Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/8 bl. 11-14
  • Die kastrate—verminking in die naam van godsdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kastrate—verminking in die naam van godsdiens
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eunugs in die ou tyd
  • Eunugs in die Christendom
  • Kerkkore
  • Verminking ter wille van musiek
  • Gewildheid, ouers en die openbare mening
  • Kastrasie—In die negentigerjare?
  • Die einde!
  • ’n Les in operasang
    Ontwaak!—2008
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/8 bl. 11-14

Die kastrate—verminking in die naam van godsdiens

Die kastrate—hulle was manlike sangers met die krag van ’n man se liggaam maar met ’n seun se stem. Die era van die kastrate was inderdaad ’n somber tydperk. Wie was hulle? Die antwoord hou verband met ’n skokkende gebruik—verminking in die naam van godsdiens.

EUNUGS kan so gebore word, maar baie word deur mense eunugs gemaak. In liggaamsbou en gestalte is hulle mans, en tog kan hulle nie voortplant nie. Hulle is op die een of ander tydstip gedurende hulle fisiese ontwikkeling of selfs later in hulle lewe gekastreer, hetsy vrywillig of onder dwang.

Waarom sou mans besluit om hulleself of ander mans op hierdie manier te vermink? Hulle het dit dikwels in die naam van godsdiens gedoen.

Eunugs in die ou tyd

Duisende jare gelede is kastrasie deur die Assiriërs as ’n vorm van straf gebruik. In Egipte was dit die straf vir owerspel. ’n Rower wat op diefstal betrap is in ’n tempel in eertydse Friesland, nou deel van Nederland, is ontman voordat hy doodgemaak is.

Kastrasie is in die eerste eeu G.J. in Rome gedurende die bewind van keisers Domitianus en Nerva verbied, maar is gedurende die laaste jare van die ryk teruggebring. Wette wat in die negende eeu deur koning Alfred die Grote van Engeland uitgevaardig is, het vereis dat ’n kneg wat ’n diensmeisie verkrag het op hierdie wyse gestraf word.

Eunugs het ook ’n vername rol in godsdiensritusse gespeel. Eunugs sowel as maagde het die godin Artemis in die stad Efese gedien. Mans het hulleself gekastreer tydens waansinnige plegtighede ter ere van die Siriese Astarte van Hiërapolis, waarna hulle vir die res van hulle lewe vroueklere gedra het.

“Hy wat homself of ’n ander kastreer, is nie een van my volgelinge nie”, het Mohammed verklaar. Maar ten spyte van hierdie verbod was eunugs gesogte slawe in Moslemlande, om harems en heiligdomme te bewaak. Gevolglik is hierdie slawehandel voortgesit. Jong manne uit Soedan en naburige lande in Noord-Afrika het die slawehandelaars van ontsaglike profyte voorsien.

Johann L. Burckhardt het Bo-Egipte vroeg in die l9de eeu besoek, waar hy gesien het hoe gekastreerde seuns gereedgemaak is om as slawe verkoop te word. Die operasies is op seuns tussen 8- en 12-jarige ouderdom uitgevoer. Twee monnike van die Koptiese Kerk het die kastrering gedoen. “Hulle beroep”, het Burckhardt gesê, “is geminag.”

Dit gee aanleiding tot die vraag: In watter mate was die Christendom by hierdie gebruik betrokke, en om watter redes?

Eunugs in die Christendom

Origines—wat bes bekend is vir sy Hexapla, weergawes van die Hebreeuse Geskrifte wat in ses kolomme gerangskik is—is omstreeks 185 G.J. gebore. Op 18-jarige ouderdom was hy reeds goed bekend vir sy lesings oor die Christelike geloof. Maar hy wou nie hê dat sy gewildheid onder vroue misverstaan moes word nie. Hy het die woorde van Jesus dat ‘daar eunugs is wat hulleself eunugs gemaak het weens die koninkryk van die hemele’ letterlik opgevat en homself dus gekastreer (Matteus 19:12).a Dit was ’n onvolwasse, impulsiewe daad—een waaroor hy in latere jare innig spyt was.

Interessant genoeg, die heel eerste geloofsreël van die Raad van Nicea in die jaar 325 G.J. het mans wat hulleself ontman het uitdruklik verbied om lede van die priesterdom te wees. Dr. J. W. C. Wand sê van hierdie resolusie: “Dit is moontlik dat sommige ’n begeerte gehad het om die voorbeeld van Origines in hierdie opsig te volg en om hulleself eunugs te maak . . . , en dit was noodsaaklik dat Christene nie aangemoedig moes word om ’n gebruik te volg wat veel eerder ’n kenmerk van die aanhangers van party heidense godsdienste was nie.”

Deur hierdie belangrike besluit te neem, het die godsdiensleiers van die Christendom die verfoeilike kwessie van kastrasie vir altyd uit die weg probeer ruim. Soos ons sal sien, het sake anders verloop. Let eers op die volgende welbekende verslag.

In die jaar 1118 het Peter Abelard, ’n filosoof en teologiese student, verlief geraak op Héloïse, ’n jong meisie vir wie hy private onderrig gegee het. Abelard was nog nie georden nie en was dus nie onder die selibaateed nie; gevolglik het hulle in die geheim getrou en ’n seun gehad. Maar omdat haar oom, Fulbert, ’n kanunnik in die Rooms-Katolieke katedraal van Parys, gemeen het dat Héloïse verlei is, het hy Abelard met geweld laat kastreer. Hierdie barbaarse daad, wat deur so ’n hooggeplaaste kerkamptenaar aangestig is, het daartoe gelei dat twee van die kastreerders ter vergelding op dieselfde wyse gestraf is.

Kastrasie was dus steeds onder sekere omstandighede aanvaarbaar as ’n straf. Hierdie goddelose gebruik sou egter weldra in die Rooms-Katolieke Kerk ter wille van kerksang bevorder word.

Kerkkore

Sang het ’n belangrike rol in die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke liturgie gespeel, en seunsoprane was baie belangrik in ’n kerkkoor. Maar ’n seun se stem breek in sy vroeë tienerjare. Hoe kon die kerk die voortdurende verandering van personeel en die gepaardgaande opleiding oorkom? ’n Ietwat kleurlose hoër stem wat ’n falset genoem word, is wel dikwels gebruik, maar dit was nie ’n aanvaarbare plaasvervanger vir die seunsopraan nie.b

Die beste alternatief was vrouesoprane, maar van die vroeë tye af het die pous vroue verbied om in die kerk te sing. ’n Bykomende probleem was dat kerksangers gevra kon word om hulle priester te help, ’n plig waarvoor net mans uitgesonder is. Vroue kon dus nie gebruik word om kerkkore aan te vul nie.

In 1588 het pous Sixtus V vroue verbied om in enige openbare teater of operagebou voor ’n gehoor te sing. Hierdie verbod is ongeveer 100 jaar later deur pous Innocentius XI herbevestig. “Die afkeuring van toneelspeelsters en die verbinding van hulle naam met prostitusie en bandeloosheid was ’n eeue oue tradisie, wat teruggevoer kan word tot die dae van sint Augustinus en selfs vroeër”, sê navorser Angus Heriot. Deur hierdie onbuigsame standpunt in te neem, het die kerk egter die deur geopen tot ’n ander, ernstiger probleem—die kastrate!

Wie was die kastrate, en hoe het die Christendom by hulle betrokke geraak?

Verminking ter wille van musiek

Nie net die opera- en openbare teaters het soprane nodig gehad nie, maar ook die pouslike koor. Wat kon gedoen word? Dit was lank reeds bekend dat die stem van ’n seun wat gekastreer is, nie sal breek nie. Die stembande groei net ’n bietjie, terwyl die bors en diafragma normaalweg groei. Gevolglik het die kastraat die krag van ’n man se liggaam maar ’n seun se stem—“die soort stem wat mense gemeen het engele besit”, sê Maria Luisa Ambrosini in The Secret Archives of the Vatican. Dit is ook moontlik om die soort stem in sekere mate te reguleer deur die ouderdom waarop die kind gekastreer word te wysig.

