Ons beskou die wêreld
Toordery onder vlugtelinge
Vlugtelinge uit oorloggeteisterde Rwanda word deur nog ’n probleem in hulle kampe in Ngara, Noord-Tanzanië, geteister: toordery. Volgens die Reuters-nuusagentskap het die UNHCR (Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge) toordery as ’n “ernstige probleem” in die kampe geïdentifiseer. Volgens die UNHCR se woordvoerder Chris Bowers, word twee of drie mense elke aand in okkulte rituele doodgemaak. Hy verduidelik: “Ons weet dat toordery daarby betrokke is, aangesien ons lyke vind wat op ’n sekere manier geskend is.” Teen die einde van 1994 het sowat 580 000 mense in die kampe in Ngara gewoon, met 2 000 nuwe vlugtelinge wat elke dag daar aankom. Volgens Reuters het een VN-bron gesê: “Daar is ’n toename in toordery en ons weet nie hoe om dit te hanteer nie.”
Priesters “afgesny”
Draagbare telefone verteenwoordig moontlik die gerieflikste vorm van kommunikasie, maar een biskop in Finland het besluit dat dit nou te ver gegaan het. Volgens Reuters het die biskop aangevoer dat “’n draagbare telefoon die gebruiker van diens moet wees, nie moet verslaaf nie”, en hy het kerkwerkers en geestelikes beveel om hulle gebruik van die toestel te beperk. Gemeentelede se klagtes het blykbaar onder die biskop se aandag gekom—party geestelikes het telefoonoproepe tydens kerkdienste beantwoord. En so ’n oproep is volgens berig tydens ’n begrafnisdiens ontvang. Onlangs het ’n Katolieke tydskrif in Italië priesters insgelyks aangeraai om nie hulle telefoon saam met hulle na die biegstoel te neem nie—nadat ’n vrou gekla het dat sy die priester se telefoon kon hoor lui terwyl sy haar sondes bely het.
Goed vir ma’s —sleg vir kinders
Baie vroue neem ysterpille vir hulle gesondheid om anemiese bloed aan te vul, maar party weet nie hoe gevaarlik hierdie pille vir kinders kan wees wat dit inneem nie. Volgens die tydskrif Safety+Health is ysterpille die hoofoorsaak van sterftes weens vergiftiging onder kinders wat jonger as ses is. Die Amerikaanse regering het voorgestel dat al sulke pille in afsonderlike plastiese pakkies verpak word wat moeilik is om oop te maak, pleks van in bottels. Maar moeders word in elk geval aangeraai om ysterpille heeltemal buite die bereik van klein handjies te hou, net soos hulle met ander pille en geneesmiddels doen.
Skietvoorvalle neem toe in Japan
Japan is bekend as een van die wêreld se veiligste lande. Sy jaarlikse moordsyfer is slegs 1 uit elke 100 000 mense, terwyl die syfer byna tien keer hoër in lande soos Thailand en die Verenigde State is. In onlangse tye is Japan egter geskud deur ’n toename in moorde waarin vuurwapens gebruik is, berig die tydskrif Asiaweek. Van 1990 tot 1993 was daar 180 skietvoorvalle per jaar, en lede van misdaadsindikate was by almal betrokke. Maar wat skrikwekkend is, is dat die aantal skietvoorvalle in 1994 toegeneem het, en dat sewe van die slagoffers lede van die publiek was. Hoewel Japan streng wette teen die privaat besit van vuurwapens het, is daar volgens die polisie sowat 100 000 onwettige vuurwapens in die land. Nadat ’n dokter op ’n stampvol spoorwegstasie geskiet is, na bewering deur ’n ontevrede voormalige pasiënt, het ’n kollegestudent tydens ’n onderhoud gesê: “Ek het gedink dit kan net in Amerika gebeur.”
Tegnologie en Sabbatskuiwergate
Vir diegene in Israel wat streng volgens die Halaka, of die hele eertydse Joodse wet, lewe, bied dit ’n paar wesenlike uitdagings om die Sabbat in ’n hipertegnologiese wêreld te hou. Ortodokse Jode is byvoorbeeld besorg as hulle deur ’n metaalverklikker moet loop. As hulle sleutels die verklikker laat afgaan, het hulle dan onopsetlik ’n elektriese stroomkring gesluit—en dit, meen hulle, is ’n oortreding van die Halaka se gebod teen die aansteek van ’n vuur. ’n Organisasie wat Tsomet genoem word, het dus ’n metaalverklikker ontwerp wat nie op alledaagse voorwerpe soos sleutels reageer nie en gevolglik nie ’n probleem vir Sabbatsheiliging inhou nie. ’n Ander organisasie het eweneens die probleem van Ortodokse dokters opgelos wat op die Sabbat roetineskryfwerk moet doen. Hulle het ’n viltpen ontwerp wat met ink skryf wat ná ’n paar dae sal verdwyn. Hoe help dit? Die Halaka beperk skrywery op die Sabbat, maar definieer skrywery as dit wat ’n permanente merk laat. Volgens The New York Times het een vername rabbi geredeneer: “As [God] ’n skuiwergat gelaat het, het hy dit daar geplaas om gebruik te word.”
Bedreigde reuse
Die reusagtige skilpad van die Galapagos-eilande is internasionaal bekend en word as ’n bedreigde spesie beskerm. Maar dit het onlangs duidelik geword dat hierdie groot reptiele met ’n nuwe gevaar te kampe het. ’n Brand het ’n maand lank oor die Isabela-eiland van die Galapagos-eilandgroep gewoed. Reddingswerkers het slote gegrawe om die eiland se waardevolle skilpadbevolking van 6 000 te beskerm en het selfs 400 van hulle na ’n spesiale wildpark verskuif. Hierdie laasgenoemde maatreël is nie soseer geneem om die skilpaaie teen brande te beskerm nie, maar teen mense. Volgens The Unesco Courier “is die jag van skilpaaie, hoewel dit onwettig is, blykbaar ’n tradisionele gebruik. Afgesien daarvan dat die vleis besonders smaaklik is, word daar gemeen dat die skilpaaie se vleis, veral die wyfies s’n, asook hulle bloed medisinale eienskappe het.” Reddingswerkers het die oorblyfsels van 42 van hierdie reuse gevind wat deur mense geëet is.
“Deur die regering doodgemaak”
Die bogenoemde is die titel van ’n nuwe boek deur R. J. Rummel van die Universiteit van Hawaii. Oor ’n tydperk van agt jaar het mnr. Rummel inligting uit “duisende bronne” ingewin oor die rol van regerings in menseslagting gedurende hierdie eeu. Volgens The Honolulu Advertiser sê die boek: “Nagenoeg 170 miljoen mans, vrouens en kinders is geskiet, geslaan, gemartel, met messe gesteek, verbrand, uitgehonger, het verkluim, is verpletter of gedwing om hulle dood te werk; lewendig begrawe, verdrink, opgehang, gebombardeer of doodgemaak op enige van die tallose ander maniere waarop regerings ongewapende, hulpelose burgers en buitelanders omgebring het.” Rummel sê: “Dit is asof ons spesie deur ’n hedendaagse Swart Plaag uitgeroei word.” “Geen ander eeu het ’n slagting van hierdie omvang gesien nie”, berig die koerant aangaande Rummel se bevindings.
Nuttige wurms
“Erdwurms is Indië se geheime wapen om die uitbreek van nog ’n plaag te voorkom”, berig die tydskrif New Scientist. Wanneer afval ophoop, kom rotte en ander diere wat dodelike siektes dra in groot getalle voor. Nou word ’n inheemse wurmspesie, Pheretima elongata, wat tot diep in die grond grawe, gebruik om afval in nuttige kompos te omskep. Wanneer die wurms in afvalvergaarplekke gesit word, eet hulle hulle pad deur die afval en laat hulle ’n fyn kompos agter wat maklik vergaan. Hierdie tegniek, wat reeds in Bombaai gebruik word, verwerk elke dag vier ton afval wat van slagpale af kom. Plaaslike besture wat tans op verbrandingsoonde en stortterreine staatmaak, kyk nou met belangstelling na hierdie nuttige wurms.
Kerk en oorlog
Watter rol het die Serwies-Ortodokse Kerk in die konflik in die Balkan gespeel? Hierdie vraag is bespreek tydens ’n onlangse rondetafelkonferensie van Ortodokse en Protestantse kerkleiers uit Duitsland, Engeland, Griekeland, Rusland, Serwië, Swede, Switserland en die Verenigde State. Christ in der Gegenwart (Die hedendaagse Christen), ’n Katolieke koerant wat in Duitsland uitgegee word, het berig dat die samesprekings deur die Wêreldraad van Kerke georganiseer is en in Genève, Switserland, gehou is. Die samesprekings is gereël na aanleiding van aantygings dat die Serwies-Ortodokse Kerk tydens die oorlog partydig was en “grootskaalse steun verleen” het aan die kant wat dit begunstig het. Ondanks die ernstige aantygings het die meerderheid van die partye by die samesprekings daarvoor gestem dat die Serwies-Ortodokse Kerk toegelaat word om sy lidmaatskap in die Wêreldraad van Kerke te behou, hoewel “nie alle meningsverskille bygelê [kon word] nie”.
Dwelmhandel is ’n reusebedryf
“Internasionale dwelmhandel”, sê die Australiese koerant The Sydney Morning Herald, “het naas die wapenhandel die wêreld se winsgewendste bedryf geword, met ’n jaarlikse omset van 400 miljard Amerikaanse dollar [R1,45 biljoen], en dit ondermyn politieke stelsels in Asië.” Hierdie bedrag, sê Interpol se sekretaris-generaal, “het die vermoë om feitlik almal te verderf”. Asië is in die kollig omdat meer as 80 persent van die wêreld se heroïen in die Goue Driehoek, naby die grense van Myanma, Thailand en Laos, vervaardig word, sowel as in die Goue Halfmaan van Afganistan en Pakistan. Die hoof van Interpol se dwelmafdeling voeg by: “Dwelms het die vernaamste manier geword waardeur terrorisme gefinansier word.”