Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/22 bl. 20-23
  • Nie meer ’n rots of ’n eiland nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nie meer ’n rots of ’n eiland nie
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek van Jehovah se Getuies
  • Die Getuie kom terug
  • Geskep om liefde te gee en te ontvang
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
    Ontwaak!—1995
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • My eerste liefde het my gehelp om te volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/22 bl. 20-23

Nie meer ’n rots of ’n eiland nie

’n VERS van ’n liedjie uit die sestigerjare het gelui: ‘Ek is ’n rots/Ek is ’n eiland/En die rots voel geen pyn/En ’n eiland huil nooit.’ Dit was een van my gunstelingliedjies, want dit is hoe ek gelewe het. Ek kon nie onthou dat ek ooit emosies ervaar het wat ander gesê het hulle ervaar nie, soos liefde, medelye en jammerte. Ek het voorgegee dat ek daardie gevoelens ervaar en het gedink dat ander dit ook doen. Ek kon nie onthou dat ek ooit as volwassene gehuil het nie. En hier was ek—50 jaar oud en ’n ouere man in ’n Christengemeente, alleen in my huis, en ek het gesit en snik weens ’n boek wat ek lees. Hoe kon dit met hierdie “rots”, hierdie “eiland”, gebeur?

Ek is in 1936 in ’n voorstad van Boston gebore, die vierde van agt kinders. My pa en ma was alkoholiste. Ons het nie gevoelens bespreek, mekaar omhels of liefde op enige manier wat ek kan onthou, betoon nie. Toe ek ses maande oud was, het iemand my in die bad gesit, die prop ingesteek, die water oopgedraai en weggeloop. Die huishoudster het my gekry en my lewe gered. Al wat ek as kind gevoel het, was vrees, angs, woede en fisiese pyn.

Ek het dit by my pa geleer, wat dikwels in woede uitgebars het en dit amper sonder uitsondering met sy vuiste en voete op my lyfie gekoel het. Sy gesigsuitdrukking wanneer hy dit gedoen het, spook nog ’n halfeeu later by my. Ek het vir die grootste deel van my lewe gedink dat ek dié loesings gekry het omdat ek so ’n stout seun was, maar nou weet ek dat die woede wat hy op my gekoel het, niks daarmee te doen gehad het of ek soet of stout was nie.

Toe ek vyf en ses jaar oud was, het die huisdokter my gemolesteer. Toe ek begin skoolgaan, het ons in ’n stad met 250 000 WASPe (wit Angel-Saksiese Protestante) gewoon, en die skoolkinders het vir my, die Joodse seuntjie, getreiter en gejaag. Wanneer hierdie bendes van 10 of 12 kinders my gevang het, het hulle my klere uitgetrek, my geslaan en my klere bo in die bome gegooi. Ek moes kaal die bome klim om my klere terug te kry.

’n Maand voor my 18de verjaarsdag het ek by die leër aangesluit om van die huis af weg te kom. Ek het voorheen nooit eens ’n druppel alkohol oor my lippe gehad nie, maar het amper dadelik begin drink en was onmiddellik daaraan verslaaf. Ek was 20 jaar lank in die leër, en ek was dronk so dikwels as wat ek genoeg geld vir ’n bier in die hande kon kry. Op 24 is ek getroud en het ons ’n seun gehad, maar my vrou en seun het in ’n huis gewoon wat oorheers en beheer is deur ’n alkoholis—deur my—wat hulle albei as ’n las en ’n onnodige uitgawe beskou het.

In 1974 het ek uit die leër bedank en die sakewêreld vir ’n kort rukkie betree, maar ek het gou tou opgegooi. Ek het opgehou drink, want my liggaam kon alkohol nie meer verwerk nie. Ná slegs een of twee biere het ek in galbulte uitgeslaan. Ek was toe aan dwelms verslaaf—meestal dagga, maar ander wanneer ek dit in die hande kon kry. Dit het dit vir my onmoontlik gemaak om ’n werk te behou, en daarom het ek tuisgebly en huisgehou terwyl my vrou, Donna, gewerk het.

’n Besoek van Jehovah se Getuies

Een oggend was my vrou op pad werk toe. Dit was 7:30 en ek was reeds bedwelmd. Dit het haar kwaad gemaak. Toe sy by die voordeur uitgaan, het sy my met ’n bordjie gegooi en geskreeu: “Ek hoop hulle versondig jou siel tot in die afgrond in.” Dit was ’n bordjie wat sy altyd in die venster gehou het en wat in groot letters gesê het: “GEEN JEHOVAH SE GETUIES.” Ek het dit weggegooi. Die volgende oggend het twee vroue by ons deur aangeklop. Hulle was Jehovah se Getuies.

