Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen vrouepriesters
  • “Dood in ’n laai”
  • Minder diere
  • Vragmotorbestuurders versprei vigs
  • Watter vredesdividende?
  • Belangstelling in godsdiens neem af
  • Seëninge te koop
  • Hoe om aggressiewe bestuurders te hanteer
  • Die Wêreldbeker en God
  • ’n Gesukkel vir kort mense
  • Vermoeidheid—’n Onsigbare strik vir vragmotorbestuurders
    Ontwaak!—1997
  • Ordening van vroue maak Anglikaanse geestelikes woedend
    Ontwaak!—1995
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 3/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Geen vrouepriesters

Hoewel ’n Gallup-opname getoon het dat meer as twee derdes van die Katolieke Kerk se lidmate wat ondervra is, gemeen het dat vroue toegelaat moet word om priesters te word, het pous Johannes-Paulus II ferm aan die Katolieke gesê om daardie idee te laat vaar. In ’n brief aan biskoppe het die Pous gesê: “Ek verklaar dat die kerk absoluut geen gesag het om vroue tot priesters te orden nie en dat al die kerk se getroues aan hierdie beslissing gehoor moet gee.” Die pouslike brief getiteld “Insake priesterlike ordening wat net tot mans beperk word” het ’n bygaande amptelike verklaring gehad wat bygevoeg het: “Aangesien dit nie ’n saak is wat vryelik betwis mag word nie, vereis dit altyd die volle en onvoorwaardelike aanvaarding van die getroues, en om die teenoorgestelde te leer, is gelykstaande daaraan om gewetes tot dwaling te lei.” Twee maande tevore is 32 vroue in die Anglikaanse Kerk tot priesters georden—die eerste vrouepriesters in die geskiedenis van daardie kerk. Daarop het ongeveer 700 lede van die Anglikaanse geestelikes gesê dat hulle van plan is om hulle tot Rooms-Katolisisme te bekeer, hoewel slegs 35 bedank het. Party Vatikaanse amptenare meen dat die Pous se brief gedeeltelik bedoel is om aan die andersdenkende Anglikaanse priesters te sê dat hulle welkom in die Rooms-Katolieke Kerk is.

“Dood in ’n laai”

“In die groot stede word die versoeking al hoe groter om ’n wapen in die huis te hê”, sê Veja onder die opskrif “Dood in ’n laai”. Maar ’n Brasiliaanse skerpskutter sê: “Niemand is vrygestel van ongelukke met vuurwapens nie, en die enigste manier om dit te vermy, is om nie ’n vuurwapen te koop nie.” Aangesien misdadigers moontlik beter vertroud is met vuurwapens en mense verras, “is die kanse baie klein dat alles goed sal afloop vir die een wat beplan om homself tydens ’n konfrontasie te verdedig”. ’n Polisiebeampte sê: “Wanneer ’n persoon nie gewapen is nie, sal hy ’n konfrontasie met intelligensie probeer wen, en nie met aggressie nie.”

Minder diere

Zimbabwe het eens op ’n tyd die grootste aantal swartrenosters ter wêreld gehad. Maar die syfer het van nagenoeg 3 000 in 1980 tot ongeveer 300 vandag afgeneem, berig die Johannesburgse koerant The Star. Wilddiewe hou aan om die diere vir hulle kosbare horings te jag. In onlangse jare het die regering streng wetgewing uitgevaardig wat die amptenare van die parke-afdelings die gesag gee om wilddiewe dood te maak. Die probleem is dat die regering die Departement van Nasionale Parke en Natuurlewe nie van genoeg fondse kan voorsien om die renostergebied doeltreffend te patrolleer nie. The Star berig dat wilddiewery veroorsaak het dat “Zimbabwe se olifantbevolking van 80 000 tot ongeveer 60 000 in die afgelope dekade [afgeneem het]”.

Vragmotorbestuurders versprei vigs

In Indië word vragmotorbestuurders as ’n hoërisikogroep beskou om die vigs-virus (HIV) op te doen. Duisende bestuurders wat lank van hulle gesinne af weg is, besoek gereeld die bordele van Bombaai, waar na raming van 50 tot 60 persent van die 80 000 prostitute wat daar werk moontlik HIV-positief is. Van Bombaai af dek die vragmotorbestuurders die hele land. Party dorpies naby die hoofweë het rye hutte waar plattelandse meisies geld verdien deur seks met die vragmotorbestuurders te hê. Hierdie selfde gebiede word ook deur ryk jong mans van nabygeleë stede besoek, en soos The Times of India sê, “skep [dit] ’n ingewikkelde netwerk vir die virus wat nie nagespoor kan word nie”. Wat die probleem vererger, is dat baie vragmotorbestuurders bygelowig glo dat seks noodsaaklik is om hulle liggaam koel te hou wanneer hulle baie ure lank in hoë temperature bestuur.

Watter vredesdividende?

“Wat het van die verwagte ‘vredesdividende’ geword?” het die Franse tydskrif Valeurs Actuelles gevra. Met die afname in spanning wat met die Koue Oorlog gepaardgegaan het en die ooreenkomstige besnoeiing van die verdedigingsbegroting van baie regerings, is die verwagtinge gewek dat ten minste ’n deel van die ontsaglike bedrae geld wat voorheen aan wapentuig bestee is nou vir humanitêre programme aangewend sou word om armoede en siekte te help beveg. Met verwysing na die VN se jongste Human Development Report sê die tydskrif dat die besnoeiing van militêre uitgawes gedurende die afgelope sewe jaar ’n kumulatiewe “besparing” van ongeveer 3 394 miljard rand uitmaak, en tog was daar geen gepaardgaande toename in die besteding aan humanitêre programme nie. Die verslag het ook gesê dat baie lande steeds van drie tot vier keer meer aan wapentuig bestee as wat hulle gesamentlik aan opvoeding- en gesondheidsprogramme bestee.

