Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/22 bl. 11-12
  • Wanneer verdere hulp nodig is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer verdere hulp nodig is
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die toekoms
  • Bied die uitdaging die hoof
    Ontwaak!—1997
  • Hoe om ’n moeilike kind groot te maak
    Ontwaak!—1994
  • “Sit stil en let nou op!”
    Ontwaak!—1997
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/22 bl. 11-12

Wanneer verdere hulp nodig is

HOEWEL baie van die wenke in die voorgaande artikels baie nuttig kan wees, is verdere hulp soms in spesifieke omstandighede nodig. Gevallestudies bevat byvoorbeeld verslae van kinders wat nie net impulsief is nie, maar ook baie gevaarlik. Al word hulle deur liefdevolle gesinne versorg, openbaar hierdie kinders hulle vernielsugtige gedrag deur dinge te breek, op mense te skreeu, brand te stig, met vuurwapens te skiet, met messe te steek (as dit beskikbaar is) en diere asook ander mense of hulleself kwaad aan te doen, as dit toevallig by hulle opkom om dit te doen. Hulle is basies die beliggaming van chaos.

Dit is die ouers se persoonlike besluit of hulle mediese hulp wil verkry om hulle kind van die beste sorg te voorsien. Elke gesin moet besluit hoe om in die besondere, individuele behoeftes van hulle kind te voorsien, terwyl hulle Spreuke 22:6 se vertroostende versekering aan ouers in gedagte hou.

Een van die mees omstrede behandelingsmetodes tans is die kwessie van medikasie. Die geneesmiddel wat die meeste voorgeskryf word, Ritalin, het uiteenlopende resultate opgelewer. Talle gesinne is heel tevrede met die vordering van hulle kind terwyl hy Ritalin of ander gedragswysigende geneesmiddels gebruik. Maar die huidige debat duur voort, nie net oor die nut van hierdie geneesmiddels nie, maar ook oor die feit dat dit te maklik voorgeskryf word. Trouens, party dokters trek die waarde daarvan sterk in twyfel en sê byvoorbeeld dat Ritalin talle nadelige newe-effekte kan hê as dit oor ’n lang tydperk gebruik word. Dit moet egter weer eens beklemtoon word dat baie gesinne en dokters min newe-effekte met verbeterde gedrag en akademiese vordering meld. Dit is interessant dat baie volwassenes wat gediagnoseer is dat hulle ATS het en wat tans medikasie gebruik ook met die resultate tevrede is. Medikasie is derhalwe ’n persoonlike besluit wat op sorgvuldige navorsing en oordeel gegrond is.

Vir dié wat medikasie gebruik het en swak resultate gehad het, is daar alternatiewe behandelingsmetodes. Baie gesinne het van goeie resultate met vitamien- en kruiebehandeling of ’n kombinasie van albei gelees en dit self ook ondervind. Soos vroeër gemeld is, kan ATS/ATSH in sommige gevalle veroorsaak word deur biochemiese wanbalanse in die brein wat vermoedelik deur hierdie behandelingsmetodes gekorrigeer kan word.

Daarbenewens is daar ander faktore wat volgens party aanleiding gee tot baie van die probleme wat met ATS/ATSH gepaardgaan. Dr. Doris Rapp sê in haar boek Is This Your Child?: “Sommige kinders het ’n liggaamlike siekte en/of emosionele, gedrags- en leerprobleme wat deels of hoofsaaklik met allergieë of omgewingsblootstellings verband hou.” Ook reaksies op kleursels, suiker en bymiddels kan in werklikheid hierdie probleme met kwaai woedeuitbarstings, buiveranderinge en slaaploosheid naboots.

Baie gesinne het geleer hoe om hulle kinders se gedrag te wysig, maar hulle akademiese prestasie kan verdere probleme skep. Spesiale dienste, soos privaat onderrigters, voorligting, ondersteuningsgroepe en spesiale onderwysers, kan sommige moontlik help. Aangesien hierdie kinders geneig is om beter in ’n privaat reëling te vaar, het party gesinne, op hulle dokter se aanbeveling, welslae met tuisonderrig behaal.

Die talle nuwe opvoedkundige projekte moet nie oor die hoof gesien word nie, soos dr. Mel Levine se Schools Attuned, wat die individuele uniekheid van en verskil tussen kinders in ag neem. Dr. Levine se program beveel aan dat onderrig by die behoeftes van elke kind aangepas word. Oral waar hierdie benadering van aanpasbare onderrig in die Verenigde State toegepas is, was die resultate blykbaar goed.

Die toekoms

Die grootmaak van kinders kan met die koop van ’n nuwe huis vergelyk word. Albei behels ’n lewenslange belegging, maar weens omstandighede is voornemende kopers dalk verplig om met minder as die ideaal tevrede te wees. Onvolmaakte ouers wat onvolmaakte kinders in Satan se wêreld grootmaak, is eweneens verplig om met minder as die ideaal tevrede te wees. Die pas gekoopte huis het moontlik buitengewone of ongewenste kenmerke, maar met werk en ’n bietjie verbeelding kan talle hinderlike kenmerke feitlik weggedoen word. Selfs ’n moeilike boukundige kenmerk kan weldra die fokuspunt van die huis word.

Net so kan ’n buitengewone kind, as die ouers hulle by sy of haar individuele behoeftes aanpas, eweneens ’n mooi deel van hulle lewe word. Elke kind moet vir sý eienskappe waardeer word. Vestig dus die aandag op positiewe dinge. In plaas daarvan om kinders te onderdruk, moet ouers elkeen se skeppingsvermoë aanmoedig en besef dat hy of sy ’n waardige persoon is wat eer en liefde verdien—’n kosbare gawe van Jehovah God.—Psalm 127:3-5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel