Ons beskou die wêreld
Bloedskandaal in Frankryk neem toe
Ondersoeke na die bloedskandaal in Frankryk het dokumente voor die dag gebring wat toon dat regeringsamptenare klaarblyklik ekonomiese oorwegings bo die gesondheid en veiligheid van Franse pasiënte gestel het. Volgens die International Herald Tribune van Parys onthul die dokumente dat Franse amptenare, toe ’n Amerikaanse laboratorium ’n metode ontdek het om bloedvoorrade vir die vigs-virus te toets, gevrees het dat die Amerikaanse produk die Franse mark sou oorvoer, en hulle het verkope tydelik geblokkeer “om ’n Franse vervaardiger tyd te gee om ’n soortgelyke produk te ontwikkel”. As gevolg hiervan het honderde mense vigs opgedoen nadat hulle besmette bloedoortappings ontvang het gedurende die bykans sewe maande waartydens die Franse maatskappy sy produk ontwikkel het.
Een “Duiwel” minder
’n Egpaar van Tokio het hulle pasgebore baba die naam Akuma gegee, wat “Duiwel” beteken. “Dit het so ’n impak dat jy dit nooit vergeet as jy dit eers gehoor het nie”, sê die vader. “Dit is ’n naam wat my seun baie mense sal laat ontmoet wanneer hy opgroei.” Die plaaslike owerheid het aanvanklik ingestem om die naam te laat registreer, maar het dit later as onaanvaarbaar en as ’n misbruik van ouerregte gekanselleer en gesê dat dit spotterny en diskriminasie sal uitlok. Ná hofsake wat maande lank geduur het, het die ouers tou opgegooi en gesê dat hulle hulle seun onder ’n ander naam sal laat registreer sodat hulle met hulle lewe kan voortgaan en die seun nie amptelik naamloos gelaat word nie. Dit het egter nie sake tuis verander nie. “Ons sal hom steeds Akuma noem as sy gewone naam”, het die vader gesê, en dít is die naam waarop die baba reageer.
Woede en hartaanvalle
“Vir mense wat aan ’n hartkwaal ly, is die gevaar om ’n hartaanval te kry meer as twee maal groter wanneer hulle kwaad word, en die gevaar duur twee uur”, berig The New York Times. Hoewel vorige studies ’n verband getoon het tussen woede en ’n vinniger hartklop, ’n groter voorkoms van hoë bloeddruk asook die verharding van slagare is hierdie nuwe studie die eerste om wetenskaplike bewyse te lewer dat woede onmiddellik tot ’n hartaanval kan lei. Die gevaar kan verminder word as jy kalm probeer bly wanneer jy met emosionele konflikte te doen het, het dr. Murray Mittleman gesê, wat aan die hoof van die studie gestaan het. Die artikel het gesê: “Die navorsers het ook opgemerk dat mense wat aspirien neem, wat die gevaar van hartaanvalle verminder, deels teen die gevolge van woede-uitbarstings beskerm is”, moontlik omdat aspirien die vermoë van bloedplaatjies verminder om klonte te vorm en slagare te verstop. Dit is dus moontlik dat woede ’n uitwerking op die bloedplaatjies het, het dr. Mittleman gesê.
Slaap en kontaklense gaan nie saam nie
Volgens ’n onlangse studie is die kanse op ’n ooginfeksie by mense wat gereeld met hulle kontaklense slaap agt keer groter as in die geval van diegene wat nie daarmee slaap nie. Die navorsers het gevind dat selfs noukeurige lenssorg jou nie beskerm teen die groot risiko wat jy loop as jy die lense oornag dra nie, berig die International Herald Tribune. As lense oornag gedra word, kan kieme en bakterieë infeksie van die horingvlies, die oog se deurskynende buitenste laag, veroorsaak, ongeag watter soort lense dit is. As diegene wat kontaklense dra dit uithaal voordat hulle bed toe gaan, kan hulle die moontlikheid van ontsteking van die horingvlies met tot 74 persent verminder.
Afname in tale
Binne 100 jaar sal die helfte van die 6000 tale wat vandag bestaan voor uitwissing te staan kom, voorspel die Atlas of the World’s Languages. Ongeveer 1000 tale het reeds gedurende die afgelope 500 jaar in onbruik geraak, meestal in die Amerikas en Australië. Baie tale word nie meer as sodanig geleer nie. In Alaska, waar daar 20 inheemse tale is, word slegs 2 steeds deur kinders geleer. Papoea-Nieu-Guinee het 155 tale, wat elk minder as 300 mense het wat dit praat, terwyl 135 van die 200 inheemse tale wat nog in Australië bestaan elkeen deur minder as 10 mense gepraat word. “Dit is nie net die tale self wat verdwyn nie”, berig die Londense koerant Independent. “Hele letterkundige tradisies, mondeling sowel as geskrewe; unieke grammatikastelsels en woordeskatte wat ewe unieke gedagte- en lewenstylstelsels weerspieël; taal as die hoeksteen van duisende mensekulture—dit alles sal verdwyn en die wêreld op kulturele gebied oneindig armer laat.”
’n Dodelike les
Russiese lugvaartamptenare het erken dat ’n Aeroflot-bemanningslid sy kinders leer vlieg het toe die straallynvliegtuig in Maart teen ’n Siberiese berg gebots en die dood van al 75 mense aan boord tot gevolg gehad het. “Die botsing het plaasgevind omdat die vlieënier sy kinders wou wys hoe om ’n vliegtuig te loods”, het die Russiese nuusagentskap Itar-Tass gesê. Die Westerse lugvaartamptenare wat die vliegtuig se vlugopnemers in Frankryk ondersoek het, het gesê dat “kinderstemme gehoor kon word en dat geen vlieëniers agter die stuur was toe die vliegtuig neergestort het nie”, berig The New York Times. “Die stuurkajuitopnames toon dat een of meer kinders in die stuurstoele per ongeluk die stuuroutomaat ontkoppel het en dat dit tot die straalvliegtuig se noodlottige neerstorting gelei het”, berig die Times.
Hou myte onder beheer
Daar is ’n toename in asma en allergieë in Brittanje, berig The Times van Londen. Die oorsaak? Stofmyte. “Mense se huise was nog nooit so swak geventileer nie—vol besoedelde, bedompige, allergeenbelaaide lug”, sê dr. John Maunder van Cambridge se Mediese Entomologie-sentrum. Stofmyte lewe van veldeeltjies en is veral tuis in die bedompige omgewing van beddens wat nie behoorlik belug is nie. Lewende en dooie myte en hulle mis, tesame met stukkies vel en molm, kan tot ’n tiende van die gewig uitmaak van ’n kussing wat nie gereeld skoongemaak word nie. Die fekalieë van die myte bevat ’n proteïen wat glo asma-aanvalle veroorsaak en ook ’n oorheersende oorsaak is van hooikoors—’n toe neus. Moderne verseëlde huise laat net nie genoeg vars lug in om die myte te onderdruk nie. As ’n mens gesonder wil lewe, stel dr. Maunder voor dat jy met oop vensters slaap wanneer dit moontlik is, beddens daagliks lug gee asook kussings, matrasse en komberse gereeld skoonmaak.
Prestasie of gesondheid?
“Oor die algemeen is beroepsport slegs daarop gerig om die atlete se prestasie te verbeter, selde om hulle gesondheid te verbeter”, sê ortopedis Victor Matsudo, soos in die Veja aangehaal. “Niemand hoef ’n atleet te word om sy gesondheid te verbeter nie.” Trouens, “iemand wat oormatig oefen, is geneig om vroeër te sterf as iemand wat ’n sittende lewe lei”, sê dr. Matsudo. Hy voeg by: “Baie mense het steeds die idee dat goeie oefening iets moeiliks moet wees, wat jou laat sweet en ly. Dit is nie waar nie. Goeie oefening is oefening met matige intensiteit, wat nie pyn, ongemak of krampe veroorsaak nie. . . . Stap is die eerste oefening wat aanbeveel word vir iemand wat ’n sittende lewe lei en fris en gesond wil word.” Die kans dat iemand wat twee of drie keer per week ’n half uur lank stap, sal sterf, is 15 persent minder as in die geval van iemand wat ’n sittende lewe lei. Dr. Matsudo stel voor dat ’n mens op gelyke grond stap en teen ’n pas wat jou toelaat om maklik asem te haal en met iemand anders te gesels.
Misdaad betaal?
’n Reeksmoordenaar in die Verenigde State het erken dat hy 17 seuns en mans doodgemaak en in stukke gesny het. Hy dien lewenslange tronkstraf vir daardie misdade uit. Maar tronkverslae toon dat hy, vanaf Maart vanjaar, meer as R43 500 van brieweskrywers regoor die wêreld, van so ver as Frankryk en selfs Suid-Afrika, ontvang het, en dit het ’n bydrae van R21 500 van ’n Londense vrou ingesluit. “Een vrou het gesê dat sy [hom] van Jesus wou leer; daarom het sy vir hom $350 [R1270] gestuur, asook ’n paar stukke Bybellektuur”, sê The New York Times. “’n Ander vrou het $50 [R180] gestuur sodat [hy] ‘sigarette, seëls en koeverte’ in die tronk kon koop.” Hy het die meeste van die geld bestee, hoewel die familielede van sy slagoffers nie eens ’n sent van die eise van meer as $80 miljoen (R290 miljoen) ontvang het wat hom in hofbeslissings opgelê is nie. Volgens die tronkbewaarder is daar geen wet wat gevangenes verbied om geldelike bystand aan te vra nie mits daar geen bedrog gepleeg word nie.
Waarom vredespogings misluk
“Die 35 oorloë waarmee die wêreld 1994 binnegegaan het, bevestig die Skrif se sombere voorspelling dat daar altyd oorloë en gerugte van oorloë sal wees”, sê ’n artikel in die Toronto Star. (Hierdie stelling is onjuis. Die Bybel voorspel in werklikheid dat oorloë binnekort sal eindig. Sien Jesaja 2:2-4.) “Al drie dosyn oorloë wat vandag in die wêreld woed, is gevegte in individuele lande—nie een is ’n geveg tussen lande nie.” Die feit dat hierdie burgeroorloë verskerp, toon die onvermoë van wêreldmagte om geskille vreedsaam by te lê. “So lank as gegriefde groepe weet dat die VN nie sy ledestate aan die minimum standaarde van gedrag en menseregte kan laat hou nie, sal hulle aanhou om geweld te gebruik om op hulle eise aan te dring”, sê die artikel. “Daar is feitlik geen voorbeelde ná die Tweede Wêreldoorlog waar die groot militêre krag van Noordelike lande met welslae gebruik is om konflikte tussen lande of burgeroorloë in die Derde Wêreld of elders te beëindig nie.” Trouens, die geld wat steeds aan voorbereiding vir oorlog tussen lande bestee word, dra in werklikheid verder tot die burgeroorloë by deurdat fondse gebruik word wat aangewend kon geword het om die toestande te verbeter wat tot burgeroorloë aanleiding gee.