Zanzibar—Die “Spesery-eiland”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
VYF-EN-DERTIG kilometer van die kus van Oos-Sentraal-Afrika af lê die eiland Zanzibar. Zanzibar is waarlik ’n skilderagtige eiland wat omring word deur die warm blou water van die Indiese Oseaan en wit strande en versier word deur golwende heuwels en palmbome wat in die passaatwind wieg. Hoewel dit betreklik klein is—85 kilometer op sy langste en 39 kilometer wyd—het dit ’n groot rol in Afrika se geskiedenis gespeel.
Persiërs, Arabiere, Indiërs, Portugese, Britte, Asiërs, Noord-Amerikaners en natuurlik Afrikane van die vasteland besoek Zanzibar al eeue lank. Destyds was die winsgewende slawehandel die vernaamste aantrekkingskrag. Dit is ook hier waar handelaars en ontdekkingsreisigers hulle voorrade bekom het. Trouens, die meeste Europese ontdekkingsreisigers van Afrika in die 19de eeu het by hierdie eiland aangedoen! Dit is geen wonder dat dit die Poort tot Afrika genoem is nie.
Naeltjies en die gebruike daarvan
Die sultan van Oman, Sayid Said, het sy geboorteland aan die Persiese Golf verlaat en hom gedurende die eerste helfte van die negentiende eeu in Zanzibar gevestig. As die heerser van hierdie eiland het hy die Arabiese plantasie-eienaars gedwing om nie meer kokosneute te kweek nie, maar om eerder ’n baie winsgewender gewas te plant: naeltjies. Teen die einde van sy lewe is die wins uit naeltjies net deur die slawe- en ivoorhandel oortref. Toe die slawehandel dus afgeskaf is, het Zanzibar as die Spesery-eiland bekend gestaan. Dit is vandag die wêreld se hoofbron van naeltjies.
Naeltjies is eintlik die gedroogde blomknoppies van ’n tropiese immergroen boom. Die wetenskaplike naam van die boom is Eugenia caryophyllata. In Zanzibar is die gemiddelde boom ongeveer nege meter hoog. Die blomknoppies word gewoonlik geoes wanneer hulle ’n rooi-bruin kleur het en ongeveer 1,5 sentimeter groot is. ’n Gesonde boom kan ongeveer 35 kilogram knoppies oplewer. Nadat dit geoes is, word dit in die warm tropiese son uitgelê om droog te word.
Weens naeltjies se geurige reuk en skerp smaak word dit hoofsaaklik vir kookdoeleindes gebruik. Die smaak van vleis- en groentegeregte word dikwels deur naeltjies verbeter. Of jy kan vier of vyf knoppies liggies fyn druk, dit in kookwater gooi en ’n kruietee maak! En rooi wyn kan op ’n koue wintersdag in ’n verkwikkende drankie verander word deur dit te verhit en ’n paar naeltjies daarby te voeg. Party gebruik naeltjies om hulle badkamer lekker te laat ruik deur ongeveer 20 naeltjies in ’n lemoen te druk en dit ongeveer ’n week lank op te hang. Tandartse het die olie van naeltjies gebruik as plaaslike verdowing om tandpyn te verlig. Naeltjies word ook in mondspoelmiddels en parfuum gebruik. Dit is geen wonder dat hierdie klein eilandjie vir sy speseryoes beroemd is nie!
Die mense
Die werklike skatte van Zanzibar is die plaaslike mense. Die oomblik wat jy op die eiland aankom, word jy hartlik deur die Zanzibari’s gegroet. Hulle lyk heel ontspanne en het tyd vir mekaar. Terwyl hulle in gesprek is, skud hulle dalk herhaaldelik mekaar se hand, miskien drie of vier keer binne die bestek van tien minute. Dit is hoe hulle spontaan reageer op enigiets humoristies wat gesê word.
As jy een van hulle huise besoek, sal jy hulle welbekende gasvryheid ondervind. ’n Besoeker moet altyd die beste ontvang. As hy onverwags gedurende etenstyd opdaag, bestaan daar geen twyfel nie: Hy moet saam eet, en eet totdat hy versadig is. Sulke gasvryheid laat ’n mens aan Bybeltye dink.—Vergelyk Genesis 18:1-8.
Die Zanzibari’s se voorkoms is ook kleurryk en eksoties. Die vroue dra die buibui—’n mantelagtige kleed wat hulle van hulle kop tot hulle enkels bedek—as hulle in die openbaar is. Interessant genoeg dra hulle dit soms oor ’n Westerse rok. Wat die mans betref, hulle dra ’n kanzu, ’n wit of pastelkleurige kleed. Hulle dra die kofia, ’n gevlegte mus.
’n Mens voel asof jy teruggevoer word in tyd wanneer jy deur die historiese gedeelte van die stad Zanzibar stap wat Klipdorp genoem word. Die doolhof van strate en stegies het geen sypaadjies nie. Die deure van die talle winkels maak reg in die straat oop! Dan is daar nog die baie straatverkopers, soos diegene wat Kahawa, ’n soet Arabiese koffie wat met gemmer gekrui word, verkoop.
Maar nie woorde of foto’s kan die prag van Zanzibar genoegsaam beskryf nie. Sy reputasie as “spesery-eiland” is in meer as een opsig welverdiend.
[Kaart op bladsy 16]
ZANZIBAR
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Africa and border map: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck