer vir die Indiane tussen 50 persent en 85 persent, en Indiane het die laagste lewensverwagting en die hoogste syfers wat suikersiekte, tering en alkoholisme betref in vergelyking met enige groep in die Verenigde State. Beter opvoeding is net een van die maatreëls wat kan help.
Heilige grond
Vir baie Indiane is die grond van hulle voorouers heilig. Soos White Thunder aan ’n senator gesê het: “Ons grond hier is vir ons die kosbaarste ding op aarde.” Toe verdrae en ooreenkomste gesluit is, het Indiane dikwels aangeneem dat dit was sodat die wit man hulle grond kon gebruik, maar nie om dit geheel en al in besit te neem nie. Die Sioux-Indianestamme het in die 1870’s waardevolle grond in die Black Hills van Dakota verloor toe myners, wat op soek was na goud, ingestroom het. In 1980 het die Amerikaanse Appèlhof die Amerikaanse regering gelas om ongeveer $105 miljoen (R157,5 miljoen) skadevergoeding aan agt Sioux-stamme te betaal. Tot nog toe het die stamme geweier om die betaling te aanvaar—hulle wil hê dat hulle heilige grond, die Black Hills van Suid-Dakota, teruggegee moet word.
Baie Sioux-Indiane hou nie daarvan om die gesigte te sien van wit presidente wat op die Rushmoreberg, in die Black Hills, uitgekerf is nie. Op ’n nabygeleë berg is beeldhouers besig om ’n selfs groter beeldwerk te maak. Dit is die gesig van Crazy Horse, die Oglala Sioux-oorlogsleier. Dit sal teen Junie 1998 voltooi wees.
Hedendaagse uitdagings
Die Indiane moes in verskeie opsigte aanpassings maak om in die moderne wêreld voort te bestaan. Baie het nou ’n goeie opvoeding en kollegeopleiding, met vermoëns wat hulle met vrug in die stamverband kan gebruik. Een voorbeeld is die saggeaarde Burton McKerchie, ’n Chippewa van Michigan. Hy het dokumentêre films vir die Openbare Uitsaaidiens opgeneem en werk nou by ’n hoërskool in die Hopi-reservaat in Arizona waar hy videoklasse van skole regoor die staat koördineer. ’n Ander voorbeeld is Ray Halbritter, ’n stamleier van die Oneida-volk met ’n Harvard-opleiding.
Arlene Young Hatfield het in die Navajo Times geskryf en gesê dat die Navaho-kinders nie die ondervindinge beleef of die opofferings maak wat hulle ouers en grootouers gedoen het toe hulle opgegroei het nie. Sy het geskryf: “As gevolg van die [moderne] geriewe het hulle nog nooit hout bymekaargemaak of gekap, water gaan haal of skape opgepas soos hulle voorouers nie. Hulle dra nie tot die gesin se lewensonderhoud by soos kinders lank gelede gedoen het nie.” Sy sluit af: “Dit is onmoontlik om die talle maatskaplike probleme vry te spring wat ons kinders ongetwyfeld sal raak. Ons kan nie ons gesinne of die reservaat van die res van die wêreld afsonder nie, en ons kan ook nie terugkeer na die lewe wat ons voorouers gehad het nie.”
Dít is die uitdaging waarvoor die Indiane te staan kom—hoe om aan hulle unieke stamtradisies en -waardes vas te hou terwyl hulle hulle aanpas by die vinnig veranderende wêreld daar buite.
Die stryd teen dwelms en alkohol
Tot vandag toe teister alkoholisme die Indiaanse gemeenskap. Dr. Lorraine Lorch, wat al 12 jaar onder die Hopi- en Navaho-bevolkings as ’n kinderarts en algemene praktisyn dien, het in ’n onderhoud met Ontwaak! gesê: “Alkoholisme is ’n ernstige probleem vir beide mans en vrouens. Gesonde liggame word die slagoffer van sirrose, die dood deur ’n ongeluk, selfmoord en moord. Dit is hartseer om te sien hoe alkoholisme belangriker as kinders, ’n huweliksmaat en selfs God geag word. Gelag word in trane verander, saggeaardheid in geweld.” Sy het bygevoeg: “Selfs party van die seremonies, wat eens vir die Navaho en die Hopi heilig was, word nou met tye ontheilig deur dronkenskap en losbandigheid. Alkohol beroof hierdie mooi mense van hulle gesondheid, hulle intelligensie, hulle skeppingsvermoë en hulle ware persoonlikheid.”
Philmer Bluehouse, ’n vredemaker in die Navaho-volk se Departement van Justisie, by Window Rock, Arizona, het die misbruik van dwelms en alkohol eufemisties beskryf as “self-medikasie”. Die misbruik hiervan is om sorge te verdrink en om hulle te help vergeet van die harde werklikheid van ’n lewe sonder werk en dikwels sonder ’n doel.
Talle Indiane was egter suksesvol in hulle stryd teen die “demoondrank” wat deur die wit man ingebring is en het dwelmverslawing met groot moeite te bowe gekom. Twee voorbeelde hiervan is Clyde en Henrietta Abrahamson van die Spokane-Indianereservaat in die staat Washington. Clyde is grof gebou, met donker hare en oë. Hy het aan Ontwaak! verduidelik:
“Ons het die grootste deel van ons lewe in die reservaat grootgeword, en daarna het ons na die stad Spokane verhuis om kollege by te woon. Ons het niks gehou van ons lewenswyse, waarvan alkohol en dwelms ’n deel was nie. Hierdie soort lewe was al wat ons geken het. Ons het grootgeword met ’n haat vir hierdie twee invloede weens die probleme wat ons gesien het dit in die gesin veroorsaak.
“Toe het ons met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Ons het vir die eerste keer van hulle gehoor nadat ons stad toe is. Ons het stadig gevorder. Miskien omdat ons nie werklik vreemde mense, veral wit mense, vertrou het nie. Ons het ongeveer drie jaar lank net nou en dan ’n Bybelstudie gehad. Die moeilikste gewoonte wat ek moes afleer, was daggarokery. Ek het gerook vandat ek 14 jaar oud was, en ek was 25 voordat ek dit probeer opgee het. Ek was die grootste deel van my lewe as ’n jong volwassene ‘hoog’. In 1986 het ek die artikel “Almal rook dagga—Waarom sal ek nie?” in die Ontwaak! van 22 Januarie gelees. Dit het my laat besef hoe dwaas dit is om dagga te rook—veral nadat ek Spreuke 1:22 gelees het, wat sê: ‘Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en hoe lank sal die spotters lus hê om te spot en hoe lank sal die dwase kennis haat?’
“Ek het die gewoonte afgeleer, en in die lente van 1986 is ek en Henrietta getroud. Ons is in November 1986 gedoop. In 1993 is ek as ’n ouer man in die gemeente aangestel. Albei ons dogters is in 1994 as Getuies gedoop.”
Is casino’s en dobbelary die oplossing?
In 1984 was geen dobbelplekke in die Verenigde State onder Indiaanse beheer nie. Volgens The Washington Post het 200 stamme hierdie jaar 220 dobbelplekke in 24 state. Buitengewone uitsonderings op die reël is die Navaho en die Hopi, wat tot dusver die versoeking weerstaan het. Maar lei casino’s en bingosale na welvaart en meer werkgeleenthede vir die reservate? Philmer Bluehouse het vir Ontwaak! gesê: “Dobbelary is ’n tweesnydende swaard. Die vraag is: Sal dit meer mense bevoordeel as benadeel?” Een berig sê dat Indiaanse casino’s 140 000 poste regoor die land geskep het, maar dit toon dat slegs 15 persent daarvan deur Indiane beklee word.
Die Cheyenne-hoofman Hart het vir Ontwaak! vertel watter uitwerking casino’s en dobbelary na sy mening op die reservate het. Hy het gesê: “Ek is in ’n tweestryd. Die enigste goeie ding is dat dit werk en inkomste vir die stamme voorsien. Daarenteen het ek opgemerk dat baie van die klante ons eie mense is. Party wat ek ken, het aan bingo verslaaf geraak, en hulle verlaat die huis vroeg om daarheen te gaan, selfs voor die kinders van die skool af huis toe kom. Dan word die kinders ‘huissleutelkinders’ tot hulle ouers tuiskom nadat hulle bingo gespeel het.
“Die grootste probleem is dat die gesinne dink dat hulle gaan wen en hulle inkomste gaan verhoog. Oor die algemeen gebeur dit nie; hulle verloor. Ek het gesien hoe hulle geld uitgee wat vir kruideniersware of klere vir die kinders opsy gesit is.”
Wat hou die toekoms in?
Tom Bahti verduidelik dat daar twee gewilde benaderings is wanneer die toekoms van die Suidwestelike stamme bespreek word. “Die eerste voorspel ronduit dat die inboorlingkulture binnekort sal verdwyn as gevolg van assimilasie in die algemene Amerikaanse lewenswyse. Die tweede is vaer . . . Dit praat sagkens van die akkulturasieproses en stel ’n deurdagte vermenging voor van ‘die beste van die oue met die beste van die nuwe’, ’n soort goue kulturele sonsondergang waarin die Indiaan uniek in sy handwerk, kleurvol in sy godsdiens en wys in sy filosofie kan bly—maar steeds redelik genoeg in sy betrekkinge met ons (die meerderwaardige [wit man se] kultuur) om sake op ons manier te beskou.”
Bahti stel dan ’n vraag. “Verandering is onvermydelik, maar wie sal verander en met watter doel? . . . Ons [die wit mense] het ’n hinderlike gewoonte om alle ander volke bloot as onontwikkelde Amerikaners te beskou. Ons neem aan dat hulle ontevrede moet wees met hulle lewenswyse en graag soos ons wil lewe en dink.”
Hy sê voorts: “Een ding is seker—die verhaal van die Indiaan is nog nie voltooi nie, maar hoe dit sal eindig en of dit sal eindig, moet ons nog sien. Daar is dalk nog tyd oor om ons oorblywende Indiaanse gemeenskappe eerder as waardevolle kulturele bates te begin beskou as om hulle bloot as ingewikkelde maatskaplike probleme te beskou.”
Die lewe in ’n nuwe wêreld van harmonie en geregtigheid
Jehovah se Getuies weet wat die toekoms, volgens die Bybel, vir die Indiane en vir mense van alle nasies, stamme en tale kan inhou. Jehovah God het beloof om “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te skep.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1, 3, 4.
Hierdie belofte beteken nie ’n nuwe planeet nie. Soos die Indiane maar alte goed weet, is hierdie aarde ’n juweel wanneer dit gerespekteer en reg behandel word. Bybelprofesieë toon eerder dat ’n nuwe hemelse heerskappy die mensdom se uitbuitende regerings sal vervang. Die aarde sal in ’n paradys omskep word met herstelde woude, vlaktes, riviere en natuurlewe. Alle mense sal op onselfsugtige wyse deel hê aan die rentmeesterskap van die grond. Uitbuiting en hebsug sal tot die verlede behoort. Daar sal ’n oorvloed van gesonde voedsel en opbouende bedrywighede wees.
En met die opstanding van die dooies sal al die ongeregtighede van die verlede uitgewis word. Ja, selfs die Anasazi (Navaho vir “mense van die ou tyd”), die voorouers van baie van die Pueblo-Indiane, wat in Arizona en Nieu-Mexiko woon, sal terugkeer en die geleentheid hê om vir ewig hier op ’n herstelde aarde te leef. Ook daardie leiers wat beroemd is in die Indiaanse geskiedenis—Geronimo, Sitting Bull, Crazy Horse, Tecumseh, Manuelito, hoofmanne Joseph en Seattle—en baie ander sal moontlik in daardie beloofde opstanding terugkeer (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Wat ’n wonderlike vooruitsig bied God se beloftes tog aan hulle en almal wat hom nou dien!
[Prent op bladsy 15]
Tipiese hogan van die Navaho, wat van hout gemaak en met grond bedek word
[Prent op bladsy 15]
Beeld van Crazy Horse, waarop die beeldwerk op die berg in die agtergrond gebaseer word
[Erkenning]
Foto deur Robb DeWall, met vergunning van Crazy Horse Memorial Foundation (nonprofit)
[Prent op bladsy 15]
Hopi- en Navaho-Getuies in Keams Canyon, Arizona, kom byeen by hulle Koninkryksaal, wat voorheen ’n handelspos was
[Prent op bladsy 16]
Anasazi-wonings van meer as 1000 jaar gelede (Mesa Verde, Colorado)
[Prent op bladsy 16]
Geronimo (1829-1909), ’n beroemde Apache-hoofman
[Erkenning]
Met vergunning van Mercaldo Archives/Dictionary of American Portraits/Dover