‘My siening van ’n dokter se plig het verander’
AKANE, ’n vierjarige dogtertjie in Osaka, Japan, het gekompliseerde hartafwykings gehad—trikuspidalisatresie en atriumseptumdefek—waarvoor sy ’n groot hartoperasie moes ondergaan. Haar ouers, albei Getuies van Jehovah, het by die dokters gepleit om die operasie sonder bloed uit te voer.a
’n Bloedlose opehartoperasie is moeilik om op kinders uit te voer weens hulle lae bloedvolume. In Akane se geval het die dokters ingestem om sonder bloed te opereer. Akane se operasie was suksesvol, wat die dokters se uitstaande mediese vaardigheid weerspieël. Sy het gou herstel en geniet nou baie goeie gesondheid.
Akane se moeder het aan die dokters wat aan die operasie deelgeneem het, geskryf en ’n onlangse foto van Akane ingesluit. ’n Narkotiseur het aan Akane se moeder teruggeskryf. Die brief sê onder andere:
“Ons is verheug oor Akane se verbasende herstel. Dit was moeilik om my trane terug te hou toe ek die lieflike foto gesien het wat jy by jou brief ingesluit het. Dit was nie die feit dat dit ’n moeilike operasie was wat my gepla het nie, maar die verskil tussen ons oortuigings. Nou, danksy hierdie ondervinding, het my siening van ’n dokter se plig verander. Dokters moet hulle goeie begrip van mediese kennis gebruik om lewens te red, maar hulle moet ook die waardigheid en die wense van die pasiënt respekteer.”
[Voetnoot]
a In ooreenstemming met Handelinge 15:29 onthou Jehovah se Getuies hulle van bloed, met inbegrip van bloedoortappings. Maar hulle aanvaar wel bloedlose mediese behandeling.