Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 11/22 bl. 8-11
  • Die aarde—God se gawe aan ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aarde—God se gawe aan ons
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die aarde—verstommend sowel as pragtig
  • ’n Ondankbare gemeenskap wat God se gawe onwaardig is
  • Wanneer God se gawe waardeer sal word
  • Die getuienis van ’n unieke planeet
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Sal ons aarde ooit vernietig word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Sal die mens die aarde onherstelbaar beskadig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Wat gaan van die planeet Aarde word?
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 11/22 bl. 8-11

Die aarde—God se gawe aan ons

“IN DIE begin het God die hemel en die aarde geskape.” Hy het ook verklaar dat die aarde “baie goed” was (Genesis 1:1, 31). ’n Klomp afval het dit toe nie ontsier nie; vullishope het dit nie besoedel nie. ’n Pragtige gawe is aan die mens geskenk: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.

In Jesaja 45:18 sê hy wat sy voorneme met die aarde is: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”

Hy toon uitdruklik wat die mens se verantwoordelikheid ten opsigte van die aarde is—“om dit te bewerk en te bewaak”.—Genesis 2:15.

Jehovah stel die voorbeeld. Hy sorg vir die aarde. Een manier is deur die herbenutting van die aarde se belangrike hulpbronne, die dinge waarvan alle lewe op die aarde afhang. ’n Spesiale uitgawe van Scientific American het artikels oor verskeie van hierdie kringlope gehad, waaronder die energiekringloop van die aarde, die energiekringloop van die biosfeer, die waterkringloop, die suurstofkringloop, die koolsuurgaskringloop, die stikstofkringloop en die mineraalkringlope.

Die aarde—verstommend sowel as pragtig

Die welbekende bioloog Lewis Thomas het die aarde in die tydskrif Discover onvoorwaardelik met hierdie woorde geprys:

“Die aarde wek oorweldigende verwondering, is die vreemdste struktuur in die ganse heelal waarvan ons tot dusver bewus is, is die grootste van alle kosmologiese wetenskaplike raaisels, en dit verydel al ons pogings om dit te verstaan. Ons begin nou eers besef hoe buitengewoon en luisterryk dit is, hoe asemrowend dit is, die allerpragtigste voorwerp wat om die son dryf, omsluit deur sy eie blou atmosfeerborrel, terwyl dit sy eie suurstof vervaardig en inasem, sy eie stikstof uit die lug haal en in sy eie grond sit, sy eie weer vanuit sy reënwoude voortbring, sy eie kors uit natuurlike elemente vorm: kalkkranse, koraalriwwe, fossiele van vroeëre lewensvorme wat nou deur lae nuwe lewensvorme bedek word wat regoor die aardbol inmekaar skakel.”

Dit is net ’n paar van die voorsienings wat Jehovah daargestel het sodat die aarde kan bly funksioneer as ’n pragtige gawe aan die mensdom, ’n tuiste wat geskep is om vir ewig vir mense en tallose miljoene ander lewende wesens te bestaan. Psalm 104:5 sê: “Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.” ’n Ander geïnspireerde getuie het hierdie selfde permanentheid van die aarde bevestig: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.”—Prediker 1:4.

Ruimtevaarders wat om die aarde gewentel het, het al baie te sê gehad aangaande hierdie pragtige, delikate planeet wat in sy wentelbaan om die son voortbeweeg en het daarop gewys dat die mensdom die prag daarvan moet waardeer en daarna moet omsien. Toe die ruimtevaarder Edgar Mitchell vir die eerste keer die aarde vanuit die ruimte gesien het, het hy na Houston teruggesein: “Dit lyk soos ’n skitterende blou en wit juweel . . . met wit kantsluiers wat stadig daarom warrel . . . , soos ’n klein pêreltjie in ’n digte swart see van geheimsinnigheid.” Die ruimtevaarder Frank Borman se opmerking was: “Ons deel so ’n pragtige planeet. . . . Wat ’n mens stom slaan, is waarom op dees aarde ons nie kan waardeer wat ons het nie.” Een van die ruimtevaarders van die Apollo 8-maanvlug het gesê: “In die ganse heelal, oral waar ons gekyk het, was die enigste bietjie kleur doer op die aarde. Daar kon ons die koningsblou van die seë, die taan en bruin van die land en die wit van die wolke sien. . . . Dit was die pragtigste voorwerp wat in die ganse hemelruim gesien kon word. Mense hier besef nie wat hulle het nie.”

Die feite toon dat daardie stelling waar is—mense besef nie watter skat hulle het nie. In plaas daarvan dat die mensdom na hierdie gawe van God af omsien, besoedel en vernietig hy dit. Ruimtevaarders het dít ook gesien. Paul Weitz, bevelvoerder van die eerste vlug van die pendeltuig Challenger, het gesê dat die skade wat die mens aan die aarde se atmosfeer aangerig het “skrikwekkend” is wanneer jy dit vanuit die ruimte sien. “Ongelukkig is hierdie wêreld vinnig besig om ’n grys planeet te word.” Hy het verder bygevoeg: “Wat is die boodskap? Ons bevuil ons eie nes.” En hierdie vernielsug het veral gedurende hierdie “laaste dae” gevaarlik toegeneem. Jehovah het sy oordeel uitgespreek teen diegene wat die aarde verniel, naamlik dat hy ‘die verderwers van die aarde sal verderf’.—Openbaring 11:18.

’n Ondankbare gemeenskap wat God se gawe onwaardig is

’n Materialistiese gemeenskap het geestelike waardes vertrap om vrye teuels aan die vlees te gee. Die praktiese riglyne wat Jehovah aan die mensdom gegee het om gelukkig en tevrede te lewe, is opsy gestoot deur die opgang van selfsugtige egotisme wat ons tye kenmerk.

Tweede Timoteus 3:1-5 gee ’n juiste beskrywing van die gevaarlike tye waarin ons lewe: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af.”

Die handelsgees wakker ’n verbruikersgees aan, en reklame is sy handlanger. Baie advertensies is goed; baie is sleg. Laasgenoemde beantwoord aan Eric Clark se waarneming in The Want Makers: “Reklame help nie net om die verkeerde dinge aan mense te verkoop wat dit nie kan bekostig nie, maar dikwels ook teen buitensporige pryse.” Alan Durning van World Watch sê: “Reklame-agente verkoop nie produkte nie, maar lewenstyle, gesindhede en fantasieë deur hulle ware aan die oneindige sielsbegeertes te koppel.” Die doel van reklame is om ons ontevrede te maak met wat ons het en begeertes te wek vir wat ons nie nodig het nie. Dit skep ’n onversadigbare hunkering; dit lei tot nadelige oorverbruik; dit veroorsaak die toename in afvalstortplekke wat die aarde besoedel. Die subtiele oorredingskrag daarvan wurm hom selfs in die moeë harte in van diegene wat in hopelose armoede leef. Deur middel van aggressiewe reklame bemark talle reklame-agente ware wat mense dood- of siek maak.

Wat belangrik is, is ons posisie voor God, soos Prediker 12:13 sê: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” Diegene wat dit doen, sal voldoen aan die vereistes vir lewe in Jehovah se skoon Paradys! Jesus het beloof: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het tot ’n opstanding van oordeel.”—Johannes 5:28, 29.

Wanneer God se gawe waardeer sal word

En wat ’n ongelooflik wonderlike aarde sal dit tog nie wees nie! Jehovah het ons hierdie asemrowende beskrywing daarvan gegee: “Ek [Johannes] het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan, en die see is daar nie meer nie. [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1, 4.

Vorige dinge soos vullishope, giftige afvalstowwe en diegene wat hulle afval op ander afskuif, sal tot die verlede behoort. Dan sal mense wat hulle naaste liefhet soos hulleself, wat Jehovah loof vir sy gawe van die aarde en wat hulle daarin verlustig om dit op te pas en in ’n paradysagtige toestand te hou die enigste mense wees wat op die aarde lewe.—Matteus 22:37, 38; 2 Petrus 3:13.

[Venster op bladsy 11]

Die nietigheid van materialisme

Jesus het ’n indringende waarheid uitgespreek toe hy gewaarsku het: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Dit is nie wat ons het wat tel nie; dit is wat ons is wat saak maak. Dit is so maklik om meegesleur te word deur die bedrywighede van die lewe—die maak van geld, die opgaar van dinge, die dolle gejaag na al die genietinge wat die vlees begeer—en om te dink dat ons ’n vol lewe lei en niks mis nie, terwyl ons dalk die beste wat die lewe ons bied, mis.

Dit is eers namate die lewe by ons verbyglip dat ons besef wat ons verloor het. Ons besef hoe waar die Bybel se woorde is: Die lewe is baie kort—’n damp wat verdwyn, ’n rookwolkie, ’n asemteug, ’n vlugtige skaduwee, groen gras wat verdor, ’n blom wat verwelk. Wat het daarvan geword? Wat het ons uitgerig? Waarom is ons hier? Is dit al wat daar is? Net die nietigheid van nietighede, ’n gejaag na wind?—Job 14:2; Psalm 102:4, 12; 103:15, 16; 144:4, vlg. NW; Jesaja 40:7; Jakobus 4:14.

’n Sterwende man in ’n hospitaal kyk by ’n venster uit en sien ’n heuwel wat hom in die warm sonnetjie baai, gras en onkruid, ’n paar sukkelende blommetjies, ’n swaeltjie wat in die grond krap op soek na ’n paar saadjies—nie juis ’n toneel om liries oor te raak nie. Maar vir die sterwende man is dit pragtig. Hy ondervind ’n hartseer verlange wanneer hy dink aan die eenvoudige vreugdes wat hy gemis het, die klein dingetjies wat soveel beteken. So gou is alles verby!

Die Griekse Geskrifte van die Bybel stel dit duidelik: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dus voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:7, 8). Die Hebreeuse Geskrifte stel dit selfs meer ronduit: “Net soos iemand uit sy moeder se buik voortgekom het‚ sal hy weer naak heengaan‚ net soos hy gekom het; en vir sy harde werk kan iemand hoegenaamd niks wegdra, wat hy met sy hand kan saamneem nie.”—Prediker 5:15, NW.

[Foto-erkenning op bladsy 8]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel