“Ek wil graag meer weet”
’N MAN van Colorado, VSA, het die bogenoemde verlede Desember in ’n brief aan die uitgewers van hierdie tydskrif geskryf. Hy het verduidelik:
“Hoewel julle my nie volgens die meeste mense se standaarde as godsdienstig sou beskou nie, het ek nog altyd geglo dat die lewe groter betekenis moet hê as wat ons in ons daaglikse lewe sien en hoor. Ek was nog altyd godsdienstig, hoewel ek nie aan enige kerk behoort nie.
“Maar in die laaste tyd het ek met taamlik angstige situasies te kampe gehad, en ek vind dat ek dan nie die innerlike krag het om dit te hanteer nie. Probleme tuis en by die werk het my angstiger as ooit tevore gemaak. . . .
“Vreemd genoeg, toe ek op my gefrustreerdste was, het ek toevallig op een van julle publikasies in ’n winkelsentrum afgekom. Julle siening oor die Heilige Vader is verkwikkend en ek wil graag meer weet, maar ek weet nie waar om meer inligting te kry nie.
“Ek sal dit baie waardeer as julle my kan help om meer omtrent Jehovah se Getuies en julle opvattings te leer. Soos ek vroeër gesê het, was dit vir my vreemd om een van julle publikasies te vind juis toe ek op my gefrustreerdste was—dit is dalk ’n teken van Goddelike leiding.”
’n Eksemplaar van ’n boek wat die Bybelse oortuiging van Jehovah se Getuies bespreek, met die titel Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, is aan hierdie man gestuur. As jy graag ’n eksemplaar van hierdie hardebandboek met 256 bladsye of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 5.