Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/8 bl. 21-23
  • Hoe kan ek oor my pa se dood kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek oor my pa se dood kom?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Tyd om te ween”
  • Maak werk van jou droefheid
  • Praat met iemand
  • Ondersteun jou ouer
  • Hoe kan ek die dood van ’n ouer verwerk?
    Ontwaak!—2009
  • Is dit normaal dat ek so treur?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Waarom moes my pa sterf?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe kan ek my smart verwerk?
    Wanneer ’n geliefde sterf
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/8 bl. 21-23

Jong mense vra . . .

Hoe kan ek oor my pa se dood kom?

“My pa is op die rusbank dood. Ek het hom daar aangetref. Hy het ’n hartaanval gehad. Ek was regtig bang, want ek was so na aan hom. . . . My ma huil nog snags. Dit voel nie dieselfde om dinge sonder my pa te doen nie.”—Emily.

“DIE dood van ’n ouer of intieme familielid is ’n groot trauma vir ’n adolessent”, sê die skryfster Kathleen McCoy. “Hy of sy word dalk tydelik deur hartseer, skuldgevoelens, paniek en woede oorweldig.” As jy al ’n ouer verloor het, weet jy goed hoe pynlik dit kan wees.

Dit is egter net normaal om te voel asof ons in ’n draaikolk van emosie vasgevang is wanneer iemand wat ons liefhet, sterf. Die Bybel sê dat, toe daar vir die patriarg Jakob gesê is dat sy seun Josef gesterf het, hy só hartseer was dat hy ‘sy klere geskeur’ het. En hoewel ‘al sy seuns en dogters moeite gedoen het om hom te troos, het hy geweier om hom te laat troos’ (Genesis 37:34, 35). Jy voel dalk eweneens dat die pyn so intens is dat dit nooit sal weggaan nie.

Dit kan mettertyd weggaan. Maar die antwoord is om jou pyn eerder onder die oë te sien as om dit te probeer ignoreer. Jong John het byvoorbeeld uiterlik geen aanduidings gegee dat hy oor die dood van ’n familielid treur nie. Hy het egter by die skool by vuisgevegte betrokke geraak. John het verduidelik: “Ek loop met ’n groot, seer knop binne-in my rond. Ek het daarvan ontslae probeer raak deur te baklei, maar dit het nie gewerk nie.”

Ander jongmense probeer die pyn onderdruk deur by allerhande bedrywighede betrokke te raak. Wanneer ander vra hoe dit met hulle gaan, probeer sommige sulke vrae deur ’n vertoon van skynopgewektheid omseil. Sodoende word pynlike gevoelens dalk ’n ruk lank weggesteek, maar nie vir lank nie. Spreuke 14:13 sê: “Ook onder gelag kan die hart pyn ly.”

Dit is interessant dat ’n artikel in ’n tydskrif vir jongmense sê: “Een studie het getoon dat tienderjariges wat hulle natuurlike gevoelens van hartseer, woede of skuld ná die dood van ’n familielid onderdruk het . . . meer geneig was om betrokke te raak by vernietigende gedrag, soos dwelm- en alkoholmisbruik, kansvattery (soos om motors teen hoë snelhede te bestuur) en misdadigheid.” Gelukkig is daar beter maniere om hartseer die hoof te bied.

“’n Tyd om te ween”

Prediker 7:2 sê: “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem.” Die dood kan angswekkend wees. En wanneer ’n vriend of ’n geliefde sterf, probeer sommige die pynlike werklikheid van die dood vermy deur na “’n huis van maaltyd” toe te gaan en jolyt te maak. Salomo se raad is egter om die dood onder die oë te sien en na die “klaaghuis” toe te gaan. Salomo voeg by: “Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart.”—Prediker 7:3.

Hoewel hierdie raad hoofsaaklik aan die vriende en die familie van die bedroefde gerig is, is dit ook tot nut van die bedroefde om die pyn van sy verlies onder die oë te sien. Daar is “’n tyd om te ween” (Prediker 3:4). Godvresende manne en vroue in Bybeltye het dus eerder uiting gegee aan hulle gevoelens van hartseer as om daardie gevoelens te onderdruk.—Vergelyk Genesis 23:2; 2 Samuel 1:11, 12.

Dit hou baie voordele in as jy jouself toelaat om te treur. Die boek The Art of Condolence sê: “Die bedroefdes moet uiting gee aan die pyn en angs van hulle lyding. Genesing word belemmer as die proses teengestaan word.” Maar weens die mite dat ’n man nie huil nie, vind party seuns dit besonder moeilik om aan hulle gevoelens uiting te gee. Maar die grootste mens wat nog geleef het, het openlik “geween” toe sy vriend Lasarus gesterf het (Johannes 11:35). En trane is beslis gepas as ’n mens een van jou ouers verloor het. Moet dus nie huiwer om te treur en te huil nie. (Vergelyk Jakobus 4:9.) Die boek Death and Grief in the Family sê: “Huil is een van die belangrikste maniere om van droefheid ontslae te raak.”

Maak werk van jou droefheid

In Bybeltye het koning Dawid aan sy hartseer vir sy beste vriend, Jonatan, uiting gegee deur nie net te huil nie, maar ook deur sy gevoelens op skrif te stel. “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik”, het Dawid in die pragtige klaaglied geskryf wat hy “die Booglied” genoem het.—2 Samuel 1:18, 26.

Jy sal dalk eweneens vind dat dit help om jou gevoelens op skrif te stel. Die boek Giving Sorrow Words sê: “As jy jou gevoelens op skrif stel, kan dit as ’n uitlaatklep vir jou opgekropte emosies dien. . . . Wanneer jy kwaad word, wanneer jy hartseer is, moet jy dit neerskryf.” Een tienermeisie genaamd Shannon sê: “Ek het ’n dagboek gehou. Ek het al my gevoelens neergeskryf. Al my gevoelens op papier sonder om enigiets weg te steek. Al my gevoelens was op papier en dit het baie gehelp . . . om alles neer te skryf.”

’n Ander hulpmiddel is liggaamlike oefening. ‘Liggaamlike oefening is tot nut’, sê die Bybel (1 Timotheüs 4:8). En een boek oor droefheid sê: “Oefening is ’n goeie manier om van energie ontslae te raak.” As jy vinnig hardloop of stap of met ’n fiets gaan ry, kan dit jou baie help om ontslae te raak van die spanning wat kan opbou as jy hartseer is en treur.

Praat met iemand

Wees egter versigtig dat jy jou nie heeltemal van ander afsonder nie (Spreuke 18:1). Spreuke 12:25 sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Hoe sal ’n terneergedrukte persoon daardie “vriendelike woord” van aanmoediging kry? Net as hy met iemand praat en aan sy “bekommernis” uiting gee. Doen dit gerus self. Praat openhartig met iemand wie jy kan vertrou.

Gewoonlik is jou godvresende ouer die logiese persoon om te nader. Maar gestel hy of sy kan jou nie help nie omdat hulle eie pyn te erg is? Wel, daar is bekwame lede van die Christengemeente wat kan help. Spreuke 17:17 sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.” Ná haar ma se dood het jong Morfydd swaar op die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies gesteun. “Al die ouere manne het my getrou bygestaan”, sê sy, “maar daar was veral een wat altyd gewillig was om na my te luister.”

Waarom wend jy nie ’n poging aan om sulke hulp en bystand te verkry nie? Sê vir iemand dat jy graag wil gesels. Miskien voel jy kwaad, bang of skuldig. Of miskien voel jy net eensaam en verlang jy na jou ouer. Dit kan jou werklik help as jy jou gevoelens teenoor ’n simpatieke luisteraar uitdruk.

Ondersteun jou ouer

Party jongmense vererger egter hulle kommer deur verantwoordelikhede op hulle te neem wat hulle nie kan dra nie. Die omstandighede tuis lyk dalk nou chaoties en deurmekaar. Dit is verstaanbaar dat jou ander ouer dalk gespanne, prikkelbaar—en hartseer—is. Jy wil natuurlik help as jy sy of haar pyn sien. Een gesaghebbende wat baie oor hartseer weet, sê dat “adolessente . . . hulle verdriet kan onderdruk in ’n misplaaste poging om hulle ouers te help”. Hulle “tree te vroeg ‘volwasse’ op en neem selfs bykomende verantwoordelikhede op hulle”.

Jy het natuurlik geen keuse as om ’n paar ekstra verantwoordelikhede vanweë jou ouer se dood op jou te neem nie. Maar dit maak jou nie die man of die vrou van die huis nie. Jou ander ouer staan nog steeds aan die roer, en jy kan daardie ouer beter ondersteun deur behulpsaam en gehoorsaam te wees en nie deur beheer oor te neem nie (Efesiërs 6:1). Hou in gedagte dat ‘wysheid by die beskeidenes is’ (Spreuke 11:2). Beskeidenheid behels dat jy jou beperkinge ken.

Dit is veral belangrik om dit te onthou as jou ander ouer op jou begin steun vir raad of jou met grootmenssake begin belas. Jy moet vriendelik en behulpsaam wees, maar beskeidenheid sal jou help om te besef dat jou lewensondervinding redelik beperk is. (Vergelyk Hebreërs 5:14.) As jy dus ’n bietjie oorweldig voel, moet jy sake op ’n openhartige maar eerbiedige manier met jou ouer bespreek (Spreuke 15:22). Miskien kan jy voorstel dat hy of sy ’n volwassene in die gemeente om hulp nader.

Dit is beslis nie maklik om die dood van ’n ouer te verwerk nie. Maar wees verseker dat gevoelens van droefheid mettertyd nie meer so sterk sal wees nie. (Vergelyk Genesis 24:67.) Hartseer herinneringe aan jou afgestorwe ouer sal steeds van tyd tot tyd in jou gedagtes opkom. Maar jy het ook talle innige en vertroostende herinneringe om oor na te dink. Moet nooit vergeet dat Jehovah vir jou omgee en jou droefheid verstaan nie. Dink aan die psalmis se woorde wanneer jy eensaam en verstote voel: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”—Psalm 27:10, NAV.

Peins ook oor die Bybelse hoop van die opstanding en die vooruitsig om jou ouer weer te sien—op ’n paradysaarde (Lukas 23:43, NW; Handelinge 24:15). Jong Kim wat haar pa aan die dood afgestaan het, sê: “Ek dink elke dag aan my pa. Maar ek weet dat hy nie sou wou hê dat ons moed opgee of toelaat dat enigiets ons diens aan Jehovah beëindig nie. Ek wil daar wees om hom te verwelkom wanneer hy in die opstanding terugkeer.”—Johannes 5:28, 29.

[Prent op bladsy 23]

Die genesingsproses kan aangehelp word as jy jouself toelaat om te huil

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel