Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kinderguerrillas
  • Broodboomsekuriteit
  • Verlore inspeksiedeksels
  • Nuwe Bybelvertalings
  • Naamprobleme
  • Rwanda se vroue word beskuldig
  • Natuurlike skoonmaakmiddels
  • Hulle gebruik hulle kop
  • Die “Jerusalem-sindroom”
  • Vroue se verbeterde rol in ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wat hou die toekoms vir vroue in?
    Ontwaak!—1998
  • Waardeer vroue en die werk wat hulle doen
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Kinderguerrillas

Dit is dwarsoor die aarde niks vreemds om kinders in guerrillaleërs te vind nie. Volgens die International Herald Tribune leer kinders gou hoe om dood te maak, en hulle sin vir wat reg en verkeerd is, is nie so sterk soos hulle begeerte om aanvaar te word deur watter militêre groep ook al hulle familie geword het nie. “In Rwanda en ander plekke het kinders van die ergste gruweldade gepleeg”, het ’n woordvoerder van die Verenigde Nasies gesê. “Hulle wil tot ’n groep behoort en geprys word, en hulle kan dalk slegs hulle portuurs se goedkeuring verkry as hulle selfs onverskrokkener of wreder as die volwassenes is.” In een Afrikakonflik is seuns wat maar net agt was, opgelei en gedwing om gruweldade te pleeg, soos om hulle eie ouers te skiet en keelaf te sny. Ontvoerde meisies is gedwing om te kook, skoon te maak en seksuele vermaak aan die mans te verskaf. “Ramings van hoeveel kinders tans in oorlogvoering betrokke is, wissel van 50 000 tot soveel as 200 000 in 24 konflikte”, sê die tydskrif Newsweek.

Broodboomsekuriteit

Baie plantkundiges meen dat die broodboom Encephalartos woodii die wêreld se seldsaamste plant is. Toe Suid-Afrika dus verlede jaar besluit het om ’n eksemplaar van hierdie palmagtige tropiese plant na Londen se Chelsea-blommeskou te stuur, het hulle voorsorg getref deur ’n diefstalvoorkomingsmikroskyfie wat met antibakteriese room bedek was in die stam in te plant. Alle broodbome wat in Suid-Afrika vervoer word, word nou op hierdie manier beskerm, berig New Scientist. Om diewe te kortwiek, beskerm Suid-Afrikaanse bewaringsgesindes wilde broodbome nou op ’n soortgelyke wyse met behulp van ’n satellietopsporingstelsel.

Verlore inspeksiedeksels

In 1994 het meer as 200 inwoners van Beijing in oop inspeksiegate geval, het die koerant Economic Daily berig. Die rede? Diewe het gedurende die jaar meer as 2000 inspeksiedeksels uit die strate van China se hoofstad gesteel. Die meeste is glo deur trekarbeiders gesteel, wat China se swerwende bevolking genoem word. Diefstal van die deksels het gedurende die laaste dekade saam met die groei van die stad se swerwende bevolking toegeneem. Die deksels van 60 kilogram kan vir meer as 100 joean (R44) verkoop word. Die beseerde inwoners het voetgangers sowel as fietsryers ingesluit.

Nuwe Bybelvertalings

“’n Ontsaglike aantal nuwe uitgawes van die Bybel in moderne Engels bereik boekwinkels”, sê U.S.News & World Report. Bybels is vir kinders, atlete, die bejaardes, moeders wat tuisbly, vaders en ander groepe gepubliseer. Een, die Black Bible Chronicles, “gebruik sleng en drama om die Bybelverhale vir swart Amerikaanse tienderjariges interessanter te maak”. ’n Ander, The New Testament and Psalms: An Inclusive Version, probeer ’n geslaglose taal gebruik. God word die “Vader-Moeder” genoem en die Seun van die mens word “die menslike een”. Om linkshandiges nie aanstoot te gee nie, noem vertalers die regterhand van God sy “magtige hand”, en weens rassistiese ondertone word donkerheid nie meer met boosheid gelykgestel nie. En ’n derde, die New International Reader’s Version New Testament, word deur die uitgewer daarvan beskryf as die “heel eerste Bybel wat op ’n 2,9-graad-leespeil geskryf is, die laagste op die mark”. Die artikel sluit af: “Daar is nou altesaam meer as 450 vertalings van die Bybel in Engels alleen. Met al die nuwe uitgawes wat op die rakke beland, is die kanse goed dat die Bybel nie gou sy bestendige posisie as die grootste suksesboek van alle tye sal prysgee nie.”

Naamprobleme

China, met meer as 1,2 miljard mense, het voor ’n krimpende getal vanne te staan gekom. Volgens navorsers word net 3100 vanne nou daar gebruik, vergeleke met sowat 12 000 in die verlede. Ongeveer 350 miljoen mense—gelykstaande aan die gesamentlike bevolkings van die Verenigde State en Japan—het een van die vyf algemeenste vanne: Li, Wang, Zhang, Lioe en Tsjen. Daarbenewens word dieselfde voorname ook algemeen gebruik. In Tianjin het meer as 2300 mense byvoorbeeld die naam Zhang Li en skryf hulle dit met dieselfde karakters, terwyl talle ander dieselfde uitspraak gebruik, maar dit met ander karakters skryf. As gevolg van die verwarring is die verkeerde mense al in ’n hele aantal gevalle in hegtenis geneem, bankrekeninge per abuis leeggemaak en operasies op die verkeerde persone by hospitale uitgevoer. Die Republiek Korea het ’n soortgelyke probleem. ’n Opname wat in 1987 gemaak is, het getoon dat 1 uit elke 5 mense daar die van Kim het. Huwelike tussen mense wat dieselfde van het, is verbied om ondertrouery te voorkom. Dit het daartoe gelei dat duisende paartjies saamlewe, maar nie hulle huwelik registreer nie en dus nie in aanmerking kom vir versekering en ander voordele nie. Die land se hoogste hof het egter nou beslis dat sulke gelyknamige huwelike as wettig beskou sal word as die paartjies eers in die buiteland trou.

Rwanda se vroue word beskuldig

Vroue sowel as mans moet die verantwoordelikheid dra vir die slagting in 1994 van ten minste 500 000 mense in Rwanda, beweer die organisasie Afrikaregte wat sy hoofkwartier in Londen het. “Duisende vroue is deur ander vroue doodgemaak”, sê hulle berig. “Die mate waarin vroue ’n daadwerklike aandeel aan die slagting gehad het, is ongeëwenaard. Dit is nie toevallig nie. Die bewerkers van die slagting het soveel moontlik van die bevolking probeer betrek—mans, vroue en selfs kinders van net agt jaar. Hulle het hulle dit ten doel gestel om ’n nasie ekstremiste te skep wat deur die bloed van ’n volksmoord saamgebind word.” Baie van die vroue wat daarby betrokke was, het vertrouensposisies beklee—kabinetsministers, streeksbestuurders, nonne, onderwyseresse en verpleegsters. Sommige het ’n daadwerklike aandeel aan die slagting gehad en kapmesse en gewere gebruik, terwyl ander ’n ondersteunende rol gespeel het deur die manlike moordenaars aan te por, deur hulle toegang tot tehuise en hospitale te gee en deur die huise te plunder en die dooies te beroof.

Natuurlike skoonmaakmiddels

Party blomplante toon ’n verbasende vermoë om woestynsand wat met olie besoedel is, skoon te maak en te herwin, berig The Times van Londen. Wetenskaplikes het uitgevind dat hierdie plante kan floreer waar die olie minder as 10 persent van die sand in gewig uitmaak en dat hulle wortels heeltemal skoon bly. Die rede? Miljoene bakterieë wat om die plante se wortels leef, neem die olie in en breek dit af in onskadelike produkte. Hierdie plante kom van een van die grootste plantfamilies, die komposiete, wat madeliefies, asters en talle onkruide insluit. Wetenskaplikes beveel aan dat dit geplant word om die skoonmaak van die woestyn in Koeweit te bespoedig. Vier jaar ná die oorlog met Irak is nagenoeg 50 vierkante kilometer woestyn nog besoedel.

Hulle gebruik hulle kop

“Swart vroue in Afrika loop myle [kilometers] ver met swaar kanne water of potte kos asof hulle niks dra nie”, sê die tydskrif Discover. “Navorsers het gevind dat die vroue ontsaglike vragte kan dra sonder om enige ekstra energie te gebruik.” Sommige Keniaanse vroue kan tot 20 persent van hulle eie gewig sonder ekstra inspanning dra. Hoe doen hulle dit? Deur “hulle vragte baie doeltreffender [te dra] as mense wat swaar rugpakke dra of mense wat nie geleer is om hulle kop te gebruik nie”, antwoord New Scientist. “Die navorsers glo dat die geheim in die vroue se pendulumagtige bewegings lê.” Wanneer ons loop, is ons soos ’n pendulum wat swaai en dra ons van die energie na die volgende tree oor. By Europeërs neem die doeltreffendheid van hierdie energie-oordrag af namate die vrag swaarder word. Maar by die swart vroue in Afrika wat die vragte op hulle kop dra, neem die doeltreffendheid eintlik toe, sodat hulle spiere geen ekstra werk hoef te doen nie. Dit neem egter baie jare om die tegniek te vervolmaak.

Die “Jerusalem-sindroom”

Dit “kom voor onder toeriste wat oorweldig is deur die intense geestelike emosies wat die stad by hulle laat ontstaan het en gevolglik daarvan oortuig geraak het dat hulle die Saligmaker of ’n ander Bybelse karakter is of dat God hulle ’n spesiale boodskap of opdrag gegee het”, sê die tydskrif Time. “Die meeste het ’n geskiedenis van geestesprobleme.” ’n Bebaarde Italianer wat in ’n sak geklee in die heuwels naby Betlehem rondgedwaal het, beweer dat hy Jesus is. ’n Kaal, swaardswaaiende man wat deur die Ou Stad hardloop, sê dat hy ’n sending het om die blindes te genees. ’n Fris geboude Kanadees sê dat hy Simson is en “bewys” dit deur die metaaltraliewerk voor die venster van sy siekesaal af te ruk en te ontsnap. Diegene wat deur die sindroom geteister word, word gewoonlik na Jerusalem se Kfar Sjaoel- Psigiatriese Hospitaal geneem—nie om genees te word nie, maar om gekalmeer te word sodat hulle vir behandeling kan terugkeer huis toe. Die hospitaal neem sowat 50 sulke pasiënte per jaar op, hoofsaaklik van Wes-Europa en die Verenigde State.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel