Jong mense vra . . .
Sê nou ek raak verlief op ’n ongelowige?
“Ek het ’n probleem”, het een Christenmeisie erken. “Ek is verlief op ons buurman. Hy is vriendelik, beleefd en bedagsaam, maar daar is iets wat hy nie is nie—’n liefhebber van Jehovah. Ek weet dat dit verkeerd is om van hom te hou, maar ek is nie seker hoe ek my gevoelens vir hom moet hanteer nie.”
Mark was 14 toe hy hom in ’n soortgelyke situasie bevind het.a Hy het verlief geraak op ’n meisie wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as hy gehad het nie. “Ek het dikwels gedagdroom oor hoe dit sal wees om saam, getroud, te wees”, sê hy. “Maar ek het geweet dat dit verkeerd is.”
DIT is doodgewoon om in ’n mens se tienerjare verlief te raak omdat romantiese impulse dan sterk is. (Vergelyk 1 Korinthiërs 7:36, NW.) Omdat jongmense geen veilige manier het om aan sulke gevoelens uiting te gee nie, is hulle geneig om op gunstelingonderwysers, vermaaklikheidsterre, en so meer verlief te raak. Aangesien persoonlike verhoudings met sulke volwassenes meestal nie ’n werklikheid word nie, is hierdie verliefdheid gewoonlik van korte duur en relatief onskadelik.b Maar gestel jy het sterk gevoelens vir ’n portuur ontwikkel—iemand wat gewillig en in staat is om ’n verhouding te hê—maar daardie persoon het eenvoudig nie dieselfde godsdiensoortuiging as jy nie?
Sommige sal dit nie as ’n probleem beskou nie. Baie jongmense stel in die eerste plek nie juis in godsdiens belang nie. En selfs onder diegene wat wel daarin belangstel, word ’n afspraak met iemand van ’n ander geloof dalk nie altyd afgekeur nie. Vrydenkende mense kan dit selfs goedkeur. Maar baie volwassenes sien die potensiële probleme in sulke verhoudings raak, veral aangesien dit dikwels op ’n huwelik uitloop. Die skryfster Andrea Eagan het jongmense dus aangeraai: “Om dieselfde godsdiensagtergrond te hê, is nie belangrik as nie een van julle godsdienstig is nie. Maar as godsdiensbeoefening vir een of albei van julle belangrik is, móét godsdiensverskille in aanmerking geneem word. . . . Julle hoef nie dieselfde te wees wat godsdiens betref nie . . . , maar julle moet verdraagsaam teenoor mekaar kan wees.”
Sulke raad klink dalk redelik. Maar in werklikheid weerspieël dit “die wysheid van hierdie wêreld” (1 Korinthiërs 3:19). Die Bybel toon dat ’n liefdesverhouding tussen ’n gelowige en ’n ongelowige kwessies van veel groter belang as verenigbaarheid in die huwelik laat ontstaan. Jongmense onder Jehovah se Getuies weet dat dit ’n saak van gehoorsaamheid aan God se Woord is wat Christene aanspoor om “net in die Here” te trou (1 Korinthiërs 7:39). Aangesien afsprake nie net bloot ontspanning nie, maar ’n voorspel tot die huwelik is, sal dit God mishaag as een van sy knegte ’n verhouding met iemand begin wat nie sy of haar lewe aan Jehovah toegewy het nie.
Sommige jong Getuies vind nietemin dat hulle hulle tot ongelowiges aangetrokke voel. Hoe gebeur dit? Wat behoort jy te doen as jy jou in so ’n situasie bevind?
Hoe dit gebeur
Jy moet eerstens besef dat alle mense geneig is om foute te maak. “Die afdwalinge—wie bemerk hulle?” (Psalm 19:13). Jongmense is veral geneig om foute te maak wanneer dit by romanses kom. Waarom? Om die eenvoudige rede dat hulle nie die skranderheid het wat met ondervinding en ouderdom gepaardgaan nie (Spreuke 1:4). Omdat ’n jong Christen min ondervinding van die ander geslag het, weet hy moontlik net nie hoe om romantiese aangetrokkenheid—of aandag—te hanteer nie.
Dit was die geval met Sheila toe sy besef het dat ’n skoolvriend op haar verlief is. “Ek kon sien dat hy van my hou”, het Sheila gesê. “Gedurende etenstye het hy by my kom sit en saam met my geëet. Gedurende studieperiodes in die biblioteek het hy my gesoek.” Sheila se gevoelens vir die seun het sterker geword. Mark, wat vroeër gemeld is, sê eweneens: “Ek het hierdie meisie gereeld in die LO-klas gesien. Sy het uit haar pad gegaan om met my te kom gesels. Dit was nie moeilik vir ’n vriendskap om te ontwikkel nie.” In die geval van die 14-jarige Pam het ’n seun in die buurt selfs vir haar ’n ring gegee om te wys hoeveel hy van haar hou.
Dit is weliswaar nie altyd ’n geval van ’n Getuie wat die onskuldige slagoffer van toenadering is nie. Een meisie het bloot die belangstelling beantwoord wat ’n Christenseun met die naam Jim in haar getoon het. Maar hy kon dit nie langer wegsteek toe sy hom eendag by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies kom soek het nie!
Wat die omstandighede ook al was, jy het waarskynlik geweet dat dit verkeerd is om by so iets betrokke te raak. Maar soms is dit moeilik om aandag van die ander geslag te weerstaan. Beskou die geval van Andrew. Gedurende sy eerste jaar op hoërskool was sy ouers besig om te skei. “Ek het iemand nodig gehad om mee te gesels”, sê hy. ’n Meisie by sy skool het blykbaar altyd die regte aanmoediging vir hom gehad. Dit was nie lank nie of hulle het romantiese gevoelens vir mekaar ontwikkel.
Die gevare
Indien sulke gevoelens nie in toom gehou word nie, kan dit jou in groot moeilikheid laat beland. Spreuke 6:27 sê: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?” Beskou byvoorbeeld die ondervinding van ’n meisie met die naam Kim. Hoewel sy as ’n Christen grootgemaak is, het sy toegelaat dat sy op ’n seun by die skool verlief raak. “Hy was een van die gewildste en opwindendste ouens in die skool”, sê Kim. Kort voor lank het sy in die geheim partytjies bygewoon waar dwelms openlik gebruik is. “Ek was so bang, maar ek was verlief op hom. Ek het swanger geraak.” Kim het met haar kêrel getrou, maar hy het vir gewapende roof in die tronk beland. Die Bybel se waarskuwing is weer eens waar bewys: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.
Dit beteken nie dat alle jongmense wat nie Getuies van Jehovah is nie onsedelik is of dwelms gebruik nie. Maar al is sulke jongmense nie wesenlik sleg nie, het hulle nie dieselfde waardes, beskouings of doelwitte as jong Getuies nie. Eerste Korinthiërs 2:14 verduidelik dat ’n ongelowige eenvoudig ‘die dinge van die Gees van God nie aanneem nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word’. Dink net hoeveel jou godsdienswaardes jou emosies gevorm het—die vreugde wat jy by Christelike vergaderinge ervaar, die opwinding om die Bybel se boodskap aan ’n ontvanklike persoon te verkondig, die genot wat jy daaruit put om die Bybel te bestudeer. Kan ’n ongelowige sulke gevoelens enigsins begryp—wat nog te sê ’n deelgenoot daaraan wees? Beswaarlik.
Paulus vermaan Christene dus: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korinthiërs 6:14, 15). Jong Sonya het hierdie les persoonlik geleer toe sy emosioneel betrokke geraak het by ’n ongelowige. Sy erken: “Om ’n vriend te hê wat nie dieselfde ywer en liefde vir Jehovah het nie, is die ergste soort eensaamheid denkbaar. Dit is emosioneel verpletterend. As die waarheid die dryfkrag in jou lewe is, moet jy met ander daaroor praat—jy moet net! Dit veroorsaak so ’n uiters leë gevoel wanneer jou vriend nie met jou daarin kan deel nie omdat hy ’n ongelowige is.”
In so ’n verhouding sal godsdiens dan waarskynlik nie ’n gemeenskaplike belangstelling nie, maar ’n brandpunt van onenigheid word. Jy kan maklik voel dat jy jou geestelike belangstellings op die agtergrond moet skuif om die vrede te bewaar. Maar as jy dít doen, sal dit net jou geestelikheid vernietig. Een jong vrou vertel: “Ek het nogal geheg geraak aan ’n ou wat nie ’n Getuie is nie. Maar namate die vriendskap hegter geword het, het ek besef dat ek op hom verlief geraak het. My verhouding met Jehovah het vir my al hoe onbelangriker geword; my verhouding met hierdie jong man het vir my die belangrikste ding geword. Ek wou nie meer vergaderinge bywoon, met my Christenbroers omgaan of aan die predikingswerk deelneem nie. Al wat ek wou doen, was om by hom te wees. Ek was die volgende twee jaar onbedrywig as ’n Getuie. En ten spyte van alles het my ‘vriend’ nooit my liefde vir hom beantwoord nie. Ek het bly dink dat hy dit eindelik eendag sou doen, maar dit het nooit gebeur nie.”
Ja, as jy ’n verhouding met iemand begin wat nie dieselfde geestelike en morele waardes as jy het nie, hou dit beslis vir jou hartseer en ongelukkigheid in. Dit sal verstandig wees om jou uit so ’n ongelyke juk los te maak. Maar hoe kan jy dit doen as jy baie van iemand hou? Dit sal die onderwerp van ons volgende artikel in hierdie reeks wees.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien hoofstuk 28 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
[Prent op bladsy 19]
Sal ’n ongelowige net so geesdriftig soos jy oor geestelike sake wees?