Ware Christene en oorlog
JESUS het vir sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Kan ware Christene sulke liefde aan mekaar betoon en terselfdertyd aan oorlog deelneem en mekaar doodmaak?
Beskou ook die vraag wat deur die apostel Paulus gestel is: “Is Christus verdeel?” (1 Korinthiërs 1:13). Vra jou af: ‘Kan daar enige groter verdeeldheid wees as dié wat daartoe lei dat lede van dieselfde godsdiens mekaar doodmaak?’
Ons moet eintlik nie verbaas wees om uit te vind dat die vroeë Christene nie aan oorloë deelgeneem het nie. Hastings se bekende Encyclopædia of Religion and Ethics het gesê: “Die beskouing was baie algemeen in die vroeë Kerk dat oorlog ’n georganiseerde boosheid is waarmee die Kerk en die volgelinge van Christus niks te doen kan hê nie.”
Vroeë Christene het gelewe volgens Jesus se opdrag om mekaar lief te hê. Die Duitse teoloog Peter Meinhold het verduidelik: “Hoewel die Nuwe Testament nie die vraag bespreek of Christene soldate mag wees en of hulle die leër moet verlaat wanneer hulle Christene word nie, het die ou kerk ’n standpunt in verband met die kwessie ingeneem. Om ’n Christen en ’n soldaat te wees, is as onverenigbaar beskou.” Neem enigeen vandag ’n standpunt in soos dié van “die ou kerk”?
Is daar vandag enige ware Christene?
Die Encyclopedia Canadiana sê: “Die werk van Jehovah se Getuies is die herlewing en herstel van die oorspronklike Christelike geloof wat deur Jesus en sy dissipels gedurende die eerste en tweede eeu van ons era beoefen is. . . . Almal is broers.”
Wat beteken dit in die praktyk? “Jehovah se Getuies handhaaf streng neutraliteit in oorlogstyd”, sê die Australian Encyclopædia. Terwyl hulle as individue kies om hierdie standpunt in te neem, bemoei hulle hulle nie met die sake van die regering waaronder hulle lewe nie. Gevolglik het hulle nie Hitler se oorlog gesteun nie, en dus het nie een van hulle gedurende die Neurenberg-verhoor as oorlogsmisdadiger tereggestaan nie.
’n Duitser wat skuldig bevind en tereggestel is, was Alfred Rosenberg, die hoof van die Nazi-party se Departement van Buitelandse Sake. Ter verdediging van die Nazi-beleid om Jehovah se Getuies in konsentrasiekampe te sit, het Alfred Rosenberg die volgende getuienis tydens sy verhoor afgelê: “’n Amerikaanse kapelaan was so vriendelik om vir my in my sel ’n kerknuusblad van Columbus [Ohio] te gee. Ek lei daaruit af dat ook die Verenigde State Jehovah se Getuies gedurende die oorlog gevange geneem het en dat daar tot Desember 1945 nog 11 000 in kampe aangehou is.” Dit is waar dat Jehovah se Getuies streng neutraal bly en nie in politieke geskille kant kies nie. Hulle het geen bloed vergiet nie, nie in die Tweede Wêreldoorlog of in enige ander oorlog nie.
In Hongarye het ’n skrywer in die tydskrif Ring van 4 November 1992 aangaande Jehovah se Getuies gesê: “Hulle sal eerder kies om te sterf as om iemand dood te maak. Gevolglik is ek daarvan seker dat oorloë nêrens sou uitgebreek het as slegs Jehovah se Getuies op die aarde gelewe het nie.” Reo M. Christenson, ’n professor van staatsleer, het in The Christian Century bespreek of ’n ware Christen aan oorlog kan deelneem, en hy het tot die slotsom gekom:
“Kan enigeen hom in alle erns voorstel dat Jesus handgranate na sy vyande sou gooi, ’n masjiengeweer sou gebruik, ’n vlamwerper sou hanteer, kernbomme sou neerwerp of ’n interkontinentale ballistiese missiel sou afvuur wat duisende moeders en kinders sou doodmaak of vermink? Die vraag is so absurd dat dit nouliks ’n antwoord verdien. As Jesus dit nie kon doen en aan sy karakter getrou bly nie, hoe kan ons dit dan doen en aan hom getrou bly?” Dit is ’n gedagteprikkelende vraag.
Tog gaan die wêreld se godsdienste voort om kant te kies in oorlog. Katolieke maak steeds Katolieke dood, en mense van ander godsdienste maak persone van hulle eie geloof of lede van ander kerke dood. Dit vereis vaste oortuiging en moed om die leringe van Jesus Christus te volg, soos die volgende lewensverhaal toon.
[Prent op bladsy 7
Kan enigeen hom in alle erns voorstel dat Jesus ’n masjiengeweer in oorlog sou gebruik?
[Erkenning]
U.S. National Archives photo