Die Griekse Kerk het sedert die 12de eeu kastrate as koorsangers gebruik, maar wat sou die Rooms-Katolieke Kerk doen? Sou dit kastrate ook nou goedkeur en gebruik?

Padre Soto, ’n sanger in die pouslike koor in 1562, word in die Vatikaan se register as ’n falset gelys. Maar Soto was ’n kastraat. So het die Vatikaan ten minste 27 jaar voor 1589, toe die bul van pous Sixtus V die sangers van die St. Pieterskerk geherorganiseer het om vier kastrate in te sluit, die gesag van die Raad van Nicea stilweg verontagsaam.

Van 1599 af is die aanwesigheid van kastrate in die Vatikaan erken. Toe die hoogste gesag in die kerk die gebruik eers openlik goedgekeur het, het kastrate aanvaarbaar geword. Gluck, Händel, Meyerbeer en Rossini is onder diegene wat beide gewyde en ongewyde musiek spesiaal vir kastrate gekomponeer het.

Gewildheid, ouers en die openbare mening

Kastrate se gewildheid het vinnig toegeneem. Pous Klemens VIII (1592-1605) was byvoorbeeld grootliks beïndruk deur die buigsaamheid en welluidendheid van hulle stemme. Hoewel enigeen wat met die daad van kastrasie verbind kon word, veronderstel was om geëkskommunikeer te word, was daar ’n bestendige stroom jong seuns beskikbaar terwyl die kerk se musiekbehoeftes van oorheersende belang was.

Winkels het glo geadverteer: “Qui si castrono ragazzi (Seuns word hier gekastreer).” ’n Barbierswinkel in Rome het trots verklaar: “Sangers word hier vir die pouslike kapelkore gekastreer.” Daar word beweer dat sowat 4 000 Italiaanse seuns moontlik gedurende die 18de eeu vir hierdie doel gekastreer is. Hoeveel as gevolg hiervan gesterf het, is onbekend.

Waarom het ouers toegelaat dat hulle seuns op hierdie manier vermink word? Kastrate is oor die algemeen uit arm ouers gebore. As ’n seun enige aanleg vir musiek getoon het, kon hy, soms openlik, aan ’n musiekinstelling verkoop word. Ander is uit die kore van die St. Pieterskerk in Rome en soortgelyke kerkakademies geneem. Die ouers het uiteraard gehoop dat hulle kastraat beroemd sou word en goed vir hulle op hulle oudag sou sorg.

Dit het egter alte dikwels op ’n tragedie uitgeloop wanneer dit geblyk het dat die seun nie ’n stem het wat ontwikkel kon word nie. Johann Wilhelm von Archenholz wat A Picture of Italy in die laat 18de eeu geskryf het, het verduidelik dat sulke uitgeworpenes, tesame met enige surplus kastrate, ‘toegelaat is om priesters te word’ en om die mis te lees. Dit het die buitengewone presedent gevolg wat in die St. Pieterskerk self geskep is toe twee kastrate in 1599, in stryd met die kerkwet, as Rooms-Katolieke priesters bevestig is, en ander ná hulle.

Pous Benedictus XIV het self na die besluit van die Raad van Nicea terugverwys en erken dat kastrasie ongeoorloof was. Maar in 1748 het hy ’n voorstel van sy eie biskoppe verwerp dat die kastrate verbied word, omdat hy bang was dat die kerke leeg sou loop as hy dit sou doen. Dit is hoe gesog en belangrik kerkmusiek was. Kastraatkoorsangers het dus in Italiaanse kerkkore, in die St. Pieterskerk en in die pous se eie Sixtynse kapel bly sing.

In 1898 het pous Leo XIII die Vatikaan se kastrate stilweg ontslaan, aangesien die openbare mening sterk teen kastrasie gekant was, en sy opvolger, pous Pius X, het kastrate in 1903 die pouslike kapel formeel verbied. Maar die bul van pous Sixtus V wat hulle ingebring het, is nooit formeel herroep nie.

Die laaste professionele kastraat, Alessandro Moreschi, het in 1922 gesterf. Opnames van sy sang is in 1902 en 1903 gemaak en kan steeds gehoor word. Op die etikette van hierdie opnames word hy beskryf as “Soprano della Cappella Sistina (Sopraan van die Sixtynse kapel)”. “Die stem”, skryf musiekkritikus Desmond Shawe-Taylor, “wat ongetwyfeld ’n sopraan is, kom met nóg dié van ’n seun nóg dié van ’n vrou ooreen.”

Sodoende het die genadelose verminking van seuns ter wille van kuns geëindig. ’n “Verfoeilike gebruik”, sê The Encyclopædia Britannica, maar nietemin een wat eeue lank deur die Rooms-Katolieke Kerk vergoelik is.

Kastrasie—In die negentigerjare?

Die kastrate bestaan dus nie meer nie. Maar beteken dit dat kastrasie in die naam van godsdiens geëindig het? Ongelukkig nie! The Independent Magazine berig dat Indië tot ’n miljoen eunugs het, wat in godsdiensgemeenskappe bly. Wie is hulle? Die hidjras.

Die meeste hidjras word as Moslems gebore—hoewel daar baie Hindoes onder hulle is—en almal aanbid Baroegra Mata, ’n Hindoegodin van Goedjarat. Hoewel die meerderheid verkies om gekastreer te word, beweer sommige dat tot eenduisend Indiese mans elke jaar onder dwang ontman word om hulle te dwing om by die hidjras aan te sluit, waarna hulle opgeveil en verkoop word aan die ghoeroe wat die hoogste bod maak.

Die hidjras word deur ’n hiërargie van ghoeroes beheer, en verskillende hidjra-groepe verdeel die stede in gebiede. Die hidjras leef van tempelbedelary en prostitusie. Hulle word oor die algemeen verag, maar word ook gevrees omdat daar gemeen word dat hulle bose towerkrag besit. Om hierdie rede sal mense hulle betaal om babas en pasgetroudes te seën.

Daar word beweer dat party hidjras wel wegloop. Maar “die hidjra-mafia wat na bewering die kastrasies beheer”, berig India Today, “funksioneer onder ’n dekmantel van geheimhouding en verskrikking”.

Die einde!

Sal die wêreld ooit ontslae wees van sulke euwels? Ja, want die sondes van die wêreldryk van valse godsdiens—wat in die Bybel as ’n hoer, “Babilon die Grote”, geïdentifiseer word—“het tot aan die hemel opgehoop”. Hoe geloofversterkend is dit tog om te leer dat al hierdie Godonterende gebruike binnekort tot ’n dramatiese einde sal kom! Lees dit gerus self in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, hoofstuk 18. Let veral op verse 2 en 5.

[Voetnote]

a Die voetnoot in die Rooms-Katolieke Westminster Version of the Sacred Scriptures: The New Testament verduidelik aangaande Jesus se woorde: “Nie fisies deur vleeslike verminking nie, maar geestelik deur voorneme of gelofte.” A Commentary on the New Testament deur John Trapp sê insgelyks: “Nie selfkastrasie, soos deur Origines en party ander in die ou tyd wat hierdie teks verkeerd verstaan het nie . . . , maar deur ongetroud te bly sodat hulle God met groter vryheid kan dien.”

b Die falsetstem begin waar die natuurliker tone ophou en word glo deur net die rande van die stembande voortgebring.

[Venster op bladsy 13]

Die hoogste standaard

Geen eunug is toegelaat om deel te word van die vergadering van Israel nie, soos die Wet van Jehovah dit duidelik gestel het (Deuteronomium 23:1). Kastrasie is nie onder hierdie Wet toegelaat nie. “Die Joodse wet”, sê die Encyclopaedia Judaica, “het sulke operasies verafsku.” Gevolglik is geen Israeliet of inwonende vreemdeling ’n eunug gemaak vir diens in die paleis van Israelitiese konings soos in ander koninklike howe nie, byvoorbeeld dié van die Persiese koning Ahasveros.—Ester 2:14, 15, NW; 4:4, 5, NW.

[Prent op bladsy 12]

’n Besluit deur pous Sixtus V het die deur vir kastrate geopen

[Erkenning]

The Bettman Archive

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel