’n Suksesvolle wêreldwye skool
DIT is nie ’n duur privaat skool of hoogaangeskrewe universiteit waarheen net ’n paar uitgesoektes kan gaan nie. Nee, hierdie skool funksioneer sonder onkoste vir sy studente. Sessies daarvan word waarskynlik op ’n plek naby jou gehou. Dit word die Teokratiese Bedieningskool genoem, en dit word by die vergaderplekke van Jehovah se Getuies gehou. Ongeveer vyfmiljoen mense regoor die wêreld woon hierdie skool by.
Jy wonder dalk: ‘Wat is die vereistes om in te skryf? Wat word in die skool geleer? Hoe word dit gehou? En hoe vind mense daarby baat?’
Vereistes
Hoewel almal welkom is om die Teokratiese Bedieningskool by te woon, moet diegene wat by die skool aansluit met die leringe van die skool se hoofleerboek, die Bybel, saamstem. Daar word van hulle vereis om ’n lewe te lei wat aan die sedelike vereistes van die Bybel voldoen. Studente kan dus nie ’n onsedelike lewe lei nie. Hulle kan nie diewe, dronkaards, hoereerders, tabakgebruikers, ensovoorts wees nie.—1 Korintiërs 6:9-11.
Baie skole het vandag nie meer reëls in verband met kleredrag nie, maar daar word van studente wat by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het, verwag om beskeie geklee te wees in skoon klere (1 Timoteus 2:9, 10). Daar is geen ouderdomsvereiste vir hierdie skool nie. Kinders van net vier of vyf wat kan lees, word ingeskryf en behartig gereeld toewysings, net soos mans en vrouens in die negentig ook doen.
Program en leergang
Om bywoning te vergemaklik, word die Teokratiese Bedieningskool se sessies van 45 minute feitlik altyd op ’n aand in die middel van die week gehou. Ná ’n kort verwelkoming deur die skoolinstrukteur hou die eerste spreker van die aand ’n toespraak van 10 tot 15 minute wat op een van die skool se leerboeke gegrond is. Dan hou hy dikwels drie tot vyf minute ’n mondelinge hersiening van die materiaal wat hy gedek het.
Daarna dek ’n bekwame onderrigter die glanspunte van die weeklikse Bybelleestoewysing, wat gewoonlik uit twee tot vier hoofstukke in die Bybel bestaan. Ses minute word vir hierdie hersiening toegelaat. Studente wat by hierdie weeklikse huiswerktoewysing byhou, sal die Bybel oor ’n tydperk deurlees.
Ná die Bybelglanspunte word drie studentetoesprake gehou, waarvan elkeen tot vyf minute beperk is. Een is die Bybellees uit ’n gedeelte van die huiswerktoewysing. Die ander twee toesprake is op skoolleerstof gegrond wat al die studente aangespoor word om ter voorbereiding vir die klas te lees. Ná elke student se toewysing prys die skoolinstrukteur die student en gee hy dikwels wenke oor hoe die student kan verbeter.
Die skoolinstrukteur se raad is op die publikasie Teokratiese Bedieningskool-handleiding gegrond en daar word van elke student verwag om dit noukeurig te bestudeer. Die student kan gevra word om ’n hoofstuk uit hierdie handleiding te hersien, soos “Kontak met die gehoor en die gebruik van notas”, “Gepaste illustrasies”, “Die gebruik van herhaling en gebare” en “Regte beklemtoning en modulasie”, sodat hy vir sy volgende toewysing in ’n besondere spraakhoedanigheid kan verbeter.
In party gemeenskappe het die Teokratiese Bedieningskool ook ’n lees-en-skryf-klas en ’n leesverbeteringsklas. Tienduisende het in sulke lees-en-skryf-klasse leer lees of beter leer lees. In Mexiko is meer as 127 000 byvoorbeeld tussen 1946 en 1994 gehelp om geletterd te word.
Miljoene word gehelp
Regoor die wêreld ondersteun die Teokratiese Bedieningskool ouers se pogings om hulle kinders ’n goeie skoolopleiding te gee. Die 16-jarige Moriah het gesê: “Ek het geleer om na inligting te soek en om my toesprake te oefen. Nou is elke toewysing wat ek in die hoërskool kry kinderspeletjies.”
Die 15-jarige Matthew, wat op 7-jarige ouderdom by die Bedieningskool aangesluit het, het gesê: “Ek het ’n groot voorsprong op my portuurs wanneer dit by akademiese prestasie kom. Ek het studie- en luistervaardighede aangeleer sowel as die vermoë om doeltreffende toesprake te hou.” Sy 17-jarige broer, Phil, het bygevoeg: “Die Teokratiese Bedieningskool het my meer vertroue gegee. Ek weet dat ek ’n toewysing kan behartig as dit vir my gegee word.”
Die Teokratiese Bedieningskool het ook volwassenes onderrig. Michael, wat doelwitte bereik het soos om toesprake voor ’n bestuur te hou, het verduidelik: “Ek was vreeslik skugter toe ek by die Bedieningskool aangesluit het. Ek is nie meer skaam nie. Die skool het die veilige milieu, die kennis, die vaardighede en die persoonlike aanmoediging voorsien wat ek nodig gehad het om uit my dop te kruip.” ’n Ouer het gesê: “Ek voel dat ek vergoed het vir geleenthede om te leer wat ek as ’n jeugdige verspeel het.”
In ’n Latyns-Amerikaanse dorpie het lede van die Onderwysdepartement die Teokratiese Bedieningskool bygewoon. Nadat een van die besoekers, ’n skoolhoof, na ’n plaaslike spreker geluister het, het hy uitgeroep: “Dit is nie moontlik dat hierdie man wat ons altyd as ’n ongeletterde geken het Spaans [pleks van sy boorlingdialek] kan praat nie, wat nog te sê ’n gehoor toespreek, maar hy doen dit wel.”
Die Teokratiese Bedieningskool is inderdaad een van die beste skole ter wêreld! Dit kan oud en jonk help om goeie onderrigting te kry. Soos een jeugdige gesê het: “Ek beveel aan dat enigiemand wat daaraan dink om by die skool aan te sluit dit onmiddellik doen.”
[Prent op bladsy 13]
Die Teokratiese Bedieningskool help miljoene om goeie onderrigting te kry