Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sterftesyfer onder vrouerokers styg
  • Dwelms in Duitse skole
  • Merkwaardige reisigers
  • “’n Wêreldliggaam sonder veel gevoel”
  • Heuningbye met ’n hoë temperatuur
  • Die kruis—’n Simbool van geweld?
  • Watervlooie verleen hulp
  • Sonde word geïgnoreer
  • Edelstene se “vingerafdrukke”
  • Waarskuwing teen vuurwerk
  • “’n Potensiële tydbom”
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • “Die wonderlikste lewende vliegmasjien op aarde”
    Ontwaak!—2010
  • Watter toekoms vir die albatros?
    Ontwaak!—1997
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Sterftesyfer onder vrouerokers styg

’n Onlangse studie wat in The Canadian Journal of Public Health gepubliseer is, het bevind dat rookverwante sterftes onder Kanadese vroue van 9009 in 1985 tot 13 541 in 1991 toegeneem het. Die studie raam dat meer vroue as mans teen die jaar 2010 weens die rookgewoonte sal sterf as die huidige tendens voortduur. Volgens The Toronto Star is ongeveer 41 408 sterftes in 1991 aan rook toegeskryf (27 867 mans en 13-541 vroue). In die Verenigde State het sterftes onder vrouerokers met longkanker tussen die sestiger- en tagtigerjare sesvoudig toegeneem, sê dr. Michael Thun van die Amerikaanse Kankervereniging. Navorsers kom tot die gevolgtrekking dat “sigaretrokery verreweg die grootste enkele voorkombare oorsaak van vroeë sterftes in die Verenigde State is”, berig The Globe and Mail van Toronto, Kanada.

Dwelms in Duitse skole

’n Studie onder meer as 3000 leerlinge in die noorde van Duitsland het aan die lig gebring dat verslawende middels algemeen in skole gebruik word. Volgens die weekblad Focus het bykans die helfte van die 17-jarige leerlinge al self onwettige dwelms gebruik, en tans word dit deur meer as ’n derde gebruik. Professor Peter Struck het verduidelik dat “jy by baie hoërskole in Hamburg skoliere van 16 of 17 jaar oud sal vind wat gedurigdeur die gebruik van stimulante en kalmeermiddels afwissel”. Maar waarom word dwelms op so ’n groot skaal gebruik? Professor Klaus Hurrelmann het drie redes verstrek vir die gebruik van dwelms deur jongmense: verveeldheid met die lewe, die gevoel dat hulle te min erkenning vir persoonlike prestasies ontvang en portuurdwang.

Merkwaardige reisigers

’n Grootalbatros het 26 000 kilometer in 72 dae gevlieg en ’n grysseeleeu het 5000 kilometer in drie maande geswem. Bewaringswetenskaplikes het hierdie uitsonderlike voorbeelde van volharding bemerk nadat hulle klein radiosenders aan sekere albatrosse en seeleeus vasgemaak het om hulle bewegings met behulp van ’n satelliet te volg. In een stadium het die albatros bykans 3000 kilometer in vier dae oor die Stille Suidsee gevlieg. Die seeleeu het tot 100 kilometer per dag tussen Skotland en die Faroëreilande geswem en die verstommende vermoë geopenbaar om met akkuraatheid oor oop see te vaar, sê The Times van Londen. Wat het tot hierdie twee maratonreise aanleiding gegee? ’n Soektog na kos, sê die berig.

“’n Wêreldliggaam sonder veel gevoel”

“Verlede week het leiers van elke kontinent drie dae byeengekom by die 50ste verjaarsdag van die Verenigde Nasies om kragtige toesprake te hou oor die toestand waarin die wêreld verkeer”, het The New York Times verlede Oktober berig. Maar blykbaar het ’n aantal van die “kragtige toesprake” aan een belangrike element ontbreek—eerlikheid. “Soos politici oor die hele wêreld”, het die Times gesê, “het hulle beloftes gemaak wat hulle nie sal hou nie en iemand anders vir hulle tekortkominge blameer.” Nadat die koerant agt volksleiers aangehaal het wie se woorde in stryd met hulle land se dade was, het dit tot die slotsom gekom dat hulle oorheersende boodskap die volgende was: “Vergeet wat ek doen, wêreld; luister na wat ek sê.” Dit is geen wonder dat die U.S.News & World Report die Verenigde Nasies “’n wêreldliggaam sonder veel gevoel” genoem het nie.

Heuningbye met ’n hoë temperatuur

Japannese heuningbye verdedig hulle teen aanvalle van die reuseperdeby deur hom met hulle liggaamshitte dood te maak, berig Science News. Sodra hulle agterkom dat ’n perdeby in die nabyheid is, lok hulle hulle vyand in die nes in, waar honderde werkers op hom toesak en ’n bal om hom vorm. Dan “vibreer die bye en laat hulle die temperatuur van die bal tot ’n dodelike 47° C styg, omtrent 20 minute lank”, sê die tydskrif. Aangesien Japannese heuningbye temperature van tot 50 grade Celsius kan verduur, doen hierdie slim plan hulle geen kwaad nie. Nie alle perdebye word egter slagoffers van hierdie valstrik van die heuningby nie. Aangesien “20 tot 30 perdebye ’n kolonie van 30 000 bye binne 3 uur kan doodmaak”, kan reuseperdebye die heuningbye oorweldig deur ’n massa-aanval te doen. “In hierdie gevalle”, sê die News, “neem hulle die nes oor en vat hulle die bye se larwes en papies.”

Die kruis—’n Simbool van geweld?

Party teoloë bevraagteken die gepastheid van die kruis as ’n simbool van die Christelike godsdiens as gevolg van die geweld wat daarmee verbind word, berig The Dallas Morning News. Die teoloë moedig die gebruik van simbole aan wat eerder Jesus se lewe as sy dood uitbeeld. Die kruis “bevorder ’n aanbidding van die dood”, het teoloog Catherine Keller van die Drew-universiteit se Teologiese Fakulteit in Madison, New Jersey, VSA, gesê. “Niemand sal graag ’n elektriese stoel of galgtou as die vernaamste simbool van sy godsdiens wil hê nie, maar dit is wat ons sou gebruik het as vandag se owerhede Jesus om die lewe gebring het.”

Watervlooie verleen hulp

Die nederige watervlooi voorsien dalk die oplossing vir die probleem van besoedelde binnelandse waterweë, berig die Londense koerant Independent. Dit word aangedui deur ’n herwinningsprojek wat nou aan die gang is. Bioloë het eerstens 9,5 ton vis wat van watervlooie lewe uit die Ormesby Broad in Norfolk, Engeland, gehaal. Dit het die vlooie laat floreer en hulle het die alge opgevreet wat die meer besoedel het. Rustende saadjies van ander plante het toe onder die water begin ontkiem, en voëls, soos meerkoete en swane, het teruggekeer. Visse sal uiteindelik weer teruggeplaas word, en daar word verwag dat die hele ekosisteem binne vyf jaar weer normaal sal wees. Bewaringsgesindes in Europa hou die afloop van die projek met belangstelling dop.

Sonde word geïgnoreer

“Wat op aarde het van sonde geword?” vra die tydskrif Newsweek. “Die gebiedende besef van persoonlike sonde het so te sê verdwyn in die huidige vriendelike styl in Amerikaanse godsdiens.” Gemeentelede “wil nie preke aanhoor wat hulle gevoel van eiewaarde kan skok nie”, en onder Katolieke “is om gereeld by ’n priester te gaan bieg ’n ritus wat tot die verlede behoort”. Mededingende geestelikes is bang om hulle kuddes te vervreem. Talle “veroordeel gereeld sosiale euwels wat deel van die ‘stelsel’ is, soos rassisme [en] seksisme”, sê die artikel. “Maar hulle stemme is buitengewoon stil wanneer dit kom by onderwerpe wat mense persoonlik raak—soos egskeiding, trots, gierigheid en aanmatigende persoonlike ambisie.”

Edelstene se “vingerafdrukke”

Britse vroue besit 39 miljoen diamantsierade wat sowat R63,5 miljard werd is, en elke jaar word juweliersware ter waarde van R1,6 miljard gesteel. Die meeste van die juwele wat so verloor word, kan nie opgespoor word nie. Die metaal waarin die diamante geset is, word gou gesmelt. Dan word die edelgesteentes weer geset. Maar nou kan juweliers die unieke defekte van elke steen in die geheue van ’n sentrale rekenaar invoer. Hierdie “vingerafdrukke” word opgespoor met behulp van ’n laedigtheidslaserstraal wat die defekte van elke steen aan die lig bring—elke steen is uniek. Die diewe kan slegs die sekuriteitstelsel ontduik as hulle die stene weer sny, ’n duur proses wat ook die waarde daarvan verminder, berig The Sunday Times van Londen.

Waarskuwing teen vuurwerk

Amptenare berig dat “nagenoeg 12 000 mense elke jaar in Amerikaanse ongevalleafdelings behandel word vir beserings wat met vuurwerk verband hou”, sê Morbidity and Mortality Weekly Report (MMWR). Volgens die berig, wat deur die Consumer Product Safety Commission vir die jare 1990-1994 saamgestel is, was 20 persent van al die beserings wat deur vuurwerk veroorsaak is oogbeserings. Dit is “dikwels ernstig en kan gesigskerpte permanent verswak of blindheid veroorsaak”, sê die MMWR. Dit is ook opmerkenswaardig dat meer bystanders klaarblyklik oogbeserings opgedoen het as die persone wat die vuurwerk afgeskiet het.

“’n Potensiële tydbom”

Nagenoeg 45 persent van die wêreldbevolking woon tans in stede, berig die tydskrif Focus, en daar word geraam dat die helfte van die bevolking teen die jaar 2000 stadsbewoners sal wees. Groot dele van Noord-Europa, Italië en die oostelike Verenigde State het ’n betreklik hoë bevolkingsdigtheid, en dele van China, Egipte, Indië en Suid-Afrika het digbevolkte stede in andersins plattelandse gebiede. Satellietbeelde toon egter nou dat net 3 tot 4 persent van die aarde verstedelik is. Maar met 61 miljoen mense wat jaarliks na stede toe verhuis, meestal in die ontwikkelende wêreld, neem die bevolkingsdigtheid in hierdie stadsgebiede toe omdat “die stede nie so vinnig soos hulle bevolking kan groei nie”, sê Focus, en dit voeg by: “Die situasie is ’n potensiële tydbom.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel