Ouers—Waarmee speel julle kind?
“DIE boog kan nie altyd gespanne bly nie.” So lui ’n ou gesegde. Speel het nog altyd ’n belangrike deel van kinders se lewe uitgemaak. Dit is deur te speel dat kinders hulle verstand en hulle spiere ontwikkel en belangrike vaardighede aanleer. Maar kinders se vermaak het deesdae ’n reusebedryf geword. Die speelgoedwêreld word nie deur kinders of deur ouers beheer nie, maar deur vervaardigers, kleinhandelaars, adverteerders en vindingryke bemarkingsnavorsers. Aangesien hulle oor nuwe tegnologie beskik om speelgoed te maak en die ondersteuning van die invloedryke media geniet, is hulle besig om die speelwêreld te verander—met ernstige implikasies vir ouers sowel as kinders.
Daar is ongetwyfeld baie mense in die speelgoedbedryf wat opreg belangstel in die welsyn van kinders. Maar alte dikwels geniet wins die voorkeur. Dit gaan dan nie oor wat kinders sal opvoed en hulle verbeelding sal prikkel nie, maar bloot wat sal verkoop. En wat verkoop, is nie altyd die eenvoudige lap-, hout- en plastiekspeelgoed van die onlangse verlede nie, maar hipertegnologiese, realistiese speelgoed wat min of niks aan ’n kind se verbeelding oorlaat.
Een vervaardiger bemark byvoorbeeld ’n stel speelgoedmotortjies met poppies daarin wat tydens ’n botsing uitmekaar val. Wanneer die motors bots, waai die poppies se arms, bene—en koppe—uit die venster van hulle motortjies. Nog ’n realistiese speelding probeer swangerskap naboots. ’n Knapsakagtige sakkie wat gemaak is om om ’n dogtertjie se maag gedra te word, boots die skopbeweginkies en hartklop van ’n ontwikkelende fetus na.
Party meen dat sulke speelgoed opvoedkundige waarde het. Donna Gibbs, die direktrise van mediabetrekkinge vir ’n speelgoedvervaardiger, noem die swangerskapnabootser “’n prettige manier vir [dogtertjies] om te ervaar wat hulle mamma deurmaak”. Maar nie almal deel in haar geesdrif nie. Dr. T. Berry Brazelton, professor van pediatrie aan die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit, bestempel hierdie speelding as iets wat “inbreuk maak op ’n ouer se kans om iets kosbaars aan ’n kind oor te dra”. Dr. David Elkind, ’n professor van kinderstudie, sê dat “hierdie speelgoed dit te ver dryf”. Hy sê dat ’n pop wat ’n fetus naboots “ver bo [kinders] se insig of begrip verhewe is”. Met betrekking tot speelgoed wat die slagting van ’n motorongeluk naboots, het hy gesê dat die televisie reeds vol geweld is en bygevoeg: “Waarom dit nog met hierdie soort speelding bevorder?”—The Globe and Mail, 8 Februarie 1992.
Daar is ook polemiek oor ander gewilde speletjies, soos video-oorlogspeletjies en kragtige watergewere. Aangesien daar volgens die president van Toy Manufacturers in Amerika “na raming 150 000 stukke speelgoed op enige gegewe tyd te koop is”, bied dit ouers ’n ontsaglike uitdaging om te besluit watter speelgoed hulle moet koop. Wat moet ouers in hierdie opsig lei? Is daar ’n grondige rede tot kommer wat party hedendaagse speelgoed betref? Die volgende artikels sal hierdie en ander verwante vrae bespreek.