Van bottels tot pragtige krale
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
JY IS haastig. Jy steek jou hand uit na ’n bottel op die tafel, maar dit glip uit jou hand, val op die vloer en breek. Jy sug, vee die gebreekte stukke op en gooi dit in die vullisblik. Wat jou betref, is dit die einde van die saak.
As jy in Bida, Nigerië, gewoon het, kan dit dalk net die begin wees. Waarom? Want onder die Nupe-volk wat daar woon, kan vakmanne ’n stukkende bottel neem en ’n pragtige string krale daarvan maak. Dit is ’n kuns wat van geslag tot geslag oorgelewer is—een wat deur die eeue heen feitlik onveranderd gebly het.
Kralemakery in Bida
Die werkswinkel is ’n klein, ronde hutjie wat van gedroogde klei gemaak is. In die middel van die vloer staan ’n kleioond. Die vakmanne gooi stukke hout in die oond en steek dit aan die brand. Die vuur word met ’n handblaasbalk aangeblaas totdat dit knetter. Namate meer hout bygevoeg word, verskyn ’n rooi vlam bo die oond. ’n Bottel word aan ’n staaf oor die oond opgehang, en die glas word gou sag en smelt.
Die kralemaker maak die krale een-een. Hy lê ’n gepunte staaf oor die vuur langs die staaf waaraan die glas hang. Wanneer die punt rooi gloei, verskuif hy dit na die hangende bol gesmelte glas. Dan, deur die staaf met sy vingers te draai, draai hy ’n kraal-grootte stukkie glas daarom.
Daarna maak hy die glas met ’n lang, plat kapmes glad en vorm dit tot ’n kraal. As hy baie vaardig is, sal hy miskien met verskeie kleure glas werk en dit gebruik om ’n patroontjie op elke kraal te maak. Laastens skuif hy die kraal versigtig met die mes van die staaf af in ’n pan vol as, waar dit afkoel. Die kraal is nou klaar gemaak. Die gaatjie waar die staaf was, word die gaatjie waardeur die kraal ingeryg word. Al wat nog gedoen moet word, is om die kraal te was en dit dan saam met ander krale in te ryg om ’n halssnoer te maak.
Om die kuns te leer
Hoe leer ’n mens die kuns om krale te maak? Nupe-kinders begin deur toe te kyk. Teen die tyd dat hulle tien jaar oud is, help hulle om die vuurmaakhout bymekaar te maak en te kap.
Die volgende stap is om die blaasbalk te bemeester. Die blaasbalk bestaan uit twee lapsakke wat elkeen aan ’n stok vas is. Om die blaasbalk te gebruik, moet die “blaser” ’n stok in elke hand hou en hulle vinnig op en af beweeg. Hy het krag sowel as koördinasie nodig. Hy moet sterk genoeg wees om die blaasbalk gedurende die hele kralemaaksessie onafgebroke te pomp, en ’n sessie kan ure lank aanhou!
Hy moet ook genoeg koördinasie hê om ’n vinnige, egalige ritme vol te hou terwyl hy die blaasbalk teen presies die regte spoed pomp. As hy te stadig pomp, sal die hitte van die vuur nie die glas sag genoeg maak om mee te werk nie. As hy te vinnig pomp, kan die hitte die glas van die staaf af in die vuur laat val.
’n Leerlingkralemaker sal gewoonlik vyf jaar lank met die blaasbalk werk. Uiteindelik leer hy hoe om krale te vorm. ’n Deel van die uitdaging van hierdie werk is om te leer om die hitte van die vuur te verduur, wat tesame met die tropiese hitte van die son ’n beproewing kan wees.
Hy leer progressief. Nadat die leerling ’n ervare kralemaker met die hantering van die stawe gehelp het, leer hy om klein, eenvoudige kraletjies te maak. Mettertyd leer hy om groter krale te maak en krale wat met ’n patroon van ’n ander kleur glas versier is. Ervare kralemakers laat dit baie maklik lyk, maar dit neem tyd om die vaardigheid te bemeester wat nodig is om ’n aantal krale, wat almal dieselfde grootte, vorm en patroon het, een-een te maak.
Kralemakery is ’n genotvolle kuns. Die kralemakers skep behae daarin om mense oor die hele land te sien wat met hulle kleurvolle krale versier is—klein kraletjies vir kinders, fyn handgemaakte krale vir vroue en swaar seremoniële krale vir mans. Daar is ook vreugde tydens feestye wanneer mense rondom die werkswinkel bymekaarkom en op die ritme van die blaasbalk sing en dans.
Die boek History of West Africa sê: “Nupe-kunsprodukte van . . . glas . . . is steeds van die beste op die vasteland.” Ander stem daarmee saam. Een Christensendeling het gesê: “Toe ons met vakansie gegaan het, het ons krale van Bida sowel as ander plekke gekoop om vir ons vriende en familie te gee. Toe ons in die Verenigde State kom, het ons vriende elke keer die krale van Bida gekies!”
[Prent op bladsy 26]
Glas word in ’n oond warm gemaak