Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/22 bl. 25-27
  • Waarom moes my pa sterf?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moes my pa sterf?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Ek voel só kwaad’
  • ‘Ek voel nou so skuldig’
  • Die pyn van droefheid
  • Vind vertroosting
  • Hoe kan ek oor my pa se dood kom?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe kan ek die dood van ’n ouer verwerk?
    Ontwaak!—2009
  • Is dit normaal dat ek so treur?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Hoe kan ek my smart verwerk?
    Wanneer ’n geliefde sterf
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/22 bl. 25-27

Jong mense vra . . .

Waarom moes my pa sterf?

ALMAL was verbaas toe Al se pa, ’n man wat altyd fris en gesond was, in die hospitaal opgeneem is. Al was nogtans vol vertroue dat sy pa gou weer by die huis sou wees. Maar sy toestand het skielik versleg, en hy het gesterf. “Ek kon net nie glo dat iemand wat so sterk was dood kon wees nie”, het Al gesê.

Kim se pa was ’n liefdevolle Christenman. Hy was al voorheen vir ’n chroniese kwaal in die hospitaal opgeneem, maar dit het gelyk asof hy besig was om gesond te word. Toe sak hy op ’n dag in die badkamer inmekaar. “Ek het geweet dat hy dood is die oomblik toe ek hom gesien het”, sê Kim. “My ma en my broer het wanhopig probeer om hom met ’n amateurvorm van KPR te red. Ek het na my kamer toe gehardloop en gebid: ‘Jehovah, moenie dat dit gebeur nie. Laat hom asseblief lewe!’ Maar hy het nooit sy bewussyn herwin nie.”

Die dood is ’n harde werklikheid in hierdie wêreld. Die Bybel sê: “Alles het sy bepaalde uur, . . . ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe” (Prediker 3:1, 2). As jy as ’n Christen grootgemaak is, is jy bekend met die Bybel se leringe oor die rede waarom mense sterf, die toestand van die dode en die opstandingshoop.a

Maar jy is moontlik oorweldig deur die dood van jou ouer. Dit is een van die moeilikste dinge wat jy in jou lewe kan ervaar. Dit kan jou kwesbaar en verlate laat voel. Jy groei nog, liggaamlik sowel as emosioneel, en hoewel jy miskien in sekere mate onafhanklik is, het jy jou ouers in baie opsigte steeds nodig.b

Dit is geen wonder dat een opname getoon het dat ’n tienderjarige se grootste vrees die dood van sy of haar ouers is nie. Een jeugdige het erken: “My ouers is meestal ’n frustrasie, maar ek sou dit steeds haat as enigiets met hulle moes gebeur. Ek bekommer my daaroor.”—The Private Life of the American Teenager.

Dit is dus geen wonder dat jy moontlik emosioneel verbyster is as een van jou ouers wel gesterf het nie. Jy voel miskien aanvanklik so emosioneel afgestomp dat jy nie eens kan huil nie. Dit is nie abnormaal nie. Toe die psalmis onder groot druk verkeer het, het hy gesê: “Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel” (Psalm 38:9). Die boek Death and Grief in the Family sê: “Iemand wat ’n diep snywond opdoen of ’n been breek, is in ’n toestand van fisiese skok. Hierdie skok is ’n soort beskermingsmiddel wat keer dat die hewigheid van die pyn hom [onmiddellik] tref. In die geval van droefheid is dit amper dieselfde.” Maar wat kan gebeur as daardie aanvanklike skok verdwyn het?

‘Ek voel só kwaad’

In Lukas 8:52 lees ons hoe mense ná die dood van ’n dogtertjie ‘gehuil en oor haar rou bedryf het’. Ja, wanneer ’n geliefde sterf, is dit net normaal om ’n reeks kragtige emosies te ondervind, waaronder hartseer, skuldgevoelens, vrees—en selfs woede.

Waarom woede? Omdat ons ouers ons veilig en beskut laat voel. Wanneer een van hulle sterf, is dit natuurlik om bang te wees en te voel asof jy in die steek gelaat is. Nie dat jou ouers jou met opset agtergelaat het nie. Maar die dood is ons vyand (1 Korinthiërs 15:26). Wanneer ’n geliefde sterf, is die verlies baie werklik en beslis pynlik. Let op hoe die 18-jarige Wendy dit gestel het: “Ná my pa se dood het ek gevoel asof ek alleen in die wêreld is, en ek was bang. Ek het so dikwels gewens dat my pa hier was om my te help.” As jy dink aan wat jy verloor het—die liefde, die ondersteuning, die onderrigting—is dit te begrype dat jy moontlik kwaad sal wees.

Jong Debbie was byvoorbeeld baie lief vir haar oom. Ná sy dood het sy geskryf: “Dit het net nie regverdig gelyk dat enigiemand wat so goed was, so gelief was en wat Jehovah só liefgehad het, moes ly en ’n pynlike dood soos hy moes sterf nie. Hoewel ek as ’n Christen grootgemaak is en weet waarom mense oud word en sterf en waarom goeie mense ly, was ek nie voorbereid op die gevoelens van woede wat in my opgewel het nie.”

Party voel selfs ’n mate van woede teenoor die ontslape ouer. Jong Victoria erken: “My oupa het verlede jaar gesterf. Ek was só kwaad vir hom omdat hy gesterf het, en toe die woede verby was, was ek só hartseer.” Trouens, sommige het al in die versoeking gekom om vir God kwaad te wees. “Ek is kwaad vir God”, erken die 14-jarige Terri, wie se pa aan ’n skielike hartaanval gesterf het. “Waarom moes my pa gesterf het as ek so lief vir hom was en hom só nodig gehad het?”

‘Ek voel nou so skuldig’

Skuldgevoelens is nog ’n algemene reaksie op ’n ouer se dood. “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”, sê die Bybel (Romeine 3:23). As gevolg hiervan bots die meeste tienderjariges nou en dan met hulle ouers. Maar wanneer ’n ouer sterf, kan herinneringe aan daardie ou geskille en argumente ’n bron van groot kwelling word.

Dit help miskien om te onthou dat selfs mense wat mekaar liefhet soms ernstige meningsverskille het. “Ek was lief vir my ma”, erken jong Elisa, “en ek weet sy het my liefgehad, maar die paar maande voor sy siek geword het, het ons probleme gehad. Ek sou vir haar kwaad word—oor dinge wat nou sinneloos lyk—maar wat toe vir my belangrik was. Ek onthou hoe ek eenkeer, toe ek baie kwaad vir haar was, met die trap op na my kamer gestorm het en stilletjies gewens het dat sy moes sterf. Toe my ma siek geword en skielik gesterf het, was daar al hierdie onopgeloste geskille wat ons gehad het. Ek voel nou so skuldig.” Ongeag wat jy dalk gesê of gevoel het, jy het nie jou ouer se dood veroorsaak nie. Dit was nie jou skuld nie.

Die pyn van droefheid

Miskien ondervind jy nogtans intense hartseer en droefheid. Troos jou daaraan dat manne en vroue van geloof in Bybeltye ook sulke gevoelens gehad het. Toe Josef sy geliefde pa deur die dood verloor het, het hy ‘op sy vader se aangesig geval, en hy het oor hom geween en hom gesoen’ (Genesis 50:1). Ook Jesus Christus “het geween” oor die dood van sy vriend Lasarus.—Johannes 11:35.

Wanneer ’n mens oor die dood van ’n ouer treur, is dit net natuurlik om soms deur verdriet oorweldig te word. Toe die psalmis sy benoudheid probeer beskryf het, het hy homself vergelyk met “een wat oor sy moeder treur, krom en in die rou” (Psalm 35:14, NAV). Jy kan so oorweldig wees deur hartseer dat jy selfs “slapeloos van droefheid” is (Psalm 119:28, NW). Jy het miskien geen eetlus nie of jy vind dit skielik moeilik om op skool te konsentreer. Jy kan selfs neerslagtig word.

En om sake te vererger, is jou ander ouer sowel as jou broers en susters te oorweldig deur hulle eie hartseer om jou te help en by te staan. Kim sê: “Ná my pa se begrafnis het ons na ons normale roetine probeer terugkeer. My ma het nou die hoof van die gesin geword. Maar daar was tye dat sy tydens ons gesinsbybelstudie in trane uitgebars het. Ek kon hoor hoe sy saans huil en my pa se naam roep.”

Vind vertroosting

Die profeet Jeremia het eenkeer gesê: “’n Ongeneeslike droefheid het in my opgewel. My hart is siek” (Jeremia 8:18, NW). Dit voel miskien vir jou asof die pyn nooit sal weggaan nie. Maar let op die woorde van die apostel Paulus: “Geseënd is . . . die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 1:3, 4). God bied hierdie vertroosting hoofsaaklik deur die bladsye van sy geskrewe Woord, die Bybel. Sy gees kan boonop vriende en familielede beweeg om die nodige hulp en bystand te verleen.

Moenie toelaat dat misplaaste woede jou daarvan weerhou om hierdie Goddelike vertroosting te soek nie. Regverdige Job het die fout begaan om God vir sy pynlike verliese te blameer. Hy het verbitterd gesê: “Ek het in vrede gelewe, maar God het my aan die keel gegryp en my geslaan en my verpletter” (Job 16:12, 13, Today’s English Version). Maar Job was verkeerd. Dit was Satan, en nie God nie, wat die bron van Job se probleme was. Jong Elihu moes Job daaraan herinner dat ‘God nie onregverdig handel nie, en die Almagtige nie die reg verdraai nie’. Job het later sy onverskillige uitlatings teruggetrek.—Job 34:12; 42:6.

Jy het moontlik op soortgelyke wyse iemand nodig wat jou kan help om sake op ’n meer gebalanseerde wyse te beskou. Kim sê: “’n Ouer Christen- ouere man het ons aan die opstandingshoop herinner en sulke tekste met ons bespreek soos Johannes 5:28, 29 en 1 Korinthiërs 15:20. Hy het gesê: ‘Julle pa sal opstaan, maar julle moet getrou bly as julle hom in die Paradys wil sien.’ Ek sal dáárdie woorde nooit vergeet nie! Hy het ook gesê dat die dood nie God se doel met die mens was nie. Ek het besef dat God niks met my pa se dood te doen gehad het nie.”

Deur skriftuurlik oor hierdie gedagtes te redeneer, is Kim se smart nie onmiddellik uitgewis nie, maar dit was ’n begin. Jy kan ook oor jou smart en droefheid kom. Die volgende artikel in hierdie reeks sal spesifieke maniere bespreek waarop jy dit kan doen.

[Voetnote]

a Sien die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer besonderhede.

b Hierdie bespreking sluit jongmense in wat ander familielede aan die dood afgestaan het, soos grootouers, tannies en ooms, met wie hulle veral ’n hegte verhouding gehad het.

[Prent op bladsy 26]

Die dood van ’n ouer kan een van die moeilikste dinge wees wat jy in jou lewe ervaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel