Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/22 bl. 9-12
  • Satanisme se dae is getel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Satanisme se dae is getel
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die paradysaarde sal sonder einde wees!
  • Te goed om waar te wees?
  • Heersers in die geesteryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Opstand in die geesteryk
    Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? bestaan hulle werklik?
  • Die ewige lewe op ’n Paradysaarde
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/22 bl. 9-12

Satanisme se dae is getel

JEHOVAH GOD het Adam en Eva geskep, hulle in ’n paradystuin geplaas en vir hulle gesê om te vermenigvuldig en die aarde met regverdige nakomelinge te vul. Hulle moes die tuin versorg, dit bewerk en in stand hou en vir ewig lewe, en daar was net een maklike voorwaarde: ‘Van ’n sekere boom in die middel van die tuin mag julle nie eet nie. As julle daarvan eet, sal julle sterwe.’—Genesis 1:27, 28; 2:8, 9, 15-17; Jesaja 45:18.

’n Magtige engel het teen God in opstand gekom en Satan geword, wat “Teenstander” beteken, omdat hy mag wou oorneem. Hy wou die aanbidding van die mensegeslag vir homself hê. Hy het Eva beïnvloed om die verbode vrug te eet en beweer dat dit goed was om te eet en dat sy nie sou doodgaan nie, maar soos God sou word deur self te besluit wat goed en kwaad is. Haar eerste besluit was verkeerd; sy het besluit dat dit goed sou wees om die verbode vrug te eet. Eva het geëet, van die vrug vir Adam gegee en hy het daarvan geëet, en albei het uiteindelik gesterf. Adam het gevolglik sonde en die dood oor hulle nageslag gebring, wat sedertdien sterf (Genesis 3:1-6; Romeine 5:12). Die eerste mensepaar het verkies om Satan te volg en het die eerste bekeerlinge tot Satanaanbidding geword. Tot vandag toe het miljoene besluit dat die godsdiens van daardie eerste ouers vir hulle goed genoeg was en is. ‘As julle julself as diensknegte aan iemand tot beskikking stel om hom te gehoorsaam, is julle diensknegte van hom aan wie julle gehoorsaam is.’—Romeine 6:16; Johannes 17:15, 16; 1 Johannes 5:19.

Jehovah het Satan se uiteindelike vonnis uitgespreek, maar hom toegelaat om ’n tyd lank voort te gaan. Dit sou Satan die geleentheid gee om ’n aantyging wat hy gemaak het te bewys, naamlik dat God nie mense op die aarde kan plaas wat onder beproewing aan Hom getrou sal bly nie—’n aantyging wat in die eerste twee hoofstukke van die Bybelboek Job so dramaties uitgebeeld en ten gunste van Jehovah se kant van die geskil beantwoord is. Onder onmenslike en wrede aanvalle van Satan het Job self gekies om sy onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf en het Satan gevolglik ’n leuenaar bewys (Genesis 3:15; Exodus 9:16; Job 42:7). In Hebreërs hoofstuk 11 is daar ook ’n lang lys Getuies wat hulle aan Jehovah se kant van die geskil oor universele soewereiniteit geskaar het.

Christus Jesus is by uitstek die een wat eens en vir altyd die volledige antwoord verskaf het vir Jehovah se kant van die groot geskil oor universele soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid teenoor God. Dit was ’n verpletterende nederlaag vir Satan. Jesus het Satan se aanbod van heerskappy oor die ganse wêreld in ruil vir net een daad van aanbidding aan Satan summier van die hand gewys. Jesus het ook onverskrokke ’n verskriklike beproewing verduur toe hy aan ’n folterpaal gesterf het. Hy het Satan sowel as Satan se wêreld oorwin en vir ons ’n volmaakte voorbeeld nagelaat om te volg.—Mattheüs 4:8-10; 27:50; Johannes 16:33; Hebreërs 5:7-10; 1 Petrus 2:21.

Met die oog op die rampspoedige tye waarin ons lewe, lyk dit dalk of Satan sterker as ooit tevore word en dat Satanisme toeneem. Die Bybelboek Openbaring skets egter ’n heel ander beeld in hoofstuk 12, verse 7-9, 12:

“Daar het oorlog in die hemel gekom: Migael [Christus Jesus] en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

Die paradysaarde sal sonder einde wees!

“Omdat hy weet dat hy min tyd het”, verskerp Satan sy demoniese bedrywighede in hierdie “laaste dae” (Jakobus 5:1-3). Maar agter die wolke van ons tyd skyn die son tog. Openbaring 21:1, 3-5 toon vir ons hoe dit sal wees: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

Christus Jesus sal dus duisend jaar lank regeer, waartydens Jehovah sy oorspronklike voorneme sal volbring wat hy gehad het toe hy die aarde geskep en die mensdom daarop geplaas het (Openbaring 20:1, 2, 6). Jy sal onthou dat die mensdom in die begin die aarde met regverdige nakomelinge moes vul, die aarde moes bewerk, na die plante en diere daarop moes omsien, in vrede moes lewe en mekaar moes liefhê. Die vervulling van daardie voorneme is uitgestel sodat Satan sy aantyging dat hy alle mense van Jehovah God afvallig kan maak, kan probeer bewys. Hy het miljarde mense sy slawe gemaak, maar hy kon dit nie in die geval van ’n paar miljoen handhawers van onkreukbaarheid regkry nie.—Romeine 6:16.

Gedurende ’n herstellingstydperk sal Jehovah se barmhartigheid deur Christus Jesus tot in die graf reik om aan miljarde wat gesterf het gedurende die duisende jare wat verby is, die geleentheid te gee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Johannes 5:28, 29.

Niemand wat dan weier om by die regverdige omgewing van daardie nuwe aarde in te pas, sal bly om dit, die plante en diere daarop, die vrede van die mensdom of die ware aanbidding van Jehovah God te besoedel of te vernietig nie. Psalm 37:10, 11, 29 bevestig dit: “En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”

Miga 4:2-4 belowe ware vrede en veiligheid: “Baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”

Hierdie vreedsaamheid sal ook uitbrei om die diere in te sluit, soos Hosea 2:17 sê: “Verder sluit Ek [Jehovah] in dié dag vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.” Esegiël 34:25 (NW) praat ook van ’n verbond wat die teenwoordigheid van enige “gevaarlike wilde diere” uitsluit.

Verder belowe Jesaja 11:6-9 vrede tussen die diere in die Paradys: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

Die sagmoediges sal die aarde beërwe. Hulle sal na die lug, die water en die grond omsien. Fonteine en waterstrome sal die dorre grond deurweek. Woude sal die berge beklee wat vir selfsugtige gewin gestroop is. Bosgebiede sal floreer en woestyne van vroeër sal bloei soos ’n roos. Die blindes sal sien, die dowes sal hoor, die lammes sal loop en die stommes sal praat (Jesaja 35:1-7). Waardering vir Jehovah se glorieryke berge en valleie en sy kusstreke wat aan die deinende seë en oseane grens, sal nooit toelaat dat die mens se hebsug weer kop uitsteek om die aarde te verderf nie. Dit sal vir iedereen van die volmaakte mensdom, wat met die vrugte van Jehovah se gees gevul is, maklik en natuurlik wees om hom daarin te verlustig om sy naaste soos homself lief te hê en Jehovah bowenal met sy hele hart, siel, verstand en krag lief te hê. Ja, die hele mensdom sal die geestelike vrugte “liefde‚ vreugde‚ vrede‚ lankmoedigheid‚ goedhartigheid‚ goedheid‚ geloof‚ sagmoedigheid‚ selfbeheersing” voortbring.—Galasiërs 5:22, 23, NW.

Te goed om waar te wees?

Teen dié tyd sê sommige lesers dalk: ‘Dit klink alles te goed om waar te wees.’ Maar, nee, die toestande wat op die oomblik heers, is te sleg om voort te duur. Ons lewe in wat die Bybel “die laaste dae” noem. Kyk om jou rond en jy sal sien dat dit so is. “In die laaste dae”, sê God se Woord, “[sal daar] swaar tye . . . kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”—2 Timotheüs 3:1-5, 13.

Selfs met hierdie duidelike prentjie van ons tye sal baie mense steeds die spot dryf. Dit moet ook verwag word. Hulle gespot is op sigself ’n deel wat in die patroon van bewyse pas dat ons in die laaste dae lewe: “Daar [sal] aan die einde van die dae spotters . . . kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is . . . as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. . . . Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:3, 4, 7, 13.

Jehovah belowe dat hierdie bose ou stelsel van Satan se wêreld in sy nuwe wêreld van regverdigheid nie eens in ons gedagtes sal opkom nie: “Kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep” (Jesaja 65:17, 18). Satanisme se dae is getel, en op God se bestemde tyd sal Satan self vir ewig vernietig word.—Openbaring 20:1-3, 7-10.

Die geseënde toestande wat ons op die paradysaarde sal geniet, is inderdaad nie te goed om waar te wees nie; Jehovah beskou die huidige toestande van hierdie ou stelsel onder Satan as te sleg om voort te duur.

[Prent op bladsy 10]

Die geseënde toestande wat ons in die paradysaarde sal geniet, is nie te goed om waar te wees nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel