Selfs ‘die tong van hakkelaars sal spreek’
DIT was die middagsessie van ’n spesiale byeenkomsdag van Jehovah se Getuies in Tsjeggo-Slowakye (nou die Tsjeggiese Republiek), en honderde het byeengekom om Bybelonderrig te ontvang. Ek het agter die verhoog gestaan en my deel hersien. Dit was niks groots nie. Twee jong Getuies moes ondervindinge vertel, en ek moes bloot as voorsitter vir die deel optree. Daardie oggend het ek innerlik gespanne gevoel, en nou het dit vererger. Ek het letterlik lam gevoel van angs en kon nie praat nie.
Jy dink dalk dat feitlik enigiemand in so ’n situasie senuweeagtig sou wees. Maar dit was nie net ’n geval van senuwees nie. Kom ek verduidelik waarom.
My spraakprobleem
Op 12-jarige ouderdom het ek geval en my kop, nek en ruggraat beseer. Daarna het ek nou en dan gehakkel of gesukkel om woorde te vorm, veral woorde wat met die letters p, k, t, d en m begin. Somtyds kon ek glad nie eens praat nie.
Die probleem het my toe nie veel gepla nie; dit was eintlik meer ’n ergernis. Maar met verloop van jare het ek ’n werklike vrees ontwikkel om enigsins in die openbaar te praat. Ek het eenkeer flou geword terwyl ek ’n verslag by die skool gegee het. En partykeer wanneer ek inkopies gedoen en klerke my gevra het wat ek wou hê, kon ek hulle nie antwoord nie. Terwyl ek daar gestaan en sukkel het om te praat, het hulle ongeduld toegeneem: “Maak gou. Ek het nie heeldag tyd nie. Ander klante wag.” Gevolglik kon ek nie die dinge koop wat ek nodig gehad het nie.
My skooljare was baie moeilik. Wanneer ek mondelinge verslae moes gee, het my skoolmaats met my gehakkel die spot gedryf. Ek het nogtans my hoërskoolopleiding voltooi en in 1979 na ’n universiteit in Praag, Tsjeggo-Slowakye, gegaan om verder te studeer. Aangesien ek van atletiek gehou het, het ek kursusse gevolg om ’n gimnastiekonderwyser te word. Maar hoe kon ek my doelwit bereik? Ten spyte van my bedenkinge het ek vorentoe gebeur.
Ek soek hulp
Daar moes ’n manier wees waarop ek van my spraakbelemmering ontslae kon raak. Nadat ek my universiteitsopleiding voltooi het, het ek dus besluit om professionele hulp te kry. Ek het ’n kliniek in Praag besoek wat in die behandeling van spraakprobleme spesialiseer. Tydens die eerste konsultasie het ’n verpleegster uitgeroep: “Jou neurose is baie erg!” Dit het my seergemaak om te dink dat sy meen ek is neuroties, al is deskundiges dit eens dat hakkelry nie ’n neurotiese toestand is nie. Dit het my nie lank geneem om te besef dat ek voor ’n unieke uitdaging te staan gekom het nie: Ek was ’n jong man van 24, en al die ander pasiënte was kinders.
Weldra het die hele personeel, met inbegrip van die sielkundige, my probeer help. Hulle het alles probeer. Eenkeer het hulle my aangesê om vyf weke lank nie ’n woord met enigiemand te praat nie. ’n Ander keer het hulle my net toegelaat om op een toon en b-a-i-e stadig te praat. Hoewel hierdie benadering gehelp het, het dit my ook die bynaam Slangbesweerder besorg, omdat baie tydens my verslae aan die slaap geraak het.
Ek kom in aanraking met Jehovah se Getuies
Terwyl ek op ’n somersdag in 1984 in die middestad gestap het, het twee jong mans my genader. Dit was nie hulle uiterlike voorkoms wat my verbaas het nie, maar wat hulle gesê het. Hulle het gesê dat God ’n regering het, ’n Koninkryk, wat al die mensdom se probleme sal oplos. Hulle het my hulle telefoonnommer gegee, en ek het hulle later gebel.
Jehovah se Getuies is destyds nog nie as ’n wettige godsdiensorganisasie in Tsjeggo-Slowakye erken nie. Tog het my belangstelling weldra so toegeneem dat ek hulle vergaderinge begin bywoon het. Ek kon die liefde en besorgdheid wat die Getuies vir mekaar gehad het eenvoudig aanvoel.
My selfvertroue word opgebou
Ek het hulp met my spraakprobleem ontvang deur middel van die Teokratiese Bedieningskool, ’n skool wat weekliks in elke gemeente van Jehovah se Getuies gehou word. Ek is aangespoor om aan te sluit, en ek het. Na aanleiding van voorstelle in een van die skool se handleidings, die Teokratiese Bedieningskool-handleiding, het ek my op spraakhoedanighede soos vlotheid, uitspraak, beklemtoning en modulasie toegelê.a
My eerste studentetoespraak, wat ’n Bybelleesgedeelte was, was ’n fiasko. Ek was ’n senuweewrak en kon skaars die huis haal. Hoe dankbaar was ek tog vir die kalmerende uitwerking van ’n warm stort!
Ná daardie eerste toespraak was die skoolopsiener so gaaf om persoonlike aandag aan my te gee. Hy het my nie net konstruktiewe raad gegee nie, maar my ook geprys. Dit het my die moed gegee om aan te hou probeer. Kort daarna, in 1987, is ek as ’n Getuie gedoop. ’n Paar maande later het ek van Praag na die stil dorpie Žďár nad Sázavou verhuis. Die groepie plaaslike Getuies het my hartlik verwelkom. Hulle het ook my manier van praat aanvaar, wat nog taamlik hortend was, en dit het my gevoel van eiewaarde verhoog.
Later het ek na ’n klein Bybelstudiegroep omgesien, en toe het ek my eerste openbare Bybeltoespraak gehou. Uiteindelik, nadat die regering in Tsjeggo-Slowakye verander het, het ek sulke toesprake in nabygeleë gemeentes begin hou. In ’n vreemde omgewing het my spraakprobleem teruggekeer. Maar ek het nie moed opgegee nie.
Besondere uitdagings
Eendag het ’n Christen- ouer man my na sy werksplek genooi. Hy het gesê: “Petr, ek het goeie nuus vir jou! Ons wil graag hê dat jy aan die komende kringbyeenkoms moet deelneem.” Ek het flou gevoel en moes gaan sit. Tot my vriend se teleurstelling het ek dit geweier.
Daardie weiering het my gekwel. Ek kon dit nie uit my gedagtes kry nie. Wanneer vertroue op God tydens die Christelike vergaderinge gemeld is, was dit ’n pynlike herinnering aan daardie weiering. Daar is soms na Gideon verwys, wat onder God se leiding die hele Midianitiese leër met net 300 manskappe aangedurf het (Rigters 7:1-25). Hier was ’n man wat waarlik op sy God, Jehovah, vertrou het! Het ek Gideon se voorbeeld gevolg toe ek daardie toewysing geweier het? Ek moes eerlik erken dat ek dit nie gedoen het nie. Ek het skaam gevoel.
Nogtans het my Christenbroers geweier om hoop op te gee met my. Hulle het my weer ’n geleentheid gebied. Ek is genooi om deel te neem aan die program vir ’n spesiale byeenkomsdag. Hierdie keer het ek dit aanvaar. Hoe dankbaar ek ook al vir hierdie voorreg was, die gedagte daaraan om ’n saal vol mense toe te spreek, was eerlikwaar skrikwekkend. Ek moes my werklik intens daarop toelê om my vertroue op Jehovah te versterk. Maar hoe?
Deur noukeurig te let op ander Getuies se geloof in en vertroue op hom. Dít het my versterk. Selfs ’n brief van die sesjarige Verunka, die dogtertjie van ’n vriend, was ’n goeie voorbeeld vir my. Sy het geskryf: “September gaan ek skool toe. Ek weet nie hoe dit sal gaan met die volkslied nie. Ek weet dat Jehovah vir my sal veg, soos hy vir Israel gedoen het.”
Wel, dit is net ’n paar van die gebeure wat die middagsessie van die spesiale byeenkomsdag, waarvan ek in die begin gepraat het, voorafgegaan het. Ek het vurig gebid. Ek was toe nie meer so besorg oor die vlotheid van my spraak as oor die feit dat ek God se groot naam voor hierdie groot gehoor wou loof nie.
Ek het dus daar voor die mikrofoon gestaan met honderde mense voor my. Toe het ek, met die besef dat die boodskap belangriker is as die boodskapper, diep asemgehaal en begin. Agterna het ek tyd gehad om sake te oordink. Was ek senuweeagtig? Beslis, en ek het selfs ’n paar keer gehakkel. Maar ek weet dat ek sonder God se ondersteuning glad nie sou kon gepraat het nie.
Later het ek begin nadink oor iets wat ’n Christenbroer eenkeer vir my gesê het: “Wees bly dat jy hakkel.” Toe hy daardie stelling gemaak het, was ek werklik verbaas. Hoe kon hy so iets sê? Noudat ek terugkyk, verstaan ek wat hy bedoel het. Die spraakprobleem wat ek het, het my gehelp om eerder op God as op myself te vertrou.
’n Paar jaar het verloop sedert die middag van daardie spesiale byeenkomsdag. Gedurende hierdie jare het ander voorregte my te beurt geval wat toesprake voor groot gehore beteken het. Ek is as ’n Christen- ouer man in Žďár nad Sázavou aangestel en ook as ’n pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Stel jou voor! Ek het toe elke maand meer as honderd uur daaraan bestee om met ander oor God se Koninkryk te praat, om nie eers te praat van die tyd wat ek daaraan bestee het om ander by ons weeklikse Christelike vergaderinge te onderrig nie. En nou dien ek as ’n kringopsiener en hou ek elke week toesprake in ’n ander gemeente.
My hart brand eenvoudig van waardering elke keer wanneer ek hierdie besondere profesie in die Bybelboek Jesaja lees: “Die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek” (Jesaja 32:4; Exodus 4:12). Jehovah was waarlik met my en het my gehelp om “duidelik te spreek” tot sy eer, lof en heerlikheid. Dit verskaf my groot tevredenheid en geluk dat ek in staat is om ons uiters barmhartige God te loof.—Soos vertel deur Petr Kunc.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.