Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/22 bl. 17-19
  • Moet ek rockkonserte bywoon?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ek rockkonserte bywoon?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toets die musiek
  • Onbeheerste gedrag
  • Die invloed van die milieu
  • Waak teen skadelike musiek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Kan musiek my regtig benadeel?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/22 bl. 17-19

Jongmense vra . . .

Moet ek rockkonserte bywoon?

’n Baie bekende groep kom na jou tuisdorp toe. Kaartjies verkoop vinnig, en daarom moet jy nou besluit. Gaan jy die konsert bywoon?

HEILSAME musiek kan in gepaste omstandighede baie genotvol wees. Jehovah God het ons immers geskep met die vermoë om musiek te geniet, en daar is ’n groot verskeidenheid musiek wat vir hom aanvaarbaar is.

Vandag is enige van die talle vorme van rockmusiek gewoonlik jongmense se gunstelingmusiek. Baie geniet dit die meeste wanneer dit by konserte uitgevoer word. Nietemin skep dinge soos berigte oor geweld en losbandige gedrag by rockkonserte ernstige vrae vir godvresende jongmense. Presies wat gebeur by rockkonserte? Sal dit ’n goeie idee wees om een by te woon?

Toets die musiek

Laat ons eers na die musiek self kyk. Musiek kan ’n groot verskeidenheid gevoelens uitdruk—en opwek. In Bybeltye het God se volk dikwels musiek gebruik om hulle liefde vir God te betuig (Psalm 149:3; 150:4). Musiek is ook gebruik om vreugde, opgewondenheid en droefheid uit te druk (Genesis 31:27; Rigters 11:34; 1 Samuel 18:6, 7; Matteus 9:23, 24). Maar ongelukkig was musiek selfs in Bybeltye nie altyd heilsaam nie. Wilde, sensuele musiek het moontlik daartoe bygedra dat sommige Israeliete gesondig het toe die nasie by die berg Sinai laer opgeslaan het.—Exodus 32:1-6, 17, 18, 25.

Baie van die rockmusiek bevorder in der waarheid ook slegte dinge—geslagsonsedelikheid, dwelms, opstandigheid, spiritisme. Dit beteken nie noodwendig dat jy musiek heeltemal moet afsweer nie, maar die Bybel sê wel vir Christene: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Jy moet dus selektief en oordeelkundig wees wat musiek betref.a

Watter uitwerking het die musiek wat jy kies op jou? Laat dit jou gelukkig, kalm of vreedsaam voel? Of laat dit jou kwaad, opstandig of terneergedruk voel? ’n Christenman in Denemarke onthou die dae toe hy ’n liefhebber was van heavy metal, ’n vorm van rockmusiek. Hy sê: “Ek het daarna geluister terwyl ek gewerk het. En as ek ’n fout gemaak het, het ek só kwaad geword dat ek die ding waaraan ek gewerk het, verbrysel het en in ’n woedebui weggegooi het!” ’n Ander jeugdige erken: “Ek het na baie rap en heavy metal geluister wat seks en ’n wêreldse lewenswyse verheerlik het. Hierdie musiek het my verstand gevoed en die gevolg was ’n begeerte na die dinge waarvan hulle gesing het.” As ’n blote opname dan nou so ’n uitwerking kan hê, dink net hoe kragtig ’n konsert sal wees!

Dink ook hieraan: Hoe hard sal die musiek wees? Mense het weliswaar verskillende voorkeure in hierdie verband. En die Bybel verbied nie redelik harde musiek nie. By die toewyding van Salomo se tempel het net die trompetspelers immers 120 getel! (2 Kronieke 5:12). Dit moes besonder hard gewees het! Daar is egter ’n wesenlike verskil tussen ’n luide lofbetuiging aan God en oorverdowende rockmusiek. In laasgenoemde geval word die harde musiek dikwels gebruik om die skare tot ’n gees van wilde oorgawe op te sweep. Maar die Bybel veroordeel “swelgerye”, of “losbandige partytjies” (Galasiërs 5:21; Byington). En respek vir jou liggaam sal jou daarvan weerhou om na musiek te luister wat so hard gespeel word dat dit jou gehoor kan beskadig.—Romeine 12:1.

Nog ’n punt om in gedagte te hou, word in Job 12:11 gestel. Die Bybel vra daar: “Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?” In ooreenstemming hiermee moet jy die lirieke van die liedjies “toets”! ’n Jong Christen erken: “Ek het begin luister na die lirieke van sommige van die liedjies waarvan ek gehou het, en tot my verbasing was hulle nie gepas vir ’n Christen om na te luister nie. Ek moes van daardie musiek ontslae raak” (1 Korintiërs 14:20; Efesiërs 5:3, 4). Wees ook gewaarsku dat baie kunstenaars konserte gebruik om hulle jongste vrystellings te bevorder—wat opvallend kan verskil van hulle ouer, en dalk heilsamer, musiek.

Daarbenewens moet jy ook seker wees dat die musiek nie ’n demoniese inslag het nie—iets wat besonder algemeen in vorme van heavy metal-musiek is. Heavy metal-groepe is daarvoor bekend dat hulle demoniese simbole en satanistiese toebehore gebruik om hulle sowel as hulle albums te versier (Jakobus 3:15). As ons ’n konsert van so ’n groep bywoon, sal dit God, wat ons beveel om ‘die Duiwel teë te staan’, nouliks behaag!—Jakobus 4:7.

Onbeheerste gedrag

Wat kan by so ’n konsert gebeur? ’n Tienermeisie met die naam Stacey het saam met haar vriende na ’n groep gaan luister wat hulle gemeen het redelik onskadelike musiek speel. Maar halfpad deur die konsert het die groep se hoofsanger ’n séance nageboots en die gehoor genooi om saam met hom met die geestewêreld in aanraking te probeer kom! Was dit bloot ’n grap? Moontlik. Maar aangesien die Bybel enige vorm van spiritisme veroordeel, het Stacey en haar vriende verplig gevoel om uit te stap.—Levitikus 19:31; Deuteronomium 18:10-13; Openbaring 22:15.

Ander jong Christene het al soortgelyke onaangename ondervindinge gehad, want hoewel openlike spiritisme dalk redelik seldsaam by rockkonserte is, kom onbeheerste gedrag algemeen voor. By een konsert het die rockgroep ’n oproer help aanstig, wat 60 beserings en meer as R725 000 se skade tot gevolg gehad het! By ’n ander konsert het drie jeugdiges in die gedrang gesterf. Die meeste rockkonserte lei weliswaar nie tot oproerigheid, beserings of sterftes nie. Maar dit is duidelik dat ’n mens versigtig moet wees. Spreuke 22:3 sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”

As jy dit derhalwe oorweeg om ’n konsert by te woon, moet jy meer daaroor uitvind. Is die groep daarvoor bekend dat hulle onbeheerste gedrag aanstig? Watter soort gehoor trek die groep? (1 Korintiërs 15:33). In watter mate word alkohol en dwelms gebruik? En wat van die konsertsaal self? Was daar al in die verlede veiligheidsprobleme? Wat is die sitplekreëlings? Wanneer spesifieke sitplekke nie aangewys word nie, is die kanse baie groter dat iemand beseer sal word.

Dwelm- en alkoholmisbruik vier hoogty by rockkonserte. “Mense kom nie vir die musiek nie”, het ’n ontnugterde Christenman gesê wat tydens sy jeug ’n konsert deur ’n tipiese rockgroep bygewoon het. “Hulle kom om dronk te word.” Hy het besluit dat dit die laaste rockkonsert is wat hy sou bywoon. ’n Tienderjarige Christenmeisie sê eweneens: “Ek onthou ’n konsert wat ek bygewoon het waar ’n ‘progressiewe’ groep gespeel het. Dit was verskriklik! Mense het dagga gerook. Die taal was walglik, en baie se kleredrag het hulle soos Satanaanbidders laat lyk.” Selfs waar dwelms en alkohol streng verbied word, is dit nie ongewoon vir talle in die gehoor om reeds bedwelmd daar aan te kom nie. Kan die bywoning van so ’n geleentheid enigsins in harmonie wees met die Bybel se bevel om “goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand . . . te lewe”?—Titus 2:12.

Die invloed van die milieu

Maar jy voel dalk dat dit nie nodig is om jou te bekommer oor hoe mense om jou hulle gedra nie, solank jy nie aan die geweld deelneem nie. Jou milieu beïnvloed jou egter wel. In Efesiërs 2:2 praat die Bybel van “die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”. Let op dat hierdie wêreld ’n “gees”, of ’n oorheersende geestesgesindheid, het. Dit is oral en net so deurdringend soos die lug. Maar let ook daarop dat hierdie gees, of gesindheid, “gesag” het—die krag om jou gedagtes, gevoelens en gedrag te wysig—indien jy jou daaraan blootstel! Jy kan eenvoudig nie hierdie kragtige lug inasem en onaangetas bly nie.

In die meeste gevalle stel rockkonserte jou in groot mate aan die wêreld se gees bloot. ’n Mens kan maklik betrek word in die oproerige atmosfeer wat gewoonlik heers—of in die geskreeu en gewaai wat byna op verafgoding van die kunstenaars neerkom. Sulke oormatige bewondering ondermyn die verering wat God regmatig toekom. Dit kom neer op afgodery, iets wat duidelik deur die Skrif veroordeel word (1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). Wil jy die gevaar loop om daarby betrokke te raak?

Ons kan met sekerheid sê dat die meeste rockkonserte gevare inhou wat enige voordele oorskadu wat miskien aan die bywoning daarvan verbonde kan wees. Die uiteindelike besluit of jy ’n bepaalde konsert mag bywoon of nie, berus natuurlik by jou ouers. Maar indien jy die vryheid het om self te besluit, moet jy ’n wyse keuse maak. Daar is baie heilsame dinge om te geniet en wat nie die gevare inhou wat met die bywoning van rockkonserte gepaardgaan nie.

[Voetnoot]

a Sien die artikels oor musiek in die rubriek “Jongmense vra . . .” wat in die Ontwaak! se nommers van 8 Februarie, 22 Februarie en 22 Maart 1993 verskyn het.

[Prent op bladsy 18]

Alkohol, dwelms en losbandige gedrag is algemeen by rockkonserte

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel