Jongmense vra . . .
Wat moet ek doen as ’n vriend in die moeilikheid beland?
Die 14-jarige Sherrie sê: “My beste vriendin het afgedwaal en is nie meer ’n Christen nie. Dit maak my hartseer. Ek het so hard probeer om haar aan te moedig!”a
HET iemand na aan jou in die moeilikheid beland of ’n twyfelagtige lewe begin lei? “Ek was na aan Chris”, sê Johnny. “Ons was boesemvriende. Eendag het hy van die huis af weggeloop. Dit het my geskok, en ek het verplig gevoel om hom te probeer kry. Ek het die hele nag rondgery en na hom gesoek.”
Die Bybel het gewaarsku dat daar gedurende die laaste dae groot druk op mense, oud en jonk, sou wees (2 Timoteus 3:1-5). Dit moet ons dus nie skok wanneer ’n jong Christen soms struikel nie. Maar wanneer dit met iemand gebeur vir wie jy omgee, ervaar jy moontlik ’n spektrum van emosies, wat van droefheid en medelye tot woede wissel. Jy wil jou vriend help. Maar hoe kan jy dit doen?
‘Ek kan hom red’
Die Bybel sê: ‘Hy wat ’n sondaar van die dwaling van sy weg laat terugdraai, sal die sondaar se siel van die dood red en sal ’n menigte sondes bedek’ (Jakobus 5:20). Maar beteken dit dat dit jou plig is om dit te doen? Nie noodwendig nie. Jou vriend se ouers dra hoofsaaklik die verantwoordelikheid vir hom (Efesiërs 6:4).b Die Bybel sê verder in Galasiërs 6:1: “Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike bekwaamhede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp.” Gemeentelike opsieners is veral bekwaam in hierdie opsig. Hulle is dus beter in staat om te help as wat jy is.
Jy moet besef dat jy as ’n jeugdige beperkte lewensondervinding het. (Vergelyk Hebreërs 5:14.) Erken dus beskeie jou beperkings in hierdie opsig en moenie te veel hooi op jou vurk neem nie (Spreuke 11:2). Beskou die geval van ’n jeugdige met die naam Rebekah. Sy het ’n vriend, ’n familielid, probeer help wat by dwelms betrokke geraak het. Sy vertel: “Wat druk op my geplaas het, was die feit dat hy my in sy vertroue geneem het en nie sy ouers nie. Ek het hom probeer help, maar dit was baie frustrerend. Dit het my gehelp toe ek eindelik besef het dat ek niks kon doen nie . . . ek kon nie sy redder wees nie.” Rebekah het hom toe aangespoor om by bekwame volwassenes hulp te kry.
Jong Matthew was in ’n soortgelyke situasie, maar hy het uit die staanspoor sy beperkings erken. Hy sê aangaande ’n vriend wat probleme gehad het: “Hy het na my toe gekom met sy probleme, maar ek het vir hom gesê om na sy ouers toe te gaan. Ek het van beter geweet as om sy probleme te dra.”
Hoe jy kan help
Dit beteken nie dat jy niks kan doen om te help nie. Baie hang van die omstandighede af. Miskien wil jou vriend jou in sy vertroue neem. Jy moet hom natuurlik ondersteuning en ’n horende oor gee (Spreuke 18:24; 21:13). Of dalk het hy ’n twyfelagtige lewe begin lei. Dit sal gepas wees om die inisiatief te neem en vir hom te vertel dat jy vir hom omgee, maar dat jy nie dit wat hy doen, kan goedkeur nie.
’n Ander situasie hou dalk verband met ’n vriend wat erken dat hy ’n ernstige oortreding begaan het. Hy probeer dalk selfs om jou te laat belowe dat jy nie daaroor sal praat nie. Maar die Bybel sê: “Moet nooit . . . ’n deelgenoot in die sondes van ander wees nie; bewaar jouself kuis” (1 Timoteus 5:22). Sou jy nie, as jou vriend ernstig siek was en mediese hulp nodig gehad het, daarop aandring om hom dokter toe te neem nie? As hy ’n ernstige oortreding begaan het, het hy eweneens geestelike hulp nodig. As die saak geheim gehou word, kan dit sy geestelike dood veroorsaak—en die gemeente benadeel. Jy het derhalwe ’n verpligting om toe te sien dat die gemeentelike ouer manne in kennis gestel word.—Vergelyk Levitikus 5:1.
Jong Caroline het ’n moedige standpunt ingeneem ten opsigte van ’n weerspannige vriendin wat vir haar ouers gelieg het. Sy sê: “Ek het haar twee weke gegee om na die ouer manne toe te gaan. Ek het vir haar gesê dat ek na hulle toe sou gaan as sy dit nie doen nie. Dit was nie vir my maklik om dit te doen nie.” Johnny, wat aan die begin gemeld is, het soortgelyke karaktervastheid getoon. Johnny vertel aangaande sy vriend: “Ek was verbaas toe ek uitvind dat hy met ’n meisie saamlewe. Daar was ander ouens daar wat gedrink en gerook het.” Johnny het sy vriend buitentoe geroep en hom ernstig gemaan om by die ouer manne in die gemeente hulp te soek.
Jou vriend sal miskien jou pogings waardeer of miskien ook nie. Die Bybel sê vir ons dat die jong man Josef, toe sy broers hulle aan ’n oortreding skuldig gemaak het, “die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring” het. Dit het hom beslis nie by sy broers gewilder gemaak nie. Trouens, ‘hulle het hom gehaat’.—Genesis 37:2-4.
Omgang soos gewoonlik?
Jy sal egter jou pogings om te help, ondermyn as jy aanhou om met jou vriend om te gaan asof niks gebeur het nie. In 1 Korintiërs 15:33 het die apostel Paulus Christene teen omgang met oortreders gewaarsku. Noue omgang met sulke mense kan jou net afbreek!
Jong Mollie het dit deur bittere ervaring geleer toe haar vriendin Sally in die geheim begin uitgaan het. Sally was nie net te jonk om te trou nie, maar sy het met seuns uitgegaan wat nie Christene was nie. Mollie het die situasie geïgnoreer en aangehou om met haar vriendin om te gaan. Die gevolg? Mollie sê: “Uiteindelik het Sally my aan ’n wêreldse seun voorgestel, en ons het een keer saam uitgegaan.” Gelukkig het die gemeentelike ouer manne Mollie gehelp voordat die situasie ernstiger geword het.
Lynn het eweneens ’n paar gevaarlike kompromisse aangegaan sodat sy haar vriendskap met ’n meisie genaamd Beth kon behou. “Ek het gemeen dat ek haar kon red”, vertel Lynn, “maar dit het nie gewerk nie. Ek het saam met haar na klubs toe gegaan. Ek het geweet dat dit verkeerd is, maar ek wou nie hê dat sy moes seerkry nie. Haar probleme het vir my ’n swaar las geword. Ek het stilgebly oor die saak en gedink dat die probleem sou weggaan, maar dit het groter geword.” ’n Tragedie het Lynn geskok. Haar vriendin Beth is doodgemaak deur die jong man met wie sy uitgegaan het.
Dit klink dalk edelmoedig om trou aan ’n vriend te wees. Maar sou jy, as jou vriend letterlik besig was om in ’n kragtige draaikolk te verdrink, self ook inspring? Dit sou net julle albei laat verdrink. Dit sou verstandig wees om vir hom ’n reddingstoestel te gooi. Net so moet jy van ’n afstand hulp verleen.—Judas 22, 23.
Dit is gebiedend noodsaaklik dat jy op ’n afstand bly as jou vriend uit die gemeente gesit is. Die Bybel se gebod is om ‘op te hou om met hom om te gaan’ (1 Korintiërs 5:11). Hoewel jy steeds vir daardie persoon omgee, is die beste manier waarop jy hom kan help nie deur saam met hom te oortree nie, maar deur lojaal aan Jehovah te bly (Psalm 18:25, NW). Jou onversetlike standpunt is dalk net die ding wat hom beweeg om sy dade te heroorweeg. Nog belangriker, jou lojaliteit sal Jehovah behaag.—Spreuke 27:11.
Te swaar vrag
Maar ’n mens se beste pogings om te help, misluk dikwels. Rebekah vertel aangaande haar vriendin: “Ek het probeer uitreik en haar probeer help. Ek het selfs aan haar ’n brief geskryf, maar sy het dit nooit beantwoord nie.” Caroline het gevind dat sy, nadat sy maande lank ’n vriendin probeer help het wat moeilikheid gesoek het, “die spanning begin voel het”.
Dit is belangrik om te besef dat ‘elkeen van ons vir homself aan God rekenskap sal gee’ (Romeine 14:12). En hoewel dit gepas is om iemand sy laste, of persoonlike probleme, te help dra deur praktiese bystand te verleen, kan jy eenvoudig nie iemand anders se “vrag”—dit wil sê sy verantwoordelikheid teenoor God—dra nie. “Elkeen sal sy eie vrag dra”, sê die Bybel (Galasiërs 6:5). Jy is nie verantwoordelik vir die keuses wat jou vriend maak nie.
Dit is nietemin pynlik om te sien hoe ’n vriend sy lewe verwoes. ’n Jong man met die naam Mike sê aangaande die verlies van ’n vriend: “Dit het my diep getref. Ek was so na aan Mark en sy ouers. Dit het my terneergedruk laat voel.”
Dit is net natuurlik om so ’n verlies te betreur. Maar dit kan help as jy met iemand wat jy vertrou oor jou gevoelens praat (Spreuke 12:25). “Met die hulp van my ouers”, sê Rebekah, “kon ek dit oorkom.” Jy kan jou gevoelens ook in gebed aan Jehovah God uitstort (Psalm 62:9). Caroline som die saak goed op deur te sê: “Dit het my baie gehelp om tot Jehovah te bid en aan die predikingswerk deel te neem. Ek het ook aan ander in die gemeente geheg geraak, veral ouer vroue. Ek het uiteindelik besef dat mense vir hulle eie dade rekenskap moet gee en dat ek met my lewe moet voortgaan.” Deur dit alles te doen, sal jy jouself beslis help. En jy help dalk net jou weerspannige vriend ook.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Ter wille van eenvoud sal ons na die weerspannige vriend as manlik verwys.
[Prent op bladsy 17]
Spoor jou vriend aan om hulp te kry