Teen dié tyd het ek Boeddhisme as my godsdiens aangeneem. Ek het die Bybel al lank tevore verwerp weens die skynheiligheid van my Joodse en Katolieke ouers. Ek het ’n ruk lank na God gesoek, maar het opgehou soek en aangeneem dat daar geen God is nie. Ek het in evolusie geglo en het gemeen dat ek bewys het dat daar geen God is nie deur in die reën- en weerligseisoen buite te staan, op te kyk en God elke skelnaam te noem waaraan ek kon dink en te sê: “As jy bestaan, tref my dan dat ek dood neerval.” As ek God was, sou ek dit gedoen het. Aangesien hy dit nie gedoen het nie, het ek tot die slotsom gekom dat daar geen God is nie. Ek het gedink dat die wêreld tot ondergang gedoem is aangesien die mens dit nie kan ophou vernietig nie, en ek het gehoop dat ek dit alles op TV kon sien gebeur terwyl ek bedwelmd bly.

Die twee vroue het toevallig die volgende oggend gekom. Ek was bedwelmd en lus vir vermaak. Ons het omtrent 20 minute lank ’n sinlose gesprek gevoer, waarop hulle ’n blou boekie vir 25 sent aangebied het. Ek het gereken dat 20 minute se vermaak 25 sent werd was en het dus die boek geneem en dit sonder belangstelling op die tafel neergegooi.

Die volgende oggend het ek iets gesoek om te lees sodat ek my daggarokery ’n rukkie kon uitstel. Ek het die blou boekie gesien en dit opgetel in die hoop dat dit my ’n uur of wat besig sou hou. Vier uur later het ek die boek deurgelees en was ek heeltemal oortuig dat dit was wat die titel gesê het: Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Ek het dwelms in die huis gehad en het geweet dat ek bedwelmd sou raak en alles wat ek gelees het, in die wind sou slaan sodra ek die boek neersit. Op die laaste bladsy is ’n Bybel vir net een dollar aangebied; ek het dus ’n dollar in ’n koevert gesit, dit gepos en vir God gesê—ek het nog nooit in my lewe gebid nie—“God, dis al wat ek kan doen, jy sal die res moet doen.” Ek het dit gepos, bedwelmd geraak en alles wat my pas tevore so diep geroer het, in die wind geslaan.

Die Bybel het per pos gekom, maar ek het dit net eenkant neergesit. Kort daarna het twee Getuies gekom en aangebied om die Bybel met my te bestudeer, en ek het ingestem. Ek het die studies geniet, maar het nie juis vordering gemaak nie, want ek het hulle meestal met my kennis van die filosofie probeer beïndruk. Daarbenewens het ek gewoonlik dwelms gebruik sodra hulle daar weg is, en dit het enige vordering wat ek die dag gemaak het, uitgewis.

Ná ’n jaar het een van die Getuies, Jim, uiteindelik gekom en my gevra om Esegiël 33:9 te lees. Ek het gelees: “As jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” Toe het hy my gevra wat ek dink dit beteken. Ek het geantwoord: “Dit beteken dat jy nie terugkom nie en dat ek gaan sterwe.” Hy het gesê: “Dis reg”, en hy het geloop.

Die Getuie kom terug

Ek is bly om te sê dat ek ontdek het dat ek steeds ’n gewete gehad het—ek het gedink dat ek myne lankal doodgemaak het. Aangesien ek tog in ’n mate uitgesien het na die toekoms wat ek in die Bybel gesien het, het ek besluit om van dwelms te probeer wegbreek. Ek het weke lank sonder welslae op my eie probeer regkom. Een aand het my vrou aan die hand gedoen dat ek “daardie vriend”, met verwysing na die Getuie, Jim, bel. Ek het vir haar gesê dat hy gesê het hy gaan nie terugkom nie, en ek het nie geweet wat sy telefoonnommer is nie. Ek het heeltemal wanhopig gevoel.

Die volgende dag het ons ’n Wagtoring gekry wat in ons voordeur gedruk is met Jim se telefoonnommer daarop. Sy vrou het dit “sommer maar net” daar gelaat. Ek het hom gebel en my alkohol- en dwelmprobleem erken en gevra of hy my kon help. Hy het gesê dat hy elke dag met my sou kom studeer as ek die dwelms los.

Dit het ’n tydperk van intensiewe studie begin wat my dae en nagte geheel en al in beslag geneem het. Hy het nie net daagliks met my gestudeer nie, maar hy het my ook van Bybelstudieboeke en Wagtoring-artikels voorsien. Ek het snags net vier uur geslaap—’n algemene probleem vir alkoholiste—en die res van my tyd is aan Bybelstudie gewy. Omdat ek nie meer dwelms gebruik het nie, het alles wat ek die vorige jaar geleer het, asook alles wat ek geleer het terwyl ek elke dag 18 tot 20 uur lank gestudeer het, dadelik ingang gevind.

Daarbenewens het ek al die Getuies se vergaderinge begin bywoon. Binne enkele weke het ek gevorder tot die eerste ware gebed in my lewe, wat ook my toewydingsgebed was. Ek het van deur tot deur begin gaan en het vir almal getuig wat ek geken het. Ek het sewe studies begin, en vyf van hulle het tot doop gevorder, waaronder my vrou en seun. Ek is op 23 Mei 1976 by ’n kringbyeenkoms gedoop, net drie maande nadat ek die oproep aan “daardie vriend” gemaak het. Ek het die pionierdiens (voltydse bediening) betree en 13 jaar lank daarmee volgehou.

Dit bring my terug na die begin van my verhaal—waar ek 50 jaar oud was en by die huis oor ’n boek gesit en huil het. Selfhelpboeke was in die tagtigerjare baie gewild en ek het een gelees. Die selfhelpdeel het my nie gehelp nie. Ek het nie daarin belanggestel om die wêreldse denke daarin te volg nie. Maar die boek het my vir die eerste keer laat besef hoe die letsels uit my kinderdae en die onbevredigde emosionele behoefte aan liefde my emosioneel ’n knou gegee het. Die trane wat ek gestort het, was trane van vreugde omdat ek nou kon verstaan waarom ek nooit werklik emosies kon ervaar nie, en dit was ook trane van droefheid oor die groot verlies wat ek 50 jaar lank gely het as ’n emosionele menslike wese wat nie emosioneel kon reageer nie. Dit het die talle vlae van depressie verklaar wat ek my hele lewe lank ondervind het.

Ek het stadigaan emosies begin ervaar wanneer ek in die Bybel gelees het van Jehovah en sy liefde, selfs vir my—iets wat ek voorheen nooit self ervaar het nie. Liefde vir my vrou en my seun, vir my broers en susters in die gemeentes van God en ook vir mense aan wie ek die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig sodat hulle ook die geleentheid kan hê om vir ewig in Jehovah se beloofde nuwe wêreld van regverdigheid hier op aarde te kan lewe.

Geskep om liefde te gee en te ontvang

Ons is geskep om liefde te gee en te ontvang. Wanneer ’n kind gebore word, het hy ’n behoefte aan hierdie liefde, asook ’n behoefte daaraan om aanvaar te word. Wanneer ’n kind se ouers hom nie liefhet en aanvaar nie, voel hy dat niemand hom kán liefhê nie en het hy geen gevoel van eiewaarde nie. Toe ek nog baie klein was, wou ek só graag opgetel, vasgehou en geliefkoos word. Ek onthou nou nog hoe gaste wat na ons huis toe gekom het na my in my speelhokkie gekyk het en hoe ek gehoop het dat hulle my sal optel. Hulle het nooit nie, en ek het altyd begin huil omdat niemand my ooit opgetel het nie.

Sulke letsels uit my kinderdae het my in my rol as eggenoot en as gesinshoof gekniehalter en my laat glo dat Jehovah, die hemelse Vader, my nie kan liefhê nie. Die waarheid aangaande Jehovah het my mettertyd verander, en dit het my begrip van hom van my kop na my hart laat gaan, en nou weet ek dat Jehovah my sonder voorbehoud liefhet. Ek weet ook dat daar geen manier is waarop ons daardie liefde kan verdien nie. Dit is ’n onverdiende goedhartigheid van Jehovah God, die God van liefde.

Die uiteinde van dit alles is dat ek en my vrou danksy Jehovah se seëninge nou ’n goeie lewe het. Ons dien tans waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is, saam met ’n liefdevolle gemeentetjie in ’n skilderagtige dorpie in die berge van Arizona. Ek dien as die gemeente se presiderende opsiener, hou ’n gemeentelike boekstudie en geniet ook die groot vreugde om die Teokratiese Bedieningskool te hou. Ek het ’n klein vensterwas-onderneming wat my pensioen aanvul sodat ons in al ons materiële behoeftes kan voorsien en genoeg tyd het vir ons bediening en die res van ons diens aan ons liefdevolle hemelse Vader.

As ek terugdink aan daardie oggend toe my vrou my gegooi het met die bordjie wat gesê het: “GEEN JEHOVAH SE GETUIES”, is ek my hemelse Vader ewig dankbaar vir alles wat hy vir my gedoen het. Ek was ’n verslaafde wat nie ’n werk kon behou nie en wat net die hoop gehad het om te sien hoe almal saam met my vernietig word; nou is ek ’n lid van Jehovah se sigbare organisasie op aarde met die vaste voorneme om die goeie nuus van God se Koninkryk, die enigste hoop vir die wêreld, aan soveel mense moontlik bekend te maak. Jehovah het ook my lewe gevul met mense wat my gee wat ek nog altyd wou gehad het: liefde, vertroue en aanvaarding.

En ek probeer nie meer om ’n “rots” te wees wat geen pyn voel nie of ’n “eiland” wat nooit huil nie.—Soos vertel deur Larry Rubin.

[Prent op bladsy 23]

Larry Rubin en sy vrou, Donna

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel