Gesondheid en die omgewing
Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië
Elke jaar sterf 49 miljoen mense wêreldwyd. Volgens ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is ongeveer 75 persent van hierdie sterfgevalle ontydig en hou die oorsaak verband met ’n ongesonde omgewing en lewenstyl. Beskou ’n paar voorbeelde:
◼ Kanker dood elke jaar vyfmiljoen mense. Baie hiervan, berig die WGO, “kan direk toegeskryf word aan die ontsaglike toename in die rook van sigarette gedurende die afgelope 30 jaar”.
◼ Diarreesiektes, wat jaarliks die dood van meer as driemiljoen kinders veroorsaak, word dikwels deur besmette voedsel en water veroorsaak, asook deur ’n gebrek aan behoorlike sanitasie.
◼ Tering, wat elke jaar driemiljoen mense dood, floreer in toestande van armoede en oorbevolking, veral waar daar swak sanitasie is.
◼ Asemhalingsinfeksies, veral longontsteking, dood elke jaar drie en ’n half miljoen kinders onder die ouderdom van vyf jaar. Baie is stadsbewoners wat aan hoë vlakke van lugbesoedeling blootgestel word.
Afgesien van hierdie sterfgevalle ly ongeveer twee en ’n half miljard mense—amper die helfte van die wêreld se bevolking—jaarliks aan siektes wat voortspruit uit onvoldoende of besmette water en swak sanitasie. Daarbenewens koppel die WGO die verslegtende gesondheid van baie aan huidige bekommernisse soos suurreën, die verswakte osoonlaag en wêreldwye verwarming. Die WGO-verslag het gesê dat altesaam meer as tweemiljard mense in ’n omgewing woon wat hulle lewe of gesondheid in gevaar stel.
Dr. Hirosji Nakadjima, Direkteur-generaal van die WGO, waarsku: “As ons nie nou optree nie, sal die krisis waarin die Aarde en sy bewoners hulle bevind ondraaglik word, met ’n omgewing wat nie meer onderhou kan word nie.”
Die Bybel belowe dat daar ’n tyd sal wees wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Dit sal volbring word, nie deur die mens se pogings nie, maar deur God se Koninkryk, wat siektes en die oorsake daarvan sal uitwis.—Openbaring 21:3, 4.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Godo-Foto