Jongmense vra . . .
Steel—Waarom nie?
“Ek is 16 jaar oud en het ’n baie groot probleem. Die afgelope tyd steel ek baie. Ek het nou net na die winkelsentrum gegaan en sewe stelle oorbelle gesteel. Ek is bang om enigiemand van my probleem te vertel. Help my asseblief!”
DIT is wat een radelose tienermeisie aan ’n adviesrubriek van ’n tydskrif geskryf het. Een skrywer het gesê: “Verbruikersgoedere ter waarde van ongeveer tienmiljard dollar [R35 miljard] word . . . elke jaar [in die Verenigde State] by winkels vasgelê, geplunder, geroof of andersins gesteel. Byna die helfte van diegene wat vir winkeldiefstal in hegtenis geneem word, is tieners.”
Volgens ’n onlangse opname erken meer as ’n derde van die hoërskoolleerlinge dat hulle al winkeldiefstal gepleeg het. En volgens ’n ander opname, wat deur navorsers Jane Norman en Myron Harris gemaak is, “erken byna almal [al die jongmense] dat hulle op die een of ander tyd iets geneem het sonder om daarvoor te betaal”.
Waarom hulle steel
’n Dief is iemand wat opsetlik iets wat aan iemand anders behoort sonder toestemming neem. Soms lyk dit of diefstal weens ’n persoonlike behoefte geregverdig kan word. “Ek was in ’n moeilike situasie”, sê ’n arm jeugdige. “Ek het gewoonlik na die agterkant van ’n [kitskosrestaurant] gegaan, die deur oopgeskop en ’n paar stukke hoender gevat. Maar dis al. Ek het dit net gedoen omdat ek honger was.”
’n Bybelspreuk sê: “’n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het.” Dit is nietemin moreel verkeerd om te steel. Die volgende Bybelvers het dus getoon dat selfs ’n honger dief ‘vergoeding moet gee’ deur ’n swaar boete te betaal.—Spreuke 6:30, 31.
Maar verbasend genoeg steel slegs ’n minderheid van tienerdiewe weens ’n ware behoefte. ’n Tipiese voorbeeld is jong Mary Jane wat erken het: “Ja, ek het al winkeldiefstal gepleeg en dit was regtig vreemd, want ek weet nie waarom ek dit gedoen het nie. My ouers gee vir my geld vir alles. Ek het niks nodig gehad nie.”a Die tydskrif Seventeen het ook berig: “In ’n opname wat deur die Nasionale Raad vir die Voorkoming van Misdaad gemaak is, was die algemeenste rede wat deur oortreders aangevoer is dat hulle iets verniet wou hê.” Party jongmense het selfs hulle lang vingers geregverdig deur te redeneer dat die winkels ‘te duur is’!
Vir baie jongmense is diefstal eenvoudig ’n manier om verveeldheid te verlig. “Dit was net iets om ná skool te doen”, het ’n gewese dief met die naam Jeremy verduidelik. Dit lyk ook asof diefstal as ’n soort hoërisikosport dien; dit wil voorkom asof party dol is oor die sterk vloei van adrenalien wat hulle kry wanneer hulle ’n gesteelde bloes in ’n handsak indruk of ’n kompakskyf by ’n rugsak laat inglip.
Steek hulle pyn weg?
Daar is natuurlik baie veiliger maniere om verveeldheid te bowe te kom as om die risiko van tronkstraf te loop. Kan daar dalk meer agter hierdie soeke na opwinding steek as ’n begeerte na ’n bietjie pret? Baie deskundiges dink so. Die Ladies’ Home Journal het opgemerk dat sommige jongmense “dit moeilik vind om die druk van grootword te verwerk. ’n Rusie met hulle ouers, die beëindiging van ’n vriendskap, lae punte in ’n toets kan hulle laat voel dat hulle nie meer in beheer is nie; die verbreking van reëls gee hulle weer ’n gevoel van mag.”
Ja, agter die bravade van ’n dief kan daar baie hartseer en pyn skuil. Soos die Bybel dit stel: “Ook onder gelag kan die hart pyn ly” (Spreuke 14:13). Bewyse toon dat herhaalde winkeldiefstal ’n teken van depressie kan wees. Daar is selfs gemerk dat party jong diewe as kinders gemolesteer is. Wat die rede vir die pyn ook al mag wees, dit kan lyk asof die opwinding van steel die pyn onderdruk—ten minste vir ’n rukkie.b Neem byvoorbeeld een Amerikaanse jeugdige wat genot daaruit put om motors te steel en dit dan vir ’n wilde jaagtog te neem. “Dit voel goed”, sê hy. “Jy kry so ’n bang gevoel, so asof jy ‘hoog’ is.”
Portuurs en hulle druk
Die Bybel sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Hierdie waarheid word algemeen erken. Die skryfster Denise V. Lang het opgemerk: “’n Jongmens kom selde alleen in die moeilikheid.” Portuurs daag mekaar dikwels uit om iets te steel. Ongelukkig swig baie jongmense voor die druk.
“Ek het op hoërskool met ’n klomp meisies deurmekaargeraak”, sê jong Kathy. Wat was die prys van lidmaatskap van hulle eksklusiewe groep? Jy moes ’n duur sporttrui steel. “Ek wou in daardie groep wees, en dus het ek by ’n winkel ingegaan en my sporttrui gesteel”, erken sy.
Kry God se beskouing
Die vooruitsig om dinge te besit wat jy nie kan bekostig nie, om hoërisiko-opwinding te beleef of om deur jou portuurs aanvaar te word, laat dit moontlik aanloklik lyk om te steel. Maar een van die Tien Gebooie in die Bybel is: “Jy mag nie steel nie” (Exodus 20:15). Die apostel Paulus het geskryf dat ‘diewe nie God se koninkryk sal beërf nie’ (1 Korintiërs 6:10). God se beskouing moet veral belangrik wees vir jongmense wat as Christene grootgemaak is. Hoe skynheilig sal dit tog wees as ’n mens jou as regverdig voordoen, maar in die geheim ’n dief is! Die apostel Paulus het dit só gestel: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy?”—Romeine 2:21.
Die vernederende moontlikheid om in hegtenis geneem te word, is genoeg rede om diefstal te vermy. Ná hy in hegtenis geneem is, het ’n jong dief gesê: “Ek wou doodgaan.” Die wete dat Jehovah ‘roof haat’, is die vernaamste rede om nie te swig voor die drang—of druk—om te steel nie (Jesaja 61:8). Selfs al kan ’n mens diefstal vir winkelbeamptes, die polisie en jou ouers wegsteek, kan jy dit nie vir Jehovah wegsteek nie. Dit sal aan die lig kom.—Jesaja 29:15.
Onthou ook dat sonde ’n mens verhard (Hebreërs 3:13). Geringe diefstalle is geneig om in astranter en roekeloser dade oor te gaan. Jong Roger het byvoorbeeld sy lewe as misdadiger begin deur geld uit sy ma se handsak te steel. Op die ou end het hy bejaarde vroue omgestamp en hulle handsakke gesteel!
Hoe om die versoeking te weerstaan
Dit is weliswaar nie maklik om op te hou as jy in die geheim begin steel het nie. “Dit was ’n soort verslawing”, het een jeugdige erken. Wat kan ’n jongmens help om sy of haar weë te verander?
Bely jou sonde voor God. Hy sal dié wat berou toon oor hulle verkeerde dade en dit openlik bely ‘menigvuldiglik vergeef’.—Jesaja 55:7.
Kry hulp. Talle lesers van hierdie tydskrif is bekend met die Christengemeente van Jehovah se Getuies in hulle omgewing. Hulle kan die plaaslike Christenopsieners nader en geestelike hulp en dissipline vra (Jakobus 5:14, 15). Ouers met goeie morele beginsels kan ook ’n bron van hulp en ondersteuning wees. As gekrenktheid, pyn of blote verveeldheid agter die wangedrag sit, kan dit jou baie help om met ’n medelydende luisteraar daaroor te praat.—Spreuke 12:25.
Vergoeding. Onder die Mosaïese Wet moes diewe gesteelde goedere met rente terugbetaal (Levitikus 6:4, 5). As jy dieselfde doen, sal dit jou nie net help om ’n skoon gewete te verkry nie, maar dit sal jou ook help besef wat jy aan ander doen wanneer jy steel. Die Bybel belowe dat iemand wat ‘vergoed wat geroof is en in die insettinge van die lewe wandel sekerlik sal lewe, hy sal nie sterwe nie’.—Esegiël 33:15.
Onderdruk gevoelens van jaloesie en hebsug. Die laaste van die Tien Gebooie is: ‘Jy mag nie iets wat van jou naaste is, begeer nie’ (Exodus 20:17). As daar iets is wat jy werklik nodig het—of wil hê—maar nie kan bekostig nie, kan jy miskien na ’n manier soek om die geld te verdien om dit te koop. Die apostel Paulus se raad was: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer harde werk doen deur met sy hande werk te doen wat goed is.”—Efesiërs 4:28.
Let op jou vriende. “As jy saam met ’n vriend of groep vriende is wat iets doen wat verkeerd is of ’n misdaad pleeg”, sê die skryfster Denise Lang, “sal jy ook as skuldig beskou word, bloot omdat jy saam met hulle op die toneel was.” Jy moet die krag hê om nee te sê wanneer jou portuurs iets voorstel wat onwettig is.—Spreuke 1:10-19.
Dink aan die skade wat diefstal ander berokken. ’n Dief dink net aan homself. Maar Jesus gee ons die raad: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Wanneer ’n mens leer om vir ander mense om te gee, is ’n mens minder geneig om iets te doen wat ander skade kan berokken.
Dink aan die gevolge vir jou (Galasiërs 6:7). Pleks van te dink aan hoe lekker dit sal wees om daardie blink artikel of toestel te besit, moet jy dink aan hoe vernederend dit sal wees as jy gevang en in hegtenis geneem word; dink aan die oneer wat dit jou ouers en God sal aandoen! Jy sal beslis tot die gevolgtrekking kom dat dit op die ou end nie so ’n goeie idee is om te steel nie.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Ons bespreek nie kleptomanie nie—’n geestesiekte wat gekenmerk word deur ’n kompulsiewe drang om te steel. Dokters sê kleptomanie is seldsaam, en minder as 5 persent van die winkeldiewe wat aan hulle bekend is, ly daaraan. Die siekte word dikwels met geneesmiddels behandel.
[Prent op bladsy 18]
Winkeldiewe moet dikwels die vernedering daarvan verduur om gevang te word