Het jy al ’n buidelwolf gesien?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
‘HET ek ’n wat gesien?’ vra jy dalk. ‘Ek weet nie eers wat ’n buidelwolf is nie.’
Die buidelwolf—die Tasmaniese tier of Tasmaniese wolf—is ’n fassinerende dier van Australië, en sy dierkundige naam is Thylacinus cynocephalus.
Thylacinus cynocephalus beteken letterlik “hond met ’n buidel en ’n wolf se kop”. Die vroeë Europese setlaars in Tasmanië, Australië se klein eilandstaat, het die dier ’n verskeidenheid ander name gegee. Name soos sebra-opossum, hiëna, sebrawolf en hondekop-opossum was algemeen. Die Australiese inboorlinge, wat in Tasmanië was lank voor die wit mense eers omtrent 200 jaar gelede daar aangekom het, het die buidelwolf die naam corinna gegee.
Die Tasmaniese tier word nou as uitgestorwe beskou, maar opgestopte eksemplare kan in museums gevind word. Die laaste lewende buidelwolf waarvan ons weet, het in 1936 in ’n dieretuin in Hobart, Tasmanië se hoofstad, gesterf. Daar is egter diegene wat beweer dat daar nog lewende buidelwolwe is wat in die Tasmaniese wildernis skuil, en daar is steeds berigte dat hulle gesien word.
Hoewel hy nie werklik tot die tierfamilie behoort nie, het die naam Tasmaniese tier waarskynlik ontstaan omdat die dier gestreep sowel as ’n vleiseter is. Kenmerkende donkerbruin, byna swart, strepe loop oor sy rug en teen sy lang, stywe stert af. Nog ’n fassinerende feit is dat hierdie dier ’n buideldier is—dit wil sê die wyfie het ’n buidel. Wanneer die kleintjies gebore word, is hulle piepklein, onvolwasse en blind, maar vind dan hulle pad na hulle moeder se buidel waar hulle gesoog word totdat hulle volgroeid en sterk genoeg is om die buidel te verlaat. Die piepklein pasgeborene bly ongeveer drie maande in moeder-buidelwolf se buidel voordat hy dit buite waag. As hy egter eers uit die buidel is, neem dit nie lank voordat buidelwolf junior sy moeder in haar soeke na kos begin volg nie.
Die buidelwolf is na bewering die grootste vleisetende buideldier wat in onlangse tye bekend is. Anders as buideldiere soos die kangaroe het die buidelwolfwyfie ’n buidel wat agtertoe wys. Sy kan vier kleintjies op ’n slag dra en soog.
Hoe algemeen het hulle voorgekom?
Hoewel rotstekeninge deur die Australiese inboorlinge, fossiele en verdorde, gemummifiseerde eksemplare van die buidelwolf in baie dele van Australië gevind is, lyk dit of Tasmanië die vernaamste habitat van die buidelwolf was. Selfs daar was dit moontlik nooit volop nie. Mense was hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik dat dit uitgesterf het. Die Tasmaniese tier was self ’n roofdier, maar dit was nie opgewasse teen die geslepe en hebsugtige jagters wat party van die wit setlaars geword het nie. Omdat die buidelwolf nuuskierig was en grotendeels geen vrees vir die mens gehad het nie, was dit ’n maklike prooi vir ’n geweer en ’n strik.
Omdat baie boere beweer het dat die Tasmaniese tier skape doodmaak, is aanloklike belonings deur groot veeboerorganisasies asook deur die Tasmaniese regering aangebied. Lewende buidelwolwe wat gevang is, is geredelik deur buitelandse dieretuine aangeskaf. Hoewel die buidelwolfbevolking sonder twyfel deur ’n ernstige, onbekende siekte geraak is wat baie jare gelede ’n groot deel van Tasmanië se wild uitgewis het, was die mens verantwoordelik vir verreweg die grootste uitdunning van hulle getalle.
Unieke jagmetodes
Die buidelwolf het gewoonlik alleen gejag, maar partykeer in pare. Sy metode was om ’n dier, soos ’n klein kangaroe, as teiken te kies en dan net agter hom aan te draf totdat hy moeg was. Sodra die prooi weens uitputting stadiger begin hardloop het, het die buidelwolf hom bespring en hom met sy kragtige kake doodgemaak. Nog ’n unieke kenmerk van hierdie ongewone dier was hoe groot hy sy kake kon oopmaak, naamlik ’n verstommende 120 grade!
Hulle gewoonte om net sekere dele van die karkas te eet—gewoonlik net die inwendige organe—het daartoe gelei dat party hulle beskou het as diere wat prooi sommer voor die voet doodmaak. Maar om vir hierdie skynbare vermorsing te vergoed, het ’n ander kleiner, vleisetende buideldier, die aasetende Tasmaniese duiwel (wat nog bestaan), die tier gevolg en gou al die oorskiet opgevreet—bene, vel, alles.
Die buidelwolf was klaarblyklik nie ’n bedreiging vir die mens nie. Daar is geen bewys dat hulle ooit op mense jag gemaak het nie. ’n Ou man onthou dat hy baie jare gelede een aand laat by sy kampvuur gesit en lees het toe hy deur die vlamme skielik ’n Tasmaniese tier gesien het wat hom stadig, dreigend bekruip. Hy het ’n aanval gevrees en stilletjies sy geweer geneem, mooi deur die vlamme gemik en gevuur. Die buidelwolf het ’n lomp agteroorbollemakiesie geslaan, maar was blykbaar nie erg beseer nie, want hy het opgespring en in die donkerte verdwyn. Die man het toe gaan kyk of daar enige bloed was, om te sien hoe erg hy die tier gewond het. Net voor die vuur het hy ’n groot opossum met die koeël daarin gevind. Dít is wat die buidelwolf bekruip het!
Wat van berigte dat hulle nog gesien word?
Sedert die laaste buidelwolf in 1936 in gevangenskap dood is, was daar al talle berigte dat een gesien is, maar tot dusver is min bewyse gelewer om dierkundiges daarvan te oortuig dat daar nog enige buidelwolwe lewe. Dit lyk of niks minder as ’n foto of ’n lewende buidelwolf wat gevang is amptenare daarvan sal oortuig dat hulle nog bestaan nie.
Talle ouer mense wat in Tasmanië se plattelandse gebiede woon, sê dat hulle nie ’n Tasmaniese tier sal aanmeld as hulle een sien nie. Hulle is bekommerd oor die feit dat ander mense vroeg in hulle leeftyd daarvoor verantwoordelik was dat hierdie unieke dier blykbaar uitgesterf het. As enige buidelwolwe wel nog bestaan, wil sulke mense hê dat hulle met rus gelaat moet word.
As hulle dus gevra sou word: “Het jy onlangs ’n buidelwolf gesien?” sou hulle antwoord—of dit nou waar is of nie—“Nee!” wees.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Tom McHugh/Photo Researchers