Australië se veldblomskouspel
DEUR “ONTWAAK!”-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
Daar stroom elke jaar van Augustus tot aan die einde van November—lente in die Suidelike Halfrond—duisende besoekers, waaronder plantkundiges en ander wetenskaplikes, na die staat Wes-Australië. Bustoere gaan tot in die hartjie van die suidweste en die noorde. Spesiale treine vol toeriste reis stadig tot in die agterveld. Baie plaaslike inwoners kies ook koers na die platteland. Wat gee aanleiding tot so ’n skielike instroming van toeriste? Wel, dit is veldblomtyd in Wes-Australië—waarlik ’n veldblomskouspel!
HIER in hulle natuurlike omgewing kan een van die wêreld se pragtigste vertonings van natuurlike plantegroei gesien word, en drie maande lank is groot dele van die staat met inheemse veldblomme getooi. Dit is trouens al in die media geadverteer as “een van die grootste veldblomskouspelle ter wêreld”. Hoekom is die plek waar hierdie skouspel gesien kan word anders as enige ander land?
Flora, uniek en veelsoortig
Een rede is dat die Australiese kontinent al lank deur oseane en seë van ander kontinente geskei is. Miskien is sy unieke ligging die rede waarom baie plantkundiges daarvan oortuig is dat hierdie groot eilandkontinent die grootste verskeidenheid plantsoorte ter wêreld het. Hierdie unieke verskeidenheid is nêrens so waarneembaar soos in Wes-Australië nie, waar die landskap in die lente met ’n asemrowende blommeskouspel versier word.
Wes-Australië is die kontinent se grootste staat. Dit beslaan 2,5 miljoen vierkante kilometer—so groot soos Wes-Europa en meer as drie maal so groot soos Texas, VSA. Daarom is daar groot verskille in die landskap en die klimaat. Ná goeie winterreëns verskyn daar ’n kaleidoskoop van veldblomme wat wissel van die fluweelagtige en fyn Australiese pronk-ertjie tot die papieragtige en alomteenwoordige sewejaartjie.
Die meeste van die veldblomme blom in Augustus en September. Maar sommige spesies het meer hitte nodig om te groei en blom eers in Oktober of November. ’n Indrukwekkende 8000 spesies is in Wes-Australië aan die mens bekend. Spesies wissel van een van die grootste loofbome, die karie, tot die kleinste parasitiese plant, die Pilostyles. Die verskeidenheid sluit ook die wêreld se enigste orgidee in wat heeltemal onder die grond groei, die Rhizanthella gardneri. Dan is daar van die blouste blou blomme—een van hulle word Lechenaultia biloba genoem, en ’n ander Dampiera, wat na die seerower William Dampier vernoem is. Daar is ook etlike plante met swart blomme, soos die swartkangaroepoot. Nuwe spesies word gedurig gevind—in so ’n mate dat ’n opgewonde plantkundige die oordrewe stelling gemaak het dat dit dalk moontlik is om elke dag ’n nuwe spesie te vind!
Die handelsbedryf bloei ook
Dit is geen wonder dat ’n bloeiende veldblombedryf om hierdie jaarlikse skouspel gegroei het nie. Minstens 14 veldblomfeeste word elke jaar gehou. Toeriste word op staptoere geneem, skaap- en beesboere stel hulle afgeleë plase aan besoekers oop, vervaardigers van juweliersware maak gebruik van veldblomontwerpe en kunstenaars skenk aandag aan botaniese detail wanneer hulle illustrasies vir boeke voorberei wat nie lank daarna gepubliseer gaan word nie. Die veldblombedryf beplan ook om geplukte veldblomme op die internasionale mark te verkoop. Maar hoe kan hulle vars gehou word?
’n Spesiale tegniek is ontwikkel om die veldblomme se oorspronklike tekstuur en geur te behou. ’n Geheime oplossing word gebruik wat die ontwikkeling en verwelking van die blomme vertraag. Nou kan werkers die veldblomme pluk net voor die blomknoppe oopgaan en hulle dan oorsee verskeep waar die oplossing, wat voor die plukkery toegedien is, verdun word deur die stingels in water te plaas sodat die blomme verder kan blom.
Die handelsbedryf bloei wel, maar nie almal is gedurende die veldblomtyd gelukkig nie. Hooikoorslyers worstel moontlik met waterige oë deur hierdie maande terwyl hulle die somer al niesende tegemoetgaan. Soms veroorsaak die stuifmeel ook eienaardige verskynsels. Kyk na wat in 1992 gebeur het. Ná swaar reëns en matige temperature was die inwoners van sommige dorpe verbaas toe alles met ’n helder geel neerslag oordek is. Motors was toe daaronder en dit het soos ’n kombers langs die paaie en in die vore gelê. Omgewingsdeskundiges het hierdie geel reën as veldblomstuifmeel geïdentifiseer. Die stuifmeelneerslag het blykbaar daarheen gewaai van die midde-westelike dele af waar die veldblomme geblom het. Maar ondanks hierdie probleme sal die meeste mense saamstem dat die prag en voordele van hierdie jaarlikse skouspel die ongerief oorskadu.
Volg die veldblomroete
Kom nou saam met ons op ’n toer om die veldblomme te ontdek. Die eerste veldblomroete neem ons suid van die staat se hoofstad, Perth, na die Serpentine- Nasionale Park. Hierdie park is op ’n platorand geleë, en daar is baie heuwels. Sy rivier, wat deur steil klowe en loodregte granietriwwe vloei, stort uiteindelik oor ’n 15 meter hoë waterval. Tussen die jarra- en wandoobome wei kangaroes en wallabies terwyl gouefluiters, winterkoninkies en kwelertjies in die ruigte rondfladder. Sonnedou en blou feetjie-orgideë het hulle in rotspoele tuis gemaak, en daar naby lê ’n kombers van ligpers heuningmirt, gelap met ’n massa klein roomkleurige trymalium en die verrassende kombinasie van ligpers calytrix en blou andersonia.
Ons gaan nou verder suid na ’n deel wat moontlik die meeste blomme het en die gewildste is—die Stirling Range- Nasionale Park. Hierdie bergreeks, wat 1150 vierkante kilometer beslaan, rys skerp tot by Bluff Knoll, die hoogste piek, wat 1077 meter bo seevlak is. Die klimaat hier verskil van die omliggende gebied. As gevolg hiervan kom daar meer as 1500 blomspesies van nature hier voor, en 60 hiervan word net in hierdie gebied aangetref. Dan klim ons Toolbrunup-piek, vanwaar die uitsig asemrowend is en waar daar ’n verskeidenheid plantsoorte voorkom. Van die mooiste is die Darwinias, of bergklokkies. Tien spesies is tot dusver in die park geïdentifiseer en sover ons weet, kom net een buite die Stirling Range- Nasionale Park voor. In September en Oktober kan die pragtige skaduklokkie maklik in die digte bos opgespoor word, terwyl die pienk bergklokkie hoër op teen die hange groei. Ons gewaar ook ’n seldsame groen spinnekoporgidee—23 spesies kom in Wes-Australië voor.
Aangesien ons naby die Torndirrup- Nasionale Park is, besluit ons om die entjie te ry. Hier gee die heide ons ’n pragtige vertoning. Ons gewaar die Banksia praemorsa met sy ongewone diepbruin blomme—en kyk! ’n Heuningmuis smul aan die veldblomme. Ook hier is hamerorgideë waarvan die blomme hulle as perdebywyfies voordoen deur ’n sterk reuk af te gee. Hulle lok die thynnid-perdebymannetjie wat in sy soeke na ’n maat die saad na ’n klomp valse wyfies dra. Die arme perdeby se onbeantwoorde liefde help met bestuiwing.
Kom ons gaan nou noord
Noudat ons van die vernaamste veldblomgebiede suid van Perth gesien het, kies ons koers na die noorde om op die Everlasting-, of Sewejaartjie-roete, te gaan—’n roete wat ons deur ’n aantal nasionale parke neem. Die stywe sewejaartjies, die blommetjie waarna die roete vernoem is, blom natuurlik in hulle duisende en knik hulle koppies terwyl die wind oor hulle waai. Ons hou by ’n plattelandse begraafplaas stil waar groen- en rooikangaroepoot die ou grafstene versier. En die bos is begroei met oranjebanksia, Banksia attenuata en Australiese witels—’n struik met goudgeel blomme. Het jy al die sleutelorgideë in blom gesien? Hulle is pragtig! Ons stap deur die struiklandskap en die blou rookbos slaan ons asem weg.
Daar is 800 blomspesies op hierdie roete te sien. Baie van die pragtigste spesies groei reg langs die pad, sigbaar vanuit ons vierwielaangedrewe voertuig. Besoekers het al dikwels gesê dat sommige van die blommevertonings langs die pad so kleurvol gerangskik is dat hulle dit moeilik vind om te glo dat die mens nie ’n hand daarin gehad het nie. Ja, bosse met fyn, ligpers blomme langs ander met geel blomme lyk asof iemand hulle so geplant het, en daar is hope fraai blou blommetjies.
Maar dit is nou tyd om huiswaarts te keer. Ons is tevrede met die herinneringe wat ons met ons kamera vasgelê het; dus weerstaan ons die versoeking om een of twee blommetjies as ’n aandenking te pluk. Ons onthou dat die publiek deur die wet verbied word om veldblomme te pluk, selfs dié wat langs die pad groei. Daarom laat ons hulle agter met hulle gesiggies na die son gekeer sodat hulle deur die volgende lentereëns skoon gewas kan word en die volgende bewonderaar hulle kan geniet. Ja, ons het een van die pragtigste blommevertonings op aarde geniet. En namate die omgewing na ’n sonbruin somer verander, sien ons gretig uit na dieselfde vertoning volgende jaar, en inderdaad na nog baie jare se vertonings.
[Foto-erkenning op bladsy 17]
photos: By Courtesy of West Australian Tourist Commission