Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 2-5
  • Die werkloosheidsplaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die werkloosheidsplaag
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onverbiddelike opmars
  • Die hoë prys van werkloosheid
  • ‘Gevangenes van ’n perverse stelsel’
  • Voorspellings en teleurstellings
  • Werkloosheid—Waarom?
    Ontwaak!—1996
  • Vryheid van werkloosheid—Hoe en wanneer?
    Ontwaak!—1996
  • Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?
    Ontwaak!—2000
  • “Ons moet jou laat gaan”
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 2-5

Die werkloosheidsplaag

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

Dit is ’n noodtoestand in verskeie ontwikkelde lande—maar dit teister ook ontwikkelende nasies. Dit het toegeslaan waar dit vroeër gelyk het of dit nie bestaan nie. Dit raak honderdmiljoene mense—waarvan baie moeders en vaders is. Vir twee derdes van alle Italianers is dit “die allergrootste bedreiging”. Dit skep nuwe maatskaplike siektes. Dit is deels die oorsaak van die probleme van baie jongmense wat by dwelms betrokke raak. Dit versteur die slaap van miljoene, en vir miljoene ander kan dit net om die draai wees . . .

“WERKLOOSHEID is waarskynlik die mees gevreesde verskynsel van ons tyd”, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESD). “Die omvang en gevolge van hierdie verskynsel is bekend”, skryf die Kommissie van Europese Gemeenskappe, maar “dit is baie moeilik om iets daaromtrent te doen”. Dit is soos “’n spook”, sê een deskundige, wat “terugkom om in die strate van die Ou Vasteland rond te dwaal”. In die Europese Gemeenskap (EG) is daar nou ongeveer 20 miljoen werkloses, en in Oktober 1994 was daar in Italië alleen amptelik 2726 000. Wat Padraig Flynn, ’n kommissielid van die Europese Gemeenskap, betref, is “die oplossing van die werkloosheidsprobleem die belangrikste maatskaplike en ekonomiese uitdaging waarmee ons te kampe het”. As jy werkloos is of gevaar loop om jou werk te verloor, ken jy die vrees wat daardeur veroorsaak word.

Maar werkloosheid is nie net ’n Europese probleem nie. Dit teister al die Amerikaanse lande. Dit ontsien nie Afrika, Asië of Oseanië nie. Oos-Europese nasies het in die laaste jare die druk gevoel. Dit slaan weliswaar nie oral op dieselfde manier toe nie. Maar volgens sommige ekonome sal werkloosheidsyfers in Europa en Noord-Amerika nog lank baie hoër bly as wat dit in vorige dekades was.a En die situasie word “vererger deur die toename in die onderbenutting van werkers en deur die algemene verslegting in die kwaliteit van beskikbare werkgeleenthede”, sê die ekonoom Renato Brunetta.

’n Onverbiddelike opmars

Werkloosheid het al die sektore van die ekonomie een vir een getref: eers die landbou met sy toenemende meganisering, wat mense hulle werk kos; toe die nywerheid, wat sedert die sewentigerjare deur die energiekrisisse getref is; en nou die dienstesektor—handel, onderwys—’n sektor wat vroeër as veilig beskou is. Twintig jaar gelede sou ’n werkloosheidsyfer van meer as 2 of 3 persent groot onrus veroorsaak het. Vandag vaar ’n nywerheidsland goed as werkloosheid onder 5 of 6 persent gehou word, en baie ontwikkelde lande het veel hoër syfers.

Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) is ’n werklose iemand wat sonder werk is, bereid is om te werk en daadwerklik na werk soek. Maar wat van iemand wat nie ’n permanente voltydse werk het nie of iemand wat daarin slaag om net ’n paar uur per week te werk? Die siening van deeltydse werk wissel van land tot land. In sekere lande word sommige wat in werklikheid werkloos is amptelik getel as iemand wat ’n werk het. Swak definisies van wat dit behels om ’n werk te hê of om werkloos te wees, maak dit moeilik om te bepaal wie werklik werkloos is, en om hierdie rede beskryf statistieke slegs ’n deel van die werklikheid. “Selfs die amptelike syfer van 35 miljoen werkloses [in OESD-lande] weerspieël nie die volle omvang van werkloosheid nie”, sê een Europese studie.

Die hoë prys van werkloosheid

Maar die syfers vertel nie die volle verhaal nie. “Die ekonomiese en maatskaplike prys van werkloosheid is baie hoog”, sê die Kommissie van Europese Gemeenskappe, en dit spruit voort “nie net uit die direkte uitgawe aan welsynsuitbetalings vir die werkloses nie, maar ook uit die verlies in terme van belastinginkomste waartoe die werkloses sou bygedra het as hulle aktief was”. En die las van werkloosheidsvoordele word nie net vir regerings al hoe swaarder nie, maar ook vir diegene wat ’n vaste werk het en al hoe meer belasting moet betaal.

Werkloosheid is nie net ’n saak van feite en syfers nie. Die gevolg daarvan is persoonlike dramas, want hierdie plaag raak mense—mans, vrouens en jongmense van elke sosiale stand. Saam met al die ander probleme van hierdie “laaste dae”, kan werkloosheid ’n geweldige swaar las wees (2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 6:5, 6). Veral in die geval van “langtermynwerkloosheid”, as daar geen ander faktore by betrokke is nie, sal die persoon wat lank sonder werk was dit nog moeiliker vind om ’n werk te kry. Ongelukkig sal baie miskien nooit weer werk nie.b

Sielkundiges vind dat psigiatriese en sielkundige probleme, sowel as emosionele onstabiliteit, frustrasie, toenemende onverskilligheid en ’n verlies aan selfrespek algemener word onder vandag se werkloses. Wanneer iemand wat vir kinders moet sorg sy werk verloor, is dit ’n verskriklike persoonlike tragedie. Die wêreld het om hulle in duie gestort. Sekuriteit het verdwyn. Party deskundiges sien trouens vandag die verskyning van ’n “afwagtingsangs” wat verband hou met die moontlikheid dat ’n persoon sy werk kan verloor. Hierdie angstigheid kan gesinsverhoudinge ernstig beïnvloed en kan selfs tragieser gevolge hê, soos onlangse selfmoorde van werkloses miskien aandui. Verder is die feit dat dit so moeilik is om die arbeidsmark te betree een van die waarskynlike oorsake van geweld en die maatskaplike vervreemding van jongmense.

‘Gevangenes van ’n perverse stelsel’

Ontwaak! het onderhoude gevoer met ’n aantal mense wat hulle werk verloor het. Die vyftigjarige Armando het gesê dat dit vir hom beteken het dat hy “gesien het hoe 30 jaar se werk verydel word en hy van voor af moes begin” en dat hy “soos ’n gevangene van ’n perverse stelsel” voel. Francesco ‘het gesien hoe die wêreld bo-op hom ineenstort’. Stefano “het ’n diepe teleurstelling gevoel in die lewe soos dit nou is”.

Aan die ander kant het Luciano, wat afgedank is nadat hy amper 30 jaar in die tegniese bestuur van ’n belangrike Italiaanse motorvervaardiger gewerk het, “woede en ontnugtering ervaar toe hy sien dat sy pogings, beginsels en betroubaarheid gedurende soveel jare se werk as niks beskou is”.

Voorspellings en teleurstellings

Party ekonome het heeltemal verskillende gebeurlikhede verwag. In 1930 het die ekonoom John Maynard Keynes optimisties “werk vir almal” binne die 50 jaar daarná voorspel, en algehele werkverskaffing is dekades lank as ’n bereikbare doel beskou. In 1945 het die Handves van die Verenigde Nasies hulle die vinnige verwesenliking van algehele werkverskaffing ten doel gestel. Tot baie onlangs is daar nog geglo dat vooruitgang ’n werk vir almal en minder ure by die werk sou beteken. Maar dit het nie so gebeur nie. Die IAO sê dat die ernstige resessie van die laaste dekade die “ergste wêreldwye werkverskaffingskrisis sedert die Groot Depressie van die dertigerjare” veroorsaak het. In Suid-Afrika is ten minste 3,6 miljoen mense sonder werk, en dit sluit ongeveer 3 miljoen swart mense in. Selfs Japan—waar meer as tweemiljoen verlede jaar sonder werk was—beleef ’n krisis.

Waarom is werkloosheid so ’n wydverspreide plaag? Watter oplossings is al voorgestel om dit te bekamp?

[Voetnote]

a Die werkloosheidsyfer is die persentasie van die totale werkkragte wat werkloos is.

b Die “langtermynwerkloses” is diegene wat reeds meer as 12 maande sonder werk is. In die EG val ongeveer die helfte van die werkloses in hierdie groep.

[Kaart op bladsy 2, 3]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kanada—9,6 persent

VSA—5,7 persent

Colombia—9 persent

Ierland—15,9 persent

Spanje—23,9 persent

Finland—18,9 persent

Albanië—32,5 persent

Suid-Afrika—43 persent

Japan—3,2 persent

Filippyne—9,8 persent

Australië—8,9 persent

[Erkenning]

Mountain High Maps™ copyright © 1993 Digital Wisdom, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel