Die Ontwaak! se oplaag het hom verbaas!
’N ONTWAAK!-LESER IN MINNESOTA, VSA, werk by ’n universiteit waar die marinebioloog Sam LaBudde ’n lesing sou hou met die titel: “Waar is die dolfyne heen?” Sy het onthou dat hy in die Ontwaak!-artikel “Is dryfnetvissery besig om te verdwyn?” (22 Mei 1992) aangehaal is en het die tydskrif na die lesing saamgeneem.
“Op die tydskrif het ek ’n briefie aan mnr. LaBudde geskryf. Ek het gesê ek dink hy sal bly wees om te verneem dat hierdie voortreflike artikel wêreldwyd in baie tale versprei gaan word en dat die tydskrif ’n oplaag van meer as 13 000 000 het. Ek het toe my naam geteken en die Ontwaak! op die verhoog neergesit en na my sitplek teruggekeer.
“Kort voor lank het ek gesien hoe ’n man na die verhoog toe gaan, die tydskrif neem en begin lees. Ná ’n paar minute het hy opgekyk en hardop gevra of die persoon wat die tydskrif daar neergesit het teenwoordig was. Toe ek my hand opsteek en sê: ‘Ek is’, het hy na my toe gekom en langs my kom sit. Hy het my vir die tydskrif bedank en gesê dat hy dit waardeer wanneer iemand aan hom inligting gee wat die aandag op die werk of prestasies in sy veld vestig. Hy het egter gemeen dat ek dalk ’n fout gemaak het deur te sê dat die oplaag 13 000 000 is. Hy het gedink dat ek seker 13 000 bedoel het. Ek het die tydskrif voor oopgemaak en hom gewys dat dit 13 000 000 is. Hy was verbaas. Hy was ook baie beïndruk deur die hoeveelheid tale waarin die tydskrif uitgegee is [nou 74 tale]. Hy het gedink dat die tydskrif slegs in die Verenigde State versprei word, maar ek het verduidelik hoe dit wêreldwyd gedoen word.”
As jy wil hê dat ’n eksemplaar van die Ontwaak! na jou huis gepos moet word, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 5.