Belangstelling in godsdiens neem af

Die Japannese raak al hoe onverskilliger teenoor godsdiens, sê ’n opname wat deur die koerant Jomjoeri Sjimboen gedoen is. Volgens sy “Opname van Nasionale Godsdiensbewustheid”, wat sedert 1979 elke vyf jaar gedoen word, het die verhouding van diegene wat in ’n bepaalde godsdiens glo onlangs ’n rekordlaagtepunt van 1 uit 4 bereik. Waarom neem mense se belangstelling in godsdiens af? Dit is verbasend dat 47 persent van diegene wat ondervra is, gekla het dat godsdienste “te ywerig probeer geld maak”. Ander het godsdienste beskuldig van “aggressiewe prediking”, “te veel betrokkenheid by die politiek” en “godsdiensleiers wat nie respek waardig is nie”. Maar “44 persent het gedink dat God of Boeddha ‘bestaan’”.

Seëninge te koop

Baie priesters van die Russies-Ortodokse Kerk wat met ’n nypende tekort aan fondse te kampe het, het begin om seëninge te verkoop, hoewel nie alle priesters dit met die openlikheid van hierdie saak eens is nie. The Moscow Times haal een Russies-Ortodokse priester aan wat gesê het: “Baie kerke het ’n groot behoefte aan geld vir restourasie.” Daarom seën priesters winkels, woonstelle, kroeë en casino’s teen ’n prys. Motors word ook geseën. Na gelang van die soort motor vra ’n priester, wat naby ’n tweedehandse motorhandelaar werk, van 30 000 tot 50 000 roebel (R55 tot R90) vir seëninge, wat gebede, wierook en die besprinkeling van “heilige water” insluit.

Hoe om aggressiewe bestuurders te hanteer

’n Bestuurder jaag by jou verby en ry aggressief voor jou in of hy flits sy ligte dat jy moet padgee en maak aanstootlike tekens terwyl hy verbyry. As jy verkeerd reageer, sê die deskundiges, kan dit jou jou lewe kos. Hulle beveel die volgende aan, volgens die Suid-Afrikaanse uitgawe van Reader’s Digest: Neem ’n kalm, niekompeterende gesindheid aan. Konsentreer op hoe jy bestuur en vermy oogkontak met die ander bestuurder. Kyk elke drie tot tien sekondes in jou spieëls. Identifiseer die gevaar voordat dit by jou uitkom, en maak voorsiening daarvoor. Verminder spoed sodat ’n bestuurder voor jou kan inry of skakel jou flikkerlig aan en beweeg oor na ’n oop baan. “Jou reaksie op die volgende aggressiewe bestuurder”, sluit die artikel af, “kan die sleutel tot jou veiligheid, en selfs tot jou oorlewing, wees.”

Die Wêreldbeker en God

“In die stryd om [Brasilië se] vierde Wêreldbeker [vir sokker] te wen, is allerhande godsdienstige gebruike aan die orde van die dag”, berig die Jornal da Tarde. “Ritusse word voor, gedurende en ná die wedstryde waargeneem.” Brasilië se Bebeto het gesê: “Ek is seker dat [God] Brasilië in hierdie Wêreldbeker sal ondersteun.” Toe hy ná die wedstryd gesien het dat die spelers die oorwinning aan God toeskryf, het kardinaal Dom Lucas Moreira Neves geskryf: “Vir baie het die verowering van die Wêreldbeker moontlik persoonlike, gesins- of sosiale waarde . . . : herwinning van eiewaarde en selfvertroue; vertroosting te midde van baie pyn; en dit is selfs ’n katarsis [sedelike reiniging] vir ’n verwaarloosde land.” Dit is egter interessant dat die sokkerster Mauro Silva gesê het: “Anders as party spelers van Brasilië se span, glo ek nie dat God ons gehelp het om die Wêreldbeker te wen nie. God is nie partydig nie en hy stel selfs minder belang in sokker.”

’n Gesukkel vir kort mense

Mense in Duitsland wat nie langer as 1,5 meter is nie, kom in aanmerking vir lidmaatskap by die Vereniging vir Kort Mense, berig die Süddeutsche Zeitung. Sabine Popp, een so ’n lid, hou nie daarvan om ’n dwerg of ’n Lilliputter genoem te word nie. “Ons is regte mense, nie karakters uit sprokiesverhale nie”, sê sy. Die alledaagse lewe kan vir kort mense ’n gesukkel word, aangesien dinge soos hyserknoppies, ligskakelaars, kaartjiemasjiene en deurknoppe dikwels so hoog geplaas word dat hulle buite bereik is. Daarbenewens is die probleme waarvoor kort mense te staan kom nie net fisies nie. Harald Berndt, die voorsitter van die vereniging, sê dat die gemeenskap oor die algemeen nie aan hulle vermoëns erkenning gee nie. “Kort mense kan goeie werk verrig ondanks hulle grootte”, verduidelik hy.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel