Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/8 bl. 24-26
  • “Waltzing Matilda”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Waltzing Matilda”
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat beteken “Waltzing Matilda”?
  • “Matilda” se beroemdheid neem toe
  • Dra dit ’n boodskap?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Kom sing die Koninkrykslied!
    Sing vir Jehovah
  • Kom sing die Koninkrykslied!
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Die lewe is anders in Australië
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/8 bl. 24-26

“Waltzing Matilda”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

AUSTRALIË se liedjie “Waltzing Matilda” is regoor die wêreld algemeen bekend. Verlede jaar op die honderdste herdenking van die eerste openbare uitvoering daarvan op 6 April 1895 het belangstelling in die liedjie skielik begin toeneem.

Hoe het so ’n eenvoudige ballade met ietwat kriptiese lirieke so gewild geword, nie net dwarsoor Australië nie, maar in baie lande van die wêreld? Daar bestaan teenstrydige verslae oor die presiese oorsprong van die liedjie. Maar die algemene mening is dat die oorspronklike skrywer van die lirieke A. B. (Banjo) Paterson was, wie se gedigte gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s trefferverkopers in Australië geword het.

Die bewoording van “Waltzing Matilda” wissel, maar die verhaal van ’n swerwer kom duidelik na vore. Swerwers het gewoonlik hulle persoonlike besittings in ’n bagasierol saamgedra wanneer hulle gereis het. In hierdie liedjie het die swerwer sy kamp opgeslaan langs ’n klein syloop van ’n rivier, bekend as ’n billabong in die Agterveld van Australië. Terwyl hy sy billy, of keteltjie, oor die kampvuur gekook het, het ’n vet skaap, bekend as ’n jumbuck, by dieselfde billabong kom water drink. Die swerwer het die skaap gevang, doodgemaak en die karkas in sy knapsak, ’n sak waarin kosvoorraad gedra is, gegooi. Hy was skaars hiermee klaar of die nedersetter wat die grond besit, kom daar op sy perd aan. (Hierdie nedersetters was boere wat die besitreg op die grond verkry het deur dit te beset. Later van tyd kon hulle hulle groot grondeiendomme registreer.) Dié nedersetter was vergesel van drie berede polisiemanne. Toe die ongelukkige swerwer daarvan beskuldig word dat hy die skaap gesteel het, en hy ongetwyfeld deur gevangenskap of iets ergers in die gesig gestaar word, spring hy op, spring in die billabong en verdrink.

Waarom het hierdie onwaarskynlike verhaal soveel trefkrag? Een verduideliking is dié van Bruce Elder in sy inleiding tot Rex Newell se boek Favourite Poems of Banjo Paterson. Hy doen aan die hand dat die liedjie ’n boodskap uitdra van hoe Australiërs hulleself wil beskou: “Daar steek baie meer in as net die verhaal van ’n swerwer wat ’n skaap steel. Dit is ’n uitdrukking van ons teësin in afknouery en gesagdraers. Die swerwer stel elke Australiër voor wat al ’n kleingeestige amptenaar wou uitlag . . . Dit is beter om in die billabong in te spring as om toe te laat dat hierdie mense ons lewe regeer.” Maar wat ook al die rede vir die gewildheid daarvan is, die liedjie “Waltzing Matilda” is al meer as 100 jaar lank ’n Australiese simbool.

Wat beteken “Waltzing Matilda”?

Die liedjie het vier verse, of kort stansas. Na elke vers volg ’n refrein, wat met dié versreëls begin:

Waltzing Matilda, Waltzing Matilda,

You’ll come a-waltzing Matilda with me.

Dit word gevolg deur twee reëls wat herhaal wat in die vorige vers beskryf is. Die liedjie kry sy naam van hierdie refrein.

Onsekerheid, selfs polemiek, het ontstaan oor wat ’n “matilda” presies is en wie die “waltzing” doen. Dit lyk asof die eenvoudige verduideliking van sommige navorsers die aanneemlikste is. Een skrywer sê: “Paterson was . . . gefassineer deur die swerwers wat van die een nedersetter se grond na die volgende voetgeslaan het met al hulle besittings oor hulle skouer in ’n bagasierol saamgebondel. Hy het van die geselstaal gehou wat hierdie swerwers gebruik het. Hulle het die dra van hulle bagasierol beskryf as ‘aanpiekel met die bondel’, ‘vrag oor die skouer’, ‘die vloek dra’ of ‘waltzing Matilda’.”

Die beknopte definisie van die “waltzing matilda” deur Sydney May, in sy boek The Story of “Waltzing Matilda”, sê: “Die klere en persoonlike besittings is styf opgerol en dan in die oopgevoude kombers toegedraai. Daarna is die kombers aan elke end van die stywe binneste rol vasgemaak en op die nek gedra met die los kante wat voor aan elke kant hang, en dit het gewoonlik gelyk asof een arm die een kant vashou.”

“Matilda” se beroemdheid neem toe

Sydney May maak die gevolgtrekking dat Australiese troepe wat tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog na ander lande gevaar het die liedjie “Waltzing Matilda” so gewild in die buiteland gemaak het. Hy gee hierdie voorbeelde: “In 1941 in Tel Aviv het die kafee-orkeste dit gespeel sodra ’n Australiër die kafee binnegestap het; die Negende Divisie het dit gesing toe hulle Bardia binnegekom het nadat hulle dit herverower het; ’n Australiese oorlogskip wat by ’n Britse vlooteenheid aangesluit het, is reeds in 1917 deur die vlagskip se orkes met ‘Waltzing Matilda’ verwelkom en net voor ’n Australiër oorsese gehore oor die radio toegespreek het, is hy deur hierdie temawysie ingelei.” Een van die luisterrykste geleenthede waartydens die liedjie gespeel is, was by die seremoniële optogte van die Kroningsafvaardiging van Australiese troepe by Buckingham-paleis, Londen, gedurende die week voor die bekroning van koningin Elizabeth II.

’n Interessante persberig gee ook ’n aanduiding van “Waltzing Matilda” se gewildheid onder mense in alle kringe. Die berig sê: “Een aand nadat [Australië se eerste minister] mnr. Menzies saam met [Brittanje se eerste minister] mnr. Churchill en die leier van die Franse versetbeweging, generaal De Gaulle, by The Chequers geëet het, het hulle na een van die ander vertrekke gegaan. Sir Winston het ’n teken gegee en ’n plaat van ‘Waltzing Matilda’ is gespeel. Hy het lustig gesing en byna al om die vertrek begin dans, toe hy stop om aan die generaal te sê: ‘Dit is een van die beste liedjies in die wêreld’.”

Om “Matilda” se gewildheid verder te bevestig, sê Richard Magoffin in sy boek Waltzing Matilda—The Story Behind the Legend: “Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die liedjie van die billabongs nog verder oor die wêreld geneem, waar Australiese soldate ook al heen gegaan het. Dit was ’n liedjie wat jou maklik aan die huis laat dink het en dit is sonder veel moeite as Australies uitgeken.” Hy haal ook die produksieleier Kramer aan, wat “Waltzing Matilda” uitgekies het om dit in die rolprent On the Beach te gebruik. Kramer het gesê: “Dit is ’n besonder veelsydige liedjie. Dit kan as ’n volksliedjie, ’n mars, ’n ballade of in enige ander musiekvorm gespeel word, en ons het dit op soveel verskillende maniere in die klankbaan vir ‘On the Beach’ gebruik. Ek het, so te sê op die ingewing van die oomblik, besluit dat ‘Waltzing Matilda’ die temalied van die rolprent se musiekklankbaan moet wees.”

Dra dit ’n boodskap?

Sommige meen dat Banjo Paterson ’n boodskap gehad het vir diegene wat sy liedjie sou lees en sing. William Power het byvoorbeeld ’n artikel in die Yale Review in die Verenigde State geskryf en sieldeursoekende gedagtes uitgedruk wat oor ’n moontlike boodskap in die liedjie handel. Hoewel almal natuurlik nie met hom sal saamstem nie, is sy opmerkings nogtans ’n gepaste slot vir hierdie kort ontleding van “Waltzing Matilda”. Hy het gesê:

“Australiërs het nie net ’n stryd teen die natuurkragte gehad nie, maar ook teen die tekortkominge van die menslike natuur. . . . Hierdie gespanne gevoelens word uitgedruk in ‘Waltzing Matilda’, waarin die antagoniste die twee uiterstes is, ’n swerwer en ’n nedersetter. In so ’n konflik sal die meeste sê dat die nedersetter verdien om te wen. Die ekonomie van Australië hang grootliks af van sy bedrewenheid as ’n skaap- of beesboer. Hy is hardwerkend, verantwoordelik, vol durf; as hy enige van die eienskappe kortkom wat ons met ’n pionier vereenselwig, sal hy nie lank ’n nedersetter bly nie. . . . Die swerwer is ook mens. . . . Ook hy is deel van die gemeenskap. ’n Paar swerwers het opgang gemaak en nedersetters geword; ’n groter aantal het ’n laer maar steeds bevredigende status verwerf as boere, plaaswerkers, werktuigkundiges, stadswerkers; ander was sonder grond en tuiste tot die dag van hulle dood, en hulle doodsbeendere het langs die pad bly lê. Die gemeenskap sê dalk dat die nedersetter oor die swerwer moet seëvier, maar die regte van die swerwer as mens moet nooit vergeet word nie.”

Nou het meer as 100 jaar verloop sedert hierdie eenvoudige ballade uit die Agterveld geskryf is. Banjo Paterson sou hom dit nooit kon voorstel dat sy gedig wat getoonset is so ’n gewilde Australiese liedjie sou word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel