Kredietkaarte en salaristjeks—Eg of vervalsings?
HOE gerieflik is hulle tog nie! So klein en so maklik om te dra. Hulle pas so mooi in ’n man se notebeurs of in ’n vrou se beursie. Sonder ’n sent in jou sak kan jy soveel dinge koop. Die gebruik van ’n kredietkaart word deur lugrederye, plesierbootmaatskappye, hotelle en vakansieoorde regoor die wêreld aangemoedig en geadverteer. Mense word aangeraai: “Moenie die huis daarsonder verlaat nie.” Party sakeondernemings sal dit eerder as kontant aanvaar. In teenstelling met kontant kan dit vervang word as dit gesteel of verloor word. Dit is jou persoonlike geld met jou naam en spesiale rekeningnommer aan die voorkant gebosseleer.
Jy ken dit as plastiekgeld—krediet- en debietkaarte. In 1985 het sommige banke hulle eie gesofistikeerde, laservervaardigde hologramme, wat driedimensioneel lyk, en ander veiligheidskenmerke ingebring, wat wissel van spesiale kodes in die magnetiese strokie aan die agterkant tot ’n onsigbare merkie wat onder ’n ultraviolet lig gesien kan word. Dit alles om vervalsing te voorkom! Na raming is daar dwarsoor die wêreld meer as 600 miljoen kredietkaarte in omloop.
Daar word gereken dat die wêreldwye verliese as gevolg van verskillende vorme van kredietkaartbedrog in die vroeë negentigerjare ten minste R3,6 miljard beloop het. Van daardie verskillende vorme neem vervalsing na bewering die vinnigste toe—dit is verantwoordelik vir ten minste 10 persent van die totale verliese.
In 1993 het vervalsing die banke wat lede is van een van die grootste kredietkaartmaatskappye byvoorbeeld R485,7 miljoen gekos, ’n vermeerdering van 75 persent vergeleke met die vorige jaar. Nog ’n vername kredietkaartmaatskappy, van internasionale grootte, het ook ongelooflike verliese weens vervalsing gerapporteer. “Dit maak kaartvervalsing ’n groot probleem, nie net vir die banke, kaartmaatskappye en handelaars wat dit aanvaar nie, maar ook vir verbruikers regoor die wêreld”, het ’n Nieu-Seelandse koerant berig. Hoewel wettige kaarthouers nie vir die verliese verantwoordelik is nie, word die koste uiteraard op die verbruikers afgeskuif.
Wat van die ingeboude veiligheidskenmerke wat as ’n versperring vir vervalsers moes dien—soos laservervaardigde hologramme en magnetiese strokies met spesiale kodes? Binne ’n jaar nadat hierdie kenmerke ingebring is, het die eerste ruwe vervalsings begin verskyn. Kort daarna is al die veiligheidskenmerke nageboots of ondermyn. “Jy moet altyd verbeter”, het ’n Hongkongse bankamptenaar gesê. “Die skurke probeer altyd beter wees as jy.”
Interessant genoeg, deskundiges sê dat die helfte van al die verliese as gevolg van kaartvervalsing in die vroeë negentigerjare in Asië voorgekom het, en bykans die helfte daarvan was blykbaar in Hongkong. “Hongkong is vir vervalste kredietkaarte wat Parys vir haute couture is”, het een deskundige gesê. Ander het Hongkong daarvan beskuldig dat dit die wêreldhoofstad van kredietvervalsing is—“die kruispunt van die ‘plastiekdriehoek’ van kredietkaartbedrog wat ook Thailand, Maleisië en nou Suid-China insluit.” “Die Hongkongse polisie sê dat plaaslike sindikate wat met georganiseerde misdaad in China verbind is nagemaakte kaarte graveer, bosseleer en kodeer deur nommers te gebruik wat deur verdorwe handelaars verskaf word. Dan stuur hulle eenvoudig die vervalste kaarte oorsee”, het die Nieu-Seelandse koerant berig.
“’n Bosseleermasjien vir kredietkaarte, wat [in Kanada] deur Asiatiese bendelede gekoop is, word nou gebruik om vervalste kredietkaarte te maak. Die masjien druk 250 kredietkaarte per uur, en die polisie meen dat dit gebruik is in [kredietkaart]bedrog wat miljoene der miljoene dollars beloop het”, het die Kanadese koerant Globe & Mail berig. In die laaste paar jaar is Hongkongse Chinese in hegtenis geneem vir die gebruik van vervalste kredietkaarte in ten minste 22 lande van Oostenryk tot Australië, met inbegrip van Guam, Maleisië en Switserland. Japannese kredietkaarte is veral gewild, aangesien hulle die hoogste kredietperke aan hulle gebruikers gee.
Die vinnige toename in kredietkaartbedrog en -vervalsing beteken dat “uitreikers verplig word om die koste van die toenemende bedrog te versprei”, het ’n Kanadese bankamptenaar gesê. En dit is wat gebeur. ’n Kredietkaart kan weliswaar ’n gerief en ’n uitkoms wees wanneer die gebruiker nie genoeg kontant byderhand het nie. Onthou egter dat die vervalsers net jou rekeningnommer en die kaart se vervaldatum nodig het en hulle kan aan die werk spring. “Dit is plastiekgeld”, het ’n streekveiligheidshoof van American Express International gewaarsku, “maar mense moet nog leer om dit met dieselfde omsigtigheid as kontant te behandel.”
“Die stelsel is deurtrek van swakhede”, het ’n polisiehoof gesê. “En die boewe het hulle almal gevind. En hulle het dit inderdaad meedoënloos uitgebuit”, het hy van vervalsers gesê.
Tjekvervalsing
Met die koms van elektroniese drukwerk wat feitlik enige papiergeld foutloos kan dupliseer, het die onvermydelike kort daarop gevolg. Vervalsers kon nou ’n groot verskeidenheid dokumente dupliseer: paspoorte, geboortesertifikate, immigrasiekaarte, aandeelsertifikate, koopbestellings, doktersvoorskrifte en talle ander. Maar die duplisering van salaristjeks sou die winsgewendste wees.
Die tegniek is besonder eenvoudig. Sodra ’n salaristjek van ’n groot maatskappy wat miljoene rande in plaaslike of landwye banke in deposito het in die hande van ’n vervalser beland, kan hy aan die werk spring. Met sy elektroniese drukker, optiese aftaster en ander elektroniese toerusting tot sy beskikking kan hy die tjek wysig om hom te pas—deur die datum te verander, die ontvanger se naam met sy eie te vervang, nulle by die bedrag in rande te voeg. Dan druk hy die gewysigde tjek op sy eie laserdrukker op papier wat hy by die naaste skryfbehoeftewinkel gekoop het en dieselfde kleur as die tjek is. Hy druk tientalle of meer vervalsings op ’n slag en kan hulle by enigeen van die bank se takke in enige stad wissel.
Die toename in tjekvervalsings deur middel van hierdie eenvoudige en goedkoop metode is so groot, volgens bankamptenare en polisiebeamptes, dat dit die ekonomie tot R3,6 miljard kan kos. The New York Times het berig dat ’n bende van Los Angeles ewe blatant die land deurkruis het en duisende vervalste salaristjeks ter waarde van meer as $2 miljoen (R7 miljoen) by banke gewissel het. Nywerheidsontleders skat dat die totale jaarlikse koste verbonde aan tjekvervalsing nou in die Verenigde State alleen $10 miljard (R36 miljard) beloop. “Die vernaamste misdaadprobleem vir finansiële instellings”, het ’n FBI-beampte gesê, “is vervalste verhandelbare dokumente, soos tjek- en poswisselbedrog.”
[Lokteks op bladsy 7]
Die duplisering van salaristjeks is die winsgewendste