Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/8 bl. 8-9
  • Loop op sand—na beter gesondheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Loop op sand—na beter gesondheid
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geniet die voordele van albei
  • ’n Woordjie van waarskuwing
  • Die wonder van sand
    Ontwaak!—2003
  • ’n Kykie na die sku woestynkat
    Ontwaak!—2013
  • Waarom is dit goed om te stap?
    Ontwaak!—2004
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 3/8 bl. 8-9

Loop op sand—na beter gesondheid

DEUR “ONTWAAK!”-MEDEWERKER IN HAWAII

OM TEEN ’n flinke pas te stap, is al een van die beste soort oefeninge genoem. Daar word beweer dat ’n flink stappie, onder meer, kardiale reserwe vermeerder, bloeddruk verminder, sirkulasie en veltonus verbeter asook bene en spiere versterk.

Maar soos enigeen weet wat dit al probeer het, het dit ook ’n nadelige uitwerking op die voete om teen ’n flinke pas te stap—eelte, liddorings, blase en selfs ernstiger voetbeserings. Dit is dikwels te wyte daaraan dat ’n mens oefenskoene dra wat nie goed pas nie. As jy al ooit seer voete gehad het, weet jy hoe ongemaklik, selfs pynlik, dit kan wees. Trouens, die toestand van jou voete kan die gesondheid van jou hele skeletstelsel beïnvloed.

Geniet die voordele van albei

Jy hoef dalk nie te ly nie. “Studies oor bevolkings in Afrika en Asië wat nie skoene dra nie, het tot die slotsom gekom dat mense wat nie skoene dra nie gesonder voete, minder gebreke en groter beweeglikheid het as mense in gemeenskappe wat wel skoene dra”, sê ’n ortopedis. Blykbaar kan jy die voordele van albei geniet as jy êrens flink oefening kan doen terwyl jy kaalvoet loop. Daardie keuse is eintlik vir baie mense beskikbaar—om op die droë sand van ’n skoon strand of op sandduine te loop.

“’n Goeie oefening om die voete as ’t ware te masseer, is om kaalvoet op ’n sanderige strand te loop”, sê The Arthritis Exercise Book, “veral wanneer die sand warm is. Deur in los, droë sand te loop, kry elke spier van die voet oefening namate die voet aan die onegalige oppervlak gewoond raak.” Daarbenewens verbruik dit byna dubbel soveel energie om op sand te loop as om op gras of op ’n sypaadjie te loop. Trouens, probeer gerus om op sand te hardloop en jy sal gou agterkom watter inspanning dit vereis! “’n Flink stappie langs die strand sou beslis uitstekend wees as ’n inspanningsoefening in programme wat ontwerp is om [kilojoules] te ‘verbrand’ of fisiologiese fiksheid te verbeter”, is die slotsom waartoe die boek Exercise Physiology—Energy, Nutrition, and Human Performance kom.

Om dus kaalvoet op die sand te loop, hou nie net die voordele van ’n gesonde oefenroetine in nie, maar dit verminder ook slytasie van voet- en beengewrigte. Vir diegene met geringe artritis verlig dit die pyn wat deur oefening veroorsaak word.

’n Woordjie van waarskuwing

Hou egter hierdie waarskuwings in gedagte voordat jy jou na die naaste strand of sandduin haas. Maak seker dat die sand waarop jy kaalvoet loop redelik skoon en vry van skerp voorwerpe is. Indien jy enige ernstige gesondheidsprobleme het, soos diabetes of hartsiekte, moet jy jou dokter raadpleeg voordat jy enige nuwe soort oefening aanpak. En soos met enige oefenprogram moet jy jou stap in die sand teen ’n matige pas begin en jou spoed geleidelik oor ’n tydperk van weke vermeerder. Dit sal waarskynlik tot ’n veiliger en genotvoller oefenroetine vir jou lei.

Om kaalvoet in die sand te loop, is meer as net pret; dit is dalk net die begin van beter gesondheid vir jou en jou voete. En wie weet wat jy dalk nog selfs op die strand of in die vlak water sal ontdek—skulpe, vissies, hermietkrefies en allerhande soorte voëls en insekte. Let dus op na wat om jou aangaan, en geniet jou stappie!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel