My suksesvolle soeke na die betekenis van die lewe
DIT was 1951. Skares mense het al met die strate langs gestaan om talle vooraanstaande verhoog- en rolprentsterre te sien terwyl die een limousine na die ander na die Kunsteater in Beverly Hills, Kalifornië, gery het. Dit was die eerste vertoning van die rolprent A Place in the Sun, wat op my neef, Theodore Dreiser, se beroemde roman An American Tragedy gebaseer was. Dit was daardie jaar een van Paramount Pictures se rolprente wat ’n goeie kans gestaan het om ’n Academy Award te wen en was onder spelleiding van George Stevens, een van hulle beste regisseurs. Drie van die beroemdste sterre van daardie tyd het daarin gespeel, naamlik Elizabeth Taylor, Montgomery Clift en Shelley Winters. Waarom was ek daar in een van daardie groot limousines wat verby skares skreeuende mense gery het? En waarom het dit vir my gevoel asof ek nie in daardie omgewing hoort nie? Kom ons gaan terug na die begin en kyk hoe dit alles gebeur het.
Ek is gedurende een van die betekenisvolste tydperke in die geskiedenis gebore—Oktober 1914. Op die 20ste dag van daardie maand, om en by halfvyf die middag, in ons huis in Seattle, Washington, het die dokter by my geboorte gehelp.
Destyds het ons gesin op Alki Beach gewoon, in ’n gebied wat Bonair genoem is. Daar was kort voor lank vyf in ons gesin, wat bestaan het uit my ouers, my ouer broer asook ’n jonger een en ek. Ons het in ’n groot, pragtige huis gewoon wat op die strand uitgekyk het en ’n skilderagtige omgewing geskep het van waar ons na die skepe en veerbote kon kyk wat die water van die Puget-sont tussen Seattle se middestad en ander stede langs die kus bevaar het.
Ná die ineenstorting van die aandelemark in 1929 het die ekonomiese situasie so versleg dat ons ons huis op Alki Beach vir ’n kruidenierswinkel in Seattle se Highlandpark verruil het, wat ons van ’n klein inkomste gedurende die Depressiejare voorsien het.
My ma het in 1938 gesterf en my pa moes dus op sy eie na die winkel omsien. Ek het by hom aangesluit in die onderneming, en ons het dit in ’n moderne kruidenierswinkel omskep. Ons het spoedig ’n florerende onderneming gehad.
Toe, op 7 Desember 1941, is Pearl Harbor aangeval, en kort daarna het die oproep vir krygsdiens en die Tweede Wêreldoorlog my in die gesig gestaar. Ons moes die onderneming verkoop, wat my pa van ’n bietjie geld voorsien het om van te leef, en ek het net ’n paar dae voordat ek opgeroep sou word by die weermag aangesluit. Die feit dat ek by die weermag aangesluit het, het my gewete gepla, om dit maar saggies te stel, en ek onthou hoe ek tot God gebid het dat ek niemand sal hoef dood te maak nie. Nadat ek basiese opleiding ontvang het, is ek na die Vervoerkorps gestuur. Ek is uiteindelik tot tweede luitenant benoem.
My omgang met Theodore Dreiser
Dit was nou al 1945 en ek is na die Los Angeles-inskepingshawe gestuur waar ek as ’n vragbeveiligingsoffisier op skepe gedien het wat deur die weermag gehuur is om voorrade en ’n paar troepe na plekke in die Stille Oseaan te neem. Wanneer ek nie aan diens was nie, het ek soms my neef Theodore Dreiser en sy vrou, Helen, besoek. Hulle het ’n groot huis in Wes-Hollywood gehad en was tydens sulke geleenthede baie gasvry teenoor my. Dreiser was baie weetgierig en het daarvan gehou om my te pols oor wat ek van die plekke gedink het wat ek besoek het.
Dreiser het natuurlik geweet dat ek ook ’n neef was van die kongreslid Martin Dies van Texas, die voorsitter van die Dies-komitee, die voorloper van die Komitee teen Onamerikaanse Bedrywighede. Baie van die skrywers en ander beroepsmense van die rolprentbedryf is oor die kole gehaal omdat hulle tot Kommunisme geneig was, en Dreiser is nie oorgesien nie, aangesien dit bekend was dat hy simpatiek gestaan het teenoor die Russe. Tydens een van my eerste besoeke het hy my dus gevra: “Is jy dit eens met daardie neef van jou, Martin Dies?” Ek het hom die versekering gegee dat ek niks met Martin of enige van sy politieke oogmerke te doen het nie, wat my verhouding met Dreiser op ’n vriendskapliker voet gebring het.
Nadat Japan op 2 September 1945 oorgegee het, het ek besluit om nog ’n rukkie in die weermag te bly, aangesien dit my die geleentheid gebied het om talle interessante wêrelddele te sien. Ek is kort daarna tot eerste luitenant bevorder en oor die voorraaddepot aan boord een van die groot troepeskepe aangestel. Terwyl ek in Japan was, het ek verlof geneem en deur Japan gereis van Jokohama af tot Hirosjima, waar die atoombom die stad vernietig het.
Die oggend toe ek in Hirosjima aangekom het, het ek mense gesien wat nog in die park geslaap het omdat hulle nie huise gehad het nie. Ek het natuurlik baie ongemaklik gevoel terwyl ek daar rondgeloop het, aangesien dit duidelik was dat so te sê almal wat ek teëgekom het familielede en vriende in daardie verskriklike slagting verloor het. Die pyn wat ek in hulle gesigte gesien het, sowel as die werklike of vermeende haat in hulle oë teenoor dié van ons in uniform, was hartverskeurend.
Ek begin my soeke na die betekenis van die lewe
As gevolg van Hirosjima en die baie gevalle van siekte en armoede wat ek gesien het, het ek oor die betekenis van die lewe begin redeneer. Terwyl ek op skepe op die see was, het ek baie tyd gehad om oor sulke dinge te dink. Ek het soms met die kapelaan op die skip gepraat om te sien of hy party van my vrae oor die ongeregtighede van die lewe kon beantwoord. Nie een van daardie kapelane het enige bevredigende antwoorde gehad nie.
Theodore Dreiser is in Desember 1945 oorlede, ná hy ’n leeftyd daaraan bestee het om na die betekenis van die lewe te soek. In sy essay met die titel “My Skepper” het hy uiteindelik erken dat hy toe geensins nader aan die oplossing was as aan die begin nie. Helen Dreiser, sy weduwee, wat ook een van my niggies was, het aan haar outobiografie gewerk, en dit sou die titel My Life With Dreiser hê. Sy het my aanhoudend gevra om Hollywood toe te kom sodat ek haar kon help met die redigering van haar manuskrip en kon omsien na van die sake-aangeleenthede met verskillende agente in verband met die publisering van Theodore se werke, wat in baie lande verskyn het. Ek het dus in Desember 1947 die weermag verlaat en op die Dreiser-landgoed in Wes-Hollywood gaan woon.
Maar ek het nie my soeke na die betekenis van die lewe laat vaar nie. Helen Dreiser was ook op soek na ’n geestelike begrip van die lewe, en gevolglik het ons verskillende groepe begin besoek om iets te vind wat sin maak. Geeneen van die groepe het enige bevredigende antwoorde gehad nie.
Later, terwyl ons Helen se moeder in Gresham, Oregon, besoek het, is ek aan een van Jehovah se Getuies voorgestel wat die elektriese orrel in party van die groot hotelle in Portland gespeel het. Ons het oor godsdiens begin praat, en baie van die dinge wat hy gesê het, het geklink of dit sin maak. Toe hy voorgestel het dat een van hulle bedienaars my besoek wanneer ons weer na Los Angeles teruggekeer het, het ek geredelik ingestem.
Ná ons terugkeer na Los Angeles is ons kort voor lank deur een van Jehovah se Getuies besoek. Hy het gereël dat ’n ander Getuie en sy vrou, wat albei pioniers (voltydse bedienaars) was, ’n weeklikse Bybelstudie met ons hou. Weens party van my vooropgesette menings het die studie aanvanklik nie so goed gevlot nie, maar my besware is gou uit die weg geruim deur logiese redenering wat op die Bybel gegrond was.
Dit was nou vroeg in 1950 en daar was op daardie tydstip groot belangstelling in Dreiser se werk. Paramount Pictures was besig om rolprente van twee van Dreiser se bekendste romans te maak: An American Tragedy, wat A Place in the Sun genoem sou word en in 1951 vrygestel sou word, en Sister Carrie, wat daarna vrygestel sou word en in die rolprentbewerking Carrie genoem sou word. Hierdie rolprente deur Paramount Pictures het twee agtereenvolgende jare ’n goeie kans gestaan om ’n Academy Award te wen. Dit was dus ’n belangrike jaar vir Helen, en ná sy haar manuskrip met die titel My Life With Dreiser voltooi het, het sy New York-stad toe gegaan waar sy saam met die amptenare van die World-uitgewersmaatskappy sou vergader, wat haar manuskrip sou publiseer.
Ek was oortuig dat ek die betekenis van die lewe gevind het
Terwyl sy weg was, het ek my studie van die Bybel voortgesit, en met verloop van tyd het ek die geleentheid gehad om van huis tot huis te gaan en oor die Bybel te praat. Teen die tyd dat Helen Dreiser van New York af teruggekeer het, was ek oortuig dat ek uiteindelik die betekenis van die lewe waarna ek gesoek het, gevind het. Maar tot my verbasing het Helen gesê dat sy niks meer met die Bybelstudie te doen wou hê nie! Haar omgang in New York het haar blykbaar daarvan oortuig dat wat sy uit die Bybel geleer het nie by die wêreld gewild was nie. Sy het dit duidelik gestel: “Dit sluit alle ander dinge uit.” Sy het dus geweier om die Bybel enigsins verder saam met ons te bestudeer.
Teen hierdie tyd was dit duidelik dat dit in stryd met die waarheid sou wees om in die reserwemagte te bly. Ek was vasbeslote om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word. ’n Spesiale doopplegtigheid is vir my gereël by die huis van ’n Getuie wat ’n swembad gehad het. Nadat ek my aan Jehovah toegewy het, is ek op 19 Augustus 1950 gedoop. Ek het toe aan die weermag geskryf om hulle in kennis te stel dat ek nie langer in die reserwemagte kon dien nie, aangesien ek ’n geordende bedienaar is. Hoewel my bedanking aanvanklik geweier is, het ek ’n paar maande later ’n eervolle ontslag gekry.
Intussen het Paramount Pictures op die punt gestaan om A Place in the Sun vry te stel, en ek en Helen is na ’n klein dinee genooi waar die regisseur George Stevens as gasheer opgetree het. Ons is in kennis gestel dat die wêreldpremière in die Kunsteater in Beverly Hills gehou sou word, en reëlings is getref dat Helen, as die vrou van die skrywer, by ons aankoms by die teater oor ’n landwye radiokoppeling sou praat. Dit sou my niggie se groot aand wees, en daar is van my verwag om haar te vergesel. Toe die tyd dus aangebreek het, het ons ’n limousine gehuur, en in ons deftige klere is ons na die teater toe. Ons het stadig verby die skares mense gery wat al met die strate langs gestaan het in die hoop dat hulle van die beroemde rolprentsterre sou sien wat na verwagting vir die vertoning sou opdaag.
Hoe het ek oor my aandeel aan daardie spoggerige vertoon gevoel? Ek het voorheen sulke gebeurtenisse in rolprente gesien en het gewonder hoe dit sou wees om so in die kollig te wees. Maar noudat ek kennis van die waarheid opgedoen het, het ek gevoel dat ek nie daar hoort nie. Ek het moontlik besef dat Jehovah sulke dinge afkeur in die lig van wat die Bybel in 1 Johannes 2:16 sê: “Die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele . . . het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.” Dit was maklik om te sien dat sulke glans en betowering in stryd was met my nuwe Christelike lewenswyse. Hoewel ek die uitstekende rolprent geniet het, was ek verlig toe dit alles verby was.
Helen Dreiser het kort daarna ’n beroerteaanval gekry wat haar gedeeltelik verlam het. ’n Tweede aanval het dit vir haar onmoontlik gemaak om enigsins verder na sake-aangeleenthede om te sien. Haar suster, Myrtle Butcher, het aansoek gedoen om toestemming te verkry om haar oppasser te wees en wou haar na haar eie huis in Gresham, Oregon, neem. Ek het nie teen die aansoek beswaar gemaak nie, aangesien ek gedink het dat dit in Helen se belang sou wees, wat baie sorg nodig sou hê wat deur haar suster voorsien kon word. Ek was dus nou sonder werk. Wat sou ek doen? Ek het vertroue gehad in Jesus se belofte in Matteus 6:33: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Aangesien my pa ’n paar maande tevore gesterf het en ek nou net na myself moes omsien, wou ek Jehovah voltyds dien. Ek is so te sê onmiddellik beloon toe ek deeltydse werk aangebied is, wat my presies gegee het wat ek nodig gehad het om Jehovah as ’n voltydse bedienaar van die goeie nuus van God se Koninkryk te begin dien. Soos Jesus gesê het, sorg Jehovah al meer as 42 jaar vir my terwyl ek in sy voltydse diens is.
In die somer van 1953 het ek my eerste internasionale streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in die Yankee-stadion in New York-stad bygewoon, en wat ’n opwindende ondervinding was dit tog nie! Ek het toe al feitlik my eerste jaar as ’n pionier voltooi, en hoewel ek baie gelukkig was in daardie evangelisasiewerk het ek die begeerte gehad om ’n selfs groter aandeel aan die Koninkryksdiens te hê. Ek het vroeër ’n aansoek ingegee vir voltydse diens by die Genootskap se hoofkwartier, en nou het ek ook by hierdie streekbyeenkoms ’n aansoek ingegee om na die Wagtoring-Bybelskool Gilead te gaan vir opleiding as ’n sendeling. Kort nadat ek na Los Angeles teruggekeer het, was ek baie verras om ’n uitnodiging te ontvang om by die Genootskap se hoofkwartier, wat Bethel genoem word, te dien!
Op 20 Oktober 1953 het ek met gemengde gevoelens by Bethel opgedaag en gewonder hoe dit sou wees en of ek daar net so gelukkig sou wees as wat ek as ’n pionier was. Maar gedurende die afgelope 41 jaar van my Betheldiens was ek nog nooit spyt dat ek daardie besluit geneem het nie. Die talle voorregte wat ek hier by Bethel geniet het, het my baie groter vreugde en geluk verskaf as wat ek ooit in enige ander vorm van Koninkryksdiens sou kon ervaar.
Helen Dreiser is in 1955 oorlede, en ek is as eksekuteur en uiteindelik as trustee van haar boedel aangestel. Toe Theodore Dreiser sy testament opgestel het, het hy alles aan sy vrou nagelaat, en die hantering van haar boedel het die kopieregte tot al sy werke ingesluit. Helen het my vertel dat Dreiser die Bybel gereeld gelees het, en toe ek sy biblioteek deurgegaan het, het ek opgelet dat hy soms aantekeninge in die kantlyn van sy Bybel gemaak het oor ’n alternatiewe weergawe in een van die ander Bybelvertalings.
Dreiser en Jehovah se Getuies
Ek het natuurlik niks omtrent Jehovah se Getuies geweet toe ek besprekings met Dreiser gehad het nie, maar ek het later uitgevind dat hy bewus was van Jehovah se Getuies se neutrale standpunt. In sy boek met die titel America Is Worth Saving het hy hulle geprys vir hulle standpunt oor die vlagsalueringskwessie. Dreiser was nie bang om ’n ferm standpunt vir sy oortuiging in te neem nie, en as ek die Bybel geken het soos ek dit nou ken, sou ons waarskynlik ’n paar baie interessante besprekings gehad het.
As ek nou terugkyk op die 45 jaar vandat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, kan ek werklik sê dat ek die betekenis van die lewe waarna ek gesoek het, gevind het. My vrae oor die ongeregtighede van die lewe is bevredigend beantwoord deurdat ek geleer het dat die god en heerser van hierdie wêreld Satan die Duiwel is, en nie die liefdevolle, almagtige God, Jehovah, nie (Johannes 14:30; 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 4:8). En wat ’n rede tot blydskap was dit tog om te leer dat God se Koninkryk in Oktober 1914 in die hemele opgerig is en om te weet dat dit binnekort die heerskappy oor die aarde sal oorneem en die werke van die Duiwel tot niet sal maak!—1 Johannes 3:8; Openbaring 20:10.
Intussen kan kennis van die Soewereine Heer Jehovah, om ’n persoonlike verhouding met hom te hê en om ’n betekenisvolle lewe in sy Koninkryksdiens te lei met die pêrel vergelyk word wat ’n koopman in sy reise gevind het. Die pêrel was so waardevol dat hy alles wat hy gehad het dadelik verkoop het net om dit te besit.—Matteus 13:45, 46.
Aangesien ek so ’n skat gevind het, waardeer ek die psalmis Dawid se woorde: “Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Psalm 27:4).—Soos vertel deur Harold Dies.
[Prent op bladsy 20]
Die feit dat ek by die weermag aangesluit het, het my gewete gepla, om dit maar saggies te stel
[Prent op bladsy 23]
Ek dien sedert 1953 in Bethel