Ons beskou die wêreld
Die raaisel van die “hondeselfmoord”
Die mense van Rosario, Argentinië, is op soek na ’n geloofwaardige verklaring vir wat blykbaar ’n vlaag van “hondeselfmoordpogings” in daardie stad is. Die probleem is veral opgemerk by Rosario se gewilde park wat as die Parque de España bekend staan. ’n Wandelpad in daardie park is ongeveer 27 meter bo die Paranárivier. Gedurende een jaar was daar ongeveer 50 gevalle waarin honde skielik van hulle eienaars losgeruk het, reguit na die rand van die wandelpad gehardloop het en na ’n gewisse dood gespring het. Maar volgens kenners kan honde nie besluit om hulle eie lewe te neem nie. Veeartse dink eerder dat ultraklanke of die beweging van voëls of bote in die rivier die honde lok. Hulle hardloop na die rand toe, maar voordat hulle dit besef, val hulle in die kloof af.
Persoonlike veiligheidstoestelle
Volgens The Toronto Star skaf al hoe meer Kanadese draagbare veiligheidstoestelle vir beskerming aan. Van die gewilde items is “geraasmakers” of “skreeuers”—persoonlike alarms wat hoëfrekwensieklanke uitstuur. Daar is ook spuitkannetjies met onwelriekende chemikalieë beskikbaar wat bedoel is om die aanvaller af te skrik, asook aërosolkleurstowwe waarmee die aanvaller, wat groen gespuit is, later maklik uitgeken kan word. Die Star erken egter dat “persoonlike veiligheidsapparaatjies nie kan waarborg dat ’n mens nie ’n slagoffer van geweld sal word nie. Verstandige voorsorgmaatreëls kan volgens die polisie belangriker wees as tegnologie.”
Gesondheidsgevare van boerdery
Swamdoders, onkruiddoders en plaagdoders het boere gehelp om die verlies van hulle oeste te verminder. Maar ’n verslag deur die Internasionale Arbeidsorganisasie sê dat landbouchemikalieë elke jaar regstreeks vir die dood van ongeveer 40 000 plaasarbeiders verantwoordelik is. Daar word geraam dat hierdie chemikalieë die gesondheid van nog 3,5 miljoen tot 5 miljoen mense ernstig benadeel.
Anglikaanse priesters en hulle mensgemaakte god
Die Anglikaanse Kerk het onlangs een van sy geestelikes ontslaan. Die priester het openlik ongeloof verkondig in ’n bonatuurlike God, in die gesag van die Bybel en in Jesus as ’n verlosser. Ten spyte van sy openlike verontagsaming van Bybelleringe en kerkleerstellings het sy ontslag ’n simpatieke reaksie by ander priesters uitgelok. Vyf-en-sewentig Anglikaanse geestelikes het ’n openbare brief onderteken wat versoek het dat die betrokke man toegelaat word om as ’n priester te bly dien. Party priesters beweer dat daar honderde mede-Anglikaanse geestelikes is wat nie aan ’n bonatuurlike God glo nie.
Wêreldwye onveiligheid
In verband met die naderende Wêreldberaad vir Sosiale Ontwikkeling in Maart 1995 het die VNOP (Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram) ’n nuusbrief vrygestel waarin kommer oor die mens se veiligheid uitgespreek word. Die nuusbrief, wat sy verslag baseer op die Human Development Report 1994, het gesê dat “omtrent 90 persent van alle oorlogslagoffers aan die begin van hierdie eeu soldate was. Vandag is omtrent 90 persent burgerlikes—’n rampspoedige ommekeer.” Die VNOP erken dat ’n mens se veiligheid bedreig word ongeag waar jy woon. Die Human Development Report het bygevoeg dat “hongersnode, etniese konflikte, sosiale verbrokkeling, terrorisme, besoedeling en dwelmhandel nie meer geïsoleerde gebeure is wat tot nasionale grense beperk is nie. Die gevolge daarvan kan wêreldwyd gevoel word.”
Rondloper veg-bulterriërs
Baie stede in die ooste van die Verenigde State ondervind al hoe meer probleme met gevaarlike veg-bulterriërs wat in die strate rondloop, volgens The New York Times. Tom Simon, ’n amptenaar van die Hondebeheerafdeling, verduidelik dat nie alle veg-bulterriërs noodwendig gevaarlik is nie. Hy sê dat “hulle eintlik saggeaarde honde kan wees en wonderlike troeteldiere is as hulle behoorlik opgelei word”. Maar die harde werklikheid is dat die gevaarlike honde wat hierbo gemeld word, ingeteel en opgelei is om wrede vegters te wees. Party honde word wreed gemartel “om hulle boosaardiger te maak”, verduidelik ’n kenner. Ná hulle aan gewelddadige en wrede hondegevegte deelgeneem het, is baie honde nie meer in staat om te veg nie. Wanneer dit gebeur, los die eienaars dikwels die veg-bulterriërs om in die strate rond te loop.
Nuwe ekumeniese kerkliggaam in Australië
In 1946 het ’n aantal kerke in Australië die Australiese Raad van Kerke gestig. Die Rooms-Katolieke Kerk het nie ’n lid geword nie, maar het baie jare lank waarnemerstatus gehad. Nou, nagenoeg 50 jaar later, het die raad ’n nuwe naam gekry, die Nasionale Raad van Kerke in Australië. Sy ledetal het met nét een vermeerder—die Katolieke Kerk. Die Lutherse Kerk is genooi om by die nuwe liggaam aan te sluit, maar hulle het dit van die hand gewys, aangesien nie genoeg van hulle eie lede daarvan ten gunste was nie. The Sydney Morning Herald het berig dat David Gill, wat tot hoofsekretaris van die nuwe raad benoem is, gesê het hulle “bid vir ’n vale”, en hy het bygevoeg: “Ek reken dat dit op sigself nogal ’n verandering is.” Hy het na die vorige raad se “ietwat politiese beeld” verwys. “Die klem”, is daar gesê, “was blykbaar eerder op maatskaplike geregtigheid as op die verspreiding van die Goeie Nuus.” Die koerant het bygevoeg: “Versuim om aan te pak wat evangeliste ‘evangeliese kwessies’ noem, het ’n groot skeuring veroorsaak wat nog steeds onopgelos is.”
Onopgeëiste bagasie
Wat gebeur met al die onopgeëiste bagasie wat by groot Amerikaanse lugrederye gelos word? Dit word verkoop aan ’n maatskappy in Scottsboro, Alabama, wat die Unclaimed Baggage Center genoem word. Daar word dit oopgemaak, skoongemaak, nagegaan vir geld en weer aan die publiek verkoop. “Een kykie in Unclaimed Baggage is genoeg om selfs die goedgelowigste lugreisiger te oortuig om by handbagasie te bly”, sê The Wall Street Journal. “Vier kolossale verkoopsvloere vertoon alles van pelsjasse en visstokke tot T-hemde en kameras. . . . Jy kry ook broodroosters, skoonheidsmiddelle, Amerikaanse elandhorings, kassette met Hongaarse volksmusiek, selfs ’n doodskis.” Lugrederye hanteer omtrent tweemiljoen reistasse per dag, en hoewel ongeveer 10-000 tot 20 000 na die verkeerde plek gestuur of verlê word, kom minder as 200 nie by hulle eienaars uit nie. Reisigers word drie maande gegee waarin hulle verlore reistasse kan opeis voor dit verkoop word. “Hoewel lugrederye sê dat hulle nie die eienaars van die goedere kan opspoor wat na Scottsboro gestuur word nie, sê klerke daar dat hulle ure daaraan bestee om name en adresse van goedere af te trek en af te krap voordat dit te koop aangebied kan word”, sê die Journal.
Die gelukstempel
’n Klein, betreklik onbekende eiland in die suide van Japan het skielik gewild geraak, danksy die naam van ’n plaaslike Sjinto-tempel. Die tempel se naam, Hoto, beteken “om ’n skat te vind”, en ’n burgerlike reklamegroep het dit benut met resultate wat hulle hoogste verwagtinge oortref het. Hulle het gereël dat die tempel sakkies verkoop waarin mense hulle loterykaartjies kan sit. Hulle het gesê dat die gebruik van hierdie “geluksakkies” wat by die tempel gekoop word ’n gelukslag in die lotery verseker. Sedertdien het “mense wat hoop om ’n groot slag in die lotery te slaan in menigtes op die Hoto-tempel toegesak”, sê die Asahi Evening News. Dit is egter nie hierdie “menigtes” wat die slag geslaan het nie, maar die tempel wat sakkies teen R35 en R110 stuk verkoop.
Egipte het die oudste geplaveide pad
Navorsingsgeoloë het ’n geplaveide pad van 12 kilometer gevind wat 69 kilometer suidwes van Kaïro deur die woestyn loop. Die antieke pad wat met kalksteen, sandsteen en selfs met versteende hout geplavei is, dateer na raming uit 2600 tot 2200 v.G.J., die tydperk van die Ou Ryk. Dit is gemiddeld twee meter breed. Die pad was gebou om die vervoer van swaar klippe te vergemaklik wat van ’n groot basaltsteengroef geneem moes word na die oewer van ’n ou meer wat verbind was met die Nyl wanneer dit in vloed was. Die meer bestaan nie meer nie. Die heersers van eertydse Egipte het daarvan gehou om die donker stene in hulle sarkofae en vir die plaveisel binne-in die Giza-graftempels te gebruik. “Hier is nog ’n tegnologiese oorwinning wat aan eertydse Egipte toegeskryf kan word”, het ’n professor in geologie, dr. James A. Harrell, gesê. ’n Plaveisteenpad in Kreta wat uit niks vroeër as 2000 v.G.J. dateer nie, was voorheen die oudste bekende geplaveide pad.