Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 4-8
  • Die mens se stryd teen rampe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mens se stryd teen rampe
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verandering van denkwyse is nodig
  • Die doelwitte
  • ’n Onrusbarende neiging
  • Waarom die toename?
  • Is dit onafwendbaar of kan dit bekamp word?
  • Wat jy kan en nie kan doen nie
  • Wat sê die Bybel oor natuurrampe?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wanneer natuurrampe tref
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Natuurrampe—Waarom so algemeen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 4-8

Die mens se stryd teen rampe

DRIE jaar het verloop en Boutros Boutros-Ghali, die sekretaris-generaal van die VN, was ongelukkig. “Ons het nie vinnig genoeg opgetree nie”, het hy vroeg in 1993 vir ’n groep deskundiges gesê. “Die rede waarom ek julle gevra het om eerder nou as later te vergader, is om te sien of ons die verlore tyd kan inhaal.” Verlore tyd? Wat het hy in gedagte gehad? Vyf letters: IDNDR. Wat beteken dit? En waarom die haas?

Een van die deskundiges wat die vergadering bygewoon het, was Frank Press, ’n geofisikus en die “vader” van die IDNDR. Elf jaar gelede het dr. Press die wêreldwye wetenskaplike gemeenskap begin aanspoor om hulle stryd teen natuurrampe te verskerp. Vyf jaar later, in Desember 1989, het die Verenigde Nasies gehoor gegee aan sy oproep tot ’n einde aan passiwiteit deur die jare van 1990 tot 2000 as die Internasionale Dekade vir Natuurrampbekamping, of IDNDR, te verklaar. Wat is die doel daarvan?

’n Verandering van denkwyse is nodig

’n Brasiliaanse professor in geologie en ’n lid van die IDNDR se Wetenskaplike en Tegniese Komitee, Umberto G. Cordani, het vir Ontwaak! gesê dat die IDNDR ’n beroep op die internasionale gemeenskap is om hulle kennis, middele en werk bymekaar te sit om die lyding, vernietiging, ontwrigting en lewensverlies wat deur natuurrampe veroorsaak word te verminder. “Die bereiking van daardie oogmerk”, het professor Cordani beklemtoon, “vereis ’n wêreldwye klemverskuiwing van reaksie ná die ramp tot aksie voor die ramp.”

Om die denkwyse van die mensdom te verander, is egter baie moeiliker as om ’n dekade ’n naam te gee, want “besluitvormers”, sê UNESCO Environment and Development Briefs, “is geneig om soveel klem op noodleniging te plaas dat hulle voorkoming afskeep”. Van al die geld wat byvoorbeeld vandag in Latyns-Amerika aan die beheer van potensiële rampe bestee word, word meer as 90 persent vir noodleniging en minder as 10 persent vir voorkoming gebruik. Die IDNDR se nuusbrief Stop Disasters sê dat politici immers “meer ondersteuning kry wanneer hulle rampslagoffers troos as wanneer hulle belastings aanvra vir die ondramatiese maatreëls wat die ramp sou voorkom of bekamp het”.

Die doelwitte

Om hierdie bestedingspatroon te wysig, het die Verenigde Nasies drie doelwitte vir die dekade omskryf. Teen die jaar 2000 moet alle lande die volgende gereed hê: Hulle (1) berekening van die risiko wat potensiële rampe inhou, (2) langtermynvoorsorg- en -voorkomingsmaatreëls en (3) waarskuwingstelsels. Nasionale komitees is aangestel om die IDNDR se filosofie en goeie bedoelings in tasbare planne te omskep, en in Mei 1994 was Japan die gasheer van ’n VN-geborgde Wêreldkonferensie oor Natuurrampbekamping. Met al hierdie bedrywighede wat beplan word of op dreef is, waarom was Boutros-Ghali ontevrede? Weens ’n ontstellende neiging.

’n Onrusbarende neiging

Aan die een kant slaag die pogings van die IDNDR. Wetenskaplikes se bewustheid van die bekamping van rampe het toegeneem, en party maatreëls, soos die verbetering van waarskuwingstelsels, red lewens en verminder verliese. Maar ondanks hierdie vordering, sê dr. Kaarle Olavi Elo, direkteur van die IDNDR se sekretariaat, “neem die aantal en die omvang van rampe steeds toe, en dit raak al hoe meer mense”. Ons het “van die sestiger- tot die tagtigerjare ’n 3-voudige vermeerdering gesien”, bevestig ’n ander VN-deskundige, “en ’n verdere groot toename in die negentigerjare”. Trouens, in 1991 het daar wêreldwyd 162 000 mense in 434 groot rampe gesterf, en in 1992 het verliese 62 miljard Amerikaanse dollar (R225 miljard) oorskry. James G. Speth, administrateur van die VNOP (Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram), maak die gevolgtrekking dat die wêreld “’n rampmasjien” geword het, “wat krisisse met onrusbarende reëlmatigheid voortbring” (UNDP Update, November 1993). Wat sit agter hierdie ontstellende neiging?

Waarom die toename?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers let op die verskil tussen ’n potensiële ramp en ’n natuurramp. Eersgenoemde is ’n natuurverskynsel—soos ’n oorstroming of ’n aardbewing—wat die potensiaal het om ’n ramp te word maar dit nie altyd doen nie. Oorstromings in Brasilië se onbewoonde Amasone-bekken is byvoorbeeld natuurverskynsels wat min skade aanrig. Maar oorstromings wat Bangladesj se digbevolkte Ganges-delta tref, veroorsaak grootskaalse lewensverlies, sowel as skade aan besittings en die omgewing. Sulke verliese is dikwels so rampspoedig dat geteisterde gemeenskappe nie sonder hulp van buite kan klaarkom nie. In daardie geval het die potensiële ramp ’n natuurramp geword. Maar waarom is hierdie rampspoedige botsings tussen die mens en die natuur aan die toeneem?

Die rampdeskundige James P. Bruce sê dat ‘’n neiging tot hewiger en gereelder potensiële rampe ’n bydraende oorsaak’ kan wees. Hy en ander wetenskaplikes is dit egter eens dat die hoofoorsaak van die toename in rampe nie ’n toename in potensiële rampe is nie, maar ’n toename in die mens se blootstelling aan hierdie gevare. Hierdie groter blootstelling, sê die tydskrif World Health, word deur ’n “kombinasie van demografiese, ekologiese en tegnologiese toestande” veroorsaak. Wat is party van die bestanddele in hierdie kombinasie wat tot rampe lei?

Een van hulle is die groeiende wêreldbevolking. Namate die grootte van die mensegesin toeneem, neem die waarskynlikheid ook toe dat ’n potensiële ramp party van die wêreld se 5,6 miljard mense in sy pad sal vind. Bevolkingsdruk dwing bowendien miljoene armes steeds om hulle in onveilige geboue te vestig in gebiede wat daarvoor bekend is dat dit gereeld aanslae van die natuur moet verduur. Die gevolge is nie verbasend nie: Sedert 1960 het die wêreldbevolking verdubbel, maar verliese weens rampe het byna tienvoudig vermeerder!

Omgewingsveranderinge dra tot die probleme by. Van Nepal tot die Amasone en van die Noord-Amerikaanse vlaktes tot die eilande van die Suidsee roei die mens woude uit, oorbewerk hulle die grond, vernietig hulle koraalriwwe aan die kus en laat hulle ’n spoor van ander ekologiese merke—maar nie sonder om daarvoor te betaal nie. “Namate ons die dravermoë van ons omgewing onder druk plaas en die karakter daarvan verander”, sê ’n voormalige IDNDR-direkteur, Robert Hamilton, “word die waarskynlikheid dat ’n potensiële ramp ’n ramp sal word al hoe groter.”

Maar as die mens se dade tot die toename in rampe in vandag se nuus bydra, sal die teenoorgestelde ook waar wees: Deur voorsorgmaatreëls te tref, kan die mens môre se nuus verander. Dood en verwoesting kan tot ’n minimum beperk word. Deskundiges sê byvoorbeeld dat 90 persent van aardbewingsterftes verhoed kan word. Hoewel daar baie goeie argumente vir voorkoming is, beskou baie mense rampe nietemin as iets onafwendbaars. Hierdie fatalistiese beskouing, berig UNESCO Environment and Development Briefs, is “die grootste enkele hindernis in die weg na die bekamping van rampe”. Aan watter kant van daardie hindernis staan jy?

Is dit onafwendbaar of kan dit bekamp word?

Hierdie gevoel van hulpeloosheid is veral in die ontwikkelende wêreld algemeen—en geen wonder nie! Van al die mense wat in die afgelope 50 jaar in natuurrampe gesterf het, het 97 persent in die ontwikkelende wêreld gewoon! In sommige van hierdie lande, sê Stop Disasters, “is die voorkoms van rampe so hoog dat dit moeilik is om tussen die einde van een ramp en die begin van ’n ander te onderskei”. In werklikheid kom 95 persent van alle rampe in die ontwikkelende wêreld voor. Voeg hierby die eindelose siklus van persoonlike rampe—armoede, werkloosheid, onmenslike lewensomstandighede—en jy kan begryp waarom hulpeloosheid die armes soos ’n stygende gety verswelg. Hulle aanvaar die verliese wat deur herhaalde rampe veroorsaak word as ’n bitter maar voorafbestemde deel van die lewe. Maar is hierdie verliese onafwendbaar?

Wat jy kan en nie kan doen nie

Dit is waar dat jy niks kan doen om die voorkoms of hewigheid van potensiële rampe te beheer nie, maar dit beteken nie dat jy heeltemal hulpeloos is nie. Jy kan jou blootstelling aan hierdie gebeure verminder. Hoe? Beskou hierdie vergelyking.

Gestel iemand wil sy blootstelling aan die son (die natuurverskynsel) beperk, sodat hy nie velkanker (die ramp) kry nie. Watter maatreëls kan hy tref? Hy kan natuurlik niks aan die opkoms en die ondergang van die son (die voorkoms van die verskynsel) doen nie. Hy kan ook nie die hoeveelheid sonlig wat sy omgewing bereik (die hewigheid van die verskynsel), verminder nie. Maar beteken dit dat hy hulpeloos is? Nee, hy kan sy blootstelling aan die son verminder. Hy kan byvoorbeeld gedurende die warmste deel van die dag binne bly, of as dit nie moontlik is nie, kan hy ’n hoed en beskermende klere dra terwyl hy buite is. Dit vergroot sy beskerming teen die son (die verskynsel) en verminder die risiko om ’n slagoffer van velkanker (die ramp) te word. Die voorsorgmaatreëls wat hy tref, kan ’n verskil maak!

Jy kan eweneens stappe doen om jou beskerming teen die aanslag van sekere potensiële rampe te vergroot. Op daardie manier sal jy jou kwesbaarheid en verliese verminder wanneer ’n ramp jou tref. Diegene wat in die ontwikkelde wêreld woon, sal dalk vind dat die wenke in die venster “Is jy gereed?” nuttig is. En as jy in die ontwikkelende wêreld woon, kan die voorbeelde in die venster “Goedkoop verbeteringe wat werk” jou ’n idee gee van die soort eenvoudige maatreëls wat nou beskikbaar is. Dit kan baie daartoe bydra om lewens te red en verliese te verminder. Met die tegnologie wat vandag beskikbaar is, herinner die geofisikus Frank Press ons, “is fatalisme nie meer aanvaarbaar nie”. Wat natuurrampe betref, is voorsorg beslis beter as nasorg.

[Venster op bladsy 6]

Is jy gereed?

DIE Amerikaanse Federale Agentskap vir Noodoptrede beveel ’n aantal maniere aan om opgewasse te wees teen potensiële rampe. Hier is van die hoofpunte.

Kry inligting. Kom in aanraking met jou plaaslike kantoor vir noodoptrede en vind uit watter rampe jou gemeenskap kan tref. Jy weet dalk van party, maar ander sal jou dalk verbaas. As jy uitvind dat jou huis aan potensiële rampe blootgestel is:

◻ Kom as ’n gesin bymekaar en bespreek die verskillende potensiële rampe wat julle kan bedreig. Verduidelik wat om in elke geval te doen.

◻ Beplan hoe julle as gesin met mekaar kontak sal behou as so ’n gebeurtenis julle van mekaar sou skei. Kies twee ontmoetingsplekke: een buite julle huis in geval van ’n onverwagte noodgeval, soos ’n brand, en die ander een buite julle woonbuurt ingeval julle nie na die huis kan terugkeer nie.

◻ Vra ’n vriend om julle gesin se kontakpersoon te wees, sodat alle gesinslede hierdie kontakpersoon kan skakel en kan sê waar hulle is as julle nie by julle gereëlde ontmoetingsplek kan kom nie. Kies ’n vriend wat nie in julle gebied woon nie, want ná ’n ramp is dit dikwels makliker om ’n langafstandoproep te maak as om ’n oproep binne die rampgebied te maak. Leer kinders hoe om hierdie vriend te bel. Bespreek wat julle gaan doen as julle die gebied moet ontruim. Dink ook aan hoe julle julle bure kan help wat moontlik spesiale bystand nodig het. Beplan hoe julle vir julle troeteldiere gaan sorg.

◻ Plaas noodtelefoonnommers by elke telefoon.

◻ Vind die ligging van die hoof- elektriese sekeringskas, water- en gashoofleiding. Wys verantwoordelike gesinslede hoe en waar om dit af te sluit, en hou die nodige gereedskap naby die hoofskakelaars.

◻ Berei voor vir ’n brand. Installeer rookverklikkers, veral naby slaapkamers.

[Venster op bladsy 8]

Goedkoop verbeteringe wat werk

NET minder as die helfte van die wêreldbevolking, berig die Wêreldbank, leef van 18 rand per week of minder. Al is jy in daardie posisie, sê deskundiges, is daar beproefde maatreëls wat jy kan tref. Stel jouself op hoogte hiervan, want opvoeding, beklemtoon die Peruaanse rampdeskundige Alberto Giesecke, “is ’n belangrike maatreël vir goedkoop verligting”. Hier is twee voorbeelde uit Suid-Amerika:

Die VN-handboek Mitigating Natural Disasters verduidelik wat ’n mens kan doen om beter rousteen-, of kleimuurhuise, te bou:

◻ In bergagtige terrein, grawe die grond uit om ’n platform vir die huis te vorm.

◻ Vierkantige huise is die sterkste; as jy ’n reghoekige vorm nodig het, moet jy een muur twee en ’n half keer langer as die ander een bou.

◻ Gebruik rots- of betonfondamente om seismiese kragte te demp.

◻ Bou ewewydige mure met dieselfde gewig, sterkte en hoogte. Hou hulle dun en laag. Huise wat op hierdie manier gebou is, het minder skade tydens aardbewings opgedoen as gewone kleimuurhuise.

Tradisionele latwerkkonstruksie (quincha) is nog ’n beproefde tegniek. Quincha-huise, sê Stop Disasters, het ’n raamwerk van geweefde riete en klein takkies wat deur horisontale en vertikale pale gestut word, en word met net ’n klein hoeveelheid grond gevul. Hierdie soort struktuur, met mure van 10 tot 15 sentimeter dik, laat die huise toe om gedurende ’n aardbewing te skud en laat die geboue weer tot hulle oorspronklike posisies terugkeer wanneer die aardbewing ophou. Toe ’n aardbewing in 1991 plaasgevind het, het al hierdie huise bly staan, terwyl 10 000 ander huise, met soliede mure van ’n meter dik, inmekaargestort en 35 mense gedood het. Volgens John Beynon, ’n UNESCO-argitek, is dit nie aardbewings wat mense doodmaak nie, maar geboue wat inmekaarstort.

[Prente op bladsy 7]

In party plekke is die mens roekeloos besig om woude uit te roei en sodoende die weg vir meer natuurrampe te baan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel