Die Bybelse beskouing
Wat kan jou help om stres te verwerk?
LY JY aan stres? Indien wel, is jy nie alleen nie. Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, en mense van alle ouderdomme en agtergronde ondervind stres (2 Timotheüs 3:1, NW). Sommige deskundiges sê dat meer as die helfte van alle besoeke aan die dokter te wyte is aan spanningsverwante probleme.
Tog is stres op sigself nie noodwendig ’n slegte ding nie. ’n Direkteur van ’n streskliniek sê “dit gee ons in werklikheid ons opwinding, geesdrif vir die lewe, energie om dinge gedoen te kry. Ons geniet dit—as ons dit kan hanteer.”
Stres kan andersyds verpletterend, verwoestend, wees. Wat kan jy doen as stres vir jou probleme veroorsaak? Hier is ’n paar wenke wat op wysheid uit die Bybel gegrond is wat jou kan help om stres se verwoestende gevolge tot die minimum te beperk.
Vermy onredelike verwagtinge
Die Bybel sê “’n uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Wanneer verwagtinge onvervuld bly, kan die stres oorweldigend wees. Dit is amper onvermydelik dat dit sal gebeur wanneer ons ons verwagtinge onrealisties hoog stel.
Die advertensiewese het byvoorbeeld al baie mense mislei deur hulle te laat dink dat hulle geluk van materiële dinge afhang. Wanneer ’n mens dinge begeer wat jy nie kan bekostig nie, kan dit stres en frustrasie tot gevolg hê. Die Bybel gee dus hierdie raad: “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timotheüs 6:8). Ja, selfs al het jy nie die motor, die huis of die meubels wat jy graag wil hê nie, moet jy waardeer wat jy wel het. Hou materiële verwagtinge eenvoudig.
Onredelike verwagtinge met betrekking tot mense kan ook tot stres lei. Hoewel ’n werkgewer of ’n opsiener byvoorbeeld die reg het om ’n redelike vlak van doeltreffendheid van diegene onder sy toesig te verwag, is dit onverstandig om volmaaktheid van hulle te verwag. Carlos, ’n Brasiliaanse fabrieksopsiener, sê: “Jy moet mense aanvaar soos hulle is. As jy meer verwag as wat hulle kan gee, sal dit die stresvlak verhoog en almal ongelukkig maak.”—Vergelyk Jeremia 17:5-8.
Beheer prestasiestres
Die Latin America Daily Post het nog ’n bron van stres aan die lig gebring toe dit gesê het dat ‘prestasiegeoriënteerde, mededingende gedrag ’n noemenswaardige risikofaktor by hartkwale is’. ’n Jong rekenmeester erken: “Op kantoor is ek so senuweeagtig en bang om enige swakheid te openbaar. Ek werk baie hard en voel gefrustreerd omdat ek nie erkenning van ander ontvang nie.”
Salomo het die volgende aangaande sulke najaging van erkenning en prestasie gesê: “Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en ’n gejaag na wind.”—Prediker 4:4.
In werklikheid is ‘die wedloop nie altyd vir die vinniges’, wat bevordering of erkenning by die werk betref nie (Prediker 9:11). Maria, ’n Brasiliaanse kantoorwerker, het dit so gestel: “Iemand het dalk die vermoë, maar omstandighede, en miskien selfs voortrekkery, kan bevordering verhinder.”—Vergelyk Prediker 2:21; 10:6.
Moenie te hoë verwagtinge koester nie en ken jou beperkings. Werk vir die vreugde wat werk self bied eerder as om net vir bevordering te werk (Prediker 2:24). Dit is werklik so dat die prestasiebehepte persoon nie net baie van die vreugde van die lewe verloor nie, maar ook so gespanne kan raak dat hy sy eie planne om sukses te behaal, ondermyn. Dr. Arnold Fox het dus die volgende raad gegee: “Dit is ’n prysenswaardige doelwit om die beste op jou gebied te wil wees, maar moenie toelaat dat hierdie een strewe jou lewe oorheers nie. As jy gedagtes aan liefde, vrolikheid en die vreugde van die lewe ignoreer, of as jy so behep is met sukses dat jy vergeet om die lewe te geniet, is jy besig om jouself aan stres bloot te stel.”
Dinge wat jy kan doen
Nog ’n manier om die spanning van daaglikse druk af te weer, is om ’n sin vir humor aan te kweek (Prediker 3:4). Jy hoef nie ’n komediant te wees om ’n opgeruimde gesindheid te hê nie. “’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog.”—Spreuke 17:22.
Is jy geneig om dinge altyd uit te stel? ’n Uitstellery vermeerder uiteindelik stres pleks van dit te verminder. Die Bybel gee dié raad: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie” (Romeine 12:11, NW). Maak in jou gedagtes of op skrif ’n lys van dinge wat jy moet doen (Spreuke 21:5). Besluit dan watter dinge jy eerste moet doen—en begin dit dan doen.
Sê nou jy voel ten spyte van jou beste pogings steeds gespanne? Jy sal dalk ’n doelbewuste poging moet aanwend om jou denkwyse te verander. Moenie oor foute tob wat jy in die verlede gemaak het nie. Dit kan jou huidige stres baie erger maak. ’n Negentiende-eeuse filosoof het geskryf: “Die lewe kan net verstaan word wanneer ons oor die verlede nadink; maar dit moet geleef word met die toekoms in gedagte.” Hoewel ons uit ons foute leer, vorm ons huidige optrede ons toekoms.
Koning Dawid het die aandag gevestig op die heel beste manier om stres te verlig toe hy tot Jehovah gebid het: “Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste” (Psalm 25:17). Ja, Dawid het op God gesteun om sy sorge te verlig. As jy tyd opsy sit om God se Woord te lees en daaroor te peins, sal jy eweneens vind dat jy nader aan God sal voel. Namate jy ’n waardering vir God se voornemens opbou, sal jy beweeg word om sy belange eerste in jou lewe te stel, wat jou van baie onnodige sorge sal bevry (Mattheüs 6:31, 33). Leer om van dag tot dag te lewe. Waarom môre se sorge by vandag s’n voeg? Jesus het dit só gestel: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”—Mattheüs 6:34.
[Lokteks op bladsy 15]
“Iemand het dalk die vermoë, maar omstandighede, en miskien selfs voortrekkery, kan bevordering verhinder”
[Foto-erkenning op bladsy 14]
The Metropolitan Museum of Art, Funds given by the Josephine Bay Paul and C. Michael Paul Foundation, Inc., and the Charles Ulrick and Josephine Bay Foundation, Inc., and the Fletcher Fund, 1967.